Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Mans is nie #trash nie, maar . . .’

Die #MenAreTrash-benadering is giftig en teenproduktief, het Eugéne Oppelt, ’n sielkundige wat hom op manlikheid toespits, aan Murray La Vita gesê.

Eugéne Oppelt aan die woord in Kaapstad.Foto: Adrian de Kock

Die gesprek met Eugéne Oppelt (48) begin by sy ouers en die invloed wat veral sy ma op sy lewe gehad het.

Ons sit in ’n koffiewinkel in Durbanville, noord van Kaapstad, wat op die perseel is van ’n handelaar in binnenshuise produkte. Oppelt het voorgestel ons ontmoet hier aangesien dit naby aan sy praktyk is. Hy en sy gesin woon ook hier naby.

Dit is ’n gemoedelike, verfynde ruimte vol mooi materiale, meubels en matte, waarin hoofsaaklik vroue rustig en glimlaggend rondbeweeg.

Oppelt is ’n lenige, smaakvol geklede man. Sy uitstraling is een van kalmte en vriendelikheid.

Internasionale ManKind Project

Eugéne is betrokke by die internasionale ManKind Project.

“Dit is ’n niewinsgewende organisasie wat aan moderne mans ’n vorm van inisiasie bied. Destyds was dit jy gaan skiet jou eerste bok of jy vang jou eerste vis.

“’n Sinvolle inisiasie bestaan dus grootliks nie meer nie. Die inisiasie neem dikwels die vorm aan van jou eerste seksuele ervaring, jou eerste karongeluk, jou eerste motorbike wheelie. Maar dis nie gesond nie; dit beklemtoon net ou vorme van manwees.

“Op die inisiasienaweekkamp leer jy oor waardes, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid en liefde. En ons leer mans oor ’n lewensmissie en ons vra vir hulle: Wat wil jy met jou lewe doen? Wat wil jy hê moet jou nalatenskap wees? Watter verskil wil jy maak?

“So, die ManKind Project rus mans toe om ’n lewensmissie te skep waardeur hulle ’n verskil kan maak vir hulself en vir ander mense – ’n selfbewussyn en ’n sosiale verantwoordelikheid.”

“Ek het in die Paarl grootgeword. My ma was in die verpleegdienste en my pa was ’n bouer. My ma was my inspirasie, want sy het my aangepor om te gaan swot. Sy was my groot mentor rondom opvoeding en net die idee van moontlikhede skep in die lewe.”

Hy het op hoërskool musiek as vak geneem en bespeel die klavier en saksofoon.

“So, ek is ’n bietjie van ’n musikant, maar nou is ek ’n sielkundige en ’n kundige op die gebied van manlikheid, leierskap en peak performance in sport . . . sportsielkunde.”

Sy beroepskeuse is deur sy ma beïnvloed wat hom geïnspireer het om ’n verskil te maak in ander se lewens.

“Veral in Suid-Afrika . . . Dis ’n grówwe land. Daar is baie seer; baie pyn, maar nogtans . . . Ons ploeg voort; ons druk deur. En dít is hoekom ek so lief is vir hierdie plek – daar is soveel redes waarom ons nié moet bly nie, waarom ons nié moet herbou nie, maar daar is iéts baie spesiaal in die grond.”

Dit is ’n land van hoop, meen hy.

“Ek werk met mense, en as daar nie hoop is nie is jy in jou maai. Hoop is daai greintjie . . . Daai druppeltjie water op jou tong. My ma het my geleer van hoop, hulp en inspirasie.”

‘Verskriklik alleen’

“Dis ’n grówwe land. Daar is baie seer; baie pyn, maar nogtans . . . Ons ploeg voort.” Foto: Adrian de Kock

Waarom is manlikheid een van sy fokusgebiede?

“As ’n jong man was ek verskriklik alleen. Ek was ’n musikant, ek was nie ’n rugbyspeler nie. Ek was ’n gevoelsmens, nie ’n macho-ou nie, en ek het verskriklik alleen grootgeword in my sosiale sisteem. Hard wees, taai wees – dít was die voorskrif van manwees.

“So, ek het gedink: Hoe gaan ek mý identiteit as ’n man vir myself uitwerk? Daar was baie min rolmodelle en voorbeelde van die nie-sport, nie-macho, nie-drinkende model van manwees.

“Deel van ’n sekere soort manwees is aggressie, en dít is die wortel van geweld. Aggressie is ’n vorm van jou krág en mag as ’n man. En ek was nie aggressief nie. Ek was ’n musikant en my pássie was my vorm van uitdrukking, níé aggressie of geweld of harde vorms van uitdrukking nie.

“Maar dit was die model en dit is nog steeds die model van manlikheid. Dit is so ’n ou, gevestigde model van manwees. Die groot sisteem is patriargie en in daardie sisteem is dit belangrik om te wys jy is dominant en daaruit spruit sekere gedragspatrone – aggressie is die aanvaarde manier om te wys jy is dominant.”

‘Mans moet mans uitdaag’

Wat kan gedoen word om die epidemie in Suid-Afrika van geweldpleging teen vroue deur mans te stuit?

“Nét mans kan ander mans stop en sê: ‘This is not okay’ wanneer hulle onaanvaarbare gedrag waarneem.

Die Bybel en mans

Daar is mans en leiersfigure in die kerk wat die Bybel so vertolk dat dit by hul patriargale agenda pas.

“Die Bybel is deur mans geskryf om mans en hul hiërargie te pas. En deur dié mondstuk word patriargie beklemtoon en versterk.

“So die fondasie van Mighty Men en mense soos Angus Buchan en wie ook al, is die Bybel, en die Bybel het ’n patriargale inslag. Hulle skop dus onmiddellik op die verkeerde voet weg en watter boodskap hulle ook al deurvoer, is gegrond op daardie inligting in daardie vorm deur daardie skrywers.

“As ’n vrou ’n medeskrywer van Genesis was, sou die toon ’n bietjie anders gewees het . . .

“Die Bybel is ongebalanseerd. Ek verstaan die voornemens en ek verstaan die fondasie en die Tien Gebooie, maar dit is bevooroordeeld. En solank die Angusse en ander kerkfigure nie daaroor wil dialoog voer nie – en dit sal nooit gebeur nie, want daar is soveel tradisie en soveel mág daaraan verbonde – sal dit deel bly van die blind spot; die paralaksfout.”

“Almal wat baat vind by patriargie – nét hulle kan binnenshuis die probleem uitsorteer. So, mans moet dan ander mans uitdaag, hanteer, maar ook onderskráág.

“Onderskraag is vir my ’n lieflike woord. Om hart tot hart vir iemand te sê: ‘Jy móét ’n ander manier kry.’ Ek dink dis die eerste ding wat moet gebeur, en dit is waar ek werk met mans om ander mans te help en te onderskraag om te sê: ‘Kan jy ’n ander manier kry?’

“Ek dink die onus rus eerstens op mans en húlle bewustheid en húlle aanvaarding van die probleem. Ek het ’n verantwoordelikheid want ek vind baat by patriargie, ek sal nooit ’n slagoffer wees nie – behalwe nou die ouens in die tronke of as jy as seun mishandel word.

“Ek het ’n verantwoordelikheid om te aanvaar en te luister en empatie te hê en om ander mans te onderskraag. Hoe skep ons dan raamwerke vir mans om oop te wees?

“Die #MenAreTrash-ding is toksies. Dit is toksiese etikettering deur die beweging. Dít maak nie my hart oop nie. Dit verhard net my harde hart, want dis nou ’n blaméér ding.

“En, ja, daar is ’n lading, daar is ’n verantwoordelikheid, maar ’n blameer-posisie . . . Swartes blameer wittes; wittes blameer swartes . . . Nou het jy mos wat hulle in die VSA die partisan ding noem. Nou praat ons nie meer nie, ons blaméér net.”

‘Ons moet praat’

“Vir my is die heelmaakproses as ons gaan begin praat en daar is ’n mate van aanvaarding en empatie tussen die vrouegroep en die mansgroep.” Foto: Adrian de Kock

“Vir my is die heelmaakproses as ons gaan begin praat en daar is ’n mate van aanvaarding en empatie tussen die vrouegroep en die mansgroep. Maar die #MenAreTrash-ding is baie polariserend en verskriklik . . . Die dialoog stop.

“Begín by die dialoog. Hoe kry ons mans by die dialoog betrokke? Sodra die toestande vir dialoog daar is, is daar die moontlikheid van groei, verandering en hoop. Dit is waarvan ek gehou het van die TRC [Waarheid-en-versoeningskommissie], daai jare – ons kon sien hoe powerful die dialoog was.

“Ja, daar was onderhandelinge: As jy dít erken, sal jy dít kry . . . Maar die hart van die TRC was die dialoog. Daar moet ’n bereidwilligheid wees . . . iets het in ons dorpie gebeur; hoe kan ons dialoogoomblikke skep?

“Slegs daardeur kan daar begrip, insig van die dominante groep af kom.”

Sporthelde

“Ek werk met mense, en as daar nie hoop is nie is jy in jou maai.” Foto: Adrian de Kock

Ek pols hom oor sy werk met sportuitblinkers.

“Ek dink ons sporthelde – en ek noem hulle sporthélde, want dit is hoe die jeug hulle beleef – het enorme sosiale invloed.

“As ek ’n groot handelsmerk is en jy is een van my sportikone, hoe kan ek sê: ‘As deel van jou sosiale bewusmaking, as deel van die borgskap is 10% van jou aktiwiteite om met die jeug te werk. Wat is jou waardestelsel?’

“Ek dink dus daai mense wat die helde skép, die maatskappye, het ook sosiale verantwoordelikhede. Hulle behoort te sê: ‘Ek sal jou borg, maar deel van jou handelsmerkgroei is jy moet ’n positiewe rolmodel wees; ’n sosiale invloed wat inspirerend is.’

“Baie van die atlete ís dit; die Wayde van Niekerks – hy is ’n wêreldrekordhouer en hy is ’n fantastiese rolmodel vir geestelikheid, vir waardes. Hy is ’n régte African in die sin van gentle power. Kragtig, maar sag – soos ’n olifant.

“Die jonger sportmense wat deurkom, is baie meer bewús. Ek dink ons begin stadig die ou model agterlaat – millimeters, maar dit gebeur.

“Ja, sporthelde het ’n verskriklike groot invloed. Dit is nie altyd maklik nie, want sport is fisiek; daar is aggressie – met beheerde aggressie wen hulle wedstryde. En met sport kom drank; baie van hulle het drankborge. En deel van toksiese manlikheid is dwelm- en drankmisbruik.”

Nelson Mandela

“Ek het ’n verantwoordelikheid om te aanvaar en te luister en empatie te hê en om ander mans te onderskraag.”Foto: Adrian de Kock

Wat dink hy van Nelson Mandela as manlike rolmodel?

“Kyk, Nelson Mandela se storie en die wêreldsimbool wat hy is . . . Wat hy goed gedoen het . . . hy was ’n prokureur, so geletterdheid was vir hom belangrik. As vandag se jong mans net meer lees en meer ingelig kan wees. Vandag se man lees nie meer nie en hy kan nie meer letterlik sy brein train nie.

“As jy nie lees nie, is jy oningelig. As jy oningelig is dan gedra jy vir jou dom. Of jy is voorbarig; jy is arrogant. Ek vind meer ingeligte mense trap ’n bietjie meer versigtig want hulle wéét meer. Met geletterdheid kom ook groter selfbewussyn, want jy reflekteer oor jouself, oor jou lewe, oor trends, oor wat rondom jou gebeur. En vandag se ouens lewe dikwels outomaties en by default.”

Hy het baie respek vir pres. Cyril Ramaphosa.

Cyril is bereid om gesprek te voer. By patriargie in sy hardste vorm word daar nie gepraat nie

“Wat vandag se man moet doen, is hy moet bereid wees om teen die grein in te beweeg. En om dít te doen, verg verskriklik baie waagmoed, dúrf en stamina.

“Cyril verduur geweldig baie kritiek – binne sy party, buite sy party. Daar is iets by hom wat bereid is om teen die grein in te gaan.

“Om patriargie en toksiese manlikheid aan te vat moet ’n man bereid wees om teen die grein te gaan en stroomop te swem. En dít verg tien keer meer energie en waagmoed en ’n klómp, klómp stamina. En ek dink dit is wat hý baie goed doen. Hy is bereid om stroomop te swem en ek dink hy is besig om geleidelik ’n verskil te maak. Hy is besig om te waag met van sy nuwe maniere en nuwe denke. En hy is bereid om dialoog te voer.”

’n Outoritêre benadering is ’n aspek van patriargie wat verskriklik destruktief is.

“Cyril is nie só nie. Hy is bereid om gesprek te voer. By patriargie in sy hardste vorm word daar nie gepraat nie, die benadering is een van bevele, beheer en geweld.”

Pornografie

Oppelt meen pornografie speel ’n baie belangrike rol in toksiese manlikheid.

“Dit is waar jong mans deesdae in ’n digitale era hul rolmodelle vind. Hulle praat nie meer met ouer mans oor die feite van die lewe nie. Dit is ’n ernstige probleem.

“ ’n Paar jaar gelede was dit televisie en iemand soos Arnold Schwartzenegger wat ’n rolmodel was, en natuurlik sportrolmodelle, maar deesdae is dit pornografie. En die beeld wat in pornografie geskep word, is weer eens dié van die dominante rol van mans teenoor vroue. Seks is nie ’n dans nie, die man is totaal in beheer.

“Met die beheer kom daar natuurlik mag en die meeste mans weet nie hoe om hul mag te hanteer nie. Hulle deel nie mag nie en druk dit gewoonlik op ’n aggressiewe manier uit, want dit is die templaat wat hulle ken: Aggressie is manwees en manwees is aggressie.”

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Leierskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.