Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Marvin-Lee vind vrede ná die storm

Hy vertolk tans sy eerste hoofrol op die kassie in die kykNET-reeks Die byl, maar Marvin-Lee Beukes moes ’n hele paar steil bulte uitklim voordat sy loopbaan kon rigting kry. Vir dié rol gaan hy vier, vyf keer per week gimnasium toe en draf gereeld, want hy wil darem nie al hygend agter ’n misdadiger aan hol nie, sê hy aan Maretta Bellingan.

Marvin-Lee Beukes

Hy’s weliswaar geen Don Juan­ nie, grinnik Marvin, maar hy’s meer as gewillig om in Juan Stuurman se skoene te klim.

“Toe ek vir die eerste keer sy naam sien, het ek gesmile, maar toe sê die regisseur die naam word meer soos Jo-han uitgespreek. En daar verskiet my droom om ’n hartebreker te speel,” spot Beukes.

“Elke ou wil die damsel in distress red, maar ten minste los kaptein Stuurman moordsake op. En ou Stuurman is verseker nie die mees ervare Romeo nie. Hy raak wel verlief in reeks twee van Die byl, maar ai, die arme man is lomp en ongemaklik.”

Die karakter is ’n stillerige ou, vertel Beukes, met ’n droë sin vir humor, maar hy’s ambisieus en glo hy kan van die wêreld ’n beter plek maak. “Ek is ook nogal idealisties en glo dat ek as akteur as voertuig vir ’n goeie storie ’n verskil kan maak.”

Nog iets wat hy en Stuurman gemeen het, is sy toegewydheid tot ’n gesonde lewenstyl. “Ek gaan so vier, vyf keer per week gimnasium toe en ek draf gereeld. Die gim is ’n plek waar ek heeltemal kan ontsnap, daar’s geen onderbrekings nie. In die nuwe reeks het die karakter ook heelwat aksietonele en dit sal maar sleg lyk as hy al hygend agter ’n misdadiger aan hol.”

Maar anders as Juan, wat sosiaal heel gemaklik is, erken Beukes hy’s ’n ware introvert. “Ek was maar ’n stil kind; die verhoog gee vir ’n ou vlerke. Dis ’n plek waar die beperkinge waaraan Marvin hom gebonde hou, nie geld nie.”

Jonk en jeukerig

Juan Stuurman is sy grootste televisierol tot op hede, sê die 34-jarige akteur, wat tien jaar gelede as nuweling die rol van die verpleër Lorenzo in Binnelanders vertolk het.

“Ek was aanvanklik ongelooflik senuweeagtig, maar terselfdertyd baie trots en dankbaar.

“Ek het soos die kat se snor gevoel. Jy’s jonk en onervare en skielik kry jy al hierdie aandag. Ek was onder die indruk die rolle gaan nou net inrol, maar het met ’n slag aarde toe gekom toe my kontrak nie hernu is nie.

“Ek is ongelooflik verlig dat ek vandag hier is, want dit kon baie anders uitgedraai het. Ek het baie slegte besluite geneem. Ek was nie ’n betroubare werknemer nie, ek het heeltemal te veel gejol en was vir ’n hele paar jaar my eie grootste vyand.”

Dis duidelik nie vir hom maklik om daaroor te praat nie, tog skram hy nie weg van die waarheid nie. Waarskynlik omdat hy homself daaraan wil herinner hoe maklik dinge kan skeefloop.

“Toe ek die rol in League of Glory kry – ek was een van drie jong laaities wat graag professioneel sokker wil speel – was ek steeds baie deurmekaar. Dit was hel om met ’n babelaas ’n sokkerbal rond te skop; in daai stadium het ek nog gerook ook.

“Ná Binnelanders het ek vir omtrent ’n jaar nie gewerk nie. Ek het geen idee hoe ek oorleef het nie. Uiteindelik het ek besef my lewe kan net werk as ek nugter is.” Dis nou amper ses jaar dat Beukes laas alkohol gebruik het.

“As introvert het dit my sosiaal vaardig laat voel om te drink. Die lewe is nou báie makliker. Natuurlik is daar steeds uitdagings, maar ’n ou probeer nie meer jou probleme wegdrink nie.”

Grootwordjare

Beukes is ’n boorling van Loeriesfontein in die Noord-Kaap, waar pa Jannie ’n laerskoolhoof was en ma Ronel ’n onderwyseres. “Ek het in Vredendal grootgeword, die warmste plek in die land, waar ek in níks uitgeblink het nie,” lag hy.

Hy was ’n skaam outjie wat mal was oor Bruce Lee-flieks.

“In matriek het ’n paar van ons misfits besluit om dramaklasse te neem en iets het net gekliek. Ná skool is ek vir ’n paar maande Amerika toe en by my terugkeer het ek drama in Stellenbosch gaan studeer.”

Ná sy studie het hy by Binnelanders gewerk en later ook kleiner rolle in Vloeksteen, Bolandmoorde en Swartwater vertolk. Hy was ook te sien in die rolprent Wonderlus en het onlangs ’n rol in die nuwe rolprent Griekwastad gespeel.

“Ek het werklik vrede gevind in my beroep, al is die sosiale deel daarvan vir my moeilik. Maar ek is tans op ’n goeie plek wat my kop én werk betref.”

Beukes het ’n kortfliek, Soos gister, vir die Silwerskermfees geskryf, asook die regie daarvan gedoen.

Tans is hy ook ’n draaiboekskrywer vir Binnelanders, is besig om ’n reeks vir kyk­NET te help ontwikkel en sal graag in die toekoms meer op sy skryfwerk wil fokus.

Dans die vloer aan vlamme

En om alles te kroon, speel hy met vuur, letterlik. “Ek’s ’n opgeleide vuurdanser. Ek doen dit nie meer so gereeld nie, maar dis heerlik gevaarlik en opwindend,” erken hy. “Deesdae is ek maar boring, maar gelukkig kla my meisie, Marlize Viljoen, ’n aktrise en poppekunstenaar, glad nie.”

Die paartjie huur ’n kothuis op ’n plaas net buite Stellenbosch waar hulle tussen die wingerde saam met hul twee rotte, Totoro en Van Schalkwyk, woon. “Ons is régtig boring, ons kyk movies vir fun en ek maak ’n moerse lekker butternut-sop.

“Ons spaar ook baie hard vir ’n oorsese reis; ons wil graag vir Marlize se broer in Frankryk gaan kuier. En ek wil graag Xhosa leer praat. Ek dink ons doen heeltemal te min in ons land om mekaar beter te verstaan. Ons moet mekaar meer waardeer.”

Meer oor:  Die Byl  |  Marvin-Lee Beukes  |  Vertolk  |  Kyknet-Reeks  |  Hoofrol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.