Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
John Miles: Kroniek uit die Onder-Bokkeveld

Die deurwinterde romansier John Miles vier Woensdag sy 80ste verjaardag. Jo Prins het by ’n paar mense gaan kers opsteek oor Miles se bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat.

John Miles tydens ’n vroeëre onderhoud oor sy jongste roman “Op ’n dag, ’n hond”. Foto: Jaco Marais

“Daar is min skrywers soos John Miles wie se eerste romankarakter met twee toebroodjies van ’n kafee op Carnarvon tevrede moet wees, maar wat dan self jare later net ’n halwe dagrit daarvandaan sy 80ste verjaardag kan vier naby Nieuwoudtville, die hoofdorp van kleurryke veldblomme.”

Aan die woord is die bekroonde kortverhaalskrywer Abraham H. de Vries wat daarop aandring dat ons asseblief die “H” moet los want “dis oerjare se wintiegeit”.

De Vries sê Miles is een van min en was dit nog altyd, ook toe hy in Johannesburg akademikus was en saam met Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg die uitgewery Taurus opgerig het om André P. Brink se ’n Oomblik in die wind te publiseer “teen alle moontlikhede van sensuur in ’n tyd van drukkende politieke korrektheid”.

Die voorblad van “Op ’n dag ’n hond.”

Volgens De Vries is Miles bekend as ’n doener met ’n oersterk sin vir reg en geregtigheid.

“André Brink het John se eerste en enigste bundel kortkortverhale, Liefs nie op straat nie, ‘die stemvurk van Sewentig’ genoem. Op dié kortkortverhale met hul onvolprese, veelvlakkige tekste het ses romans gevolg, van Okker bestel twee toebroodjies tot Op ’n dag, ’n hond. Met Kroniek uit die doofpot die belangrikste móét vir die leser omdat dit ’n moordverhaal vertel wat tydens die WVK geblyk het die waarheid te wees. John Miles is ook die enigste skrywer (en uitgewer!) van ’n Afrikaanse kinderboek wat verbied is, Stanley Bekker en die boikot.”

De Vries sê Brink se stemvurk-beeld klink ook op in Miles se romans en dat hy die vermoë het om in die kortverhale die “wye wêreld in ’n enkele gebeurtenis of beeld vas te vang” (soos Hennie Aucamp dit gestel het). Maar, meen De Vries, van die begin af was daar ook die groot temas: dood, geweld, die golwe van maatskaplike agteruitgang, morele verval en die weerloosheid van die individu, kenmerkend van sy protesprosa.

“Op ’n dag, ’n hond het kort gelede, in 2016, verskyn. Vandag se 80-jarige is nog dieselfde hy, al boer hy nou met rooibostee, olywe en boegoe 60 km van die naaste bure af, saam met die kunstenaar Saar Steenkamp op Katstaartlaagte.

“Hierdie tyd van die jaar lyk dit of ook die kleurvolle veldblomme van die Onder-Bokkeveld erkentlik buig in die middagwind.”

Nie op sleeptou geneem deur literêre modes

Miles is nie iemand wat hom deur literêre modes op sleeptou laat neem nie, sê die literator Louise Viljoen. Foto: Jaco Marais

Die Stellenbosse literator Louise Viljoen sê weer sedert die verskyning van Liefs nie op straat nie (1970) het Miles een van die belangrikste oeuvres in die Afrikaanse verhaalkuns opgebou.

“Sy werk was dikwels tegnies vernuwend, maar terselfdertyd gerig daarop om ’n betekenisvolle bydrae te maak tot die openbare diskoers in Suid-Afrika. Tegniese vernuwings, soos die spel met chronologie in Liefs nie op straat nie en die vertroebeling van die grens tussen feit en fiksie in sy polisieroman Kroniek uit die doofpot (1991), het dus altyd ’n betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse werklikheid as onderbou gehad.”

Hy laat hom eerder lei deur sy eie artistieke oortuigings en deur sy gewete.

Viljoen sê sy herinner haar dat Miles in 1993 by die Winterforum, gereël deur die departement Afrikaans by die Universiteit van die Witwatersrand, gesê het dat hy nie met Kroniek uit die doofpot probeer om “ ’n lêplek in die postmodernistiese hemel”, wat daardie tyd ’n belangrike teoretiese invalshoek was, te kry nie.

“Dit som vir my in ’n groot mate John Miles se benadering tot sy skryfwerk op: Hy is nie iemand wat hom deur literêre modes op sleeptou laat neem nie, maar hom eerder laat lei deur sy eie artistieke oortuigings en deur sy gewete.

Die voorblad van Kroniek uit die doofpot soos dit in 1992 gelyk het.

Viljoen meen hierdie instelling het ’n aantal van Afrikaans se belangrikste tekste opgelewer en sluit by De Vries aan wat betref Miles se bydrae tot die alternatiewe uitgewery Taurus wat in die hoogty van apartheid gesorg het dat boeke wat nie by hoofstroom-uitgewerye uitgegee sou kon word nie, wel die lig gesien het.

Ja, sê die skrywer Deon Meyer, Miles se Kroniek uit die doofpot het ’n groot invloed op sy skrywersloopbaan gehad.

“Toe dit in 1991 verskyn (met die slagreël ‘ ’n Polisieroman’ op die voorplat, as ek reg onthou), was ek by uitstek ’n kortverhaalskrywer, onder meer omdat ek nie geweet het hoe om misdaadfiksie in Afrikaans, onder apartheid, aan te pak nie.

Kroniek het dié pad aangedui, op velerlei maniere. Dit was eerstens bloot ’n briljante, onneersitbare boek wat geboei, ontstel en laat nadink het. Maar dit het ook die moontlikhede van ’n meer gestroopte, hardgebakte Afrikaans gewys wat gepas was vir noir-fiksie. En natuurlik ’n alternatiewe verhouding tussen polisieman en stelsel, wat die probleem van die wetstoepasser as apologeet vir apartheid opgelos het.”

Dit alles was vir hom inspirerend, sê Meyer, en het hom die moed gegee om kort daarna sy hand aan misdaadfiksie te waag.

Miles doen die buitengewone

Willie Burger, hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, sluit volmondig by De Vries, Viljoen en Meyer aan.

“John Miles is ongetwyfeld een van die interessantste skrywers in Afrikaans. Die rede daarvoor lê daarin dat hy juis die buitengewone doen, nie vaspenbaar is nie en telkens verras met ’n aweregsheid.

Hiermee het Miles die werk van die WVK eintlik vooruitgeloop. Die ontmaskering van die Vlakplaas-polisie-eenheid.

“Reeds sy debuutwerk het verskil van die Sestigers se werk. Hy het aangesluit by aspekte van die modernisme en sekere tegnieke met vaardigheid aangewend wat soms verbluffend is (sommige kritici het destyds gemeen dit is te veel vertelvernuf en te min wat daarmee gedoen word, maar ek dink hulle was verkeerd).”

Burger meen dit is eintlik ’n aanduiding van hoe hy toe reeds lesers onverhoeds betrap het.

Kroniek uit die doofpot is sy mees bekroonde werk – ook vertaal en in ’n kort reeks vir TV verwerk. Hiermee het Miles die werk van die WVK eintlik vooruitgeloop. Die ontmaskering van die Vlakplaas-polisie-eenheid. Maar hoewel dit skokkende onthullings bevat het en al beskryf is as een van die duidelikste voorbeelde van hoe strukturele geweld werk, is ook hierdie roman op besonder vernuftige wyse vertel – met afwisselende hoofstukke waarin die skrywer en die swart polisieman elk afgekamp in sy eie hougebied is.

Op 80 blyk dit die rooibostee, olywe en boegoe waarmee Miles in die Onder-Bokkeveld boer, doen hom goed. Foto: Jaco Marais

“Die probleme rondom fiksie en werklikheid en die rol wat juis fiksie kan speel in ’n tyd van oorrompelende werklikheid wat byna wil sê fiksie is nie iets waarmee ons nou in die lig van hierdie werklikheid ons kan bemoei nie. Geen sprake van gemaklike appropriëring nie, geen pretensie om te weet wat ’n ander ervaar of dink of doen nie. En tog die ongelooflike vermoë om emosioneel te roer, die gewete oop te krap, intellektueel uit te daag en op storievlak mee te sleur.”

Vir Burger is Miles se ander romans nie minder uitdagend nie en telkens is hy gemoeid met die gewone mens, die klein mens – ’n naamlose onderwyser in Op ’n dag, ’n hond, ’n gewone polisieman in Kroniek.

“Soos die skrywer teenoor ’n vriend opmerk in Kroniek: ‘Ek skryf oor 'n armsalige mens wat versmoor word in weerwil dalk van die majestuese afrol van die geskiedenis.’

“En in Op ’n dag, ’n hond merk die onderwyser op dat hy nie glo in letterkunde waarin die persoonlike gebeurtenisse van gewone mense saamval met die groot historiese gebeurtenisse nie. Hierdie soort gemanipuleerdheid is onoortuigend.

Miles se werk en sy lewe herinner ons daagliks daaraan dat ons nie te gou moet veralgemeen nie, nie te maklik moet verval in groepdenke nie,

“Die gewone mens verswelg in die alledaagse, die gewone. Die maniere waarop sin hierin gevind word, is altyd gemaakte sin, die vertel van ’n storie – soos ’n episode van ’n sepie in Voetstoots, soos die kunsmatige uitdink van ’n plot ondanks toevalligheid in Op ’n dag, ’n hond. Maar eintlik is hierdie bewustheid van uitgelewerdheid van die individu al in sy kortverhale te sien.

Burger sê Miles is nie slegs op struktuurvlak en die vlak van plot stroomop en verrassend nie, selfs tipografies verkies hy om af te wyk van die norm – die ondermyning van die konvensie van aanhalingstekens by direkte rede is een voorbeeld. Skerp hakies in Kroniek, aandagstrepe in Op ’n dag, ’n hond.

“Miles se werk en sy lewe herinner ons daagliks daaraan dat ons nie te gou moet veralgemeen nie, nie te maklik moet verval in groepdenke nie, nie moet oorgee aan ’n lekker warm gevoel van saam met ’n klomp ander loop en leef en dink nie.

“Hy hou aan om uit te daag, om te krap en te pla en sodoende word fiksie sinvol, eintlik noodsaaklik in ons werklikheid. En daarom kan ons ook nie wag vir die volgende Miles-boek nie.”

Meer oor:  Deon Meyer  |  John Miles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.