Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Moenie Afrikaans in kele afdruk nie’

Sy ondersteun nie ’n bakleiery oor Afrikaans nie, sê Erna Meaker, wat pas aangestel is as die nuwe voorsitter van die Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), aan Murray La Vita.

Erna Meaker, nuwe voorsitter van die Het Jan Marais Nationale Fonds, in haar kantoor in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

“Wat in my lewe vir my getel het, is ek het pannekoeke gerol vir judo, ek het straatmarkte gehou – ek het al hierdie dinge op klein skaal gedoen om geld bymekaar te maak,” sê Erna Meaker (65) in haar elegante, lig deurspoelde kantoor in die hartjie van Stellenbosch.

“In ’n groter mate het ek – soos by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en ander plekke – gestaan aan die kant van die vrá.

“Noudat ek aan die kant van géé is, verstaan ek ook die problematiek van die ou wat moet vrá. So, dit gee my ’n mate van simpatie met mense wat aansoek doen.

“Dus: Wat die filantropie betref, ken ek die beleggingslandskap en ek ken die wêreld aan die begunstigde se kant ook, so ek dink hoekom ek nogal sinvol kon funksioneer as trustee van die Het Jan Marais Nationale Fonds, is omdat ek die filantropiese wêreld van albei kante af ken.”

Vir Afrikaanssprekendes

Die Het Jan Marais Nationale Fonds het tot stand gekom deur ’n nalatenskap van 40 000 pond deur die Stellenbosse sakeman, politikus en filantroop Johannes (Jannie) Henoch Marais (1851 - 1915). Dit staan apart van die Jan Marais Fonds, wat gegroei het uit die 100 000 pond wat Marais aan die Victoria-Kollege, voorloper van die Universiteit Stellenbosch, nagelaat het.

Dit fokus op die belange van die Afrikaanssprekendes van Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe, aldus die HJMNF se webblad.

Die Fonds het in 2015 die Jan H. Maraisprys ingestel met ’n prysgeld van R500 000 wat jaarliks toegeken word.

Daar word voorkeur gegee aan die bevordering van die “materiële en geestelike welsyn” van die bevolking van die Stellenbosse distrik, onder meer met werkskepping, die bestryding van armoede, bevordering van kultuur, omgewingsbewaring asook hulp aan skole, hospitale en inrigtings vir bejaardes en gestremdes.

Die Fonds het in 2015 die Jan H. Maraisprys ingestel met ’n prysgeld van R500 000 wat jaarliks toegeken word. Die doel van dié prys is om erkenning te gee “vir ’n uitstaande lewenslange bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op ’n hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans”.

‘Onder die radar’

Meaker by ’n skildery van Jan Marais in sy eertydse woning op Coetzenburg, wat nou die Universiteit Stellenbosch se sportkantoor is. Foto: Jaco Marais

Meaker staan op en sê: “Ek móét dit vir jou wys.” Sy was besig om te vertel van ’n redenaarskompetisie waaraan sy op skool deelgeneem het.

“So kry die hoofseun van Paul Roos die Oxford Book of Quotations . . . Hy kry ook sy prys eerste. Ék kry die Kook en Geniet,” sê sy en slaan die boek oop wat sy pas voor ons op die tafel neergesit het. Sy lees: “SA Padveiligheidsraad-redenaarskompetisie. Streeksuitdun gehou te Stellenbosch. Prys toegeken aan beste spreekster.”

Sy maak die boek toe, kyk op, en sê:

“Nou dís die era waaruit ek kom. ’n Groot ding by my is: Jy bly nou maar stil en jy doen maar net jou ding.”

Meaker wil nie die besonderhede van haar nasionale en internasionale direkteurskappe aan die groot klok hang nie. ’n Mens kry ’n glimp daarvan wanneer jy kyk na ’n publikasie van die Switserse beleggingsbank UBS en IMD, die Internasionale Instituut vir Bestuursontwikkeling.

Die publikasie heet Perspectives from women of impact – Redefining legacy, en oor Meaker en ’n Amerikaanse vroulike kollega word geskryf:

“Despite these significant accomplishments they prefer to work discreetly and purposefully under the radar.”

“Ja, jy werk maar onder die radar – dít was vir my eintlik nog altyd my uitgangspunt. Hulle het ook vir my gevra wat wil ek hê my nalatenskap moet wees. Toe sê ek, ek dink ánder mense besluit oor jou nalatenskap.

“Dis hoekom ek dink daar is ’n verskil tussen ’n filantroop en ’n donateur. Ek dink Jannie was regtig ’n filantroop. Hy het stil gegee sonder dat mense hoef te geweet het.

“Jy kry dikwels al die donateurs sit voor in die saal by ’n geleentheid of daar is een of ander eerbewys aan hulle. Ek dink régte filantropie moenie gaan oor daardie wortel wat vir jou aangebied word om belangrik te lyk nie.”

Familiekantoor

Een van die sêgoed van Dirk Hertzog, Meaker se pa. Foto: Jaco Marais

Meaker se man, Paul Meaker, die seun van Cato Meaker en kleinseun van Paul Sauer, en twee van hul kinders, Frank en Paula, werk saam met haar in hul familiekantoor van waar hul beleggings bestuur word.

“Die familiekantoor is oorsee ’n bekende konsep. Jy kry twee soorte familiekantore: Een waar ’n organisasie jou sake bestuur en dan een soos ons s’n waar die famílie hul eie welvaart bestuur,” sê Meaker.

“Hoe dit ontstaan het, is ek het altyd maar my sake gehad en dit maar stil gehou en van die huis af gedoen en iemand [’n makelaar] het soontoe gekom. Toe, seker so 20 jaar gelede, het ek lont geruik en begin navorsing doen. Op die ou end het ek, soos hulle sê, ‘I opened a can of worms.’

Ek het begin met een mens en nou sit ek met ’n ouditeur en Paul, wat ook ’n sentrale rol speel, en my kinders. Dit is nasionaal en internasionaal.

“Dit het daartoe gelei dat ek in 2003 begin het om nou maar ’n baadjie aan te trek en kantoor toe te gaan. Dit het my goed gedoen, want dan sien die mense jou ook raak, want as ’n vrou het ek nie gholf gespeel en allerhande goed gedoen met mans nie.

“Maar toe is ek nou daar en Jannie Mouton [PSG Groep] begin sy besigheid, Michiel le Roux [Capitec Bank] begin sy besigheid en ek kan inkom van die begin af – hulle sien my raak.

“Ek het begin met een mens en nou sit ek met ’n ouditeur en Paul, wat ook ’n sentrale rol speel, en my kinders. Dit is nasionaal en internasionaal.”

Kundige belegger

Meaker se pa, Dirk Hertzog, was ’n regsgeleerde en sakeman wat saam met sy studentevriend Anton Rupert die Rembrandt-groep gestig het. Een van haar broers, dr. Edwin Hertzog, is medestiger van MediClinic.

Hoewel sy nie veel hieroor wil uitwei nie, is sy klaarblyklik van jongs af aan die sakewêreld blootgestel. Sy het al op 21 beleggings begin doen.

“Ek het in my privaat hoedanigheid beleggingskundigheid opgedoen en dít het gehelp dat ek soos by die US Trust of die Het Jan Marais Nationale Fonds sinvol kon funksioneer op daardie vlak.

Ek leer vir die kinders: Wees eerlik, maar kyk oor jou skouer, want mense is baie oneerlik.

“Een van die voorvereistes wat Niel Krige, my voorganger, ingesit het, is dat die voorsitter moet beleggingskundigheid hê. Hy het ook die trust se beleggings op ’n absolute professionele grondslag gebring, so mý uitdaging gaan nou meer lê by die bestuur van die begunstigdes, want of jy dit nou wil weet of nie, hierdie welsynsorganisasies word vreeslik ingeloop.

“Ek het net besef ons noulettendheid op die begunstigdes moet ons verskerp. Onthou: Dis mense wat glo in ’n goeie saak. Dis goeie mense wat daar werk. Dan is hulle bestuur of raad dikwels mense wat uit die liefde vir die saak verniet daar is of maatskaplike werkers is. Hulle is maklike teikens om in te loop. Ek weet van sés organisasies waar ongerymdhede al plaasgevind het.”

Sy beskou haarself as ’n oplettende mens; iemand vir wie “vlaggies opgaan”.

“Ek leer vir die kinders: Wees eerlik, maar kyk oor jou skouer, want mense is baie oneerlik. So, ek het altyd hierdie dualiteit.”

‘Taal deel van DNS’

“Ek dink ánder mense besluit oor jou nalatenskap.” Foto: Jaco Marais

Meaker is lief vir Afrikaans. Sy was ’n lid van die digter D.J. Opperman se letterkundelaboratorium en het ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands behaal waarna sy aan die Universiteit Stellenbosch en aan die Universiteit van Kaapstad klas gegee in Afrikaans.

In 1994 was sy ’n stigterslid van die Vriende van Afrikaans en was vir sewe jaar ook voorsitter van die WAT Trust.

“My pa het gesê dís waar my liefde vir Afrikaans vandaan kom – deur my ma se De Waal-kant. Hierdie Dawid Christiaan de Waal was my ouma se pa. Haar broer was J.H.H. de Waal, skrywer van My herinneringe aan ons taalstryd. En hý het ook die eerste roman in Afrikaans geskryf.

“En as ons nou hierdie boek [Nalatenskappe sonder einde – Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers deur Pieter Kapp] lees en ons lees wie is die mense wat in die trusts gedien het en met Jannie skouers geskuur het, dan is dit vir my baie duidelik dit is my voorsate.

“Hulle sal sê hy het vir [genl. J.B.M.] Hertzog [politikus en latere premier] ondersteun. Nou, my oupa was Hertzog se oudste broer.

My pa het so ’n boekie geskryf met sêgoed – 'Rooimiere'. Een daarvan is: ‘Bevorder jou taal deur goeie gebruik. Moenie dit soos kasterolie in kele afdruk nie.’

“Wat dié boek nou nie vir jou gaan sê nie, is dat my oupa se tweede huwelik met Rykie de Waal was. So, ek verstáán hoekom – met sy assosiasie met die De Waals – hy ook vir Hertzog sou ondersteun, want die Hertzogs en die De Waals was getroud. Sý suster was getroud met die generaal se broer. Daar is familiekonneksies wat ek nou eers mooi agtergekom het.

“My ouma se ma was Onze Jan [Hofmeyr] se suster. So ons kom aan die Onse Jan en die De Waal-kant, alles aan die vroulike kant deur, wat ’n mens natuurlik nooit sal optel nie.

“Dis vir my duidelik dat daar maar sekere families is wat saamgewerk het. Dis amper ’n sirkel wat ek nie eens geweet het deel is van my DNS nie.

“My pa het so ’n boekie geskryf met sêgoed – Rooimiere. Een daarvan is: ‘Bevorder jou taal deur goeie gebruik. Moenie dit soos kasterolie in kele afdruk nie.’

“Oral waar ek gaan, probeer ek nié ’n bakleiery oor Afrikaans ondersteun nie, want ek dink in enige stryd ontwikkel mense ego’s en dan gaan dit later nie meer oor die onderwerp nie, maar oor die ego. So, ék wil nie by ’n bakleiery oor Afrikaans betrokke wees nie.”

‘Die regte woord’

Die Oppermans het ’n belangrike invloed op haar lewe gehad, sê Meaker.

“Oom Dirk en tannie Marié Opperman het [in Stellenbosch] oorkant ons gebly. Ek het soms by hulle gebly wanneer my ouers oorsee gaan. Oom Dirk was altyd vreeslik gaaf met my. Hy het altyd gesê: ‘Jy kan énige boek gebruik; jy sit hom net op die regte plek terug.’ So, dit was my biblioteek. Tannie Marié was self ’n baie skerp vrou. Dit het ook vir my gehelp met my liefde vir Afrikaans.

‘Nee, dit is nié jou pajamas nie, dis jou nagklere. Nee, dit is nié jou slippers nie, dit is jou pantoffels.’

“Ek spot altyd en sê: My ma het my afgelaai met my suitcase, waarin my gown en pajamas en slippers ingepak was, en dan het ek teruggekom met my koffer en my pantoffels en my kamerjapon en so.

“Dit was nogal vir my erg, want ek was vyf jaar oud en elke keer as ek iets sê dan sê die tannie vir my: ‘Nee, dit is nié jou pajamas nie, dis jou nagklere. Nee, dit is nié jou slippers nie, dit is jou pantoffels.’

“Sy’t my vreeslik gehelp om die regte Afrikaanse woord te gebruik en dít het my natuurlik nogal aan die een kant skaam gemaak dat ek nie die regte woord gehad het nie, maar ook ’n diép indruk op my gemaak op daardie ouderdom. Ek wóú . . . Om die waarheid te sê, ek was glo baie kwaad vir my ma daaroor.”

‘Groot selfstandigheid’

“Ek dink Jannie was regtig ’n filantroop.” Foto: Jaco Marais

Sy het in ’n vroeë stadium van haar lewe geleer “om amper ’n dubbele lewe te lei”.

“Ek was in standerd ses toe is ons in ’n geweldige motorongeluk wat my ma [lewenslank] uit aksie gestel het. In die proses moes ek toe huishou terwyl my pa aangegaan het met sy sakelewe.

“Ek moes skoolgaan en dan ry ons na my ma in die hospitaal en terug en dan is dit drie ure uit my dag. So ek moes baie gou leer om my tyd te bestuur. Maar ek het ook nooit oor dié beskuit wat ek bak en daai goeters gepraat by die skool nie, want ek hou nogal nie van iemand wat hulself as ’n spesiale geval sien nie of wat opgaan in hul slagofferskap nie.

In my tienerjare was dit maar my pa en dan het ek twee ouer broers gehad, so ek het in ’n taamlik manlike omgewing gefunksioneer.

“Dít het my geleer om my tyd te bestuur om verskillende goed te kan doen, en dit het my ook groot selfstandigheid gegee. In die proses . . . In my tienerjare was dit maar my pa en dan het ek twee ouer broers gehad, so ek het in ’n taamlik manlike omgewing gefunksioneer.”

Sy bly ’n oomblik stil en sê dan:

“Ek sou graag wou hê dat ons eendag by ’n punt kom waar dit nie meer nuus is as ’n vrou ’n voorsitter is van ’n groot organisasie nie.”

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.