Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Maak vrede met diversiteit’
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Foto: LISA HNATOWICZ

Dr. Danie Langner was onlangs in die nuus met sy uitsprake oor die verskuiwing van die standbeeld van Paul Kruger. Andrea van Wyk het met hom gesels.

Die hoofkantoor van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) staan op ’n koppie so skuins langs die Voortrekkermonument in Pretoria, so asof dit onder die monument se vlerk ingebou is.

Dis daar waar ons dr. Danie Langner (47), besturende direkteur van die FAK, ontmoet.

Die Voortrekkermonument kyk uit oor Pretoria – destyds die Afrikaner-hoofstad van die land. Maar nou, soos Langner verduidelik, is dit ’n stad wat nie meer slegs aan die Afrikaner hoort nie.

In die tuin is die besproeiingstelsel aan en word die rose – almal na Afrikaanse kunstenaars genoem – natgelei.

“Dit is seker die enigste plek waar ’n mens Nataniël en Steve Hofmeyr se rose in dieselfde bedding sal kry,” sê Langner laggend.

Hy is ’n man met ’n groot liefde vir die kerk, kultuur en geskiedenis, maar bowenal is hy ’n gesinsman.

Hy vertel trots dat hy die pa van ses kinders is, en met dié dat sy vrou, Melanie (45), ekstra wiskundeklasse aanbied, is daar in ’n gewone week sommer maklik 80 tot 100 kinders wat deur hul huis in Lyttelton, Centurion, beweeg.

“So dis nie net ses kinders nie,” vertel Langner, wat ook die hoof van die Voortrekkers is.

Langner en sy gesin. Voor sit Carike (16), Duané (12), sy vrou, Melanie, Merie (12), Danie en Anneke (20). Agter staan Niël (18) en Daniël (17).

’n Blink diamant

Geskiedenis is nog altyd ’n voorliefde van Langner, hoewel hy destyds besluit het om teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) te gaan studeer eerder as om ’n geskiedenisonderwyser te word.

Dis juis vanweë die liefde vir geskiedenis dat Langner hom onlangs uitgespreek het oor onder meer die standbeeld van oudpres. Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria en die weglating van die verskroeideaardebeleid uit die geskiedenisleerplan ter voorbereiding vir ’n korter skooljaar.

“Die ideaal sou wees dat Suid-Afrikaners weet ons het ’n veelvoud van geskiedenis en almal van ons het verskillende persepsies van of perspektiewe op hierdie geskiedenis.

“Daar is nie net een geskiedenis van een groep wat die land se algemene geskiedenis opmaak nie.

“Dis eintlik soos ’n diamant. Soos jy hierdie diamant draai, het elke groep se geskiedenis ’n stukkie lig wat op hierdie diamant val en skyn.

“Al hierdie lig saam gee vir ons ’n gebalanseerde prentjie.

Langner is ook die hoof van die Voor-trekkers in Suid-Afrika.Foto: LISA HNATOWICZ

“Die ideaal sou wees dat Suid-Afrika op ’n plek kan wees van kulturele volwassenheid, waar ons vir mekaar kan sê: ‘Daar is jou geskiedenis, hier is my geskiedenis, daar is hierdie perspektief op die geskiedenis, hier is my perspektief op die geskiedenis.’ ”

In ’n perfekte wêreld sou Suid-Afrikaners vreedsaam met mekaar kon verskil, debatteer en mekaar ook vanuit die geskiedenis leer ken, sê hy.

“Ek dink nie ons gaan ’n vreedsame toekoms kan binnegaan as ons nie vrede maak met die diversiteit van ons geskiedenis nie. Maar ongelukkig is ons nie op daardie punt nie en dan moet ’n mens vra hoekom nie.

“Ek dink daar is verskeie groot redes.”

Kulturele volwassenheid

Die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis is een van die hoofredes waarom Suid-Afrika nie kulturele volwassenheid kan bereik nie, sê Langner.

“Ek sien dit in die geskiedenishandboeke; dit word ongenuanseerd aangebied. Ons geskiedenis word gekriminaliseer. Ons is misdadigers van die mensdom. Alles in ons geskiedenis is boos, sleg en verkeerd. Dit is egter nie waar nie.”

Nóg ’n rede is die historiese geheueverlies onder Afrikaners.

“Ons kinders het skaam geword vir hul geskiedenis. Hulle leer nie meer geskiedenis nie. Hulle vergeet hul geskiedenis.

“Nou met die gr. 10-leerplan, op die 120ste herdenking van die verskroeide-aarde-beleid, is dit net uitgeskryf.”

Sonder dat ’n mens die impak van die trauma van die Boereoorlog op Afrikaners verstaan, is dit moeilik om hedendaagse vraagstukke of selfs apartheid te verstaan, sê Langner.

“As jy 20 000 kinders in (konsentrasie)kampe verloor het, het dit vir dekades ’n impak op daardie generasie. Praat van pyn, seer en trauma. Met watter beeld word ’n kind groot wat ná 1994 gebore is? ’n Gekriminaliseerde geskiedenis of glad nie geskiedenis nie.

“Hoe gaan hy dan vir Kruger respekteer, of ’n ander persoon se geskiedenis met respek behandel?”

Dan is daar ook die kwessie dat Afrikaners vandag onder simboliese sensuur lewe, meen hy.

Langner sê Suid-Afrikaners moet mekaar se geskiedenis leer ken en daaroor debatteer sodat die toekoms vreedsaam kan wees. Foto: LISA HNATOWICZ

“As ’n mens gaan kyk na die laaste paar jaar se debatte sien ons daar was ’n groot debat oor Die Stem, oor die ou landsvlag en nou oor standbeelde. Al dié Afrikaner-simbole word aan sensuur, hofsake en regulasies onderwerp.”

Langner noem ’n voorbeeld waar iemand die ou landsvlag verkeerd gebruik het of in die openbaar rondgeswaai het. Daar kom gevolglik ’n hofsaak en die vlag word verbied. Die verantwoordelike ding in dié geval, sê hy, sou wees om met mekaar te praat oor die geskiedenis van dié landsvlag.

“Onder hierdie vlag het ons teen Nazi’s geveg. Mense het onder dié vlag gesterf in Noord-Afrika teen die Italiaanse Fascistiese magte. Maar onder hierdie vlag was daar ook apartheid, so kom ons praat daaroor.”

Langner stel voor dat kultuur­organisasies, soos die FAK, vertrou word met hul eie simbole sodat dit met verantwoordelikheid en sensitiwiteit bestuur kan word, pleks om dit te reguleer met hofsake en bepalings.

“Dan kom ons by ’n verantwoordelike en volwasse samelewing uit.”

Waarheen met Kruger?

Langner het hom onlangs sterk uitgespreek oor die idee dat dit tyd is om die standbeeld van oudpres. Paul Kruger van Kerkplein na ’n finale rusplek te skuif.

Sammy Marks het destyds vir die beeld betaal, waarna dit in 1896 deur Anton van Wouw ontwerp is.

Die beplande onthulling van die beeld moes agterweë bly weens die Anglo-Boereoorlog.

“Ná die oorlog het die beeld van Kruger baie lank in ’n pakhuis gelê. Ná die oorlog was die Boererepublieke verslaan, en Milner het alles wat Afrikaans en Afrikaner was, ontken en weggeskuif uit die samelewing,” vertel Langner.

In 1913 is die standbeeld eers in Prinsepark opgerig waarna dit in 1925 na die treinstasie in Pretoria geskuif is. Op 10 Oktober 1954 is die Kruger-beeld amptelik op Kerkplein onthul.

“Pretoria was die Voortrekker-hoofstad, dit was dié Afrikanerstad en in die hart van Pretoria wou hulle vir Kruger gaan neersit. Hier het ons, 50 jaar ná die oorlog, weer ’n Afrikaner-president. Hier is pres. C.R. Swart en Paul Kruger en die Afrikaners pak Kerkplein vol.”

Maar dit is nie meer 1961 nie en Suid-Afrika lyk vandag heeltemal anders . . .

“Die demografie het verander. Dit is nie vandag meer Pretoria nie, dit is Tshwane. Tshwane is nie meer die Afrikaner-hoofstad nie en dit is nie meer die konteks van 1961 nie.

“Die demografie het verander en nou staan die beeld in die hart van die vorige Afrikaner-stad van die 1960’s, en dis ’n politieke speelbal. Dit het ’n politieke slaanstok geword,” sê Langner.

“Jy het hierdie pragtige beeld wat deel is van ons geskiedenis, maar dit pas nie meer in daardie konteks nie.

“Kruger is nie gemaak vir Kerkplein nie, en Kerkplein is nie gemaak vir Kruger nie.”

Die standbeeld het al telkemale deurgeloop onder vandale wat dit met spuitverf bygekom het. Langner meen ’n veiliger plek vir die Kruger-beeld sou by die Voortrekkermonument wees.

“Dan kan daar in Tshwane op Kerkplein ’n nuwe, inklusiewe ruimte opgerig word wat gestalte gee aan die geskiedenis van Tshwane soos wat dit nou is.”

Daar is nóú ’n geleentheid om die Kruger-beeld op ’n vreedsame en stylvolle manier te skuif, op ’n manier wat nie konflik of rassespanning veroorsaak nie, sê Langner.

“Daarom moet ons daaroor praat. As ons nie praat daaroor nie, is ons die heeltyd reaktief. Hy moet eers omgegooi word, of vandale moet hom beskadig. Want skuif gaan hy skuif, die een of ander tyd. ’n Mens sal dit net op ’n verantwoordelike manier moet doen.”

Persepsies oor Afrikaners

Daar is baie persepsies van Afrikaners, sê Langner.

“Dit pas partykeer politici om persepsies van ons te skep. Ons is rassiste, ons verlang terug na die verlede, ons hunker terug na apartheid, ons is kolonialiste.

“Dit is nie waar nie. Die meeste Afrikaners wat ek ken, en ek ken baie, is goeie mense.”

Hy sê die Afrikaner is ’n ruimteskeppende volk. “Dit is mense wat met hoop leef, mense wat ruimtes skep.”

Maar as die pa van ses kinders is hy bekommerd oor sy kinders se toekoms in Suid-Afrika.

“Ek wil hard werk vandag sodat hulle ’n toekoms kan hê in hierdie land en sodat hulle vir hulself ’n toekoms kan bou.

“Ek wil nie hê my kinders moet in Kanada, Amerika of Nieu-Seeland gaan sit nie.

“Daarom is dit ons geslag se verantwoordelikheid om hierdie ruimtes vir hulle te skep.”

Langner sê hoewel die inperking vir hom kosbare tyd saam met sy gesin gegee het, besef hy dat die impak op die ekonomie en Suid-Afrikaners groot is.

Die Voortrekkermonument het dié knou nie vrygespring nie en moes onlangs noodgedwonge geld insamel om kop bo water te kan hou. Die publiek kon dele van die monument “koop”. Mense kon byvoorbeeld granietstene uit die monument teen R100 stuk koop.

Op die vraag of ’n mens in dié moeilike tyd ’n granietsteen uit die Voortrekkermonument moet koop, of eerder die geld gebruik om vir ’n honger persoon kos te koop, sê Langner dis nie ’n kwessie van een óf die ander nie.

“Ek dink dit gaan oor ’n mens moet die een ding doen en die ander ding nie los nie.

“Dit gaan oor ’n balans wat ons moet skep om aan die een kant te sorg vir jou kultuurhistoriese erfenis, maar aan die ander kant het jy ook ’n verantwoordelikheid teenoor jou medemens.

“Op die einde van die dag wil ons nie kies nie, want die grootste probleem vir hierdie land is armoede.

“As ons ’n oplossing kan kry vir armoede en vir werkloosheid, sal ons ook ’n oplossing vir ander probleme kry.”

Ná 1994 het Afrikaner-organisasies die keuse gehad om saam die nuwe regering en sy planne te volg. Dié wat die nuwe regering gevolg het, het weggestap van hul Afrikaneridentiteit, sê Langner.

“Dan is daar organisasies soos die FAK en die Voortrekkers, wat gesê het ons wil nie wegstap van ons Afrikaneridentiteit nie. Ons wil vra watter verskil kan ons as Afrikaners in die land maak. Hoe kan ons Afrikanerkultuur lewenskragtig herposisioneer in die land sodat dit steeds saakmakend is?”

Langner sê die FAK is eerlik oor sy nis en sy mark.

“Ons wil nie alles vir almal wees nie. Ons kan nie alles vir almal wees nie. Ons is eerlik dat ons ’n Afrikaner-kultuurorganisasie is.”

Ons gaan terug na die tuin om die huis op die heuwel waarin die FAK se hoofkantoor is.

“Ons is nie ’n korporatiewe maatskappy nie, ons is in ’n huis op ’n erfenisterrein by die Voortrekkermonument.

“Rondom ons is ’n tuin en hierdie tuin versorg ons. Dis die Afrikaanse Liedjietuin.

“Dit gaan vir ons oor Afrikanerkultuur en ons taal Afrikaans, maar ons is eerlik daaroor. Dit sal vir ons baie voortvarend wees om vir die Griekwas in Griekwastad te gaan sê hoe hul tuin moet lyk, of om vir die bruin gemeenskap in Mitchells Plain te sê hoe hul tuin moet lyk. Ons is eerlik oor ons tuin en ons doen ons bes om dit te versorg, bewaar en dit te behou.”

Tog glo Langner in diversiteit en dat daar vir almal ’n plekkie onder die Suid-Afrikaanse son is.

“Op die einde van die dag is hierdie maar net een kultuurtuin, dis nie dié kultuurtuin nie. Dis ’n kultuurtuintjie in Suid-Afrika en op die einde van die dag maak al die verskillende kultuurtuine saam die groot, Suid-Afrikaanse kultuurtuin.

“Die FAK ken sy plek. Ons weet ons is ’n Afrikanerorganisasie. As ons met ander praat en saamwerk, dan doen ons dit as Afrikaners, maar ons doen dit ook met redelikheid, ons doen dit vreedsaam, ons wil graag hande vat en saamwerk. Op die einde van die dag is ons maar deel van ’n groter geheel.”

Andrea van Wyk is ’n redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Fak  |  Paul Kruger  |  Danie Langner  |  Standbeelde  |  Diversiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.