Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Martie flankeer met woorde

Martie Retief Meiring, aan wie die Markus Viljoen-medalje verlede week toegeken is, was nie net ’n joernalis wat waargeneem het nie. Sy het ook beïnvloed, skryf Lizette Rabe.

Martie Retief Meiring het verlede Vrydagaand die gesogte Markus Viljoen-medalje ontvang. Foto: Argief

Sy’s die grande dame van die Afrikaanse joernalistiek wat ná meer as ses dekades as joernalis steeds vlymskerp kommentaar lewer op Suid-Afrikaanse stuitighede en sotlikhede. Dis Martie Retief Meiring, aan wie die prestigeryke Markus Viljoen-medalje van die Akademie verlede Vrydagaand in Stellenbosch toegeken is. Ton Vosloo, oud-voorsitter van Naspers, het die commendatio voorgelees – ’n baie spesiale oomblik vir twee kamerade wat hul loopbane meer as sestig jaar gelede in dieselfde nuuskantoor begin het.

Die Markus Viljoen-medalje is benoem na die eerste Afrikaanse joernalis wat ’n professionele graad in die joernalistiek behaal het. Viljoen het in die 1920’s sy meestersgraad aan die Columbia Universiteit in New York behaal en daarna die Afrikaanse koerant- en tydskrifjoernalistiek op verskillende maniere vernuwe en hervorm.

Martie Retief, gebore in 1934 in Johannesburg, het in 1951 aan die Hoërskool Port Natal in Durban gematrikuleer en in 1954 met ’n BA aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Sy het in 1955 by Die Oosterlig (later Die Burger Oos) in Port Elizabeth begin werk, waar sy en Ton Vosloo saam juniors was. Daarop het Die Vaderland en NewsCheck gevolg, waarna sy in 1962 na Londen is, eers as vryskut, en van 1964 af in die Londense kantoor van Nasionale Koerante en Tydskrifte. In 1967 is sy terug na Johannesburg en die Sondagblad Die Beeld, toe na Huisgenoot, en in 1975 na die dagblad Beeld, pas tevore in 1974 gestig.

Sy het selfs illustrasies in kortverhale gebruik wat Nelson Mandela uitbeeld in ’n tyd toe dit strafbaar was om ’n afbeelding van hom te publiseer.

Maar dié joernalis het haar ook in omgewings bevind waar sy nie net met woorde ’n verskil wou maak nie. Vanaf 1976 was sy betrokke by die Vroue vir Vrede-beweging, asook by Kontak. Retief Meiring was ook redakteur van Bonanza, die eerste swart vrouetydskrif wat Naspers uitgegee het. In sy kortstondige bestaan van 1978 tot 1981 het sy dit reggekry om onder meer vir Leah Tutu, vrou van Desmond Tutu, as rubriekskrywer te kry. Sy het selfs illustrasies in kortverhale gebruik wat Nelson Mandela uitbeeld in ’n tyd toe dit strafbaar was om ’n afbeelding van hom te publiseer.

Retief Meiring het ook ’n politieke rubriek vir die Sunday Times geskryf en was redaksielid van Vrye Weekblad. In 1989 was sy kandidaat vir die DP toe dié party nog as links-liberaal deur deursnee-Afrikaners beskou is, in 1994 persbeampte vir die eerste demokratiese verkiesing, en van 1995 tot 1998 administratiewe hoof van die poging om die parlement na Pretoria te verskuif.

Wie is die joernalis agter dié CV?

Martie Retief Meiring het haar loopbaan in die joernalistiek in 1955 by Die Oosterlig in Port Elizabeth begin. Foto: Argief

As rubriekskrywer het sy steeds gepubliseer, byvoorbeeld in Die Burger se Van alle kante, die oudste rubriek in Afrikaanse media. Daarbenewens was sy intens betrokke by die stigting van verskeie feeste, onder meer Aardklop, waar sy lank direksielid was.

En ja, tussendeur was sy eggenoot van kunstenaar en kultuurleier-argitek Hannes Meiring, oorlede in 2010, en ma van hul dogter Kabous, ’n nuwe generasie denkleiers (hoe dan anders). En sy was die skimskrywer van twee outobiografieë, dié van Elita de Klerk en Janie du Plessis.

Ná haar “aftrede” op Stellenbosch was sy betrokke by talle projekte op dié dorp – en net toe sy gedink het sy het finaal afgetree, is sy deur Stellenbosch se nagraadse Departement Joernalistiek genooi om te kom klasgee in rubriekskryf.

Maar wie, kan ’n mens vra, is die joernalis agter so ’n bedrywige CV?

Vir haar eerste werk by Die Oosterlig moes sy as “sogenaamde vroueredaktrise” op een dag van ’n modeparade tot ’n moord dek. Maar sy was ook skeepsverslaggewer, musiekresensent, sosiale verslaggewer (“met ’n hierjy-cocktail hoedjie”) én hofverslaggewer. “Om nie te vergeet nie van my gewone werk as ‘vroueredaktrise’, wat onder meer op ouderdom twintig oor babasorg moes uitwei.”

Retief Meiring was nie net ’n joernalis wat waargeneem het nie; sy het ook beïnvloed. Met die Vrouebevrydingsbeweging in die 1960’s was sy aan die voorpunt van ’n nuwe generasie onafhanklike, vrydenkende Afrikaanse vroue. Terwyl Retief Meiring aktief as joernalis oor nuus van die dag berig het, het sy haar eie stem, styl en register geslyp as rubriekskrywer van formaat. Die beskrywing van “klassieke fluweelhandskoen-joernalistiek” is ’n perfekte pas op Retief Meiring se werk met haar aktivistiese agenda en advokaatskap.

'Meisies,'' moes sy hoor, 'berig nie uit óns parlement nie.'

Dit alles is waarskynlik die natuurlike gevolg van ’n joie de vivre en ’n g’n-duiwel-kan-my-stuit-nie-persoonlikheid wat rimpelings veroorsaak waar sy kom. Soos toe sy in 1967 teruggekeer het ná haar Naspers-termyn in Londen en sy haar in ’n “vriendelike nyet” vasgeloop het. In Londen was sy naamlik reeds politieke skrywer wat ook uit die Britse parlement verslag gedoen het. Met haar terugkeer het sy “vol vertroue” gemeen sy is geskik vir Naspers se Persgalery-span. Waarop sy toe “heel vriendelik” die “nyet” van Burger-redakteur Piet Cillié kry.

“Meisies,” moes sy hoor, “berig nie uit óns parlement nie.” (’n Vrou sou eers 25 jaar later, in 1992, tot die parlementêre span van Naspers, vandag Media24, toegelaat word.)

Blywende nalatenskap as rubriekskrywer

Dit was dus terug na die “vroueblaaie”, onder vroulike redaksielede die “vrouedele” genoem. En natuurlik: die sosiale blaaie. Engelse kollegas het dié blaaie “slosh’’ genoem: “Sag, sappig, skinderig.”

Retief Meiring en haar kollegas het selfs “wit handskoene in ons laaie gehou vir daardie uitnodigings na hoogwaardigheidsbekleërs (dit was die amptelike woord vir die groot kanonne) se onthale, of na die eindelose hoeddraende vroueorganisasies”.

Dat Retief Meiring steeds vaandeldraer vir vroue in die nuuskantoor is, blyk uit die feit hoe sy ná ’n vleisbraaiery met oud-kollegas in 2014 gereageer het op iemand wat sê “ons” koerant (“dis nou Die Burger”) is darem so vol “meisie-bylines”. Sy het summier “bylines” (name by berigte) in een uitgawe gaan tel: sewe vroulikes en tien manlikes – “maar vyf van laasgenoemde was op die sportblaaie”.

Martie Retief Meiring: “Jou grootste sonde (as rubriekskrywer) gaan wees om die leser te verveel.” Foto: Argief

Veral as rubriekskywer het Retief Meiring ’n blywende nalatenskap. Soos sy aan Stellenbosch se joernalistiekstudente oor die “lekkerste werk” in die joernalistiek – rubriekskryf, natuurlik – gesê het: jy “flankeer met woorde”.

Sy het haar ervaring en deskundigheid mildelik gedeel – elke lesing ’n meesterklas – terwyl sy die studente ook krities laat nadink het oor of jy nou eintlik rubriekskrywer of essayis is.

En op die vraag of die goeie rubriekskrywer ander rubriekskrywers lees: “Wat dink jy dan!” En haar waarskuwing oor satire aan die jong hoopvolles was reguit en duidelik: “Satire ruk baie gou handuit tot gewoon nydigheid.”

En raad vir ’n generasie wat naeltjie-starend selfbehep is: “Vermy soos die pes selfvoldaanheid. Dit skemer deur in jou werk. Niks vervreem die leser so van ’n skrywer nie as wat hy/sy arrogant, selfingenome, selfbehep en selfverheerlikend voorkom.”

Retief Meiring is steeds die essensie van die joernalis as waarnemer.

En as toegif: “Gesoute rubriekskrywers het gewoonlik een groot ideaal: dit is om die onvergeetlike sin te skryf. Dus, dink in sinne. Dink soms sommer aan die inleiding vir ’n storie wat jy nog nie eens uitgewerk het nie. Dink veral daaraan dat jy in die bedryf van flankeerdery is. Jy moet jou lesers verlei.

“Jou grootste sonde gaan wees om die leser te verveel. Jou grootste uitdaging is om binne die kort bestek van ’n rubriek ’n briljante stukkie prosa te kan skryf. Daarom moet jy die dissipline van begin, middel en einde toepas. En nakom. Jou leser wil weet wat jy wil sê, en soek nie ingewikkelde esoteriese gedagtes nie.”

Retief Meiring is steeds die essensie van die joernalis as waarnemer, daar in ’n sypaadjiekafee onder Stellenbosch se skaduryke eike. Waar jy wat jy is, mooi moet kyk of die joernalistieke flaneur wat so flankeer met woorde nie dalkies reg agter jou op een van daardie shabby-sjiek bistro-stoeltjies van eikehout-wynvate sit nie. En dalk, net dalk, hoor – toevallig, natuurlik – wat by die buurtafeltjie te praat is op ’n dorp waar daar áltyd ’n storie is . . .

Martie Retief Meiring is die verpersoonliking van die joernalistiek as barometer van ons tyd en ’n waardige ontvanger van die Akademie se Markus Viljoen-medalje. Salut, Martie! En ’n groot dankie.

* Lizette Rabe is professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.