Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Moenie gemors op feeste aanbied’

Mense is intelligent en kieskeurig, jy kan nie vir hulle gemors aanbied nie, jy moet vir hulle gehalte aanbied, sê Jana Hattingh, die nuwe uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, aan Murray La Vita.

Jana Hattingh in die kantoor van die Suidoosterfees in Kaapstad, waar sy in Augustus die leisels gaan oorneem.Foto: Jaco Marais

“Ek is absoluut verlief op die kunste, enige vorm daarvan; dít is waar my passie lê. Daar is niks wat my in hierdie wêreld meer opgewonde maak as die kunste en wat die kunste vir mense kan doen nie.

“Die sképping . . . Dis régtig soos die skepping, want iemand skryf ’n stuk; ’n regisseur neem oor en hy begelei die kunstenaars; ’n stel word gebou. Selfs boekgesprekke – mense dínk. Mense dink nie meer vandag nie, voel dit vir my; dit voel vir my as jy in so ’n ruimte na ’n visuelekuns-uitstalling kyk of na ’n boekgesprek gaan, dan laat dit jou weer dink.”

Die onderhoud met die 36-jarige Jana is oor ’n koppie koffie in die restaurant in die Media24-gebou. Media24 en Die Burger is van die borge van die Suidoosterfees en haar kantoor sal van 1 Augustus af in hierdie gebou wees.

Ek pols haar oor haar planne vir die fees.

“Die fees het ’n groot fokus op ontwikkeling en ek dink vir jou gehore is dit belangrik, anders sal ’n fees nie kan bestaan nie, maar dit is ook vir jou kunstenaars belangrik, om vir jonger, onbekende kunstenaars ook die geleentheid te gee om produksies aan te bied.

“Die een groot leemte wat ek sien, is dat daar ’n baie meer feestelike atmosfeer moet heers waar mense op ’n ontspanne plek met mekaar in gesprek kan tree, byvoorbeeld voor die Kunstekaap-teater. En om installasiekuns te gebruik want ek dink die stad is nog nie altyd so bewus daarvan dat hier ’n fees gehou word nie.

“Ons kan iets groots maak, nie net vir bewusmaking nie maar ook vir kunste oor die algemeen wat mense so ’n bietjie tot nadenke kan stem; iets wat ’n impak het en verskillende gemeenskappe gebruik om dit saam aan te pak.”

“Dit moet ’n fees wees waar almal welkom en gemaklik voel wanneer hulle dit bywoon of by die fees optree.” Foto: Jaco Marais

Bier en sokkie?

Ons praat oor die balans tussen ’n “feestelike atmosfeer” en gehalte of diepte.

“Ek dink dit is énige fees se groot uitdaging om daardie balans te behou. Die Suidoosterfees is in ’n baie bevoorregte posisie omdat die produksies in teaters aangebied word. Daar is min feeste wat so gelukkig is dat ál jou lokale teaters is. Dit maak dit ook makliker; die fees het as’t ware klaar sy aard bepaal.

Die kuiergevoel sal rondom die kunste wees en nie soseer rondom die sokkiemusiek en biertente nie; ek dink nie dit is die ruimte daarvoor nie.

“So dit gaan regtig teenstrydig daarmee wees om sokkiemusiek buite te sit, maar ’n paar straatkunstenaars of interaktiewe straattoneel of installasiekuns gaan . . . Dit moet beslis die aard van die fees komplementeer en nie afbreuk daaraan doen nie.

“Die kuiergevoel sal rondom die kunste wees en nie soseer rondom die sokkiemusiek en biertente nie; ek dink nie dit is die ruimte daarvoor nie.

“Temple Hauptfleisch [akademikus en teaterpraktisyn] het vreeslik baie geskryf oor eventification en ek dink nie mense gaan sommer vandag meer na iets toe as hulle dit nie sien as ’n event nie. Jy moet half ’n drankie kan geniet, ’n góéie produksie kan kyk, interessante kos kan eet, saam met vriende kan kuier – dit moet ’n féés wees; dit moet ’n gebeurtenis wees.”

“Die een groot leemte wat ek sien, is dat daar ’n baie meer feestelike atmosfeer moet heers.”Foto: Jaco Marais

Verstaan mekaar

Die Suidoosterfees is bekend daarvoor dat dit na diversiteit streef.

“Die fees het al baie reggekry om byvoorbeeld gemengde gehore te trek en ek dink dit is iets waarop ’n mens moet voortbou. Ek dink dit is verskríklik belangrik vir Suid-Afrika en vir Kaapstad dat ons mekaar leer ken en mekaar verstaan.

Dit moet ’n fees wees waar almal welkom en gemaklik voel wanneer hulle dit bywoon of daar optree omdat daar gelyke kanse vir kunstenaars is.

“Die probleem oor die algemeen in Suid-Afrika is dat jou ondersteuners van die kunste ouer mense is. En die oomblik as ons kyk na die jonger generasies – hulle sit half sonder die bagasie; hulle is al klaar baie meer divers en aanvaar almal mekaar en is wat hulle is. So, ek dink die oomblik as ons jonger gehore gaan betrek, gaan ons ook onmiddellik ’n geïntegreerde fees hê.

“Dit moet ’n fees wees waar almal welkom en gemaklik voel wanneer hulle dit bywoon of daar optree omdat daar gelyke kanse vir kunstenaars is – ’n verskeidenheid van produksies waarmee almal hulle kan vereenselwig.

“Mense is intelligent en kieskeurig, jy kan nie vir hulle gemors aanbied nie, jy moet vir hulle gehalte aanbied.

“Die ander ding is: Mense met kinders gaan waar daar ook iets vir hul kinders is om by te woon, so as ons regtig ons gehore wil ontwikkel, moet ons vir die kinders iets aanbied sodat die ouers kan saamkom.

Sy vertel van iets wat in Europa op ’n kunstefees gedoen is wat sy dink ook hier kan werk.

“Hulle het installasiekuns met ’n putt-putt-baan. Nou, kan jy dink as jy voor die Kunstekaap nege verskillende kunstenaars kry om elkeen ’n putjie te installeer en jy het hierdie verskeidenheid mense? Ek dink ’n mens kan selfs goed doen soos kom speel byvoorbeeld saam met Sandra Prinsloo ’n ronde. Ek dink dit kan baie interessant wees.”

“Agter die skerms is ek op my gemaklikste.”Foto: Jaco Marais

Kos of kuns?

Wat is die uitdagings daarvan om ’n fees in moeilike ekonomiese tye aan te bied?

Maar as ons nie die kunste het nie, watter hoop het ons dan oor?

“Daar is die Suidoosterfees gelukkig omdat sy kaartjies ’n bietjie goedkoper is, so alhoewel mense aan hul uitgawes vir vermaak en ontspanning moet sny, probeer die fees die kaartjies ’n bietjie goedkoper hou.

“Die probleem is jou borge en donateurs moet ook hul rieme fyner sny. Baiekeer sê mense: Hoe regverdig jy dit dat jy die kunste ondersteun as mense honger is of nie ’n huis het nie? Maar as ons nie die kunste het nie, watter hoop het ons dan oor? Ek voel die kunste bring darem ’n bietjie hoop en ek voel veral met die ontwikkeling wat by die Suidoosterfees plaasvind, skep ons darem ook werk vir kunstenaars.

“En, ja, volhoubaarheid is maar die woord wat almal gebruik. Die fees moet daardie balans regkry van wat subsidieer jy en wat bring vir jou geld in, en wat bied jy vir jou borge of donateurs dat hulle voel dit is van waarde vir hulle.

“Ek is iemand wat eerder tien eiers in my mandjie sal wil sit want as een eiertjie uitval, dan is daar nege oor. Ek dink as jy ’n hoofborg het en hy val weg, dan is jou mandjie leeg.”

Aspoestertjie

Wat is haar eerste herinneringe aan teater?

“Ek was in die kleuterskool – ek was seker so vyf jaar oud – toe het ek ’n produksie gaan kyk van Aspoestertjie . . . Dit was vir my die ongelóóflikste ding, hierdie mense wat so opgetóf is en jy kon omtrent die sweet van hulle sien afdrup met die teaterligte op hulle. Dit was vir my ongelooflik!

“Toe het ek my ma mal gemaak; ek wou toe dramaklasse neem. Dis ál wat ek daarna wou doen. Sy het nog geklavier-klavier en op ’n stadium toe sê sy oukei neem nou maar die dramaklasse ook; duidelik is dít nou waar die belangstelling lê. En toe skep hulle nou vir hulleself die probleem dat ek toe nou wil gaan drama studeer ook.”

Agter die skerms is ek op my gemaklikste.

Het sy nog die behoefte om op te tree?

“Toe ek jonger was, maar ek moet sê dit is vir my baie lekkerder agter die skerms; om iets daar te sít en om vir klomp mense geleenthede te bied en kans te gee om hulle talente uit te leef. Dis regtig vir my net ’n voorreg om goed aanmekaar te kan sit en dit te sién gebeur met ander mense se vaardighede. Agter die skerms is ek op my gemaklikste.”

Dramabemarking

Jana het aan die Universiteit Stellenbosch drama studeer en daarna ’n honneurs in dramabemarking gedoen. Terwyl sy met haar meestersgraad besig was, het sy deur die bemiddeling van Hauptfleisch by die International Federation for Theatre Research (IFTR) betrokke geraak.

Daarna het sy onder meer by Oude Libertas gewerk.

“Dit was nadat Karen Meiring dit oorgeneem het. Hulle het my aangestel om hulle te help met hul voorportaal en produksies en dinge. Ek is baie bly dat ek die voorreg gehad het om onder Karen te kon leer.”

Ek glo werklik ’n fees is ’n magiese ondervinding en dit is ’n bewegende entiteit, amper.

In 2009 het sy by die Woordfees “losgetrek”. Sy sou aanvanklik net met ’n koorkompetisie help, maar toe sy weer sien toe is sy een van die organiseerders.

“En toe het ek Woordfees-projekbestuurder geword en einde 2016 . . . Ek glo werklik ’n fees is ’n magiese ondervinding en dit is ’n bewegende entiteit, amper. So ek het toe gedink dit is tyd vir my en die fees dat ek aangaan, dat iemand anders inkom met nuwe energie en dat ek ’n bietjie nuwe moontlikhede ondersoek.

“Toe kom Colin Daries van Arts Capital oor my pad. Ek dink dit is ’n ongelooflike inisiatief want ek dink daar word regtig nie gekyk na kunstenaars ten opsigte van dinge soos medies, pensioen en begrafnisvoordele nie.”

Dit is ’n organisasie sonder winsbejag wat daarop ingestel is om “’n stem vir kunstenaars” te wees.

Sy was tot onlangs ook betrokke by Projek Mashuka, wat sy en ’n vriendin op die been gebring het. Dit is genoem na die dorpie Mashuka in Tanzanië, waar vroue borduurwerk doen wat na Suid-Afrika gestuur word. Hier te lande skep dit werk aan vroue wat die produkte verder verwerk.

“Die projek is daarop ingestel om geleenthede te skep vir vroue wat geen inkomste het nie.”

Balans bo alles

The Alchemist van Paulo Coelho is ’n boek wat haar baie inspireer.

“Daar is die een storie waar hy [’n karakter] by die paleis kom en dan sê die koning vir hom: ‘Vat hierdie teelepel en ek gaan vir jou ’n druppel olie op die teelepel sit en dan loop jy nou deur die hele paleis en dan kyk jy na alles wat mooi is, maar jy mag nie die olie stort nie.’ En hy doen dit en wanneer hy terugkom, vra die koning vir hom: ‘Wat het jy gesien?’ En dan sê hy hy het niks gesien nie want hy het die olie op die lepel dopgehou. En dan sê die koning vir hom: ‘Stap weer.’ En as hy terugkom dan sê hy vir die koning: ‘Ek het jou pragtige tuine gesien en al jou rykdom en al jou eetware en jou dit en jou dat.’ Dan kyk die koning na die lepel en vra: ‘Maar waar is die olie? Die lewensles is jy moet die mooi waardeer sonder om die olie te laat val.’”

My ma het altyd vir my gesê: ‘My kind, jy moet net balans hê.

Sy lag.

“Ek dink as ’n mens dáárdie balans kan regkry dan . . . My ma het altyd vir my gesê: ‘My kind, jy moet net balans hê.’ Die ironie is ek is ’n vreeslike lomp mens, maar dit is nie die balans waarna sy verwys het nie . . . Ek dink rêrig die geheim van die lewe is om balans te hê tussen dinge.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Kunstefees  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.