Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Max du Preez is 'n 'jukskeibreker-joernalis'

Max du Preez is bekend vir sy pront, op-die-man-af-joernalistiek, skryf Lizette Rabe in die artikel wat gegrond is op haar commendatio vir dié voormalige stigterredakteur van Vrye Weekblad se eredoktorsgraad wat deur die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken is.

Max du Preez: Sy loopbaan van 'n onversetlike "waarheid versus mag"-benadering is steeds ná kwarteeu van demokrasie 'n verhaal van waagmoed en beginselvastheid. Foto: Liza van Deventer

Jukskeibreker-joernalis Max du Preez is nou doktor Max du Preez nadat hy Donderdagoggend by die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit lettere en sosiale wetenskappe ’n eredoktorsgraad ontvang het.

Onlangs haal Max du Preez die stroom-op Amerikaanse joernalis Hunter S. Thompson aan: “When the going gets weird, the weird get going.” Hy het verwys na waaksaamheid en die rol van die media, maar ook hoe belangrik dit vir ’n samelewing as geheel is om te mobiliseer as dinge “weird”, en dan selfs “weirder” raak.

Soos Hunter S. Thompson, is Max du Preez ook ’n gatskop-joernalis, ’n Afrika-weergawe van die legendariese Amerikaanse joernalis wat beskou word as die skepper van Gonzo-joernalistiek, ’n rou, ruwe, vertel-dit-soos-dit-is-joernalistiek.

Al van sy eerste jare in die joernalistiek kon Du Preez nie kleinkry hoe Afrikanernasionale politiek en joernalistiek “onafhanklik” van mekaar kon staan nie. Nie by die Afrikaanse koerante nie, en daarna ook nie by die Engelse blaaie kon hy antwoorde vind op sy steeds dringender vrae nie.

Maar steeds vandag bly Du Preez ’n morele kompas, en veral onder die Zumakrasie was hy die gewete van ’n Suid-Afrika wat soms gevaarlik op ’n morele afgrond kantel.

Toe stig hy sy eie koerant – ’n onafhanklike, vrye blad. Met Vrye Weekblad het ’n nuwe tydvak in die Afrikaanse joernalistiek aangebreek met ’n publikasie wat die gewete van die Afrikaner met sy ondersoekende joernalistiek wou aanspreek. Maar steeds vandag bly Du Preez ’n morele kompas, en veral onder die Zumakrasie was hy die gewete van ’n Suid-Afrika wat soms gevaarlik op ’n morele afgrond kantel. Sy priemende kommentaar en skerp analises maak hom die verpersoonliking van die joernalis as brandsiek-inspekteur van die volk, die woorde van die befaamde oudredakteur Willem Wepener.

Albertus Bernardus Saayman du Preez – Max vir kort, en vir sommige sommer Mad Max – is in 1951 in Kroonstad gebore. As pikkie is hy al Max genoem, “maar niemand in my familie weet juis hoe dit gebeur het nie”. In 1970 het hy aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer, waarna Die Burger in Kaapstad gevolg het, toe Beeld, en toe die Financial Mail, Sunday Times en Business Day. Du Preez het toenemend ontgogeld geraak oor die verbintenis van die Afrikaanse media met die Nasionale Party. As hoof- politieke verslaggewer het hy in die binnekringe van die regerende elite beweeg en eerstehands die omvang van “morele degradasie en oneerlikheid” gesien. Maar ook die Engelse nuuskantore het, tot sy ontnugtering, nie sy soeke na morele regverdiging gestil nie.

Vrye Weekblad het sommer al twee weke ná sy stigting sy eerste amptelike waarskuwing gekry.

Dit was sy ervaring as afgevaardigde by die Dakar-beraad in 1987 wat hom geïnspireer het om ’n onafhanklike koerant te stig. Hy wou iets begin “wat die persepsie oor Afrikaners sou verander, dat ons nie almal ’n klomp dom donders is wat blindelings die NP volg, of wat nie vir ons self kan dink nie”.

Vrye Weekblad, in 1988 gestig, moes ironies genoeg net voor die eerste verkiesing in 1994 sluit toe Du Preez ’n lastersaak teen ’n polisiegeneraal verloor het (hy is later reg bewys). Hy het hom toe by die SAUK aangesluit en het onder meer ’n ondersoekende program behartig. Maar ook hier het Du Preez hom in die nuwe bedeling se hiërargieë vasgeloop: In 1999 is hy weens “disrespek” teenoor die bestuur afgedank.

Voorblaaie van Vrye Weekblad deur die jare.

Vrye Weekblad het sommer al twee weke ná sy stigting sy eerste amptelike waarskuwing gekry. Die NP-regering het ook probeer om met onmoontlike geldelike eise die blad te kelder. Hy moes ’n registrasiefooi van R30 000 betaal – die hoogste ooit vir ’n Suid-Afrikaanse publikasie. Reeds in sy stigtingsjaar is die koerant vir R100 000 in ’n lastersaak gedagvaar. Die regering het ook druk geplaas op adverteerders, en Du Preez is onder meer skuldig bevind op ’n aanklag ingevolge die Wet op Binnelandse Veiligheid.

Met tye het die Gideonsbende-redaksie nie ’n salaris gekry nie, en ná die laaste vernietigende hofsaak, waarin hulle toe later reg bewys is, moes die deure sluit.

Maar die koerant het ondanks ’n hele staatsmasjinerie en die Afrikaner-establishment teen hom, voortgegaan om ’n nuwe, nooit voorsiene nuusagenda in Afrikaans te bepaal. Een uitgawe staan waarskynlik uit: dié van 17 November 1989, met vyf bladsye oor die veiligheidspolisie se moordbendes.

Die koerant het weens die onmoontlike druk van die apartheidsregering voortdurend op ’n finansiële afgrond gewankel. Vrye Weekblad se kantoor was ook die teiken van ’n bomaanval deur die Burgerlike Samewerkingsburo. Met tye het die Gideonsbende-redaksie nie ’n salaris gekry nie, en ná die laaste vernietigende hofsaak, waarin hulle toe later reg bewys is, moes die deure sluit. Die laaste uitgawe van Vrye Weekblad as koerant was in Mei 1993, waarna dit as nuustydskrif geloods is. Dit het egter minder as agt maande oorleef, met die laaste uitgawe op 2 Februarie 1994.

Max du Preez het apartheid help afbreek, maar bly ook 'n kritiese stem in die nuwe Suid-Afrika. Foto: Liza van Deventer

Die veteraan-joernalis Martie Retief Meiring, wat ook by Vrye Weekblad gewerk het, het gesê dié koerant “het waarlik, goed en deeglik die onderdrukkende korset van skuld, apartheid en daardie pynlike regvaardigheid van ons Afrikaners verbreek”.

Die blad het inderdaad ’n heel nuwe era vir die Afrikaanse joernalistiek ingelui. Buiten die onafhanklike analise van die politiek van die dag, het hy dit gedoen in ’n gatskop-Afrikaans wat die ontvouende verhaal van Suid-Afrika in ’n heel nuwe idioom vertel het. Daarmee het Du Preez nie net die politieke Afrikaner-establishment aangevat nie, maar ook taaldogmas en -doktrines oor wat Standaardafrikaans nou eintlik behoort te wees.

Die man wat die Vlakplaas-gruwel onthul het

Du Preez se loopbaan van ’n onversetlike “waarheid versus mag”-benadering is steeds ná amper ’n kwarteeu van demokrasie ’n verhaal van waagmoed en beginselvastheid. As jukskeibreker-joernalis het hy drie afdankings, sewe lastersake, 13 strafregtelike sake, vier vliegongelukke, ’n bomaanval en twee sluipmoordpogings oorleef – en was hy ’n permanente item op verregses se moordlys. Sy loopbaan het hom midde-in ’n Soweto van 16 Junie 1976 geplaas, hy het apartheidsministers se uitspattige partytjies beleef, en moes oor en tussen dooie liggame in ’n gebombardeerde Angolese dorpie beweeg. En hy was die persoon wat die Vlakplaas-gruwel onthul het – en dit oorleef het.

Afhangend van waar kritici hulle op die Du Preez-radar bevind, is hy verguis of geheilig.

Du Preez is bekend vir sy pront, op-die-man-af-joernalistiek, dikwels omstrede, maar altyd op vaste beginsels. Erkenning en bewondering was daar, maar ook genoeg argwaan van sowel die Ou as die Nuwe Suid-Afrika. Afhangend van waar kritici hulle op die Du Preez-radar bevind, is hy verguis of geheilig. Maar soos wat John Pilger in sy Tell Me No Lies: Investigative Journalism and its Triumphs (2004) skryf: “Secretive power loathes journalists who do their job: who push back screens, peer behind facades, lift rocks. Opprobrium from on high is their badge of honour.”

Lizette Rabe.

Stephen Mulholland, oudredakteur van die Financial Mail en een van sy vorige werkgewers, het gesê Du Preez is die “ergste ongeleide missiel” wat hy nog ooit gesien het. PW Botha het sy vinger vir Du Preez geswaai en gesê: “This man spent his life making trouble for everyone.” FW de Klerk het hom een van sy vyande genoem.

Nelson Mandela het by ’n geleentheid van die Buitelandse Korrespondentekorps oor hom gesê: “There is a man here tonight who is an outstanding example to all of you: Max du Preez.”

Joe Thloloe, ’n vorige SAUK-hoof, ook oud-Persombud, het gesê baie mense sê Du Preez is moeilik om mee te werk, het geen respek vir gesag nie, en dat geen koei te heilig vir hom is nie.

“But even his worst enemies will concede that he is an outstanding journalist.” En sowaar, ’n lid van die Mbeki-regering het hom ’n “political commissar of apartheid” genoem.

Du Preez het verskeie boeke geskryf, onder meer Pale Native: Memories of a Renegade Reporter en Oranje Blanje Blues:’n Nostalgiese trip. Onder sy talle toekennings tel die Pringle-prys deur die (nou oorlede) South African Society of Journalists, die Louis M Lyons-prys van Harvard se Nieman-genote en Sanef se Nat Nakasa-prys vir dapper joernalistiek.

Kortom: Max du Preez het bygedra om apartheid te help afbreek, maar in die nuwe – en steeds “weird” – Suid-Afrika bly hy ’n kritiese stem. As een van die Vierde Stand se mees vooraanstaande burgers wat hom vreesloos daarvoor beywer dat die pen magtiger is as die swaard, is hy ’n waardige ontvanger van ’n eredoktorsgraad vir sy bydrae tot die joernalistiek.

* Lizette Rabe is professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Max Du Preez  |  Lizette Rabe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.