Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Swanger Minki gesels oor Baba No. 3

As sy wil swanger wees, wil sy dádelik swanger wees, het ’n stralende Minki van der Westhuizen aan Murray La Vita gesê.

Oor haar eerste bevalling sê Minki: “Dit het vir my gevoel of ek nou ’n ystervroukompetisie klaargemaak het.”Foto: Jaco Marais

Die gesprek met Minki van der Westhuizen begin by Britse koninklikes. Ek vra haar of sy die TV-reeks The Young Victoria gekyk het waarin koningin Victoria in die laaste episode die lewe skenk aan Victoria, die eerste van haar nege kinders.

Die rede waarom ek haar hieroor pols, is omdat sy nou swanger is met haar derde kind. Wanneer sy by Melissa’s in Dorpstraat in haar tuisdorp Stellenbosch ingestap kom, sien jy sy is een van daardie vroue wat straal tydens swangerskap: Haar oë blink, haar vel gloei, sy glimlag.

As alles volgens plan verloop, behoort haar en haar man, Ernst Joubert, se baba in Maart gebore te word. Die nuweling se geslag is vir eers ’n geheim.

Vroeër toe ons oor die telefoon gepraat het, het Minki na die geboorte van ’n baba verwys as ’n wonderwerk. Ek herinner haar daaraan en vra wat sy daarmee bedoel.

“Weet jy wat is die heel grootste wonder? As jy nou net die lewe geskenk het en hier is hierdie kind in jou arms. Dis mind-boggling! Ek verstaan nie hoe iemand nie kan glo in God wat die mens gemaak het as jy deur hierdie proses gaan, as jy kyk waar dit begin het en dan kom hierdie baba uit jou lyf uit en hier hou jy die kind in jou arms . . . Die een oomblik het die kind alles gehad wat hulle nodig het in jou maag en nou is hulle in jou arms en moet jy alles vir hulle doen. Hulle skreeu en hulle is honger en hulle moet klere kry. Maar dit is ’n óngelooflike wonderwerk.”

“Ek is só bevoorreg om weer te kan swanger wees met nóg ’n baba.” Foto: Jaco Marais

Minki sê sy was baie gelukkig ná die geboorte van Katerien (4 ½) en Elise (3); sy het glad nie aan postnatale depressie gely nie.

“Kyk, jy weet nooit of jy dit gaan kry of nie en ek weet nie of dit te doen het met my ingesteldheid teenoor die lewe nie, maar ek is oor die algemeen ’n baie positiewe mens met ’n positiewe uitkyk, maar ek het ook nie moeilike babas gehad nie.”

Veral die eersteling se geboorte was ’n “fantastiese tyd” in haar lewe.

“My man was baie betrokke en ons was net só mal oor hierdie babatjie en hier woon ons in Engeland. Dit was rêrig ’n wonderlike tyd in ons lewe, en my ma het toe Katerien ’n maand oud was by my kom kuier vir drie weke, en toe het ek en sy geoperate in Londen met hierdie klein babatjie en dit was net vir my so lekker.”

As jy wil swanger wees, wil jy dádelik swanger wees – só werk ’n vrou se kop.

Sy het “normaal” gekraam.

“Dis wónderlik! Dit het vir my gevoel of ek nou ’n ystervroukompetisie klaargemaak het. Dit was van die grootste accomplishments in my lewe waarvoor ek seker nie kan krediet vat nie. Dit was net wonderlik om dáár te wees en te voel wat jou lyf kan deurgaan. Maar die pyn was redelik ondraaglik.”

Desondanks het sy net goeie herinneringe aan die eerste bevalling.

“Dit kon nie vir my sleg gewees het nie, want 14 maande later toe kom die tweede een,” sê sy laggend.

Dit was so beplan.

“Met Katerien het dit glád nie lank gevat vir my om swanger te word nie. As jy wil swanger wees, wil jy dádelik swanger wees – só werk ’n vrou se kop. So met Katerien het ek vier maande gevat om swanger te raak en met Elise toe dink ek, oukei, dit gaan seker nou weer ’n rukkie vat, so kom ons kyk wat gebeur. Maar toe raak ek onmiddellik swanger.

“Dit was vir my perfek, want ek was in élk geval in Engeland en ek het in élk geval een baba gehad, so nog ’n baba was vir my maar net: Okay, let’s do this; dit is nou ’n sirkus, ons gaan ’n bietjie suffer, maar ons gaan hier deurkom.”

Goedheid en guns

Voel sy nie beangs oor die vooruitsig om aan ’n nuwe baba die lewe te skenk in ’n gewelddadige land soos Suid-Afrika, en ’n dorp soos Stellenbosch wat toenemend onder misdaad deurloop nie?

Minki van der Westhuizen tydens ’n onderhoud in Stellenbosch.Foto: Jaco Marais

“Ek en my man het eergisteraand na die fliek Wind River gekyk waarin twee meisies vermoor word . . . Dit het my só geraak, ook maar net omdat ek ’n mamma is. En ek het daarna by my twee dogtertjies in die bed gaan lê elkeen vir ’n rukkie en ek was net so emosioneel en ek het net begin bíd oor hulle vir goedheid en guns en seën en dat hulle net veilig moet wees. Dit voel vir my as ’n mamma is dit al wat ek kan doen. Ek kan vir my kinders bid; dít is hoe ek voel ek doen mý deel. En dit gee vir mý soveel gemoedsrus, om te weet dat ék elke dag vir hulle bid.

“Ons het vyf jaar in Engeland gewoon [toe Ernst vir die klub Saracens rugby gespeel het] en nou is ons terug in die land en dit is só lekker. Ek wíl nie in Engeland bly nie. Daar gaan ek dalk op ’n trein klim en ’n bom gaan my opblaas. As dit jou tyd is, is dit jou tyd – ons álmal weet dit. So ek sal eerder die tyd wat ék het, lewe in sonskyn tussen mense wat my taal praat en my familie, my niggies en nefies en oumas en oupas, as wat ek gaan wegkruip in ’n land waar ek nie ’n kwaliteitlewe gaan hê nie.”

Dit help nie om negatief te wees nie, sê sy.

Grootdoop

Ek vra haar uit oor haar geloof.

“Ek het grootgeword in ’n gelowige huis waar ons elke Sondag kerk toe gegaan het as ’n gesin al het jy die Saterdagaand uitgegaan tot wie weet watter tyd, jy moet Sondagoggend in die kerk wees, dit is not negotiable.

“Op 21 is ek groot gedoop, so daar het definitief ’n verdieping plaasgevind.”

In watter kerk?

“Nee, in ’n bad in my ouerhuis. Alida Fismer, ’n vriendin van my ma, het my gedoop. Sy is ’n baie gelowige vrou wat ook ’n wonderlike pad stap saam met die Here . . . Twee Sondae terug sit ons in die kerk [NG Moederkerk] en my dogtertjies speel hier om my en dis Doopsondag en toevallig is een van die kindertjies wat gedoop word se naam is Minki. En die dominee praat en nou sê hy ‘Minki ek doop jou in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en jy’s God se kind . . .’ Ewe skielik kyk Elise op en sy sê: ‘Mamma! Mamma! Liewe Jesus sê jy is Sy kind’.” Sy lag.

“Op 21 is ek groot gedoop, so daar het definitief ’n verdieping plaasgevind.” Foto: Jaco Marais

“Ek dink toe, as iemand oor 20 jaar vir my moet vra: ‘Wat was die lékkerste tyd in jou lewe?’ Dan sal ek sê dis nou, want toe sit ek net daar in die kerk en ek dink: joeg, my hart is so vol dankbaarheid . . . my dogtertjies is gesónd en gelukkig en my man is lekker en ons is net op so ’n lekker plek. En hier is ek nou weer swanger; ek is só bevoorreg om weer te kan swanger wees met nóg ’n baba. En die dogtertjies wat so oulik is . . . Hulle is mal oor my maag.”

Die swangerskap verloop goed; sy voel gesond.

“Aan die begin het ek nogal moeg geraak, in die eerste trimester ís ’n mens maar moeg, maar ek is nou in my tweede trimester wat bekend daarvoor is dat dit die lékkerste deel van die swangerskap is – jy’s nog nie ongemaklik groot nie en jy voel nie moeg nie. In jou laaste trimester raak jy weer baie moeg en dan raak jou maag mos nou groot en die babatjie het min plek om te beweeg en dis dan dat hulle hier in jou ribbes inklim.”

Boere en verlange

Ons praat oor Boer soek ’n vrou, waarvan Minki die aanbieder is.

“Ek het uitgevind ek is swanger toe ons die plaasweke geskiet het, maar gelukkig kon ’n mens dit toe nog nie sien nie. Teen die tyd dat ek die reünie geskiet het, was dit September en dit is nou eers in Januarie op TV, maar jy sal baie fyn moet kyk om te sien ek is swanger.

“Hierdie reeks was vir my moeiliker as die eerste een omdat ek baie verlang het en ek het presies geweet wat kom. Laasjaar . . . as jy 11 dae van die huis af weg is, om dit vir die eerste keer te doen is nie maklik nie, maar jy weet mos nou nie rêrig wat voor jou lê nie. En toe nou met hierdie jaar se Boer het ek al van die eerste dag af begin verlang want ek weet presies hoe lank is daai 11 dae weg van die huis af. So in daai sin was dit vir my ’n groot uitdaging. Maar die werk as sulks was vir my verskriklik lekker want ek het presies geweet wat van my verwag word. Dis mý program en ek het my eie stempel daarop afgedruk; ek weet nou hoe om dit te doen.

Murray La Vita, skrywer van die artikel, en die nimlike Minki. Foto: Jaco Marais

“Dit was régtig ’n klomp baie oulike boere hierdie jaar; ’n klomp jóng boere wat almal rêrig daar is vir die regte rede.”

Onwillekeurig begin ons oor plaasaanvalle praat.

“Ek verstaan dit nie. Ek wonder of dit is omdat hulle sagte teikens is? Hulle is dikwels redelik afgeleë. Baiekeer kom ons by die boere se huise en dan is daar nie vreeslike veiligheidshekke nie so jy voel so half hulle is blootgestel en weerloos.

Ek doen alles, alles in my vermoë, fisies, om ons te kan veilig hou en om te weet ons kan rustig slaap in die nag.

“Maar dis ábsoluut verskriklik. Dis ouens met soveel kundigheid en daardie kundigheid gaan dan onmiddellik verlore [wanneer hulle vermoor word]. Dis ouens wat die goed wat ons eet vir ons produseer en so goed doen vir ons land se ekonomie, wat hulle doodmaak vir geen rede nie en dan vat hulle nie eens iets nie.

“Jy kan so vinnig verval in daai negatiewe mindset, maar vir my is dit net ’n ding om elke liewe dag net baie bewus en op my hoede te wees. Jy móét; dit is ongelukkig die wêreld waarin ons bly.

“Ons is gelukkig genoeg dat ons baie goeie sekuriteit het; ons bly nie in ’n sekuriteitskompleks nie, maar ons het elektriese drade en ons het beams en ons het diefwering. En ek sê toe nou die dag vir iemand ons woon in ’n tronk. Maar dit vóél régtig nie vir my so nie; ek het dit glád nie negatief gesê nie. Toe sê die vrou vir my sy wéier om so te leef. Nou, dan’s dit mos jou keuse.

“Ek doen alles, alles in my vermoë, fisies, om ons te kan veilig hou en om te weet ons kan rustig slaap in die nag. Maar dan net weer eens – dis net genade.”

Wanneer foto’s geneem word, sê Minki sy voel nie lus vir ’n “magiefoto” nie. Dit lei tot ’n geskerts oor die ikoniese foto wat Annie Leibovitz van ’n naakte, swanger Demi Moore geneem het vir Vanity Fair.

En dan praat ons oor hoe mooi die maag van ’n swanger vrou is; dat dit ’n vorm is wat die kontoere van ons planeet, ons Moeder Aarde, naboots.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.