Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Met gebede en ou stokke

As kind was hy in ’n weeshuis langs ’n gholfbaan. Later was hy ’n gholfjoggie op die einste baan. Nog later was hy ’n hawelose. Maar nou, dekades later, gaan Llewellyn Barnes deelneem aan die professionele Senior-Sonskynreeks. Ischke van Eeden het by hom gaan inloer.

Llewellyn Barnes (59), tot onlangs nog haweloos, berei voor vir die Senior-Sonskynreeks. Foto: deaan vivier

As kind het Llewellyn Barnes en sy maats gholfstokke uit stoele se pote gemaak en op selfgemaakte bane hul vernuf in hierdie sportsoort beoefen.

Vandag oefen dié 59-jarige met régte gholfstokke ter voorbereiding vir sy deelname aan ’n toernooi vir professionele gholfspelers.

’n Maand gelede het Barnes as professionele speler gekwalifiseer om in Maart aan die Senior-Sonskynreeks deel te neem.

Hy het al harde bene gekou en was net enkele maande gelede nog ’n hawelose wat op straat in Centurion geleef het.

Maar ten spyte van die talle taai klappe wat die lewe hom gegee het, het hy nog altyd die droom gekoester om eendag ’n trofee vir gholf omhoog te hou.

En nou is hy een stappie nader aan dié droom.

30c vir ’n brood en koeldrank

Barnes was tien jaar oud toe sy pa, Cesil, wat as ’n veiligheidswag gewerk het, dood is.

Sy ma, Minnie, kon nie vir haar sewe kinders met haar salaris as ’n huiswerker sorg nie. Die welsyn het hulle toe weggeneem.

Hy het in ’n weeshuis langs die Zwartkops-gholfbaan in Centurion gewoon en die ander kinders is in die Oos-Kaap in pleegsorg geplaas.

Op Zwartkops het Barnes se liefde vir gholf begin. Hy het soggens skoolgegaan en smiddae het hy afgesit gholfbaan toe op soek na geleenthede as ’n gholfjoggie.

“Ek was net tien jaar oud toe ek die eerste keer ’n gholfsak gedra het. Daardie dae is gholfjoggies goed betaal. Ek is 30c betaal vir ’n dag se werk – genoeg om ’n brood en ’n koeldrank te koop.

Dit was nog altyd my droom om aan ’n behoorlike toernooi teen professionele spelers deel te neem. Dit is ’n geleentheid vir my om ontslae te raak van die las van my verlede en na my nuwe toekoms te kyk. My enigste fokus nou is die spel.

“En ek het begin droom daarvan om eendag ’n professionele gholfspeler te wees.”

Hy was 13 jaar oud toe hy weggeloop het en in Durban beland het. Daar het hy in ’n kombi geslaap en bedags koerante verkoop.

Totdat hy 18 geword het, het hy rondgeswerf tussen sy ma in Uitenhage en ander familielede in Oos-Londen.

Uiteindelik het hy na Zwartkops teruggekeer en weer as ’n joggie begin werk.

“Jy hoef nie skoolopleiding te hê om ’n gholfjoggie te wees nie, jy moet net die spel ken. Ek het ’n paar jaar as ’n joggie gewerk.”

Darren Fichardt, Gavan Levenson, Jean Hugo en Chris Swanepoel is maar enkele van die professionele Suid-Afrikaanse spelers vir wie Barnes al ’n gholf­joggie was.

Llewellyn Barnes voor sy woonplek, ’n vraghouer, by die Services-gholfklub in Centurion, Pretoria.Foto: deaan vivier

“Ek het baie by hulle geleer – ek het met die oë gekyk en met die brein gesteel,” glimlag Barnes.

Sy gunstelingspeler is Tiger Woods, wie se houe hy al in stadige aksie noukeurig op die internet bestudeer het.

Party dae, selfs wintersoggende, het hy balle uit die Hennopsrivier gehaal om te verkoop.

“Soms was jy gelukkig. In die somer, wanneer daar oorstromings was, het honderde balle onder die brug beland. Op die dae wat ek nie balle kon kry nie, het ek niks gehad om te eet nie.”

Toe die Zwartkops-gholfbaan opknappingswerk ondergaan en ’n gholflandgoed word, was Barnes genoodsaak om die eiendom te verlaat. Hy was 25 en sonder heenkome. Hy het op straat beland.

Maar hy het sy belangstelling in gholf behou en die kans benut om te speel as iemand stokke aan hom geleen het.’n Onwaarskynlike vriendskap

Flits vorentoe – na 2019 – die jaar waarin Barnes se geluk gedraai het.

Hy het in Januarie 2019 die eerste keer in tien jaar weer gholf gespeel toe hy by die Dienste-gholfklub in Centurion as ’n gholfjoggie begin werk het.

Dié klub het hom in Augustus blyplek in ’n pakplek aangebied toe dit bekend word dat hy haweloos is.

Intussen het hy ook bevriend geraak met Gareth Frost (45) wat Saterdagoggende ontbyt vir haweloses by Wierdabrug gegee het.

Hulle het die liefde vir sport gedeel en mettertyd het ’n spesiale band tussen die twee gevorm.

Een oggend ná ontbyt het Barnes vir Frost gesê hy glo dat hy professioneel gholf kan speel – al wat hy benodig, was borgskappe.

“Ek het nie geweet hy kan professionele gholf speel nie. Toe hy vir ’n borg vra om professioneel te speel, het ek gedink hy is nogal cheeky.

“Maar toe God dit op my hart plaas om Llewellyn te glo, het ek besluit om Hom te vertrou en dit deur te voer,” sê Frost.

Vir senior amateurspelers is die vinnigste manier om speelstatus in ’n groot toernooi te kry, om in ’n kwalifiserende toernooi te speel.

Frost het die geld bymekaar gekry vir Barnes om in Januarie vanjaar aan die kwalifiserende toernooi deel te neem.

Omdat Barnes nie ’n amptelike voorgee het nie, is sy speelvaardigheid getoets voor sy deelname aan die kwalifiserende toernooi.

“Komiteelede van die Senior-Sonskynreeks het twee rondes saam met hom gespeel op die baan van die Johannesburg-buiteklub,” verduidelik Neville Clarke, hoofbedryfsbeampte van die Senior-Sonskynreeks.

Met tweedehandse gholfstokke en ’n gebed het Barnes die kwalifiserende toernooi aangepak.

Twee rondes is onderskeidelik op 16 en 17 Januarie op die baan van die Royal Johannesburg & Kensington-gholfklub gespeel.

Ná albei rondes het hy 17 houe meer as die baansyfer aangeteken. Met die eerste ronde het hy 79 houe gespeel en met die tweede 82.

Barnes het gekwalifiseer met voorwaardelike speelvoorregte as ’n professionele gholfspeler vir deelname aan die reeks, sê Clarke.

“Gholf is in my bloed. Dit was nog altyd in my hart om ’n goeie gholfspeler te wees,” sê Barnes.

Die eerste ronde van die 2020 Fidelity Pro-Am is geskeduleer vir 16 en 17 Maart op die baan van die Johannesburg-buiteklub in Woodmead.

Hoewel hy ook nog droom van ’n kolhou, beskryf hy dié geleentheid in sy lewe as die perfekte oomblik.

“Soos ek my toekoms nou sien, lyk dit baie helder. Die Vader het my nog altyd gedra en gesê ‘jou tyd kom’. Ek het altyd hoop gehad in Hom.”

Skarefinansiering

Om aan die Senior-Sonskynreeks deel te neem, sal Barnes sy eie reis-en-verblyfkoste moet dek.

Hy sal ook nuwe klere en ’n nuwe stel gholfstokke benodig aangesien sy paar stokke nie vir die professionele toernooi aanvaar word nie.

Frost en Fearless Love, ’n organisasie sonder winsbejag, het ’n veldtog op BackaBuddy begin om te verseker dat Barnes op sy beste tussen die ander professionele spelers lyk en alles het wat hy benodig.

“Ek is so opgewonde om aan die Senior-Sonskynreeks deel te neem. Die kans om my ware kleure te wys beteken die wêreld vir my.

“Dit was nog altyd my droom om aan ’n behoorlike toernooi teen professionele spelers deel te neem. Dit is ’n geleentheid vir my om ontslae te raak van die las van my verlede en na my nuwe toekoms te kyk. My enigste fokus nou is die spel.”

Meer oor:  Gholfbaan  |  Kind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.