Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Mbali Ntuli: ‘Politiek is niks teen gif en koeëls’

Mbali Ntuli (32), wat meeding om die pos as leier van die Demokratiese Alliansie (DA), vertel aan Murray La Vita hoe haar ouma haar probeer vermoor het en verduidelik waarom sy haar met Afrikaners kan vereenselwig.

Mbali Ntuli hoop om in Oktober die nuwe leier van die DA te word. Foto: Argief

Hoewel sy as kind daarvan gedroom het om ’n sluipmoordenaar te word wat al die mense wat haar en haar gesin pyn aangedoen het dood te maak, is sy nou iemand wat diep omgee vir die welstand van alle Suid-Afrikaners, sê Ntuli.

Die onderhoud vind per Zoom plaas. Sy is in Durban in haar ma se huis waar sy, haar partner (sy wil nie sy naam noem nie) en hul 17 maande oue dogtertjie, Sarabi, sedert die begin van die inperking woon.

Ntuli is die toonbeeld van lewenslus en gesondheid, maar sy was baie siek aan Covid-19 en is nog besig om daarvan te herstel.

Sy is ’n lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer en voormalige DA-jeugleier. En nou ding sy met John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, en John Moodey, Gautengse DA-leier, mee om die leierskap van die DA.

Baie mense dink sy is baie sterk – sy gebruik die woord “tough” – om die politiek te betree en die uitdagings van daardie wêreld te aanvaar, sê sy.

Terwyl ek grootgeword het, het ek gedink ek sal dalk eendag ’n sluipmoordenaar word en al die mense doodmaak wat my en my gesin se lewe moeilik gemaak het, maar gelukkig het ek dit ontgroei . . .

“Maar ek voel ná alles wat ek al deurgemaak het . . . politiek is byvoorbeeld ’n vulletjie teen die aanslae op my lewe. Maar, ja, dit hét my sterk gemaak. Dit het van my die soort mens gemaak wat opstaan teen boelies en wat wil toesien dat geregtigheid geskied . . .

“Terwyl ek grootgeword het, het ek gedink ek sal dalk eendag ’n sluipmoordenaar word en al die mense doodmaak wat my en my gesin se lewe moeilik gemaak het, maar gelukkig het ek dit ontgroei . . .

“Ek gee werklik baie om vir die mense om my en oor hoe die samelewing daar uitsien. Ek kan nie verstaan hoekom almal nie net basiese waardigheid kan beleef nie.

“Ek glo nie daar sal dieselfde uitkoms vir almal wees nie, maar ek dink ’n mens kan seker maak dat almal hul lewe minstens met ’n mate van basiese waardigheid begin . . . Daar kán heling wees. Ek dink almal wil op ’n beter plek wees.”

Lekkers vol gif

“Daar is só baie meisies wat my kontak en vra hoe hulle die politiek kan betree.” Foto: Elizabeth Sejake

Haar pa, ’n sakeman wat die KwaZulu-Natal Taxi Association op die been gebring het en as Big Ben Ntuli bekend gestaan het, het in 1996 gesterf. Dít het aanleiding gegee tot geweldpleging onder mense wat begin veg het om sy posisie in te neem en ook van sy bates te bekom.

“Ons as gesin het die teiken geword van mense wat beheer wou oorneem, en ons lewens het ingrypend verander.”

Haar ouma aan vaderskant het byvoorbeeld probeer om haar en haar broer met gif om die lewe te bring.

“Ek dink sy was nie tevrede met my pa se testament en die rigting waarin dinge besig was om te ontwikkel nie. Sy het vir ons lekkers gegee waarin giftige moetie was. My broer het ’n bietjie siek geword, maar ek was oukei. Ek het ’n baie sterk maag en ek het waarskynlik nie veel daarvan geëet nie omdat ek nie baie van lekkers hou nie.”

Daar is so baie skote op die motor gevuur . . . Een het my broer rakelings gemis. Weens daardie trauma het hy omtrent ’n jaar lank gehakkel.

Ná haar pa se dood en die taxi-oorlog wat ook in daardie tyd in die provinsie uitgebreek het, het lyfwagte hulle skool toe vergesel.

“Toe probeer iemand my en my broer en my ma reg voor die skool doodskiet. My ma het beheer oor die motor verloor en ek kon daarin slaag om weg te hardloop en hulp te gaan soek.”

Sy was agt en haar broer vyf.

“Daar is so baie skote op die motor gevuur . . . Een het my broer rakelings gemis. Weens daardie trauma het hy omtrent ’n jaar lank gehakkel.”

‘Baie bevoorreg’

Daar was ook voorvalle waarin daar in en buite hul huis op hulle geskiet is.

“Ons is toe kosskool toe gestuur en my ma het in wese haar kinders verloor want ons het ver van haar af grootgeword.

Ek begryp natuurlik dat ons in vergelyking met baie ander Suid-Afrikaners baie bevoorreg was.

“Sy was ondanks alles ’n briljante ma en wou hê ons moet die hele wêreld beleef. Ons het baie gereis – ook oorsee. Ek begryp natuurlik dat ons in vergelyking met baie ander Suid-Afrikaners baie bevoorreg was.”

Hulle het in voeling gebly met familielede wat nie so bevoorreg was nie en in landelike gebiede gewoon het, en het gereeld daar besoek afgelê waar hulle take verrig het soos om water aan te dra.

‘Geweldig ongewild’

“Wit mense voel byvoorbeeld hulle word soos sondebokke behandel.” Foto: kykNET

Haar ma het haar aangemoedig om te doen wat sy wou en dít het haar altyd onderskraag en in haarself laat glo.

“Dit is belangrik, want as jy in die politiek nie weet wie jy is nie, gaan daar óf vir jou gesê word wie jy is óf jy gaan dinge doen waarmee jy nie gemaklik is nie.

“Ek is baie trots daarop dat ek nog altyd hoofsaaklik outentiek en getrou aan myself en waarin ek glo gebly het al het dit my geweldig ongewild gemaak . . . en ek ís ongewild by baie mense. Maar ek slaap snags goed.

“So, my ma het my in dié opsig baie gehelp. Ook net om haar dop te hou en te sien hoe sy dit hanteer het om my pa se ondernemings oor te neem.

“Dis hoekom wanneer ons hierdie gesprekke het oor vroue wat deur glasplafonne breek, vergeet mense soms hoe belangrik dit is om iemand net iets te sién doen.

“Daar is só baie meisies wat my kontak en vra hoe hulle die politiek kan betree; vroue van my ouderdom wat sê hoe bemoedig hulle is deur wat ek doen en hoe hulle voel dit is tyd dat hulle ook betrokke moet raak.

“Afgesien daarvan of sy wen of verloor, is dit vir haar wonderlik dat iemand net sien hoe ’n jong persoon opstaan en sê: ‘Miskien kan ék die leier wees. Miskien kan ék ’n paar dinge anders doen.’”

Wit sondebokke

Sy sê op hierdie tydstip van die Suid-Afrikaanse politiek is mense so desperaat om leiers of ’n politieke party te vind wat hoop kan bied, iets wat op die werklikhede van álle Suid-Afrikaners gegrond is.

“Wit mense voel byvoorbeeld hulle word soos sondebokke behandel. Ek dink wit mense van my ouderdom is dalk ontsettend bang en onseker oor hul toekoms in die land omdat dit vir hulle voel asof hulle nie erken word as Suid-Afrikaners wat ’n sê het in wat in die land gebeur nie.”

Sy dink dit is haar generasie en mense wat jonger as hulle is, wat sal moet sê: “Dít is nie wat ons wil hê nie.”

Ons kán verander en ons kan die soort stelsel bou wat ons wil hê.

“En dít kan net gebeur omdat ons saam grootgeword het en ons lewens met mekaar deel. My interaksie met wit mense is waarskynlik baie anders as hoe my tantes of grootouers dit gedoen het. Dit beteken nie hulle is rassisties teenoor wit mense nie, ek dink net hulle kan nie glo in ’n eenvoudige naasbestaan in gelykheid nie – omdat hulle dit nie beleef het nie.

“Ek dink in plaas daarvan dat ons by die punt kom waar ons politici sê dit is óf die een óf die ander, behoort ons eerder te praat oor ’n meer etiese ekonomie en ’n regering wat álmal vorentoe sal neem.

“En dít is die kern van wat ek met my deelname aan die stryd om leierskap van die DA probeer oordra. Ons kán verander en ons kan die soort stelsel bou wat ons wil hê. Ek verstaan daar sal talle ouer mense uit verskillende agtergronde wees wat hierdie soort gedagtes nie ernstig opneem nie, maar ek en my generasie moet sorg dat dit ’n werklikheid word.”

‘Etiese ekonomie’

“Ek is baie trots daarop dat ek nog altyd hoofsaaklik outentiek en getrou aan myself en waarin ek glo gebly het.” Foto: Elizabeth Sejake

Watter besware sou hulle daarteen kon hê?

“Ek dink ouer, of laat ek eerder sê, meer konserwatiewe mense, wil dalk nie hê dat die ekonomie moet verander nie omdat dit hulle en hul belange dien.

“Om ’n voorbeeld te noem – ek dink nie dit moet nodig wees om die sakewêreld en die regering se doen en late te sien as ’n suiwer winsgedrewe proses nie. Daar is ’n opkomende beweging in die res van die wêreld wat gegrond is op die planne vir ’n ekonomie waarin alle mense aandeelhouers is en die reg het om daaraan deel te neem.

“Dit word deur sowel die sakewêreld as die regering gefasiliteer en is ’n meer etiese manier om die ekonomie te struktureer. Ondernemings hoef dan nie altyd nét oor hul wins begaan te wees en dan mense af te dank sodat hulle hul winsteikens kan behaal nie.

“Die regering kan dit vir ondernemings die moeite werd maak om by gemeenskaps- en nasiebou betrokke te raak deur byvoorbeeld infrastruktuur soos skole te bou. En werkers dan aandeelhouers te maak.”

‘Nie net die feite nie’

Daar is baie dinge wat ’n party soos die DA aan Suid-Afrikaners kan sê en wat mense eenvoudig behoort te verstaan en aanvaar.

“Ons kan sê die ANC is korrup en ons kan sê ons regeer beter as hulle in die Wes-Kaap en op ander plekke. Maar as ons nie verstaan dat mense nie net die feite wil hoor nie, maar dat hulle daarin belang stel in hoe jy hulle laat vóél; dat jy hulle respekteer en hulle jou kan vertrou, gaan ons nooit Suid-Afrikaners van alle rasse en agtergronde oorhaal nie.

“Daar is gebare en ingesteldhede wat teenoor gemeenskappe geopenbaar moet word sodat hulle kan weet jy verstaan hulle werklik. Dít is die soort nuanses wat ek in die party sou wou sien, want as ons op dieselfde trant voortgaan; hierdie Westminster-styl politiek, gaan ons nie hond haaraf maak nie. Ons [die DA] sal nooit só verby die 20%-steun kom waarby ons klaarblyklik vasgesteek het nie.”

‘Sterkman-politiek’

Ntuli wil met John Steenhuisen op televisie ’n debat voer. Foto: Elizabeth Sejake

Toe Ntuli vroeër vandeesweek verklaar het dat sy ’n TV-debat met Steenhuisen wil hê, het sy gesê die tyd vir “sterkman-politiek” in Suid-Afrika is verby.

“Ja, ek dink die leierskapstyl van die meeste Suid-Afrikaanse politici blyk die een van die politieke sterkman te wees; een van ‘ek gaan die redder wees’. Ek vind dit baie stereotipies en ek dink nie mense wil dit meer hê nie. Ek dink ons soek leiers wat outentiek is, wat tussen mense rondbeweeg en wat weerloos kan wees, en leiers wat kan wys dat hulle nie alles op hul eie wil regkry nie.

Wat ons in die 21ste eeu wil hê, is ’n leier wat sê: ‘Almal is welkom. Almal is nodig om te help bou. En almal sal die ruimte hê waarin hul stemme gehoor word.’

“Die tyd vir persoonlikheidskultusse is verby. Ons het dit oor die hele Afrika en elders gesien en dit werk vir niemand nie.

“Wat ons in die 21ste eeu wil hê, is ’n leier wat sê: ‘Almal is welkom. Almal is nodig om te help bou. En almal sal die ruimte hê waarin hul stemme gehoor word.’ ”

Sy sê sý is iemand wat nie huiwer om te sê as sy iets nie weet nie en om die raad van kundiges te gebruik.

‘Die wêreld verander’

Helen Zille het Ntuli al ’n “prinses” en ’n “prima donna” genoem. Foto: Lerato Maduna

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Ntuli al ’n “prinses” en ’n “prima donna” genoem oor gedrag wat sy as onprofessioneel beskou het.

Ntuli trek een skouer op en sê: “Dit is welbekend dat ons al ons verskille gehad het. Sy het al baie interessante dinge oor my op Twitter gesê en ek het nog altyd daarop gereageer want ek dink dit is belangrik dat jy vir jouself opkom. Daar is mense wat dink hoe durf ’n ‘kind’ só teenoor haar reageer, maar dit skeel my nie veel nie.

“Haar leierskap was dalk op ’n sekere tydstip in die DA belangrik, en die gedagte aan ’n sterkman was sekerlik as stereotipe baie belangrik, veral ná die Tweede Wêreldoorlog en in enige oorgangsregering in Afrika in die tyd daarna, maar kultureel en as mense is ons almal besig om te beweeg na meer empatiese leiers wat vir almal sal omgee.

“Die wêreld verander deurentyd, en ek hoop ons is besig om te beweeg na ’n wêreld wat vriendeliker en regverdiger is en na almal omsien.”

Afrikaners en Zoeloes

Ntuli sê sy kon Afrikaans praat voordat sy Engels geleer praat het, maar sy het dit ongelukkig in ’n groot mate verleer.

“Ek was in crèches in Sydenham in Durban, ’n bruin buurt waar mense baie Afrikaans gepraat het. Ek is later na Engelse skole en het toe nie meer Afrikaans gehoor of gepraat nie. Ek kan dit nog verstaan, maar nie meer so lekker praat nie.

Ek is altyd baie opgewonde wanneer ek sien wat hulle aanpak, byvoorbeeld die kunstefeeste waar Afrikaanse talent ten toon gestel word.

“Ek is ’n baie trotse Zoeloemens en ek dink die Afrikaanse gemeenskap is ook baie trots op hul erfenis. Ek is altyd baie opgewonde wanneer ek sien wat hulle aanpak, byvoorbeeld die kunstefeeste waar Afrikaanse talent ten toon gestel word. Ek dink dit is wonderlik dat hulle probeer om hul kultuur en erfenis lewend te hou.

“Ek sien hoe Zoeloemense in KwaZulu-Natal dit ook doen. So, ek dink daar is baie kulturele ooreenkomste, dinge wat ons deel. Maar soos ek sê, soms wil ’n mens iets behoorlik uitdruk sodat mense jou verstaan.”

Meer oor:  Da  |  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Mbali Ntuli  |  John Moodey  |  Durban  |  Kwazulu-Natal  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.