Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Minki wil hoop en liefde gee

Minki van der Westhuizen gesels met Murray La Vita oor haar nuwe program, oor hoe sy oorleef in ’n siek en wrede wêreld, en oor Paris Hilton en Kim Kardashian.

Minki van der Westhuizen in die Stellenbosse Botaniese Tuin ten tyde van die onderhoud oor haar nuwe program. Foto: Jaco Marais

Die beeldskone Minki sit neffens ’n groot delicious monster in ’n skaduryke hoek van die Botaniese Tuin op haar tuisdorp Stellenbosch. Ons is hier om te praat oor Minki.

“Ek wou nie ’n realiteitsprogram doen nie; dit is glád nie vir my ’n opsie nie. Ek wou nie iets doen wat oor mý gaan nie. Ek wou eerder iets doen soos wat ek in Boer Soek ’n Vrou gedoen het, in die sin dat jy fisiek net die aanbieder is. Jy is net daar om ’n platform aan mense te bied.”

Die eerste episode is die dag voor ons onderhoud uitgesaai.

“Dit het gevoel soos my verjaardag. Ek moet vir jou sê ek is rêrig verstom dat mense so bedágsaam is; net gewone mense en die mense in my lewe wat my só ondersteun en so goed is vir my. Ek het gister so baie blomme ontvang en sjampanje en net soveel boodskappe.

“Gisteraand het my ouers en my skoonma en my ouma-hulle nou die eerste episode van Minki by ons huis kom kyk. Ag, en dit was net so lekker. Ons het lekker geëet en my pa het só ’n mooi heildronk op my ingestel.”

Ék as mens is baie liefdevol, ek doen dinge met deernis, as ek iets doen, doen ek dit voluit en ek sit my hart en siel daarin.

Sy lag wanneer sy sê: “Hy het daar ’n You-magazine uitgeruk, waarin ek in 2002 op die voorblad was, en toe sê hy: ‘Ons almal weet dis nie net ’n mooi gesiggie wat jou op ’n voorblad hóú nie.’

“Dis eintlik wonderlik om te sien hoe dit [haar loopbaan] gegroei het en hoe ek deur die jare ontwikkel het. Toe sê hy obviously net ook hoe trots hulle is op my en dat om ’n program te hê wat jou naam dra, is nogal groot. Ons het lank gedebatteer oor wat ons dit moet noem en op die ou einde was ons eens daaroor: Let’s just leave it what it is. It is what it is.

“Ek dink omdat ek al so ’n lang pad stap in die bedryf, in die media . . . Mense ken my; as jy die naam Minki noem, dan weet almal presies wie dit is.

“Dit is net ék, Minki, en dit voel vir my daar gaan jy kry wie ek is. En dít is vir my so belangrik van die program ook; dit is wat ek rêrig wou hê moet oorkom in die program: Wie ek is.

“Die program is Minki met liefde; dis Minki se mense. Ék as mens is baie liefdevol, ek doen dinge met deernis, as ek iets doen, doen ek dit voluit en ek sit my hart en siel daarin. Maar my alledaagse lewe is ook vol liefde en dit is wat ek wil hê die mense moet ook op die program beleef en ervaar. Dit moet net real wees. Ek dink daar is so baie fáke daarbuite.”

Minki raak aangedaan

Minki op die stel van haar program Minki. Foto: VIA

In die eerste episode het Minki aangedaan geraak terwyl sy met ’n onderwyseres gepraat wat aan Pompe-siekte ly.

“Ek het ’n post op Instagram gesit waarin ek gevra het: Vertel my van jou local hero. En toe het haar man ’n ongelooflike brief geskryf en toe het ons haar na aanleiding van dié brief gekies.

“Toe het dit ons gelei na die verrassingsgaste, die ander twee ouens wat op die show was, die gay couple wat opgekom het wat ’n babatjie deur ’n surrogaatma gehad het.

“As gevolg van haar siekte is dit nie vir haar gesondheid goed om swanger te raak nie, so sý explore al die opsies van aanneming en surrogasie. Hulle wil báie graag hulle éie babatjie hê, maar sý mag nie die babatjie dra nie. Hulle gaan húlle eier- en spermselletjies gebruik en dan net in ’n surrogaatma sit. En hierdie ouens is rééds deur die proses; hulle het ’n seuntjie van 18 maande oud wat ook op die program was.

“Sy kon basies vir hulle enigiets vra en hulle kon vir haar raad gee. Vir háár het dit gegaan om bewusmaking oor haar siekte; dít is wat sy daar buite wou kry en ek dink ons het dit gedoen.”

Hoewel die formaat van haar program herinner aan dié van Oprah Winfrey en Ellen DeGeneres, beskou sy hulle nie as rolmodelle nie.

“En ek dink dit is waarom ek natuurlik is omdat ek nie probeer om soos iemand anders te wees nie. Daar is mense wat my inspireer wat nie eers op TV is nie. Ekke word geïnspireer deur mense wat goed doen vir straatkinders, of mense wat goed doen vir die gemeenskap. Dít laat my besef dat ék eintlik heeltemal te mín doen om ’n verskil te maak in die gemeenskap. En ek dink dit is goed wat jou lewe verryk en dit is goed wat ek ook graag eventueel wil doen, maar ’n mens voel ook so half: Jinne, waar begin jy?

Ekke wil hoop gee.

“Ek het ook respek vir entrepreneurs wat baie geld weggee en niemand weet daarvan nie. Daai goed is real; ek like dit nie as mense goeters doen en jy doen dit eintlik vir erkenning en sodat mense kan sien hoe oulik jy is nie. Dít doen niks vir my nie; dít kan enigeen doen. Ek dink dit is ’n uitdaging om iets agter die skerms te doen, waar mense dit nié sien nie, maar jy maak ’n verskil.

“Ek sê dit, maar hier doen ék dit nou ook op ’n platform, maar ek wil júis op my show mense kry wat interessante stories het; stories van hoop . . . Ekke wil hoop gee. Ek wil hê mense moet kom en gemaklik voel en hulle stories met my kom deel en alhoewel dit sád is, is dit nog steeds stories van hóóp.

“En ek dink dit is hoe ons almal voel in hierdie wêreld waar daar so baie seer en gebrokenheid is, maar op die ou end is daar hoop en daar is mense wat goed doen en daar is mense wat ’n verskil maak.”

Minki, Paris, Kim

“Ek dink dit is ’n uitdaging om iets agter die skerms te doen, waar mense dit nié sien nie, maar jy maak ’n verskil.” Foto: Jaco Marais

Ons praat oor mense wat deur sosiale media enorme bekendheid verwerf het en miljoene aanhangers het; mense soos Paris Hilton en Kim Kardashian, wat ook bekend staan as “influencers”.

“Mense sê nou vandag vir jou ons kinders gaan oor 20 jaar werke doen wat nog nie vandag bestaan nie. Nou, influencer en famous for being famous, klink nie na ’n job nie, maar dit ís. ’n Influencer ís actually ’n job. Om ’n blogger te wees ís actually ’n job. Ék het vir ’n maand lank probeer om ’n blogger te wees en ek is nie meer ’n blogger nie want dit is ontsettende harde werk. Dit is tydrówend; jy moet die heel tyd interessante goed uitdink, so, sorry, I canned that idea.

“Maar die influencer-deel . . . ek moet vir jou sê, ek ondersteun dit en ek is mál daaroor. Dit het gemaak dat iemand soos ek, wat ’n bekende persoon is, maar vir 90% van my werk daar moet wees om geld te verdien . . . Influencing het gemaak dat ek kan geld maak terwyl ek nie daar is nie. Dit het vir mý ’n wonderlike platform geskep om terwyl ek ’n babatjie gehad het en terwyl ek hier en daar ’n bietjie rustiger wil wees, geld te maak.

“Dit is moeilik om dit organies en natuurlik te doen; dít is nou waar die trick inkom. Sosiale media is great want jy kan dit so goed gebruik; dít is ook entrepreneurskap. Dit is net hoe jy jouself bemark.”

Hoe werk dit?

“Jy kry mense wat jou nader en sê hulle wil graag klere of juwele of velprodukte adverteer deurdat jy dit endorse. So jy sê [op sosiale media] dít is die velprodukte wat jy gebruik. Maar dan is daar ook baie goed soos waar ek my naels laat doen; ek betaal nie daarvoor nie, so dan is dit ook ’n ruilooreenkoms – ek kry dit gratis en post daaroor op Facebook en Instagram.”

Geluk en pyn

“Ek is baie bevoorreg om ’n werk te hê en om in hierdie stadium van my loopbaan gewild te wees en om mense te hê wat my ondersteun.” Foto: Jaco Marais

Wat is die ding wat haar die gelukkigste gemaak het en die mees ontstellende ding in haar lewe?

“Jy’s nou bietjie vinnig op my. Gelukkige oomblikke is definitief wanneer jou kinders in die lewe kom. Dit is vir seker, vir seker een van die grootste hoogtepunte in enige vrou se lewe, en seker ’n man ook, en dis ook iets wat jy nooit vergeet nie en dit verander natuurlik jou lewe handomkeer, onmiddellik, nè.

“Ek moet rêrig nou ongelooflik hard dink om aan iets slegs te dink. Nie omdat daar nie slegte dinge met my gebeur nie, maar net omdat ek dink ek het ’n vermoë om . . . Ek vergeet mos vinnig die sleg.

“Ek is op ’n baie goeie plek met my werk, ek geniet wat ek doen . . . Ek is bevoorreg, ek is baie bevoorreg om ’n werk te hê en om in hierdie stadium van my loopbaan gewild te wees en om mense te hê wat my ondersteun. So ek is rêrig ongelooflik happy en ek is op ’n baie goeie en ’n rustige plek in my persoonlike lewe as ’n mamma; in my werk . . . So ek kan rêrig nie eers dink wat die slegste ding is nie.”

Sy meen dit is nie nodig om self deur diep waters te gaan ten einde deernis te hê met mense wat swaarkry nie.

“Ek het nog nooit deur ’n siekte gegaan of so iets nie en ek dink die rede waarom ek so hartseer en aangedaan raak, is juis ook omdat ek so dánkbaar is en ek besef net hier sit hierdie vrou oorkant my [in die eerste episode van Minki] wat deur só baie in die lewe is, dinge wat ek nooit eers kan begin om te probéér verstaan nie, maar ek is ’n mamma en ek kan verstaan dat háár hart begeer ook ’n babatjie en ék weet ek het drie gesonde kindertjies.

Sy is nie iemand wat bewustelik die donker kant van die lewe probeer vermy nie.

“So daar ís ’n konneksie; ek hoef nie ook siek te gewees het om haar siekte te kan verstaan nie, maar ék, wat ’n mammahart het, kan háár mammahart verstaan en die behoefte, want ek was ook op ’n punt in my lewe waar ek ’n babatjie begeer het voordat ek die eerste keer swanger geraak het.

“En aan die ander kant is dit hierdie vrou wat hier oorkant my sit en só vol hoop is en só positief is alhoewel sy deur soveel swaarkry en pyn is.”

Sy is nie iemand wat bewustelik die donker kant van die lewe probeer vermy nie.

“Die wêreld is wreed en siek en dit hou jou rêrig op jou knieë, régtig, régtig – dit hou jou op jou knieë; en my kinders ook . . . om te weet hulle moet eendag in daardie wêreld uitgaan. Dít laat jou onrustig voel, maar weer eens het ek rustigheid in die wete dat ek net vir hulle kan bid; dis ál wat ek kan doen, is om vir hulle te bid.”

* Nuwe episodes van Minki word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 18:30.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.