Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Met kos breek sy grense af

Gedryf deur nuuskierigheid en volharding het Cass Abrahams ’n naam vir haarself gemaak as die gesig van die Kaaps-Maleise kookkuns. Maricelle Botha het onlangs saam met haar gaan kosmaak om meer oor haar passie vir dié eg Suid-Afrikaanse kooktradisie uit te vind.

Cass Abrahams gesels oor die geskiedenis van die Kaap sowel as die speserye wat in Kaaps-Maleise kookkuns gebruik word. Foto’s: Maricelle Botha

Om saam om ’n tafel te sit en die spreekwoordelike brood te breek is ’n voorreg wat ons as Suid-Afrikaners soms mis omdat daar steeds swaar historiese sluiers van totale onverdraagsaamheid oor ons hang. In die geskiedenis is telkemale bewys dat baie dinge rondom die etenstafel opgelos kan word.

Wat ’n wonderlike voorreg is dit nie om vooropgestelde idees happie vir happie af te breek nie.

Met ’n onlangse besoek aan Kaapstad het ek besluit om my kookvernuf op te skerp en meer van die Kaaps-Maleise kookkuns te gaan leer. En wie dan nou beter om by te leer as die doyenne van hierdie kookkuns, Cass Abrahams (76).

Voordat ek na Kaapstad vertrek, maak ek ’n afspraak vir ’n kookles vir my en ’n vriendin.

Opgewonde, gewapen met ons resepteboeke (wat natuurlik geteken moet word), vertrek ons uit die middestad na Retreat, waar Abrahams woon. Met ’n ligte klop aan die deur, gaan dit oop en daar staan Abrahams. In verwondering oor die groot gees wat ons so vriendelik in haar huis verwelkom, stamel ons oor “tannie”, “mevrou” en “Cass”.

Ons gaan sit aan by die eetkamertafel, want eers moet ons kruie en speserye verstaan. Sy trek ’n houtboks nader wat soos ’n juweelkissie lyk. Met die lig van die deksel word die vertrek met ’n verskeidenheid eksotiese reuke gevul. Elke spesery en krui is sorgvuldig in sy eie afdeling. Sy verduidelik wat elkeen is, wat bymekaar pas, asook die Kaaps-Maleise name van elkeen – jeera (komyn), barishap (vinkelsaad), dhania (koljander).

Cass Abrahams verduidelik aan Barbara Vorster die verskil tussen Indiese kookkuns en Kaap-Maleise kookkuns, in haar huis in Retreat.

Nadat die ys gebreek is, vertel Abrahams hoe sy en haar man, Yusuf (Jowa) Abrahams, bespiegel het oor dié twee vroue met die vanne Botha en Vorster uit die Vrystaat. Sy lag lekker wanneer sy sê dat ons nie heeltemal is wat sy verwag het nie.

Terwyl ons deur die resepte lees, sê sy: “Julle weet, in ons kultuur is dit ’n gebruik om ’n belangrike bestanddeel uit te laat. Soms is dit iets so belagliks soos melk of eiers. Toe my eerste resepteboek, The Culture & Cuisine of the Cape Malays, in 1995 gepubliseer is, het my skoonma gesê hoe kan jy ‘die Hollanders leer om ons kos te kook’. Ek het geantwoord dat dit mos nie sal help as ek halwe resepte publiseer nie.”

Abrahams het in Newtown, Johannesburg, grootgeword. Haar pa was van Xhosa- en Duitse herkoms en haar ma van Franse herkoms. Sy het in verskeie Katolieke skole in KwaZulu-Natal skoolgegaan. In die 1960’s, met apart­heid in Suid-Afrika in volle gang, was Abrahams genoodsaak om haar beplande BSc-graad aan die Universiteit van Lesotho te doen. Ná haar voorgraadse studie is sy na die Kaap, waar sy haar onderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het.

Dit is in hierdie tyd dat sy haar man ontmoet het. “As student was ek maar arm, soos dit met studente gaan. Ek het op ’n dag geryloop. Ewe skielik stop ’n sterk, baie aantreklike jong man langs my om my ’n rygeleentheid aan te bied. Ek dink nog lank voor Jowa eers sy oog op my gehad het, het ek al besluit ek gaan met dié man trou,” vertel sy stout terwyl sy ’n rugbyfoto uit Jowa se jongdae uithaal om te wys.

Maricelle BothaFoto:

Jowa is ’n rugbylegende wat in die nierassige Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru)-span gespeel het wat in 1968 in die Oos-Kaap getoer het. Hy is tans ’n erepresident van die Primrose-rugbyklub in Claremont en dien as uitvoerende bestuurslid van die Westelike Provinsie-rugbyunie.

Abrahams vertel dat sy as jong vrou nie regtig in kook belang gestel het nie. Nadat sy eendag daarvan bewus geword het dat almal heeltyd van “arme Jowa” praat, het sy op dag ’n vriendin gevra: “Nou wat is so arm aan Jowa?”

“Ek meen hy het tog ’n goeie werk as onderwyser gehad, ’n motor, ’n huis en ’n vrou. Ek kon nie verstaan wat so ‘arm’ aan hom was nie. My vriendin het verduidelik dat die ander mans hom jammer kry omdat hy ’n geleerde vrou het wat nie Afrikaans kan praat of kook nie. Jy weet, in die Kaaps-Maleise tradisie is dit belangrik dat ’n vrou kan kook.”

Net daar, op 38-jarige ouderdom, het Abrahams se reis met kos begin. “My man se ouma het my jammer gekry en my onder haar vlerk geneem. Die eerste ding wat sy my geleer het om te maak, was groenboontjiebredie.”

Soos die tyd aangestap het, het diegene wat agter hul bakhande oor haar kookvernuf geskinder het, self begin navrae doen oor haar weergawes van bekende disse. Danksy haar nuuskierigheid en volharding het sy stadig maar seker die wysheid agter die raaisels begin verstaan – byvoorbeeld deur ’n teelepel suiker bo-op ’n bredie te strooi bring jy balans in die bitterheid van die dis.

Só het Abrahams as voedselhistorikus en Kaaps-Maleise kookkenner Suid-Afrika se kookkuns vir die wêreld oopgemaak en haar nalatenskap sal nog lank die grense tussen mense afbreek.

Resep: Bobotie  deur Cass Abrahams

Hierdie Kaaps-Maleise gereg word gekenmerk deur ’n wonderlike mengsel van geure.

Foto:

Bestanddele

15 ml kookolie

50 ml botter

2 groot uie, gekap

500 g bees- of volstruismaalvleis

10 ml knoffelhuisies, fyngemaak

5 ml gemmer, fyngemaak

15 ml masala

5 ml borrie

10 ml gemaalde komyn

10 ml gemaalde koljander

3 naeltjies

2 ml peperkorrels

5 ml gemengde kruie

125 ml sultanas

125 ml opgekapte gedroogde appelkose

60 ml gevlokte amandels

5 wonderpeperkorrels

125 ml blatjang

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

6-8 suurlemoenblare

250 ml melk

2 eiers, geklits

Metode:

Braai uie in olie en botter tot net deursigtig. Voeg vleis by die liggies gebraaide uie en braai totdat dit gaar is.

Voeg nou al die ander bestanddele behalwe die suurlemoenblare, melk en eiers by. Meng goed en braai ’n minuut lank. Smeer ’n oondvaste bak en skep die vleis in die bak. Druk die vleis met die agterkant van ’n lepel in die bak vas. Kneus die vars suurlemoenblare en rol dit op. Rangskik dit dan bo-op die mengsel.

Klits eiers en melk liggies saam en giet oor vleis.

Bak 30 minute teen 180 °C of tot eiermengsel geset het en goudbruin is.

Sit voor met geelrys en blatjang.

Bedien 6-8

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.