Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Maria gaan oor ons kus waak

’n Vrou wat al reg oor die wêreld gewerk het aan projekte wat wissel van die ontwerp van hawe-infrastruktuur tot kusbeskerming, is Kaapstad se nuwe kusingenieur. Sy het met Murray La Vita gepraat.

Maria le Roux op Rocklandsstrand in Seepunt. Foto: Jaco Marais

Maria le Roux (38) smeer die botter noukeurig en sistematies op die snytjie rogbrood in die bord voor haar totdat die hele oppervlakte eweredig bedek is. Die naels aan haar netjiese hande is kortgeknip.

Maria is pas as kusingenieur vir die Stad Kaapstad aangestel. Ons het ’n paar minute gelede foto’s van haar geneem op Rocklandsstrand in Seepunt en nou sit ons buite ’n restaurant oorkant die ligtoring in Mouillepunt en gesels.

Dit is ’n besonder mooi vroeë herfsoggend aan die kus. ’n Ligte bries waai van die see af en meeue swiep nou en dan luidrugtig deur die lug bo ons.

Wiskunde en wetenskap was altyd my gunsteling-vakke.

Maria is geklee vir die kantoorafsprake wat later die dag op haar wag: ’n Redelik stemmige blou pakkie en daarby ’n aantreklike wynrooi baadjie wat sy by navraag sê vir die doopplegtigheid van een van haar kinders aangeskaf is.

Sy beklemtoon ’n paar keer dat sy nie oor haarself wil praat nie, maar oor haar werk. Sy stem egter dan wel in om iets oor haar agtergrond te deel.

“Ek het op Kuilsrivier grootgeword en woon die afgelope sowat 20 jaar in Somerset-Wes. Ek het in Stellenbosch siviele ingenieurswese studeer en het ’n meestersgraad in hawe-en-kus-ingenieurswese.

“Wiskunde en wetenskap was altyd my gunsteling-vakke. Naweke en vakansies was altyd by die see. Gunsteling-plekke was Rooiels en Wlotzkasbaken in Namibië, noord van Swakopmund – my ma se familie is van Namibië. Later ook Stilbaai.

“Ons rol fokus tans spesifiek op die onderhoud van die bestaande kusinfrastruktuur en om seker te maak dat enige nuwe infrastruktuur wat nodig is op die duur volhoubaar is.” Foto: Jaco Marais

“Kus-ingenieurswese was van jongs af altyd ’n onderwerp in ons huis . . . My pa is ’n kusingenieur, so ek was bevoorreg dat daar altyd stories, boeke en foto’s van kuslyne en -strukture – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die res van die wêreld – was.

“En wat my geïnteresseer het soos wat ek ouer geword het, was die praktiese toepassing of gebruik van wiskunde en wetenskap om natuurlike prosesse in ’n dinamiese omgewing soos die see te kan verstaan en strukture te bou.”

Nadat sy haar studie voltooi het, het sy vir haar pa se maatskappy gaan werk en later by ander kusingenieursmaatskappye. ’n Jaar gelede het sy haar eie onderneming begin. En sy het haar pas by die Stad Kaapstad aangesluit.

“Geïntegreerde kusbestuur is ’n nuwe afdeling van die Stad – ek dink dit is so twee jaar gelede geskep – en hul rol is om ook te kyk na die kusbeskerming. Dit behels besoedelingsbeheer, biodiversiteit, onderrig en die kusinfrastrukture.

“Dit is nou die eerste keer in die geskiedenis van die Stad Kaapstad dat ’n kusingenieurs aangestel word om deel van daardie span te wees.” Sy werk saam met twee ander kusingenieur: Brenton Heron en Pierre Roux. “Ons rol fokus tans spesifiek op die onderhoud van die bestaande kusinfrastruktuur en om seker te maak dat enige nuwe infrastruktuur wat nodig is op die duur volhoubaar is.”

Die see altyd deel van haar lewe

“Weet jy, die see was maar net altyd deel van my lewe . . .” Foto: Jaco Marais

Hoekom hou die see ’n bekoring en aantrekking vir haar en mense in die algemeen in?

“Weet jy, die see was maar net altyd deel van my lewe . . . Dis nie te sê dít is wat my aantrek nie, want mense wat nog nooit die see gesien het nie, is ook aangetrokke tot die see. In ons omgewing is daar amper 5 miljoen mense wat binne 30 km van die see af woon.

“So mense van die Kaap . . . almal maak aanspraak op die omgewing; ons word groot daarmee; dis iets wat net deel is van ons lewe as ’n mens hier bly.”

Dit is een van ons grootste natuurlike bates en dit is ongetwyfeld een van die mooiste kuslyne in die wêreld.

Dis asof die see ’n emosionele reaksie by mense ontketen.

“Ja, en veral ongerepte kus. Soos Namibië is totaal ongerep . . . die Weskus. Ons in Suid-Afrika is so bevoorreg dat ons nog sulke kuslyne het.”

Haar man is ’n biokinetikus.

“Hy het ook ’n groot belangstelling in die see. Voordat ons kinders gehad het, het ons altyd gekajak en gesnorkel. Wat vir my wonderlik is, is dat hy my baie ondersteun. As ek na ’n site toe moet gaan, oor naweke of enige tyd, hoef ek nie te verduidelik of te vra hy moet saamkom en die kinders saambring nie. Dit maak ’n groot verskil.”

Groot natuurlike bate

Die gebied waarin Maria gaan werk, is die Stad Kaapstad se kuslyn van 307 km lank – noord van Koeberg tot by die Steenbrasrivier voor Rooiels.

“Dit is een van ons grootste natuurlike bates en dit is ongetwyfeld een van die mooiste kuslyne in die wêreld en ék persoonlik is absoluut bevoorreg om deel te wees van ’n span van Kaapstad wie se werk dit is om na dié kuslyn om te sien.

“Buiten wat die see en die kuslyn vir inwoners beteken, is daar ook baie kommersiële en operasionele instansies wat regstreeks verwant is aan die see en dit vorm die grondslag van ons toerisme, ons ekonomie en ons gemeenskap.

“Ons het ’n verskriklik diverse mariene omgewing as gevolg van die koue en die warm seestrome, so ons ekologie, ons biodiversiteit, ons gemeenskap, ons toerisme, ons ekonomie . . . as gevolg van dit alles is die instandhouding van ons kuslyn ononderhandelbaar.”

Gevare

Le Roux voor die Mouillepunt-ligtoring. Foto: Jaco Marais

Sy praat oor seevlakstyging.

“Dit is nie iets wat vandag of môre gaan gebeur nie, maar dit ís ’n realiteit en ’n mens móét dit in ag neem in jou langtermynbeplanning.

“Ons beplan om ’n dieptestudie van die kuslyn te doen waarin jy al die gevare in ag sal neem. Seevlakstyging sélf sien ek nie regtig as ’n gevaar nie, maar dit gaan lei tot gevare – die oorstroming van kuspaaie, woongebiede; en kommersiële en industriële aktiwiteite gaan ook geraak word.

“’n Mens sal dan langs die kus na die gevare kyk en weerlose gebiede identifiseer. Dan kan ’n mens nou ’n holistiese langtermynstrategie uitwerk, want al die gebiede gaan mos nou nie op dieselfde tyd geraak word nie en die impak gaan van plek tot plek verskil.

“Nou, as jy nou só ’n plan het dan is dit maklik om te beplan vir die toekoms as jy nuwe infrastruktuur moet bou dat dit op lang termyn volhoubaar is. Temperingsmaatreëls kan dan ook toegepas word vir bestaande infrastruktuur.

“Ons het ’n baie dinamiese kuslyn en baie stormagtige seë, so ons infrastruktuur moet beskerm word. Die kusbeskermingsinfrastruktuur is duur en groot; dit moet die see kan weerstaan wat ons hierso het. Maar dit moet natuurlik ontwikkel word sonder om ’n nadelige impak op die ekologie te hê.”

Die infrastruktuur waarna sy verwys, is byvoorbeeld hawens, seemure en betondolosse.

Droom van sukses

Wanneer ek Maria vra oor drome of visies wat sy vir haar nuwe pos het, antwoord sy:

“Kyk, dit is ’n groot verantwoordelikheid, nè. So, in my wildste drome het ek nooit gedink ek gaan ’n kusingenieur vir hierdie kuslyn wees nie, so dít insigself . . . Ek weet nie hoe groot ’n mens dan moet droom nie,” sê sy en lag. “So, my grootste droom is net om regtig ’n sukses te maak van die beplánning en om strategieë te ontwikkel wat lewensvatbaar is en wérk. Kyk, ek is ’n ingenieur, so ontwerp is die máklike deel. Maar wat meer ingewikkeld is, is om dinge te skep en te sorg dat dit in werking gestel word.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.