Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Mediese wêreld se MacGyver
Prof. Mashudu Tshifularo is die eerste persoon ter die wêreld wat ’n 3D-gedrukte middeloorbeenoorplanting gedoen het. Foto’s: Lisa Hnatowicz

Prof. Mashudu Tshifularo het onlangs mediese geskiedenis gemaak toe hy die eerste mens in die wêreld geword het wat ’n 3D-gedrukte middeloorbeenoorplanting gedoen het. Hy het met Carla Lewis gesels.

“Onthou jy daardie TV-program MacGyver? Dis my gunsteling-TV-program!”

Prof. Mashudu Tshifularo se oë vonkel wanneer hy praat oor dié televisieheld se vermoë om enige uitdaging met ’n stuk bloudraad, ’n knipmes en ’n bietjie verbeelding kaf te draf. “MacGyver het op enige tydstip ’n oplossing vir ’n probleem gehad!”

Op ’n manier is dié TV-karakter die vergestalting van Tshifularo se “innoveer of kwyn”-lewensfilosofie, wat hom bemagtig het om die wêreld se eerste 3D-gedrukte middeloorbeenoorplanting te doen.

Dié hoof van die Universiteit van Pretoria (UP) se departement otorinolaringologie (oor-, neus- en keelkunde), glo alles kan verbeter of vernuwe word.

“Elke probleem het ’n oplossing, as ons net ophou om alles so in boksies te wil druk en oplossings te verwerp wanneer dit nie in ons netjiese breinboksies pas nie . . .

“As akademici in die wetenskap moet ons die hele tyd daarna streef om met nuwe idees vorendag te kom. God het ’n rede gehad waarom hy sekere organe in ’n spesifieke vorm in ons liggame geskep het,” vertel dié diepgelowige dokter, wat Sondae sy wit jas vir ’n leraar se toga verruil.

“Elke keer wanneer ek die prosedure – waar jy die beskadigde middeloorbeentjies met ’n prostese vervang – uitgevoer het, het ek gedink daar moet ’n beter manier wees om dit te doen.”

’n Model van die middeloor. Die beentjies is bo.

Hy wys ’n prentjie van ’n sfeer wat amper soos ’n wieldop lyk, met ’n reguit stafie wat in die middel afloop. “Dis wat ons tans gebruik om die drie beskadigde middeloorbeentjies te vervang.

“Dit lyk so ’n bietjie soos ’n vlieëplak­,” merk ek op.

“Vir ’n insek,” sê hy droogweg.

“Selfs al is jy nie baie slim nie, kan jy sien die prostese lyk nie naastenby soos die middeloorbeentjies nie.

“Dis eintlik so ’n eenvoudig idee: Ontwikkel ’n bio-identiese prostese van die oorbeentjies. God was immers die oorspronklike argitek van die oor. Toe ek die prosedure begin navors en ontwikkel het, wou ek nie iets heeltemal oorspronklik skep nie. Die Skepper het ons net toegerus met die vermoë om iets te sien wat voorheen versteek was. In die komende maande gaan ons die prosedure skaaf en slyp en ons baanbrekerswerk voortsit. Watch this space.”

Die stryd om finansiering Die baanbrekersprosedure is net die begin. Die grootste uitdagings is nou om finansiering vir sy navorsing te verseker en mediese spesialiste in sy veld te oortuig om in te koop op die prosedure. Die burokratiese rompslomp kry hom onder, gee hy toe. Eintlik wil hy net in die teater wees, besig om mense se gehoor te herstel.

Elke probleem het ’n oplossing, as ons net ophou om alles so in boksies te wil druk en oplossings te verwerp wanneer dit nie in ons netjiese breinboksies pas nie . . .

Pleks daarvan trek hy sakeplanne op, doen aansoek om beurse en skryf aan potensiële skenkers sodat hy sy navorsing verder kan neem. Die baanbrekersprosedure, die 3D-druk en ontwerp van die beentjies en die navorsing daaragter is tot dusver uit sy eie sak gefinansier. Die rekening trek naby aan R1 miljoen, vertel hy. Sy regskoste is ook besig om op te hoop.

“Ek moes die patent in Amerika, Europa, China, Indië, Australië en Afrika registreer. Die rekeninge is steeds nie betaal nie. Ek het al soveel mense en instansies vir finansiering genader, maar niemand wou my help nie. Hulle het nie in my idee geglo nie.”

Verlede jaar het hy “uit frustrasie” besluit om die eerste prosedure uit te voer. “Verlede week se operasie was eintlik die derde een, maar met die eerste twee was ek nog besig om aan die prosedure te skaaf. Met die derde een het ek gemaklik gevoel om my bevindings bekend te maak.”

Meen hy dat akademiese snobisme in die mediese wetenskapsveld hom kniehalter? Sou ’n wit spesialis van byvoorbeeld Harvard-MIT se program vir gesondheidswetenskappe en tegnologie dieselfde uitdagings as hy – ’n swart spesialis van ’n Afrika-universiteit – gehad het?

Hy antwoord sonder om te aarsel: “Nee.

“Toe ek van Medunsa na die UP geskuif het, het ek gedink die UP gaan my meer ondersteuning bied. Toe ek die eerste keer my navorsing aan die universiteit se leiers voorgelê het, het hulle dit baie duidelik gemaak dit interesseer hulle nie. Dit was hartverskeurend toe hulle vir my sê ek kan die navorsing vir myself hou. Maar dis toe maar wat ek gedoen het.

“Ek het naweke en na-ure hieraan gewerk en my bevindinge aanhou toets. Ek het mense self betaal om my te help en by te staan. Ek grap nie. Dis die heilige waarheid, die universiteit het net mooi niks tot my werk bygedra nie.”

Verlede jaar het hy die impak van sy werk besef. Dit was veel groter as wat hy oorspronklik gedink het.

“As ek sou aanhou om onafhanklik te werk, kon my navorsing in die gedrang kom. Dis toe wat ek besluit het om die prosedure by die Steve Biko- Akademiese Hospitaal van die UP te doen en so die universiteit en die regering te betrek. Ek kon dit netsowel by ’n private kliniek gedoen het. Maar nou, kan ek jou waarborg, wanneer enigiemand van die prosedure lees of hoor, dink hulle aan die UP. So eintlik trek die universiteit voordeel uit iets waarin hy niks belê het nie. Is dit nie ironies nie?

“Maar ek het ook gevoel die UP verdien ook eer omdat ek die prosedure onder die vaandel van die universiteit kon uitvoer. As dit ’n baanbrekersprosedure neem voordat hulle my ondersteun, is dit oukei. Dit maak dit die moeite werd. En ek kan jou waarborg, hulle het lanklaas soveel publisiteit gekry.

“Dit was die eerste keer wêreldwyd dat so prosedure uitgevoer is.

“En universiteite is veronderstel om op die voorgrond te wees van baanbrekersnavorsing.”

Hy koester nie enige kwade gevoelens jeens die universiteit nie.

Tawana Kupe, die UP se nuwe rektor, het hom die dag ná die operasie gekontak.

“’Mashudu, kom praat asseblief met my, want ander universiteite gaan moontlik nou probeer om jou by ons af te rokkel,” het hy vir my gesê. Hy het gemeen ander universiteite gaan nou sien waartoe ek in staat is . . . Ek blameer hom nie, hy het eers onlangs hier begin werk.

“Hy het vir my gesê: ‘Ons sal jou op alle maniere moontlik ondersteun.’ Dis wat ek in 2008 verwag het toe ek by die UP begin werk het. Maar hulle het dit destyds duidelik gemaak hulle stel nie belang nie.”

Hy koester nie enige kwade gevoelens jeens die universiteit nie. Inteendeel, hy hoop die prosedure kan ook ander baanbrekersnavorsing aan die UP in die kollig plaas.

“Dis nou die UP se beurt om sy stempel af te druk. Nie net in Afrika nie, maar wêreldwyd. Ek het soveel talentvolle kollegas en ek woon gereeld konferensies regoor die wêreld by en dan dink ek ons kan beter as hulle doen.

“Mense moet kom kyk wat ons hier doen. Ons is reg vir hulle.

“Ek het hard gewerk aan die navorsing. Daar is miskien nog so een of twee dinge wat geskaaf moet word, maar ek staan bankvas agter my werk.”

Hy laat hom ook nie maklik voorskryf nie. “Jy kom seker met die onderhoud agter dat ek nie iemand is aan wie jy kan voorskryf nie. Ek weet waartoe ek in staat is. Alles is hier binne.” Hy tik met sy vinger teen sy slaap. “Ek is besig om grense te verskuif.”

Hy glo dat ’n prostese so na aan sy natuurlike vorm as moontlik moet wees

Wees die oplossing, nie die probleem

Hy was nog nooit een om terug te staan vir ’n uitdaging nie. Hy was een van net ’n handjievol swart studente wat in die 1980’s, tydens die apartheidsjare, medies by die Universiteit van Natal studeer het.

“Dit was baie, baie uitdagend,” erken hy. “Jy kon nie druip nie, jy moes bewys dat jy ’n sukses kon wees. Vir ses jaar het ek net studeer, geëet en geslaap. Daar was nie tyd vir ’n sosiale lewe nie.”

Hy kom oorspronklik van Thohoyandou in Limpopo se Venda-streek en net om by die universiteit se kampus in Pietermaritzburg uit te kom, was twee dae se reis.

“Nadat ek graad gevang het, was ek uitgeput. Ek wou nie spesialiseer nie.” Ná vier jaar het hy egter kriewelrig geraak en in die vroeë negentigs skryf hy in by Medunsa om ’n oor-, neus- en keelspesialis te word. “Ek het gekyk in watter veld daar ’n tekort aan swart spesialiste was.

Leef jou lewe ten volle, kyk waar jy ’n bydrae kan maak en wanneer jy sterf, doen so as ’n leë dop.

“Ek het my eerste navorsingsprojek oor geleidende gehoorverlies in die vroeë negentigs gedoen, maar ek sou nooit kon raai dit sou die aanloop wees tot die operasie wat ek vanjaar uitgevoer het nie.”

Nadat hy die prosedure vervolmaak het, wil hy fokus op koglea-inplantings wat nie in die openbare sektor gedoen word nie omdat dit onbekostigbaar is. “Dis ’n skreiende skande as iemand doof bly, nie omdat ons nié oor die tegnologie beskik om dit reg te doen nie, maar omdat ons dit nie kan bekostig nie.”

Hy het vir die grootste gedeelte van sy loopbaan in die openbare sektor gewerk. “Ek het wel van 1993-1995 my eie private praktyk in Ierland gehad.” In die vroeë negentigs het Suid-Afrika sy eie uitdagings gehad. Ná onafhanklikheid, in 1995, het hy teruggekeer. “Ek moes my land kom dien.” Hy het eers ’n private praktyk gehad, maar het besef hy moet jong swart mense met sy kennis bemagtig.

Op 35 was hy die jongste professor by Medunsa. “Ek het meer swart mediese spesialiste opgelei as al die ander universiteite saam. Ek sê altyd vir my studente: Dis jou land. Kom ons help bou daaraan. Dit help nie om op die kantlyn te staan en vingers te wys nie. Mense moet na oplossings soek, ons kan nie op die regering vertrou om dit vir ons te doen nie.

“Hierdie prosedure het my weer nederig gemaak, maar ek het ook nuwe energie. Ek hou aan bid vir my navorsingslaboratorium waar ek, saam met die land se talentvolste dokters en navorsers, oplossings vir probleme kan vind en innovasie dryf. Ek het hierdie katoeter ontwerp, maar daar is twee, drie generasies ná my wat ook ’n bydrae daartoe kan lewer.

Ek slaap nie, ek rus. Ek luister na my liggaam.

“So dis my siening. Leef jou lewe ten volle, kyk waar jy ’n bydrae kan maak en wanneer jy sterf, doen so as ’n leë dop, met die wete dat jy alles wat jy kon gedeel het en alles van jouself gegee het.”

As hy nie besig is om gehoor en die oor na te vors nie, dien hy sy gemeente van die Christ Revealed Fellowship Church in Hartbeespoortdam. “Sondae vergeet ek van medisyne. Dan preek ek.”

Slaap hy ooit? “Ek slaap nie, ek rus. Ek luister na my liggaam. As ek moeg word, sal ek ’n uiltjie knip totdat ek weer uitgerus voel.

“Wanneer ek regtig wil ontspan en my gedagtes aan die vloei kry, dan kyk ek voëls. Ek kan my verkyk aan hul kleure. Ek luister na hul roepe en kwetter, hoe hulle geskape is, dan dink ek: God is groot.

“Ek was vir agt jaar ondervoorsitter van Birdlife SA, maar ek moes uittree toe die kerk en my navorsing al my tyd in beslag geneem het.”

Hy vertel dis een van sy lewenslange drome om na die Galapagos-eilande en Brasilië in Suid-Amerika te reis, op ’n voëlkykekspedisie. “As ek weer geld het vir ontspanning kan ek hopelik weer reis. Ek het darem die Masai Mara in Kenia en die Serengeti in Tanzanië besoek.

Sy telling staan digby 1 000 voëls­ en sy gunsteling-voël is ’n bosloerie. Hy is ook ’n groot aanhanger van jazzmusiek. “Soms probeer ek ook om die saksofoon te speel.”

Niemand wou na my luister nie. Philip van der Walt se Bunnycorp-span was bereid om te luister en my te help.

Toe Tshifularo vir Bunnycorp gevind het, die maatskappy in samewerking met wie hy die 3D-oorbeentjieprostese ontwerp en ontwikkel het, was al sy opsies uitgeput.

“Ek het mense in Duitsland, Engeland, Amerika, China, Indië en plaaslik gekontak met my idee oor ’n bio-identiese prostese. Niemand wou na my luister nie. Philip van der Walt se Bunnycorp-span was bereid om te luister en my te help.”

Dié maatskappy in Vereeniging druk van juweliersware tot snawelprosteses vir beseerde voëls, maar begin nou in mediese produkte spesialiseer.

Van der Walt, die eienaar, vertel een van sy maatskappy se doelwitte is om bekostigbare mediese prosteses vir die openbare sektor te vervaardig. “Toe ek die eerste keer vir prof. Tshifularo ontmoet het, het ek geweet ons sit langs dieselfde vuur.” Hy vertel hy het ’n weersin in mediese maatskappye en fondse wat die prys van prosteses kunsmatig opjaag vir groter winsbejag.

“Hier was iemand wat nie aan sy eie sak gedink het nie, maar aan die groter geheel, wat werklik ’n verskil wou maak.

“As hy daarop uit was om geld te maak, sou ons nie saam met hom gewerk het nie.”

Carla Lewis is ’n senior joernalis by Beeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.