Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Moffies’ en wit mans se woede

Hy is as kind die hele tyd “moffie” genoem, sê Kai Luke Brümmer aan Murray La Vita.

Kai Brümmer as Nicholas van der Swart in ’n toneel uit die rolprent Moffie. Foto: Verskaf

Ons sit in die restaurant Haas in Kaapstad. Op die agtergrond speel Tears for Fears se “Mad World”:

And I find it kinda funny, I find it kinda sad

The dreams in which I’m dying are the best I’ve ever had

I find it hard to tell you, I find it hard to take

When people run in circles it’s a very very

Mad world, mad world

Kai is ’n aantreklike 27-jarige man met blou oë en blonde hare. Hy is geklee in ’n kortbroek en T-hemp en is bruingebrand.

In die rolprent Moffie, wat pas in die Suid-Afrikaanse teaters begin draai het, speel hy die hoofrol – dié van Nicholas van der Swart wat in 1981 met sy verpligte nasionale diensplig begin.

Moffie is gegrond op die gelyknamige boek deur André Carl van der Merwe wat deur die veelbekroonde regisseur Oliver Hermanus en Jack Sidey in ’n draaiboek omskep is.

Die rolprent is reeds uiters gunstig op rolprentfeeste elders in die wêreld ontvang.

Dit is vir drie British Independent-rolprenttoekennings (Bifa) in top-kategorieë benoem: Hermanus vir beste regisseur, Jamie D Ramsay vir beste kinematografie en Sidey vir beste vervaardiger. The Guardian het Kai op die Venesiese rolprentfees een van die twee beste opkomende akteurs genoem.

Sirkus en ballet

Kai Brümmer gesels in Kaapstad oor sy rol in die rolprent Moffie. Foto: Adrian de Kock

Ons praat oor Kai se kinderdae.

“Toe ek gebore is, was my ma ’n drama-onderwyser by St. Dunsters in Benoni en daarna het ons na na Henley on Klip in die suide van Johannesburg getrek, waar sy ’n helikopterloods in ’n gemeenskapsteater omskep het.

“Dít is waar ek op toneelspeel verlief geraak het. So, ek het toe al begin toneelspeel en dit is al wat ek ooit wou doen.

“Ek het as kind ook sirkusskool toe gegaan – elke Vrydagmiddag by Boswell Wilkie – waar ek as ’n akrobaat opgelei is. Die sirkus was vir ’n rukkie vir my soos ’n klein tuiste.”

Hy het ook balletklasse geneem.

Die woord ‘moffie’ word vandag steeds gebruik. Ek het dit nou die dag gehoor en ek moes iemand daaroor konfronteer.

“Ek is die heel tyd ‘moffie’ genoem toe ek op skool was – net omdat ek by die kunste betrokke was. Ons mag dalk dink ons samelewing het beter geword, maar in terme van toksiese manlikheid is ons dikwels nog agterlik in ons benaderings – enigiets wat ons nie verstaan nie of as verfynd beleef, is negatief en word as moffiegedrag uitgekryt.

“Mense vra my of ek nou, met die verfilming van Moffie, vir die eerste keer van sulke vooroordele bewus geword het. Nee, allermins. Die woord ‘moffie’ word vandag steeds gebruik. Ek het dit nou die dag gehoor en ek moes iemand daaroor konfronteer.

“Ek is geen kundige op die gebied van genderkwessies nie, maar wat my betref, laat toksiese manlikheid nie ’n man toe om homself ten volle uit te druk nie. En as iemand nie ten volle geaktualiseer is nie, begin hy aggressief optree want hyself voel onderdruk.

“Hulle klou dan vas aan hierdie konstruk van wat hulle as manlik beskou, en verminder enigiemand wat nié konformeer nie.”

Hermanus het vroeër gesê die woord “moffie” strek wyer as ’n kritiek op seksuele voorkeur. Dit is ’n gebruik om wit tienerseuns te indoktrineer met die ‘hype van hipermanlikheid’ van die era.”

‘Ons worstel steeds’

Kai se pa het nooit werklik met hom gepraat oor sy belewenis van diensplig nie.

“Hy was in die weermag op presies die tyd waarin die rolprent afspeel. So, toe ek die rol in Moffie kry, het ek hierdie vrae begin vra en skielik het al hierdie stories begin uitkom.

“Ek ken nie daardie wêreld nie omdat ek nie daarvan deel was nie, maar ek is wel daardeur beïnvloed omdat ek daardeur grootgemaak is.

“Ek dink ons is steeds besig om te worstel met die sistemiese kwessies wat apartheid geskep het. Wat interessant was, was om terug te gaan want ek kon soort van sien waar die probleme waarmee ons vandag worstel vandaan kom.”

‘Psigose is nog daar’

Nicholas op die grens.Foto: Verskaf

Wanneer ’n mens rolprente maak oor Suid-Afrika se verlede, kom jy agter hoe ver ons gevorder het, maar ook hoeveel uitdagings daar steeds is, meen hy.

“Dis asof mense oor baie dinge stilbly, asof die psigose in die land nog daar is en dit toenemend onderdruk word. Ek is al sedert ek ’n kind was, gefassineer deur middeljarige [wit] Suid-Afrikaanse mans en hierdie woede wat hulle klaarblyklik in hulle ronddra.

“Die padwoede wat ek sien by wit mans van ’n sekere ouderdom . . . Ek het altyd gewonder waar dit vandaan kom. Nou besef ek in hul vormingsjare – 17, 18, 19 – is hulle in wapens verander. So, hoe bevry jy jou daarvan?

“Ek kyk na iemand soos my pa . . . Hy is redelik progressief, ek bedoel, my aangenome broer is swart . . . Hy het in een generasie gegaan van die verdediging van die apartheidsregime teen die swart gevaar na om die pa te wees van ’n aangenome swart seun.

Daar is iets in my opvoeding met betrekking tot mans en wat dit is om ’n man te wees, wat steeds gedefinieer word deur die apartheidsera van die 1980’s.

“Ek is baie geïnteresseerd in hoe ’n ingesteldheid so vinnig kan verander en hoe ’n mens kan probeer verander, maar tog is daar steeds soveel pyn en skaamte wat verwerk moet word.”

Hy noem dit die vloek van generasies.

“Al het ek dit nie beleef nie, is daar ’n deel daarvan wat ek in my ronddra. Daar is iets in my opvoeding met betrekking tot mans en wat dit is om ’n man te wees, wat steeds gedefinieer word deur die apartheidsera van die 1980’s.

“Die vraag is nou hoe sorg ons as ’n jonger generasie dat ons nie dieselfde foute maak nie. Dis hoekom ek dink hierdie rolprent belangrik vir sowel die ouer as die jonger generasie is. Ons moet die foute identifiseer, dit nie herhaal nie, en die pyn verwerk.”

Swart broer

Die karakters Dylan Stassen en Nicholas van der Swart aan die einde van Moffie.Foto: Verskaf

Ek pols Kai oor sy aangenome broer, Ntando (18).  Hy was 13 toe sy ouers die vierjarige Ntando aangeneem het.

“Ek en hy en my suster is baie geheg aan mekaar. Om hom as broer te hê het ’n interessante invloed op my lewe as kind gehad. Skielik was ek nie net meer die kind wat ballet doen nie; ek was nou ook die kind met ’n swart broer . . . in Vereeniging.

Ek het nog nooit met súlke soort rassisme te doen gehad nie omdat ek in ’n born-free-Suid-Afrika grootgeword het.

“Die rassisme wat ons beleef het, en die marginalisering was redelik intens. So, in die rolprent was die moeilikste dele dié waarin rassisme voorkom. Dit was so deel van die lewe en dit is vandag steeds so. Maar dít is die ding wat my die meeste ontstel.

“Daar was een toneel waarin die trein vol rekrute by ’n stasie stilhou en daar ’n ouer swart man op die platform sit op ’n bank wat vir blankes gereserveer is . . . Die eerste keer toe ons daardie toneel geskiet het, het Oliver na my gekom en gesê: ‘Kai, jy móét onthou ons is in die 80’s; jou reaksies kan nie gegrond wees op wat jy nóú voel nie.’

“So, dit was vir my ’n groot uitdaging om daardie aanpassing te maak want daardie soort rassistiese realiteite – hoe die rekrute teenoor die swart man opgetree het – is vir my skokkend. Ek het nog nooit met súlke soort rassisme te doen gehad nie omdat ek in ’n born-free-Suid-Afrika grootgeword het.”

‘Hoe herstel ’n mens?’

Nicholas in ’n toneel tydens basiese opleiding.Foto: Verskaf

Die tonele wat op die grens afspeel, was vir Kai ook “baie intens”.

“Hierdie seuns is opgelei om dood te maak . . . ’n Mens kry die indruk niemand verlaat die weermag sonder om daardeur beskadig te word nie. Die skade wat aangerig word, verhard die karakter.

“Nicholas se reis van hierdie 18-jarige seun wat redelik naïef is tot die gesoute soldaat wat hy aan die einde is, skep iets hards in hom. En die vraag is hoe herstel ’n mens daarvan.”

Dit is ’n baie primitiewe, básiese begrip van wat dit beteken om ’n man te wees. So wat doen ons? Ons baklei teen mekaar.

In ’n toneel wat afspeel in die tyd toe Nicholas met basiese opleiding besig was, word hy as deel van ’n wrede spel gedwing om te baklei teen Dylan Stassen (gespeel deur Ryan de Villiers), vir wie hy in daardie stadium al gevoelens ontwikkel het.

“Toksiese manlikheid . . . Hoe definieer jy ’n manlikheid wat almal deur geweld onderdruk? Dit is ’n baie primitiewe, básiese begrip van wat dit beteken om ’n man te wees. So wat doen ons? Ons baklei teen mekaar.

“En in daardie situasie is Nicholas bang om ontmasker te word. Dylan het aan hom hierdie reddingsboei gegee [hul aangetrokkenheid tot mekaar]; vir die eerste keer besef hy daar mag dalk iets anders vir hom in die wêreld wees.

“Maar sy vrees om ontmasker te word sluit hom af daarvan. En wat doen hy? Hy tree soos ’n ‘man’ op uit vrees vir vervolging. Jy neem die ding [mens] waarvoor jy lief is en jy breek dit want dan kan jy nie seerkry nie.”

‘Het nie antwoorde’

Wanneer die enigmatiese slot van Moffie ter sprake kom, sê Kai hy en sy mede-akteurs het ’n geweldige hoë agting vir Hermanus en die wyse waarop hy werk en akteurs inspireer.

“Ek het gister gehoor hy sê in ’n onderhoud as rolprentmaker is jou grootste behoefte om vrae te vra. En ek dink dít is wat Oliver in Moffie doen – hy gee nie antwoorde nie; hy vra vrae oor hoe ons onsself sien, ons geskiedenis, hoe ons onsself definieer. Dít stimuleer debat.

“Oliver maak nie asof hy al die antwoorde het nie. Hy maak dit vir jou moontlik om deur ’n bespreking tussen julle insigte te verkry. Dit is beter as wanneer jy dit op jou eie doen.

“Sy verfilmingsproses gaan oor ’n ervaring, so dit is nie asof jy toneelspeel of iets probeer naboots nie; die uitdaging is om iets te erváár.”

‘Redelik depressief’

Ryan de Villiers as Dylan Stassen.Foto: Verskaf

Kai sê hy was ná die verfilming van Moffie “’n bietjie van ’n wrak”.

“Dit was ’n baie intense proses, maar terselfdertyd baie vervullend. En, jy weet, dit is my werk; dit is wat ek moet doen.

“Ek is geneig om by my familie te wees en ek surf en bring tyd in die natuur deur om myself net weer te vind.

En die fisieke aspek van die weermag was intens, maar ek dink die retoriek is wat my regtig ondergekry het.

“Ek is gewoond aan teater, dit is waarin ek opgelei is [hy het ’n dramagraad aan die Universiteit van Kaapstad behaal] en wat ek al baie gedoen het, maar verfilming is iets anders. Hierdie was my eerste vollengte-rolprent en die eerste keer dat ek ’n hoofrol vertolk, so die intensiteit daarvan het teen die einde ’n tol geëis.”

Hoe het dit gemanifesteer?

“Ek was net redelik depressief. Ek dink Nicholas se hartseer het regtig deel van my, Kai, geword. En die fisieke aspek van die weermag was intens, maar ek dink die retoriek is wat my regtig ondergekry het. Daardie wyse waarop jy konstant verneder en afgebreek word deur die sersante . . . die beledigende taal.

“Maar ek kom altyd oor sulke werk deur ánder werk te doen,” sê hy laggend.

Hy verlaat die land

Nicholas in ’n oorlogstoneel.Foto: Verskaf

Hy het direk ná Moffie begin verfilm aan die internasionale reeks The Professionals, waarin hy ’n ongure karakter vertolk. En tans vertolk hy in die Fugard-teater in Kaapstad die rol van die 17-jarige Hally, na wie twee bediendes – middeljarige swart mans – omsien, in “Master Harold” . . . and the Boys.

“Ek gaan nie meer lank hier wees nie,” sê hy uit die bloute. “Ek trek in Mei Brittanje toe. Moffie het my fenomenale blootstelling gegee en nou het ek agente in Amerika en Brittanje. Hulle het gevra ek moet verhuis. So, ek gaan nou soontoe om te kyk wat gebeur.

“Maar ek sal beslis weer wil terugkeer. Suid-Afrika is my tuiste en dit sal altyd my tuiste bly. Ek is lief vir hierdie plek.

“My plan is om ’n bietjie van ’n loopbaan daar te gaan bou en om dan terug te keer en die werk te kom doen wat ek regtig wil doen.

“Ek wil rolprente [indie-films, noem hy dit] maak waarin ek Suid-Afrikaanse stories vertel. En ek wil ook as regie begin doen.

Ek is geïnteresseerd in stil lewens . . . die worsteling van stil lewens.

Hy werk tans aan ’n konsep vir ’n rolprent. Dit gaan oor ’n man wat in Vereeniging woon. Sy lewe is in ’n doodloopstraat en hy verslinger hom aan die gimnasiumkultuur.

“Die rolprent fokus op manlikheid op dorpies in die hedendaagse Suid-Afrika. Ek is geïnteresseerd in stil lewens . . . die worsteling van stil lewens. Ek dink so baie mense in Suid-Afrika leef hierdie baie geïsoleerde, stil lewens waarvan niemand weet nie, en ek wil dít belig.”

* Moffie word sedert 13 Maart landwyd in rolprentteaters vertoon.

* Die rolprent word op 14 Maart in die Rhenish Girl’s High School as deel van die Toyoya US Woordfees vertoon. Daarna volg ’n vraag-en-antwoordsessie met Hermanus gelei deur Danie Marais.

* Hermanus neem ook deel aan die gesprek gelei deur prof. Pumla Gobodo-Madikizela op 15 Maart tussen 09:30 en 11:00 in De Warenmarkt, Ryneveldstraat, Stellenbosch.

Meer oor:  Oliver Hermanus  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Grensoorlog  |  Moffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.