Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Pappa is heeltemal alleen
Murray La Vita gesels met Anton Kannemeyer
Anton Kannemeyer in sy ateljee in Pinelands neffens een van sy werke.Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Anton Kannemeyer (48) vind plaas in sy ateljee in Pinelands, die buurt waar hy sy eerste lewensjare deurgebring het.

Die ateljee is in ’n woonhuis met ligte houtvloere. Sy vrou, die kunstenaar Claudette Schreuders, se ateljee is ook in dié huis. Agter die huis is ’n groot tuin. Aan die onderpunt van die tuin is ’n hekkie wat lei na die huis waar hulle saam met hul kinders, Anna (10) en Emil (7), woon. Anton se jongste boek, Pappa in Doubt, is aan Anna opgedra, maar sy mag dit nog nie lees nie, sê hy.

Dit is immers die werk van ’n satiriese kunstenaar bekend om sy vlymskerp blik op middelklaswaardes, politiek, seks en ras. Dit bevat afbeeldings [onder meer ’n swart president se ­penis] en woorde wat selfs sekere volwassenes sal laat terugdeins.

In die ateljee gaan staan Anton voor een van die boekrakke wat aan sy pa, wyle prof. J.C. Kannemeyer, behoort het. Op die rakke staan die boeke wat hy geskryf het. Hy het in sy testament bepaal sy seuns moet elkeen ’n eksemplaar van elk van sy werke kry.

“Dis nou van my pa se boeke. Wat vir my nogal interessant is, is ek het grootgeword met hierdie idee my pa se werk is die belangrikste ding wat daar is en as hy gaan slaap in die middae, dan moet ek my bek hou en uit die pad uit kom. En eintlik die eerste keer dat ek begin dink het Afrikaans en my pa se werk is nou nié so belangrik nie, is toe ek op 18-jarige ouderdom Duitsland toe is. Toe skielik verdwyn dit so half en ek besef, maar my god, jy weet . . . Maar ek moet vir jou sê die finále spyker in die doodskis was toe hy dood is en ons probeer van die boeke verkoop en niemand wil dit koop nie, en dié wat dit kán bekostig, hét dit reeds. Dis alles first editions en N.P. Van Wyk Louw se boeke is almal geteken, maar daar is nie kopers nie. Ons het toe ’n koper gekry vir die kern van die versameling, maar op die einde van die dag het ek net besef hoe min werd die boeke eintlik is in monetêre waarde. Die een enkele item wat die meeste voor verkoop het uit die héle versameling, was Bitterkomix een tot vyf wat vir $2 500 aan ’n oorsese versamelaar verkoop het.” Hy lag. “Dis net crazy, jy weet.”

Ons praat oor sy onlangse uitstalling in Johannesburg waaroor Lwandile Fikeni geskryf het: “To be plain and exact, E is for Exhibition is not a creative act, but a momentary bleating of a bitter man, woefully and wilfully ignorant of the mechanisations of his democratic country, and the organisation of its patterns of power and oppression.”

Hoe reageer hy op sulke kritiek?

“Die goed wat my affekteer, is dít waarin ek miskien waarhede kan raaklees en ek dink dít is deel van die gesprek wat gesond is. Kritiek is ­eintlik vir my ’n baie inspirerende soort van ding. Ek dink jy moet kyk na kritiek. Maar natuurlik sommige ouens soos hierdie ou Lwandile; ek kan my nie verskriklik daaraan steur nie.

“Daar is ’n ander artikel wat my ’n bietjie meer geraak het, maar hy gaan aan oor hoe bitter ek is en die waarheid is ek ís nie, ek is nie. Dit is nie meer die geval nie. Ek is nie iemand wat kwáád is nie. Ek voel eerder soos iemand wat amper half op die sideline staan en goed dophou en dit dan gebruik in my werk.”

Hy noem in ’n stadium terloops: “My Pappa in Afrika het best international comic album vir 2015 by die Amadora BD Festival in Portugal gewen.”

Ons praat oor sy gebruik van die golliwog in sy werk.

“Ek het probeer om ’n wit ekwivalent te kry van daai swart stereotipe. Ek het met baie goed gewerk: ouens met snorre en so aan, maar ek het dit baie moeilik gevind om dit te kry dat dit visueel werk. Jy kan al hierdie gross stereotypes op ’n gesig sit, maar die ding léés nie.

“Toe het ek nou hierdie pappa­figuur, wat gegrond is op Kuifie . . . en ek sal hom as ’n argetipe beskou waar die golliwog ’n absolute stereotipe is.

“Die eerste storie waar ek dit bewústelik gebruik het en dit vir my baie belangrik was, was in die storie 1974, wat eintlik ’n droom was wat ek herhááldelik gehad het dat daar ’n tipe van ’n swart hórde buite is wat my en my gesin jaag en ons wil vermoor. Wat vir my interessant was, is toe ek dit die eerste keer noem, was daar ’n paar ander mense wat vir my gesê het hulle het ’n soortgelyke droom gehad.

“Ek onthou ook dat dit vir my as kind moeilik was om swart mense te onderskei. En dié stereotipe [golliwog] het vir my ’n tipe van ’n gateway geraak om daai tyd en daai soort van ding aan te spreek.

“En natuurlik in die geval hierso [in 1974] het ek ook Hergé se styl – ­ligne claire – gebruik . . . daai comics [Kuifie] het vir my só baie beteken toe ek jonk was, veral in my puberteits­jare. Dit was vir my ’n absolute ontsnapping om in daai comics in te gaan, en ek wou dit gebruik om terug te kom in daai wêreld. Dis natuurlik ’n baie donkerder en ominous wêreld waarnatoe ek teruggaan.

“Op hierdie stadium voel ek dat ek waarskynlik meer en meer sal wegbeweeg van die gebruik van die golliwog, want ek voel ek het dit meer nodig nie. Baie van die issues wat ek wou aangespreek het, hét ek aangespreek. Daar sal miskien weer idees terugkom, maar op die oomblik voel dit vir my redelik uitgedien. Ek is bewus van die gevaar dat dit so half ’n shorthand raak en dat ek te gemaklik raak daarmee en ek dus net perpetueer wat in die verlede was.”

Het hy ooit sin gemaak van die angsdroom? Dalk by wyse van droom-analise?

“Weet jy, ek het nog nooit met iemand eintlik [so] oor my werk gepraat nie. Ek het gedink miskien moet ek op die een of ander stadium, veral omdat ek nou werk aan hierdie boek oor my pa. Ek het op ’n stadium begin dink it’s kind of solved, hierdie issues wat ek gehad het.” Hy lag. “Maar ek het besef dit is hoegenaamd nie so nie. There is no escaping it en aan die een kant is dit ook my inspirasie.”

Anton het vroeg in sy lewe besef hy is alleen.

“Ek het op ’n baie vroeë stadium besef my pa se verskriklike onredelike . . . Toe ek ses jaar oud was, het ek besef ek is hééltemal alleen. Daar gaan geen hulp van enige plek af kom nie; dit gaan nie van my broer af kom nie; dit gaan nie van enigiemand anders af kom nie and I’ve got to deal with this.

“En van baie vroeg af het ek begin om my pa te ondermyn . . . Van die begin af, selfs as volwassene, het ek nog nooit rêrig respek gehad vir gesag nie.”

Outobiografiese elemente is al lank in Bitterkomix aanwesig.

“Dit is natuurlik ’n katartiese manier van werk. Ek bedoel ek het in 1995 ’n storie gedoen, Boetie, wat . . . Dit was ’n absolute deurbraak vir my om daardie storie te teken. Ek kon die storie nie eintlik bespreek met enigiemand voordat ek dit klaar geteken het nie. En toe ek dit klaar geteken het, was dit asof die sluise oopgegaan het . . .

“So die ding is ek het [Pappa in Doubt] begin met ’n storie wat persoonlik is oor my eie lewe. En die belangrike ding was eintlik dat ek grootgeword het saam met ’n pa wat ek dink vreeslik belang gestel het in die kunste, maar gedink het dat politieke kuns opportunisties is. Dis iets wat ek wou inwerk hierso.”

As jy ’n satirikus is, moet jy ook die hand in eie boesem steek, meen hy.

“Dit help nie jy wys die hele tyd die vinger na ander mense nie. Wat my betref, moet jy jouself implicate. Net soveel soos wat ’n mens graag wil vinger wys na ander mense, is jyself nou ook after all . . . Ek is nou óók ’n pappa; ek is nou ook hier in Afrika; ek is nou ook ’n wit man en . . . jy weet, hier het ek nou ’n huis waarin ek woon in ’n baie mooi suburb . . . en daar is natuurlik die heeltyd daai soort van skuldgevoel . . . watter tipe kar ry ek? Mág ek so ’n kar ry?

“Daar was nou hierdie swart persoon wat geskryf het dis so half fake, ek gebruik dit maar net as ’n tipe effek om myself te laat goed lyk. Ek sien dit nie so nie. Ek het, veral in die verlede, baie goed oor myself gedoen wat vreeslik onthullend is. Ek doen dit ter wille van . . . Jy kyk: werk iets konseptueel? Daar kom laterale goed by terwyl jy iets skeppends maak en as jy voel iets werk en dit sluit iets in wat baie onthullend van jouself is, dan is dit so half: oh well, it has to go in there.

“Op die einde van die dag gaan dit oor daai werk wat jy maak; dit gaan nie oor jou as persoon nie.”

Agtergrond

Antjie Krog sê in 1993 in ’n openingsrede by ’n Bitterkomix-tentoonstelling:

“Soos in Kuifie wys Bitterkomix die enigste uitweg na die intelligente analise is die kernagtige, verwoestende woordeskat en die chaotiese instommeling in sorgvuldige, patriargale beplannings. Wanneer die menacing skaduwee in die oop deur val, peul ineens honderde lampies by die weerloses uit, kan massiewe vuiste met lapsteke geteken word wat alle monsters kan moer. Bevry kan jy fraaitjies nog invoeg: met liefde.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.