Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
My wêreld
‘Mallighede kan golf van positiwiteit ontlok’

“Ek het al baie snaakse dinge in my lewe aangevang,” sê Marena van Hemert terwyl sy ’n slukkie van haar cappuc­cino neem.

Haar bruin oë skitter ondeund. Soos die keer toe sy ’n gehoor by ’n skoolkonsert amper laat glo het ’n klomp st. 6-leerlinge voer ’n simfoniekonsert met handgemaakte kartoninstrumente uit.

Marena van Hemert. Foto: Carla Lewis

Of haar onwrikbare geloof dat iets so eenvoudigs soos ’n glimlag vir ’n vreemdeling of om ’n weeskind aan ’n lekker deuntjie bloot te stel ’n vlinder-effek van positiwiteit aan die gang kan sit. Van Hemert het dit al met haar eie oë gesien: Daardie fladdering van passie in ’n kind se hart wanneer sy vir die eerste keer ’n musiekinstrument bespeel, kan seismiese verskuiwings teweegbring, nie net in die kind se lewe nie, maar ook in sy familie en gemeenskap.

“Dis malligheid, nè?” sê sy laggend.

Dié musiekonderwyseres en geskiedkundige beklemtoon dat sy nie “baie kwalifikasies in musiek het nie, maar wel baie ervaring”.

Sy het haar BA-graad in geskiedenis en opvoedkunde in 1977 verwerf en beskik oor ’n opus van publikasies oor Suid-Afrikaanse geskiedenis in haar naam. Tog was en is dit musiek wat altyd ’n belangrike deel van haar lewe uitgemaak het.

“My liefde vir musiek het ek by my ouers geërf. My ma was ’n besonder talentvolle pianis.

“Toe ons in Johannesburg gebly het, was daar Sondag-aande ná kerk simfonie­orkeste in die Johannesburgse stadsaal en my ma-hulle het ons soontoe gevat. Toe sê my ma vir ons ons kan nou kies watter instrumente ons wil speel. My broer kies die tjello, ek kies die viool.”

Dit was die begin van ’n liefdesverhouding wat oor dekades heen gestrek het.

“Ek het vioollesse by ’n wonderlike man, Erwin Broedrich, ’n Duitser, geneem. Ons het in Doornfontein gebly en ek het nog trem na hom toe gery toe daar nog trems in Johannesburg se middestad geloop het. Somtyds het ek sommer geloop en dan op pad terug vir my sweets by die kafee gekoop.”

Musiek het gesorg vir kosbare oomblikke in haar lewe.

In die 1970’s het sy in Port Shepstone gewoon en musiekwaardering vir st. 6-leerlinge aan die Hoërskool Suid-Natal gegee.

“Ek moes mooi dink hoe ek die spul tieners entoesiasties oor klassieke musiek gaan kry. Toe pak ek ’n projek aan. Eers wys ek vir hulle ’n video van ’n orkes en hoe die musici die verskillende musiekinstrumente speel. Nadat ek dit gedoen het, vertel ek vir die klomp ons gaan nou ons eie orkes vorm.”

Grootoog wil die st. 6-leerlinge weet: “Hoe op aarde doen ons dit, Juffrou?”

“Ek het elkeen ’n instrument laat kies en die kinders het dit van karton gemaak.”

Musiek beskik oor die vermoë om ’n kind te raak, ’n kind wat net mure en walle voor hom sien. Musiek breek daardie strukture af, dit woel gevoelens los.

Toe moes hulle oefen hoe om die instrumente te ‘speel’ terwyl ’n simfonieorkes op die agtergrond op die radio gespeel het. Hulle moes die aksies presies naboots.

“En daar voer ons ons ‘simfonie’ sommer op die jaarlikste skoolkonsert uit. Die kinders was so oortuigend dat ’n paar gehoorlede vir ’n oomblik gefop was en gedink het ons speel regtig die karton­instrumente.

“Daardie kinders het dit nooit vergeet nie.

“ ’n Rukkie terug sien ek op Facebook daardie einste foto van ons ‘kartonorkes’ wat ons daardie dag geneem het.

“Dit was malligheid, maar dit was lekker!

“Ek sê nie met die lafheid gaan ons wondere verrig nie. Maar jy moet aanhou probeer. As ons vir een kind ’n wonderlike ervaring kan bied, was dit reeds die moeite werd.”

En dis ook wat sy nou wil doen met ’n geleentheid wat sommer so terloops deur een van haar musiekstudente haar pad gekruis het. Die ekotoerismemaatskappy waarvoor Nirvani, die vioolstudent, werk, bedryf ’n korporatiewe verantwoordelikheids-projek waarin hulle kinders in townships meer leer van kultuur en ekotoerisme.

Van Hemert se volgende projek is om as vrywilliger by ’n weeshuis buite Midrand te werk waar sy die kinders meer van musiek gaan leer.

“Sulke werk is my eintlike liefde.”

Ag, weet jy, jy hoef net vir ’n vreemdeling te glimlag. ’n Glimlag is sommer ’n klein wonder op sy eie. Jy sal iemand verby wie jy loop se dag maak deur net spontaan te glimlag omdat jy dié dag bly voel.

Voor haar aftrede was sy by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke.

“Ná my aftrede gee ek vioollesse vir mense wat dit kan bekostig, maar ek is weg van die mense wat ek eintlik wil help. En hier kom een van my studente en maak die deur vir my oop.

“Musiek beskik oor die vermoë om ’n kind te raak, ’n kind wat net mure en walle voor hom sien. Musiek breek daardie strukture af, dit woel gevoelens los. Ons besef nie die grense waardeur townshipkinders nog deur moet breek nie. Ons dink nou hulle het meer geleenthede, maar dit gaan nog jare vat, indien ooit, voordat dinge regkom.”

Maar hoe bly sy glo, hoe bly sy positief wanneer die ellende nimmereindigend lyk? Watter verskil maak musiek as daar nie eens basiese waardigheid is nie?

“Dis onmoontlik om die wêreld vrou alleen te pak en te wil verander,” sê sy.

“Maar ’n mens kan ook nie sê ‘ek sal in elk geval nie ’n verskil kan maak nie, so nou doen ek eerder niks’ nie.

“As een mens vir een ander mens die lewe kan verander, dan was dit op die ou end die moeite werd.

“Maar jy moet self daarin glo. Jy moet glo dat dit kan werk,” beklemtoon sy ernstig, die speelsheid weg uit haar stem.

“En dan kan jy die volgende ou inspireer, wat nou weer iemand anders inspireer. En een, twee, drie het jy naderhand ’n groot groep mense wat ’n verskil gemaak het.

“Ag, weet jy, jy hoef net vir ’n vreemdeling te glimlag. ’n Glimlag is sommer ’n klein wonder op sy eie. Jy sal iemand verby wie jy loop se dag maak deur net spontaan te glimlag omdat jy dié dag bly voel.

En daardie glimlag is aansteeklik. “Dis die ding van sulke klein mallighede. Dit kan ’n hele vloedgolf van positiwiteit ontlok.”

Meer oor:  Profiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.