Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Mashaba: 'Sluit ons grense'

Die ANC se derde mosie van wantroue teen die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, is Donderdag uitgestel tot volgende maand. Mashaba het vooraf aan Jana Marx gesê hy is nie té bekommerd oor die ANC se pogings om hom uit sy amp te verwyder nie.

Herman Mashaba in ligte luim gedurende die onderhoud. Foto: Simon Sonnekus

Energie straal uit die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, toe hy sy kantoor ná ’n lang, moeisame dag van vergaderings binnestap.

Hy glimlag van oor tot oor toe hy groet – dit lyk of hy sommer nóg ’n agt uur lange dag kan kafdraf.

Mashaba val sommer weg met ditjies en datjies. Hy het net nou dag by die nuwe Soweto Country Club in Pimville saam met sy vrou gaan gholf speel, sê hy. Dis mooi daar, ons moet gaan kyk. Hy maak hom tuis op sy blou rusbank vir ’n paar foto’s.

Dis moeilik om te glo dat dié selfversekerde, professionele sakeman, wat oor ’n week 60 jaar oud word, brandarm en sonder ouers grootgeword het.

Mashaba kom van ’n klein dorpie naby Hammanskraal, so 30 km noord van Pretoria. Sy pa is dood toe hy twee jaar oud was en sy ma moes as ’n huiswerker in Johannesburg gaan werk.

In 2014 het ek besluit: As die ANC meer as 60% kry, moet ek ’n manier vind om die geskiedenis in die land te verander.

Hy het haar miskien eenmaal per maand gesien. Die jong Mashaba het grootgeword in die sorg van sy suster, wat 13 jaar ouer was.

“Dit was moeilik,” onthou hy. “Maar my oupa het ’n sleutelrol in my lewe gespeel. Ek was sy oogappel. Hy het net só in my geglo en my aangemoedig om die beste te wees wat ek kan.”

In Januarie 1985 is Mashaba weg uit Hammanskraal en hy het in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, sy “Black Like Me”-onderneming, wat haarprodukte vervaardig, begin. Dié fabriek is op 17 November 1993 afgebrand.

Dit was op die vooraand van die aanvaarding van ’n tussentydse Grondwet wat die nuwe demokrasie in Suid-Afrika aangekondig het.

Hy het toe ’n fabriek in Midrand gekoop en in Januarie 1998 saam met sy gesin na Johannesburg getrek.

“In 2014 het ek besluit: As die ANC meer as 60% kry, moet ek ’n manier vind om die geskiedenis in die land te verander. Ek wou aankondig dat ek ’n DA-kieser word en ander swart mense aanmoedig om nie vir politieke partye op grond van kleur nie, maar waardes, te stem.”

Een van die hoogtepunte in Herman Mashaba se termyn as burgemeester van Johannesburg tot dusver is die stad se aanstelling van sy eie veiligheidspersoneel. Foto: Simon Sonnekus

Mashaba sê alle hel het losgebreek ná sy aankondiging.

“Ek het gesit en dink: Wat beteken politiek? Dit beteken om die samelewing te dien en ek was bereid om dit te doen. Ons het in 2016 net meer as 38% van die stemme gekry.”

Mashaba sê hy het burgemeester geword om die ANC te verdryf.

“Ek het tweemaal vir die ANC gestem – in 1994 en in 1999 – maar ek het toe besef dat ek en die ANC nie van dieselfde planeet is nie.

“Om burgemeester te word was die laaste ding wat ek wou gehad het. Ek het hierdie pos nie nodig nie, maar ek is daartoe verbind om die ANC uit te dryf en Suid-Afrika van die ANC te red,” sê Mashaba.

As enigiemand my verwyder, sal dit die partye in die koalisieregering wees.

Die mosies is alles net rookskerms, sê hy. Hy noem ’n paar redes wat die mosies volgens hom aanvuur – soos dat hy die ANC se geldkrane vir die plaaslike verkiesing in 2021 toegedraai het.

“As enigiemand my verwyder, sal dit die partye in die koalisieregering wees,” sê hy.

Sy groot koalisievennoot in Johannesburg is die EFF. Dans hy na hul pype?

“Ek dien nie politieke partye nie, ek dien die samelewing. Ek gaan nie ’n voorstel wat die samelewing opbou, bloot verwerp omdat dit van die EFF af kom nie. Ek dink die EFF is ’n baie strategiese vennoot,” sê hy.

Omdat dié werkverhouding so vrugbaar is, glo hy ook ’n nasionale koalisieregering is die land se toekoms.

‘Stuur immigrante terug’

Herman Mashaba het in 2016 besluit hy gaan nie meer net vanaf die kantlyn kritiseer nie. Politiek is om die samelewing te dien, en hy wou dit doen. Hy staan toe vir burgemeester van Johannesburg en word verkies. Foto: Simon Sonnekus

Mashaba het sterk oortuigings en haal gereeld die nuus oor sy standpunte oor onder meer onwettige immigrante. Die Johannesburgse middestad het onlangs amper soos ’n slagveld gelyk toe buitelanders en polisie slaags geraak het.

Wat die burgemeester lees

*Mashaba het in 1978 matriek geskryf en aan die destydse Universiteit van die Noorde (Turfloop) studeer. “Ek wou ’n prokureur word, maar weens my swak Afrikaans het ek toe politieke wetenskap gaan studeer. In my tweede jaar is die universiteit deur studente-protesoptogte ontwrig en sy deure is ’n maand later gesluit. Ons is gevra om terug te kom, maar ek het besluit om dit nie te doen nie.”

* Mashaba is getroud met Connie, wat hy die aand ná sy laaste matriekeindeksamen-vraestel ontmoet het. Hy het in die daaropvolgende jaar eers met haar kontak gemaak en hulle is in 1992 getroud. 

* Die Mashaba-egpaar het twee kinders, Rhulani (21) en Khensani (24). Khensani woon en werk in Miami, Amerika. “Ek sal graag wil hê sy moet terugkom as die land nie in duie stort nie,” se Mashaba.

* Hy lees tans Lee Kuan Yew se From Third World to First: The Singapore Story, ’n boek wat handel oor Singapoer se transformasie sedert sy onafhanklikwording in 1965.

* Hy het ’n voorgee van 19 in gholf.

* Sy gunsteling-vakansiebestemming is Mauritius – “waar daar baie water is” en waar hy kan lees. Toe hy nog in sake betrokke was, het hy graag in Plettenbergbaai vakansie gehou.

“Nee, kyk, solank as wat ons poreuse grense het, sal ons nooit wen nie.” Hy raam dat tussen 500 000 en een miljoen mense onwettig in Johannesburg is.

“Ons moet ons grense sluit en net mense toelaat wat hiernatoe kom om waarde toe te voeg. Ons Grondwet is duidelik genoeg oor wie kwalifiseer. Die meeste mense kwalifiseer nie om hier te wees nie en hulle moet na hul lande teruggestuur word.

“Hulle vlug nie regtig van onderdrukking in hul tuislande nie. Hulle kom hierheen as ekonomiese migrante. Hoe verwag jy van Suid-Afrika, met so ’n hoë werkloosheidsyfer, om die hele wêreld te help? Sowat 39% van ons eie mense is werkloos.”

Dié standpunt maak hom nié xenofobies nie, verseker Mashaba, hy gebruik net die Grondwet as riglyn.

Intussen het hy aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake geskryf om by die nypende situasie in Johannesburg in te gryp.

Mashaba haal dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, aan wat in 'n meningstuk in City Press gesê het dat sowat 1 001 162 asielsoekers die afgelope 21 jaar om vlugtelingstatus aansoek gedoen het. Net 11% het gekwalifiseer.

“Johannesburg het die nasionale regering nodig om ander stede aan te moedig om dieselfde te doen (op te tree teen onwettige immigrante); stede soos Tshwane, Germiston, Benoni, Durban en Bloemfontein. As ons ’n groot konstruksie-oplewing in ons middestad gaan sien, sal mense na Johannesburg stroom,” sê hy.

Ontwikkel die middestad

Herman Mashaba het net tweemaal vir die ANC gestem – in 1994 en die laaste keer in 1999. Foto: Simon Sonnekus

Die konstruksie waarna hy verwys, is sy oplossing vir die stad se behuisingskrisis. Volgens Mashaba het sy administrasie ’n agterstand van 300 000 huise by die vorige munisipale regering geërf.

“Die Johannesburg-metro was 25 jaar gelede een van die beste nuwe moderne stede ter wêreld. Vandag het dit in ’n krotbuurt verander.”

Die behuisingsplan is die gevolg van samewerking tussen die metroraad en die private sektor. Die metro spits hom al geruime tyd daarop toe om 144 geboue “terug te kry” wat deur buitelanders oorgeneem is. Hy is al ’n ruk lank besig om tenders vir die opknapping of herstrukturering van dié geboue aan private konstruksiemaatskappye toe te ken.

Dis ’n belegging van net meer as R20 miljard vir die stad en sal aan 11 000 mense werk skep.

Mashaba wil die geboue in woonstelgeboue met bekostigbare huurgeld omskep.

“Tenders vir 84 geboue is reeds toegeken. Dis ’n belegging van net meer as R20 miljard vir die stad en sal werk vir 11 000 mense skep. Die woonstelle kan uitverhuur word teen tariewe wat by R900 per maand begin.”

Dié plan en erwe wat reeds al die basiese dienste soos elektrisiteit en riolering het, is sy antwoord op die groot behuisingskrisis.

Mashaba is nie ’n voorstaander van Hop-huise nie.

Grondgrype: ‘Sluit eers die grense’

Grondgrype is ’n ernstige probleem in Johannesburg. In die suide lê uitgestrekte nedersettings met oor die 100 000 sinkhuise met nog wat daagliks soos paddastoele opskiet.

Volgens Mashaba kry Johannesburg elke maand ongeveer 3 000 nuwe inwoners, buitelanders én Suid-Afrikaners.

Ons kan nie verstedeliking keer nie.

Hoe los ons dié probleem op?

Mashaba dink nie die antwoord is om die reeds besette grond te proklameer as deel van die staat se onteieningsplan nie.

“Sluit eers ons grense. Dan volg die ekonomiese herstelplan (waarvan sy middestad-konstruksie deel vorm). Ons kort hoë geboue soos in alle ander groot stede oor die wêreld. Ons kan nie verstedeliking keer nie, mense wil in stede bly, of ons nou daarvan hou of nie.”

Wil korruptes privaat vervolg

Herman Mashaba se suster het hom grootgemaak. Sy pa is vroeg dood en sy ma moes in die stad gaan werk. Foto: Simon Sonnekus

Volgens Mashaba was die metro nog nooit in so ’n goeie finansiële posisie soos nou nie. Hy spits hom veral toe op die opgradering van ou kragstasies, waarvan sommige volgens hom al 40 jaar oud is, en die bou van nuwes.

Hy is ook in gesprek met adv. Shamila Batohi, vervolgingshoof, se kantoor oor nagenoeg 6 000 korrupsieverwante-sake, waaraan die NVG nog nie aandag gegee het nie. Sowat R44 miljard is ter sprake.

“As hulle nie vervolg nie, moet hulle ons toelaat om privaat te vervolg,” sê hy.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Herman Mashaba  |  Johannesburg  |  Hammanskraal  |  Verstedeliking  |  Immigrante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.