Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Mohoje skrik vir niks... buiten dalk ’n ding wat spring

Die 28-jarige Teboho ‘Oupa’ Mohoje is onlangs aangewys as die Cheetahs se kaptein vir die 2018-rugbyseisoen. Dié flank sien hom egter nie as die franchise se eerste swart kaptein nie. Hy herinner jou gou aan Kaunda Ntunja, wat in 2005 saam met die Vrystaat-Cheetahs die Curriebeker-reeks gewen en ook al die span aangevoer het. Daarom beskou Mohoje homself bloot as die kaptein, niks anders nie, het hy aan Owen Kock gesê.

Oupa Mohoje Foto: Mlungisi Louw

Hy kan dit hanteer om teenstanders genadeloos te duik en om ook geduik te word op die rugbyveld. Dit maak hom nie bang nie, want dit is hoe hy sy brood en botter verdien.

Maar wys hom ’n padda of ’n sprinkaan, dan krap jy sy dag om.

“Ek en enigiets wat spring, kom nie oor die weg nie, nee. ’n Padda is slymerig en ’n sprinkaan staan my nie aan nie,” sê die Springbokflank terwyl sy gesit trek van walging.

Mohoje se groot bederf is ’n lekker Malva-poeding met hope vla as hy die dag die kans kry om hom aan eetgoed te vergryp en nie ’n streng rugby-eetplan hoef te volg nie. Hy kry ’n stout glimlag op sy gesig as hy daaroor praat.

Oupa is die oudste van Ramangena en Nomcala Mohoje se twee seuns. Sy jonger broer, Jojo (26), studeer rekenaarsingenieurswese aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie.

“Hy (Jojo) is die een wat vir akademie aangelê is,” sê sy ouboet.

Hy het sy pa se liggaamsbou. Sy ma is maar aan die korterige kant, sê hy gou toe hy oor sy lengte (1,93 m) gepols is.

“Ek het my pa se beenstruktuur, en ja, my ma is kort. Van ons vier Mohojes is sy beslis die kortste,” skerts hy.

Mohoje het in Qwaqwa grootgeword en dit is ook waar sy ma gebore en getoë is. Sy pa is van Viljoenskroon, maar het later Qwaqwa toe getrek.

Ek en my pa gaan dan so ’n bietjie delf in die eiendomsmark. Jy wil nie ná jou rugbyloopbaan nog met skuld sit nie.

En die naam Oupa?

“Dit was mnr. Hannes Grobbelaar, my onderwyser aan die Laerskool Fauna, wat my die naam gegee het omdat ek al op 9-jarige ouderdom grys hare gehad het. Hy het terloops ook vir Ox sy naam gegee,” sê Mohoje met ’n glimlag.

Mohoje is ’n alleenloper en as hy nie rugby speel nie, bring hy tyd saam met sy familie deur.

“Ek is ’n familieman en hou daarvan om saam met hulle te kuier.”

Mohoje, wat aan die Hoërskool Louis Botha in Bloemfontein gematrikuleer het, het reeds in 19 toetse vir die Springbokke gespeel en sê hy sal rugby speel solank sy lyf hom toelaat.

“Die plan is om tot so op 34 of 35-jarige ouderdom te speel en as die lyf sê stop, sal ek stop. Maar, as die lyf my toelaat, sal ek langer speel. Hopelik kan dit gebeur.”

Hy het op skool ook hooggespring en het sokker gespeel, maar hy het maar elke keer teruggekeer na rugby. Vandag is dit sy loopbaan.

“Ek was van kleins af lief vir rugby. Ek het van die ander sportsoorte probeer, maar rugby het gewen.”

Tydens oefening kan ’n mens duidelik sien Mohoje word deur sy spanmaats gerespekteer. Toe hy onlangs ’n tyd langs die veld moes deurbring weens ’n seer nek, was sy positiewe invloed sigbaar.

Ek is ’n familieman en hou daarvan om saam met hulle te kuier.

Hy word nie net as ’n goeie kaptein gereken nie, maar hy is ’n leier en motiveerder. Hy sal altyd sy spanmaats moed inpraat en dit lyk of hy ’n goeie verhouding met die afrigters het.

As hy nie saam met sy spanmaats op die veld kan wees nie, is hy in die gimnasium. En selfs as hy daar klaar is, sal hy by die oefening opdaag om insette te lewer en sy spanmaats aan te moedig.

Hy sê hy het ondanks aanloklike aanbiedings besluit om by die Cheetahs aan te bly, omdat hy hier tuis voel en deur die strukture van die Vrystaat Rugbyunie kom.

“As jou unie na jou kyk, is dit mos maklik om by hulle te bly. Die Cheetahs is vir my soos familie en ek bly eerder hier waar ek tuis is as om rykdom en roem na te jaag.”

Terwyl almal sê die Cheetahs is deesdae beter af as toe hulle byvoorbeeld Superrugby gespeel het, sê Mohoje dit is moeilik om werklik ’n vergelyking te tref.

“Wat ek wel kan sê, is dat ons nie geweet het waarvoor ons ons inlaat toe ons verlede jaar in die Pro14-reeks begin speel het nie. Die Pro14 bied ons egter baie en ek sien uit na die nuwe seisoen. Ons weet immers nou meer as wat ons in die eerste seisoen geweet het.”

Hy mis egter sy boesemvriend, die Springbok-vleuel Raymond Rhule, met wie hy oor die jare menige toere saam met die Cheetahs meegemaak het en saam met wie hy vakansie hou.

Oupa Mohoje Foto: Mlungisi Louw

Rhule het hom verlede jaar by die Stormers aangesluit en is intussen Frankryk toe nadat hy en die Moederstad mekaar nie kon vind nie.

Mohoje sê sy groot held op die rugbyveld is ’n Vrystater en nie een van die oorsese spelers nie.

“Ek kyk van my skooldae al op na Juan Smith, Springbok-flank wat ook vir die Cheetahs gespeel het. Sy soort spel was vir my ’n inspirasie en hy is ’n nederige mens.

“Ek het gelukkig die geleentheid gehad om tyd saam met hom deur te bring en hy was werklik ’n goeie speler wat nog altyd sy alles gegee het, tot met sy onlangse uittrede by Verblitz in Japan,” sê hy.

Net so is die taaiste speler teen wie hy al gespeel het, ook ’n Suid-Afrikaner.

“Marcel Coetzee (Ulster, Ierland) is die speler wat my harde bene laat kou het. Hy het ’n passie vir wat hy doen. Dit maak nie saak vir watter span hy uitgedraf het nie. Hy is ’n derduiwel, glo my.”

Mohoje sê daar gaan nie ’n dag verby dat hy nie dink aan ’n lewe ná rugby nie. Daarom is daar reeds planne in plek vir die dag as hy sy tokse ophang.

“Ek en my pa gaan dan so ’n bietjie delf in die eiendomsmark. Jy wil nie ná jou rugbyloopbaan nog met skuld sit nie. Ja, dit sal ’n vars begin wees, maar dit sal op my terme wees,” sê die vriendelike dog ferm Mohoje.

Meer oor:  Cheetahs  |  Oupa  |  Teboho Mohoje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.