Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Max aan Willemien: ‘Die mooiste ding wat ek oor myself kan sê’

Die man wat al Afrika se eie Hunter S. Thompson, ’n politieke kommissaris van apartheid én ’n ANC-gatkruiper genoem is, het onlangs ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch gekry. Willemien Brümmer was by Max du Preez aan huis in Rondebosch.

“Ek het die wêreld gesien, ek het oorloë gesien, ek het presidente ge-interview, ek het drama gehad,” vertel Max du Preez oor sy loopbaan van meer as vier dekades as joernalis. Hy is onlangs met ’n eredoktorsgraad by sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, vereer. Foto’s: Jaco Marais

“Die AfriForum-lot is soos gatvlieë. ’n Mens moet hulle regtigwaar net ignoreer. Moenie die ape voer nie.”

Afrika se “eie Hunter S. Thompson” sit en pruttel in sy deurmekaar studeerkamer in Rondebosch; die man wat deur ’n oudredakteur van die Financial Mail “die ergste ongeleide missiel” genoem is wat hy nóg gesien het.

Die dag vantevore het hy doktor Du Preez geword toe sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, hom met ’n eredoktorsgraad in die joernalistiek vereer het. Die rooi “middeleeuse” toga ten spyt het hy sy rol as die volk se gewete gestand gedoen en gal oor Afrikaanse koerante gebraak.

“Coco! Gaan weg!” betig hy een van sy vyf honde waar hy tussen stapels papiere oudiënsie op ’n vuilwit stoel hou. In die hoek lê twee 4 kg-gewigte en op die boekrak wissel die onderwerpe van Siener van Rensburg tot Marikana.

Van die heel beste Afrikaanse joernaliste van die laaste generasie of twee werk in Engels en nie uit eie keuse nie. Want hulle het vrae gevra.

Dié stigter-redakteur van die Vrye Weekblad is soos dikwels liggies geïrriteerd. “Afrikaanse koerante praat net met hulleself. Ons poep mekaar maar net warm. Dit maak my baie sad.”

Hy tel spoed op. “Ek is by Afrikaanse koerante weg in 1983 weens hul ondersteuning van apartheid en ek moes Engels gaan word, en baie van ons moes dit doen. Ons is nou wéér daar. Van die heel beste Afrikaanse joernaliste van die laaste generasie of twee werk in Engels, en nie uit eie keuse nie. Want hulle het vrae gevra.”

Daar is nie meer avontuurlustigheid in die Afrikaanse media nie; daar is nie meer eksperimentering in die Afrikaanse media nie; daar is nie energie in die Afrikaanse media nie; daar is nie innoverende denke nie.

Vandag is AfriForum en Solidariteit aangestel as die “meningsvormers” deur Afrikaanse koerante, sê hy. “Die regse groepe en mense soos Flip Buys (hoof van Solidariteit) en Kallie Kriel (hoof van AfriForum) het hierdie redelike fasade. Here, dis vir my net soos Andries Treurnicht (stigter van die Konserwatiewe Party). . . Daai ontsaglike dubbelpratery . . . die EFF is nét so. En ek sê herhaaldelik in rubrieke en kommentare: As jy wil verstaan wie die EFF is, as jy wil verstaan wie AfriForum is, moenie na hul mooi gekose woorde luister wanneer hulle openbare toesprake maak nie. Gaan kyk wat die grootste gros van hul ondersteuners sê en hoe hulle nie reggehelp word nie.”

Sy woorde is soos masjiengeweervuur: “Daar is nie meer avontuurlustigheid in die Afrikaanse media nie; daar is nie meer eksperimentering in die Afrikaanse media nie; daar is nie energie in die Afrikaanse media nie; daar is nie innoverende denke nie. Dis net kom ons hou die volk ’n bietjie happy en ons bly uit AfriForum se pad uit, en so aan. En só gaan Afrikaanse koerante vrek. Hulle gaan dóódgaan.”

‘Ek het oorloë gesien’

In sy jong dae was sy geliefkoosde party-truuk om ’n hoed op sy kop te sit en ’n sigaar in sy mond “en te lyk soos Hunter S. Thompson”. Die romantiek van daai tyd; van rou, ruwe ruk-en-rol-joernalistiek is egter aldus hom verby. “Wat my van hom (Thompson) gefassineer het, was sy onafhanklikheid van denke, sy gebrek aan respek vir die establishment en sy romantisering van die beroep wat ek gekies het. Ek is nie ’n bankteller nie, ek is nie ’n ouditeur nie, ek is nie ’n prokureursklerk nie. Ek is ’n joernalis. In my tyd was dit ’n ongelooflike ding om te wees en ek het ’n ongelooflike lewe gehad van groot opwinding. Ek het die wêreld gesien, ek het oorloë gesien, ek het presidente ge-interview, ek het drama gehad. Ek wou wegkom van die ding van ek is ’n ou wat by ’n nuuskantoor instap, en ek het ’n vrou en ’n kind en ’n verband en ek betaal my klein Golf af en so.”

Max in sy studeerkamer in Rondebosch wat vol boeke, papiere en aandenkings aan ’n ryk en dramatiese loopbaan is.

Maar as jy al in jou loopbaan drie afdankings, sewe lastersake, 13 strafsake, vier vliegongelukke, ’n bomaanval en twee sluipmoordpogings oorleef het, het dit ’n prys. En dié prys is nie dat hy steeds elke dag doodsdreigemente kry en deur regs én links verguis word nie.

Die oggendson speel oor die ronde brilglase. “Ek het so ’n obsessie gehad met joernalistiek en my werk dat ek te min aandag aan my twee ouer kinders, John en Annene, gegee het. Hulle is vandag wonderlike en goed gebalanseerde kinders en ons is baie lief vir mekaar, maar ek was nie dieselfde pa vir hulle as wat ek nou vir my jongste dogter, Frances, is nie.”

Dié dogter wat hy op 52 gekry het, is die rede hoekom hy en sy vrou, die voormalige UDF-strugglista Angela Tuck, uit Riebeek-Kasteel in die Swartland getrek en hulle begin vanjaar hier in die suidelike voorstede van Kaapstad kom vestig het.

My kind is vir my merkwaardig. Die brein, die denke. Die gesofistikeerdheid wat sy nou op 13 het, het ek op 34 gehad.

“My kind is die produk van twee vrydenkende, bietjie wacky mense. Sy het baie sterk gevoelens oor gender-politiek, raspolitiek en klaspolitiek. Sy is ’n baie vrye gees en sy verdien om in die stad te bly.”

Hy glimlag trots. “My kind is vir my merkwaardig. Die brein, die denke. Die gesofistikeerdheid wat sy nou op 13 het, het ek op 34 gehad.”

Op 67 het hy uiteindelik meer tyd “om te kyk na hierdie lewe wat ek help in die lewe bring het en te kyk hoe sy ontwikkel en hoe sy die lewe sien en hoe sy verander”.

Sy blik skram nie vir ’n oomblik weg nie. “Ek voel baie skuldig oor my twee ouer kinders uit my eerste huwelik. Ek het dit nou al vir hulle gesê, herhaaldelik, en dan rol hulle net hulle oë: ‘Ek wens ek kon vir hulle so ’n goeie pa gewees het as wat ek vir hierdie een ’n pa is’.”

‘Ek het roekeloos gelewe’

Afrika se eie Hunter S. Thompson? Of is die tyd van rou, ruwe ruk-en-rol-joernalistiek verby?

Sy verhouding met sy eie pa, ’n deeltydse boer en ’n sakeman van Kroonstad, het eers herstel toe hy op sterwe gelê het.

“Ag, dis die universele Afrikaanse storie,” sê hy asof dit ’n holruggeryde onderwerp is. “Hy het in ’n klein gemeenskap gebly en hy was ’n goeie man en dit was sy hele wêreld, dit was sy omgewing en hier het ek uitgekom en ek is links en ek is ’n kommunis en ’n terroris en ’n k****rboetie en ’n ANC-gatkruiper en hy word daarmee gebombardeer by die Rapportryers en die NG Kerk en sosiaal en dís hoe dit gebeur het. Ek het nie gevoel ek het vreeslik baie om vir hom te sê nie.”

Terwyl Max oor die WVK in sy program Special Report on the Truth Commission verslag gedoen het, het hy dikwels gekyk na apartheidsmisdadigers soos Dirk Coetzee en Eugene de Kock en gevoel “there but for the grace of God go I”.

“Hoekom het ek nie ’n dominee of ’n Afrikanernasionalis-politikus of ’n veiligheidspolisieman geword nie? Nie een van ons agt kinders het jong Afrikanernasionaliste geword nie. Die enigste common denominator is my pa wat ’n ontsaglike sin vir regverdigheid gehad het. Dis die teenstrydigheid wat ek nooit aan ’n swart mens kan verduidelik nie. My pa was ’n Afrikanernasionalis en hy’t apartheid gesteun, maar hy was ’n decent mens wat ’n sin vir geregtigheid gehad het.”

Ek het ’n ruk daarna roekeloos gelewe en jy’s nie bang vir die dood nie. Ek dink die meeste mense het maar so iets êrens in hul lewens, maar dit was ’n groot ding in myne.

Ek vra hom oor die keer toe hy in Opuwo in die Kaokoveld die dood in die oë gekyk het. In dié tyd het hy vier jaar lank as korrespondent van die Afrikaanse koerante in Namibië in ’n wêreld van “cowboys, crooks en freaks” gewerk. Die Cessna waarin hy was, het die grond neus eerste getref en verskeie kere bollemakiesie geslaan. Die vliegtuig het aan die brand geslaan en dit het baie donker binne geword.

Hy tik met sy regterhand aan sy linkerboarm. “Jy kan die staal hoor. Hier’s nie gevoel nie en my nek het baie seergekry. Ek dink ek was ’n paar minute lank vasgekeer in ’n baie klein boksie van staal terwyl die vliegtuig gebrand het, en ek was baie oortuig daarvan dat ek gaan doodbrand. My arm het so pap gehang en my gesig was heeltemal oopgesny.”

Hy bly stil asof ’n lewe by hom verblyflits. “Ek het ’n ruk daarna roekeloos gelewe en jy’s nie bang vir die dood nie. Ek dink die meeste mense het maar so iets êrens in hul lewens, maar dit was ’n groot ding in myne.”

‘Die groot wit olifant’

Die oggend word vroegmiddag en ons praat oor hoogtepunte en laagtepunte in ’n loopbaan van meer as vier dekades. Hy sonder die program oor die WVK uit wat die nasie twee en ’n halfjaar lank elke Sondagaand voor die TV vasgenael gehou het. “Ek dink dis die belangrikste ding wat ek nog gedoen het; ook die mees traumatiese ding. Ons het daar gesit en al hierdie pyn en lyding deur die kameralens ervaar. Dan moet jy die footage gaan kyk en jy sit so met die mens wat die horror-stories vertel en dan moet jy dit edit, so jy ervaar dit drie, vier keer en jy’t ’n verhouding met die mense.”

Hy knik. “Ek dink die WVK het die angel getrek van die ergste swart woede. Ek dink die WVK is die belangrikste rede hoekom ons nóú eers apartheidsontkenning begin sien, en dan is dit ook maar Steve Hofmeyr en Ernst Roets (adjunkhoof van AfriForum) en ’n paar malletjies.”

Hulle het my tot ’n wit Afrikaner verklaar en Snuki Zikalala het ’n 'party' gehou die aand nadat ek ge-'fire' is en gesê hy voel soos ’n grootwildjagter, want hy het die groot wit olifant doodgeskiet.

Die laagtepunt in sy loopbaan het net hierna gekom in ’n baie openbare relletjie toe hy by Special Assignment uitgewerk is omdat hy nie die nuwe elite se kommissaris wou wees nie. “Ons het ’n goeie stryd gestry en ek dink ons het ’n goeie openbare uitsaaier begin bou en toe kom hierdie klein Stalinissies, Phil Molefe (voormalige uitvoerende hoof van die SAUK) en Snuki Zikalala (toe nuushoof van die SAUK) met ’n Stalinistiese klein dingetjie omdat ek nie wou gat lek en hulle probeer plesier nie. Wel, ek het nie respek vir hulle nie, maar nié omdat hulle swart is nie.”

Hy rol sy oë. “Hulle het my tot ’n wit Afrikaner verklaar en Snuki Zikalala het ’n party gehou die aand nadat ek ge-fire is en gesê hy voel soos ’n grootwildjagter, want hy het die groot wit olifant doodgeskiet. Ek sou sê dis die naaste wat ek aan ’n laagtepunt kom.”

‘Mense tel die foon op as ek bel’

Maar die Cyril Ramaphosas en ander ouens wat in die ANC saak maak, die kén hom, verseker hy my.

Die voordeel wat hy het bo jonger joernaliste is dat hy in die onstuimige 80’s die meeste van die ANC se top-indoenas in Lusaka, Maputo en Luanda leer ken het.

“Ja, so ek het ou connections en ouens wat wéét wie ek is; ouens wat sakke sout saam met my opgeëet het. Ek is in ’n posisie waar mense die foon optel as ek hulle bel. Dis nie wat ek self gedoen het nie, dis nie my eie verdienste nie, dis maar net die mense kén my. Hulle mag my dalk vloek in die openbaar, maar in hulle harte weet hulle wie ek is.”

Max: “Ek het die wêreld gesien, ek het oorloë gesien, ek het presidente ge-interview, ek het drama gehad. Ek wou wegkom van die ding van ek is ’n ou wat by ’n nuuskantoor instap en ek het ’n vrou en ’n kind en ’n verband, en ek betaal my klein Golf af en so.”

Ons praat oor die twee boeke waaraan hy nou werk – een oor grond en nog een, die derde in ’n reeks oor populêre geskiedenis. Ons praat oor onteiening sonder vergoeding en Ramaphosa wat vir Julius Malema “omhels om hom te versmoor”.

Ons praat oor die ouderdom wat sy hare grys gekleur het maar steeds nie sy warsheid en sy skuins-teen-die-grond-bedonnerdheid getemper het nie.

“Ek kan gelukkig boeke skryf totdat ek so op my stoel sit en so stadig omval en vrek. Dis ’n lekker ding om te doen, nie ’n baie lonende ding om te doen nie. Ek het nie ’n pensioen nie, ek het nie versekering nie, ek het nie spaargeld nie, ek het nie ’n plaas êrens nie. Wat ek uitgee, is wat ek voor werk en nou het ek ’n 13-jarige kind, so ek moet dit vir tien jaar lank doen.”

Hy glimlag – byna. “Sewentig is die nuwe 50. Régtig.”

Maar ek dink die een konstante in my lewe is dat ek eerlik is. En konsekwentheid, standhoudendheid van beginsel is die mooiste ding wat ek van myself kan sê.

En as hy vir homself ’n grafskrif moes skryf?

Die man wat die Vlakplaas-gruwels onthul het, apartheidsministers se uitspattige partytjies beleef het en op die skoot van die president van Finland gelê het, snork verontwaardig.

“Ek hoop iemand anders gaan dit vir my kan skryf! Maar ek dink die een konstante in my lewe is dat ek eerlik is. En konsekwentheid, standhoudendheid van beginsel is die mooiste ding wat ek van myself kan sê.”

Hy lag vir die eerste keer diep uit sy maag. “Ek is miskien ’n poephol, maar ek was nog altyd een.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.