Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Met een voet in die graf en die ander op ’n piesangskil’

Toe Theuns Visser van Jeffreysbaai onlangs ’n uittreksel van ’n ou koerantvoorblad in Die Burger sien, het hy weer onthou van die dag 50 jaar gelede toe hy ’n groot dinamietontploffing by ’n myn oorleef het en talle ander se lewens gered het. Hy het sy herinneringe met Mariska Spoormaker gedeel.

Theuns en Mariétte Visser het ná die ontploffing in ’n hospitaal ontmoet en woon vandag op Jeffreysbaai. Foto: MARISKA SPOORMAKER

Dit is 24 Januarie 1970. ’n Sewe-ton-vragmotor is op pad na die Rustenburg-platinummyn (RPM) om sy vrag af te laai – 130 kiste dinamiet.

Op dieselfde oomblik kyk  by sy kantoorvenster uit. Hy sien hoe rookwolke bo die vragbak borrel. Toe hy die onmiskenbare “mooi geel” van brandende dinamiet sien, vlieg hy op en hardloop om by die vragmotor uit te kom.

Theuns (regs) en sy kollega, Gert Kruger (links), op ‘Die Transvaler’ se voorblad. Foto: ?

Hy is net betyds om die vragmotorbestuurder te keer voor hy die terrein binnery waar die bestaande kantore, die skagtoring, nuwe kantore in aanbou en hysmasjiene geleë is.

“Ho! Die dinamiet brand!” roep hy hand in die lug uit.

In stede daarvan om hierna na veiligheid te vlug, hardloop hy na verskillende punte op die terrein en waarsku sy kollegas skreeuend om pad te gee, ’n wavrag dinamiet naby hulle is aan die brand.

Die meeste mense het weggekom, maar hy was te laat en is saam met 15 ander ernstig beseer toe die dinamiet agterop die vragmotor ontplof.

Ná die ontploffing is hy in onder meer Die Burger beskryf as ’n onverskrokke held wat dosyne mense se lewens gered het: “Ooggetuies was dit gisteraand eens dat dit die vinnige optrede van mnr. Visser was wat dosyne mense se lewens gered het.”

’n Ongeluk bring liefde

Sy myndae is lankal verby en deesdae woon hy op Jeffreysbaai. As 80-jarige oupa kyk hy nou terug na daardie dag in sy lewe en dink ja, dit was verskriklik, maar ook verruklik.

Verskriklik in die opsig dat hy nog steeds nagmerries daaroor kry, maar ook verruklik omdat hy danksy daardie ontploffing die liefde van sy lewe ontmoet het.

Sy vrou, Mariétte, was destyds ’n verpleegster in die Cottesloe-hospitaal in Johannesburg waarna hy later oorgeplaas is.

“Mariétte was die suster in bevel wat my opname behartig het.”

Theuns sit terug en lag lekker. “Ons sê altyd ons het mekaar met ’n bang ontmoet.”

Theuns onthou die aanloop tot daardie bang by die platinummyn op Rustenburg soos gister. As tegniese ingenieurs-assistent, betrokke by ’n projek om die JCI (Frank)-skag vir die myn te sink, was hy ook baie goed vertroud met die werking van springstowwe.

“Dinamiet kan heeltemal uitbrand sonder om ’n ontploffing te veroorsaak, want dit word alleenlik afgesit deur impak.”

Op daardie betrokke dag het hy egter besef enigiets kan só ’n impak veroorsaak.

“Weghardloop was eerste in my gedagte. Tweede was om die mense weg te kry. Maar die lewe gaan nie daaroor om ’n besonge of onbesonge held te wees nie, dit gaan oor veiligheid.

“Die oomblik wanneer jy uit jou huis gaan en jou familie agterlos om te gaan werk, moet jy veiligheidsbewus wees. Dit gaan daaroor dat jy altyd verantwoordelikheid vir jou en die mense om jou se veiligheid moet neem.”

Daarom het hy uitgehardloop om die Hugh Frazer, die vragmotorbestuurder, te stop voor hy tussen die myngeboue kon inry.

“Ek dink hulle het hom (Frazer) ’n jaar later gekry, só vinnig het hy weggehardloop,” skerts Theuns.

Volgens sommige koerantberigte was dit die vragmotorbestuurder wat alarm gemaak het nadat hy rook onder die vragmotor sien uitborrel het, en dat Theuns daarna almal gewaarsku het, maar Theuns sê nee, dit is hý wat die bestuurder gewaarsku het.

Direk hierna het hy van die vragmotor teruggehardloop na die hysmasjienkamer om die hysmasjiendrywers teen die dreigende ontploffing te waarsku.

Foto’s van die beseerde Gert Kruger (links) en Theuns Visser (regs) op die voorblad van Die Transvaler.Foto: Verskaf

“Hulle het alle gelos en laat waai. Een konstruksiewerker, wat hoog op ’n steier aan die kant van die skag gestaan en werk het, het sonder aarseling afgespring en toe sy voete grondvat, gehardloop dat hy bars.”

Daarna het Theuns gehardloop om die manne op die skagtoring te gaan waarsku. Dié herinnering laat hom weer glimlag.

“Die een ou het drie meter hoog uit die skagtoring gespring en al in die lug begin hardloop.”

Die dinamiet agter op die vragmotor was steeds aan die brand.

Theuns Visser hou ’n stuk yster van ’n vragmotorwiel vas. Dit is ná die ongeluk uit sy boud verwyder.Foto: Mariska Spoormaker

Die plofslag

Theuns het hierna gehardloop na waar die mynbestuur se nuwe kantore in aanbou was om die werkers daar te waarsku, maar halfpad daarheen het die allemintige ontploffing gebeur.

“Ek het net gevoel hoe gee my bene pad onder my en iets slaan my in die rug. Dit was óf ’n band wat gebars óf die dieseltenk wat ontplof het wat die nodige impak gegee het vir die dinamiet om te ontplof.”

Die slag van die ontploffing het ’n groot gat in die grond geruk en het vyf myngeboue, ’n deel van die skag en dosyne motors erg beskadig of heeltemal verwoes, het Die Burger (en destyds Die Oosterlig) op 27 Januarie 1970 hieroor berig: “Altesaam 16 mense is deur vlieënde stukke hout, sinkplate, glas en staal beseer.”

Noodpersoneel het die erg beseerde Theuns agter groot kabeltolle aangetref.

“Daai tolle het my lewe gered. Ek was totaal doof, almal se monde het net beweeg. Ek wou opstaan, maar my bene wou nie.”

Omdat die myn se noodhulpgebou ook weggeblaas is, is Theuns en al die ander beseerdes direk na die destydse Paul Kruger-hospitaal op Rustenburg geneem.

“Daar is ’n stuk yster van die vragmotorwiel, wat by die linkerkant van my boud ingeskiet het, uit my lyf gehaal.”

Hy gaan haal die gewraakte stuk yster. Dit weeg swaar in die hand (sowat 250 gram). Dit is byna ondenkbaar dat dit in ’n man se lyf kon skiet en daar vassteek. Dit moes baie seer gewees het.

Theuns praat nie oor pyn nie, hy vertel net hoe die stuk yster uitgehaal is.

“Die vuurwarm yster het ’n pad deur my weefsel gebrand tot dit by my stuitjie vasgeslaan het. Die yster is tydens ’n operasie verwyder. Hierna is ’n spesiale suigmasjien gebruik om die weefsel rondom die wond, 60 mm in deursnee, te stimuleer sodat dit weer kon toegroei.”

Die wonderwerk

“Dis ongelooflik dat niemand in die ongeluk dood is nie,” het mnr. R.B. Tarlton, destydse mynbestuurder, destyds ná die ontploffing aan Die Burger gesê.

Vir Theuns self bly dit vandag nog ’n wonderwerk dat hy en al die ander die ontploffing oorleef het. Van die vragmotor het daar niks oorgebly nie, maar net ’n gat van byna twee en ’n halwe meter diep en sewe meter in deursnee. Van die kleiner wrakstukke is bykans ’n honderd meter verder opgetel. Buiten vir erge skok, het Frazer net ’n skraap oor sy een oog opgedoen.

Theuns praat verder oor die ernstige beserings wat die skrynwerker, wat aan die nuwe bestuursgeboue gewerk het, opgedoen het. “Van die vensters het in sy gesig ontplof. Hy moes 211 steke in sy gesig en skouers kry.”

’n Ysterbout moes uit die regterbeen van nog ’n kollega, Gert Kruger, gehaal word.

Hy onthou ook daar was niks van die mynbestuurder se nuwe kar, wat naby die toneel geparkeer was, oor nie.

“Ander karre wat so 200 meter verder geparkeer was, se ruite is almal uitgeskiet. My Ford Mustang was ook by dié karre geparkeer. Die Mustang se dak – dit was van kurkmateriaal – is deur die plofslag uitmekaargeruk.

“Nadat die stuk yster in die hospitaal op Rustenburg uit my lyf gehaal is, is ek na die Cottesloe-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas vir my verdere behandeling. Dit was destyds die myn-hospitaal. Baie gebreekte mense is daar opgeneem.

Theuns Visser met die koerant ‘Die Transvaler’ wat hy sedert 1970 bewaar. Foto: Mariska Spoormaker

“Ek hoor toe die suster in bevel, dis nou Mariétte, is ’n Kapenaar, en ek het haar baie geterg daaroor. Sy was só mooi vir my. Naderhand het ek besef ek hou baie van haar. Gelukkig het sy ook van my begin hou en toe het alles vinnig gebeur.”

Op 9 Mei 1970, skaars vier maande ná die ontploffing, is hulle getroud. Die einste Mustang is herstel en het die troukar geword.

Mariétte haal haar en Theuns troualbum uit die kas. Daar staan die bruidspaar langs die Ford Mustang met sy nuwe dak!

In dié tyd het Theuns ook teruggekeer werk toe. In daardie dae was daar nie dinge soos trauma-berading nie, sê hy.

Die ‘punches’

“Jy doen wat jy moet doen, en dit is om te werk, nie om op jou gat te gaan sit nie. Ek glo hoe meer hande-arbeid ’n mens doen, hoe meer kan jy die punches vat.”

Theuns en Mariétte moes nog ’n paar ander punches in hul lewe vat: ’n hoëpoot-tekenaarstoel het onder Theuns ingegee en hy het só hard op die grond beland dat hy vandag met ysterplate en skroewe in sy rug, sy regterbeen en linkerarm sit.

Hy het ook ’n heupvervanging gehad.

In 2002 het die egpaar Theunis, hul oudste kind van vier, in ’n motorongeluk verloor en in 2003 het vyf rowers op Theuns en Mariétte in hul huis op Randfontein toegeslaan.

“Ons was nog besig met aandete, toe is hulle daar. Hulle het my skoenveters uitgetrek en my hande daarmee vasgebind. Een het by my bly sit terwyl die ander Mariétte deur die huis gesleep het om by die kluis uit te kom. Ek kon niks doen nie. Toe hulle uiteindelik loop, het hulle ook nog my tekkies gevat.”

Die Oos-Kaapse ‘Die Oosterlig’ berig oor die ontploffing by ’n myn waarin 16 beseer is. Foto: argief

Theuns trek homself regop in die stoel.

“Na dié voorval was ons kopdokter toe, maar Mariétte was ’n halfuur by hom, toe kom sy uit en sê sy ‘nee wat.’

“Ons albei het soort van geleer hoe om trauma in ons eie koppe uit te sorteer. In my beroep op die myne, veral wanneer ’n skag gesink word, het ek altyd geweet dit is gevaarlike werk wat ek doen. Jy kan maar sê ek het altyd met een voet in die graf en die ander op ’n piesangskil gewerk.

“In haar beroep moes Mariétte ook met baie ernstige gevalle werk. So wanneer die verskriklike gebeur, het ’n mens ’n soort van manier om op jou eie daardeur te kom.”

Tog, vyftig jaar ná die dinamietontploffing, besoek die nagmerries Theuns nog steeds?

“Ja. Maar dit is nie meer so skrikwekkend soos in die begin nie, ek lag nou oor die goed,” antwoord hy.

Theuns sit terug, vryf oor Bailey, hul pitbull se rug, en sê dan peinsend: “As iets verskrikliks met jou gebeur het, is dit goed om daaroor te praat, want dan praat jy baie van die trauma uit jou uit.

“Hoe vinniger ’n mens ná die insident praat, hoe vinniger kan jy daaroor kom.”

Meer oor:  Geskiedenis  |  Liefde  |  Ontploffing  |  Herinneringe  |  Held
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.