Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Murray La Vita gesels met Carel van der Merwe
Carel van der Merwe vandeesweek in sy huis in Stellenbosch tydens die onderhoud. Foto: Edrea du Toit

’n Skrywer se obsessie oor Eugène Marais het gelei tot ’n speurtog waardeur hy op ’n “voorheen versluierde” deel van dié enigmatiese figuur se lewe lig werp, skryf Murray La Vita.

Marais skryf in 1923 aan sy vriend Gustav Preller: “Al die slegte goed kan maar wag tot ek dood is . . . So als U sê is die lewe ’n mosaïek van herinneringe – vir my ongelukkig meestal pynvol als ek my bewustheid ooit toelaat om in die donker stroom in te duik.”

In ’n sin is dít wat Carel van der Merwe gedoen het toe hy die boek Donker Stroom – Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog geskryf het: Hy het in die donker stroom van Marais se lewe ingeduik.

“Nadat ek Die Groot Verlange [Leon Rousseau se boek oor Marais] gelees het, was ek ge-grip,” se Carel.

Ons sit op die stoep van sy lieflike huis aan die voet van die Stellenbosch-berg. Carel, ’n lenige man in jeans en ’n Tommy Hilfiger-hemp, het pas koffie en melktert uit die kombuis gebring.

“Wié is hierdie ou wat ek eintlik niks van weet nie, wat so ’n veelsydige Afrikaner was wat ongelooflik vir sy tyd en era was; amper ’n Renaissance-man? Ek het begin dink dis amper soos ’n Afrikaanse Goethe hierdie, as jy kyk na sy wye belangstellingsveld en ook sy natuurkundige observasies.

“Al hierdie goed trek ’n mens aan: Wie is hierdie ‘Boerseun’ – ek sê dit tussen aanhalingstekens; dit was tóé my idee van hom – wat al hierdie goed vermag het? Op 19 of 20 vir Paul Kruger aangevat het . . . hy was amper soos ’n Max du Preez van sy tyd, maar 30 jaar voor Max se ouderdom, of 20 jaar. En Paul Kruger was ’n stigter van die land . . . Ons vat nou Max teen, sê nou maar P.W., maar Paul Kruger was ’n méér formidabele figuur. En vir ’n jong outjie om hóm onverskrókke aan te vat in sy koerant Land en Volk . . .

“Toe het ek nou elke ding oor Marais gelees, lánk voordat ek met die boek begin het . . . wat oor hom geskryf is; wat hy geskryf het.

“Ek het in 1990 net ná my articles [as geoktrooieerde rekenmeester] vir ’n jaar in Londen by Arthur Andersen gaan werk en my moltreinstasie was Temple-stasie. My kantore was daar in Surreystraat; dis letterlik seker 500 treë van waar Marais tydens die Anglo-Boereoorlog by die Inner Temple gestudeer het. Ek het dit tóé nie geweet nie . . . Ek het eers later besef ek was al hierdie jare bý hierdie ou se plek, want ek is in 2000 weer terug Londen toe om daar te gaan werk en ons was amper ses jaar daar en toe het ek wéér daar in die West End gewerk, nie ver van die Inner Temple af nie.

“Ek was toe bewus van hierdie gap wat in die geskiedenis van Marais bestaan.”

Rousseau het soos volg daaroor geskryf: “Tensy ontdekkings gemaak word wat ’n mens jou op die oomblik kwalik kan voorstel, sal dit altyd onmoontlik bly om ’n samehangende relaas van Marais se vyf jaar in Europa te gee.”

Carel het besluit hy wil kyk wat hy kan vasstel terwyl hy in Londen woon en werk.

“En ek kon absoluut zéro uitvind. Ek het geweet daar was ’n sensusopname in Engeland in 1901. Ek was by die Na­tion­al Archives in Kew en het daar deur die sensusregisters gaan werk en ek kon hom glad nie kry nie. Ek het by die Temple ook navraag gedoen, maar hulle was toe nie baie behulpsaam nie. So toe het ek dit maar gelos.

“Rousseau skryf dis asof die spore doodgevee is . . . Ek het die sensus toe later gekry toe ek nou weer navorsing begin doen, en sy naam word aangeteken as ‘Marass’ . . . dís hoekom dit nie opgekom het op die elektroniese registers nie, maar dit is hý. As jy nou mooi gaan kyk: die ou het die ding verkeerd afgelees – dit ís Marais.

“En so het dit ook gebeur met ander goed; hierdie brief wat [Joseph] Chamberlain oor hom geskryf het, waar hy sê: ‘He is a very intelligent man & made a considerable impression upon me.’ Daai brief . . . [Cecil] Headlam, wat die Milner Papers byeengebring en gepubliseer het . . . daai brief is daar, maar dié stuk van die brief nié. Dit is vir my net báie eienaardig. Hóékom is dit uitgelaat? Orals het sulke goed gebeur.

“Ek het half gewonder of [lord Alfred] Milner nie gevra het dat dit nie ingesluit word nie. Daar was ’n groot vriendskap tussen Milner en Marais, en Milner het nooit daaroor geskryf nie . . . Dit was ’n belangrike deel van die uitlander- en Britse strategie voor en ná die oorlog: Om Land en Volk te gebruik om die Boere sag te maak, kan jy maar sê, en dit word glad nie bespreek nie.

“Dieselfde met [sir Percy] Fitz­Pat­rick. Hy was járe lank bevriend met Marais en het vir hom geld geleen vir die koerant; hulle was baie jare hand om die blaas gewees. Maar daar is nie ’n woord oor Marais in al sy vele gepubliseerde geskrifte nie.

“Ek laat my nie vertel dat in daai tyd wat Marais geleef het, nie báie mense geweet het van sy aktiwiteite nie . . . Ouens soos Gustav Preller. Maar dit het nie die historiografie gepas om dáái rol van Marais [samewerking met en steun aan die uitlanders] uit te bring in die tyd toe Afrikaners volkshelde nodig gehad het nie; toe kultuurskeppers soos Preller begin het met die herskryf van die geskiedenis.”

Het hy in die 2½ jaar waarin hy in minstens 20 argiewe hier en in veral Brittanje navorsing gedoen het, ooit ’n punt bereik waar hy tou wou opgooi?

“Nee . . . Nee, my obsessie was te groot gewees. Maar daar was baie . . . weke het soms verbygegaan en dan kry ek ’n verwysing na Marais in ’n brief en dan kan ek dit nie inpas in die konteks nie, en dan gaan soek ek en ek soek; en dan op die mees eienaardige manier kry jy dan die volgende leidraad. Dis asof jy . . . jy moet jouself oopstel en dan sal jy iets onthou wat jy twee jaar terug gesien het in ’n ander argief wat geen verband vir jou gehad het nie, maar skielik kom dit in die nag na jou terug en dan besef jy: Maar eintlik moet ek met daai ou se goed gaan sit . . . Hierdie ding was vir my soos ’n massiewe legkaart; ek moes elke stukkie inpas.”

Hy het besef die geskiedenis is ook maar fiksie.

“Jy moet so veel as moontlik weergawes oor iets lees voor jy ’n opinie vorm. En selfs al het jy alles gelees – wié weet wat daardie mense regtig gedink het en wat die regte beweegredes was?”

’n Kragtige uitspraak wat Carel na aan die hart lê, is dié een van die geskiedkundige G.M. Trevelyan:

“The poetry of history lies in the quasi-miraculous fact that once, on this earth, once on this familiar ground walked other men and women, as actual as we are today, thinking their own thoughts, swayed by their own pas­sions, but now all gone, one generation vanishing into another, gone as utterly as we ourselves shall shortly be gone, ­like ghosts at cockcrow.”

Ons praat oor hoe belangrik die uitstraling van plékke is. Hierdie Lewe van Karel Schoeman en W.G. Sebald se Austerlitz kom ter sprake.

“Dis asof daar iets in plékke is wat ’n mens ook help om te skryf. Die plekke waar Marais was . . . Dit was vir my eintlik ontroerend om te loop daar in Teddington . . . Daardie váál rye Victoriaanse huise het nie eintlik verander oor die jare nie; die omgewing lyk nog min of meer dieselfde . . . En as jy daar loop . . . dit gee vir jou ’n ander gevoel van die ou; dís waar hy vir drie jaar rondgeloop het terwyl die Boereoorlog aan die gang was. Hoe moes hy gevoel het om daar te sit? Daar is ’n oorlog aan die gang en duisende mense gaan dood. Daar móés ’n skuldgevoel gewees het.

“Die treinstasie lyk nog net so. Hy het daai trein gery; op en af, dae aaneen. Die Inner Temple [waar hy regte gestudeer het] lyk nog presies dieselfde, behalwe die Inner Temple Hall is in die Tweede Wêreldoorlog gebombardeer.

“Ja, plek is vir my baie belangrik . . . Daar waar Marais homself geskiet het op Pelindaba. Daai rondawel waar hy gewoon het, staan nog vandag, nè. Dis die moeite werd om te gaan besoek. Ek was ook op ’n kouerige dag daar gewees . . . Dit het mos gereën die dag toe hy homself geskiet het. Daar ís half ’n weemoedigheid in die landskap . . . Dis seker jou eie projeksie op die plek, maar nog steeds . . .”

Marais was, nes die karakters in Carel se romans, Skaduwee, Geldwolf en Nasleep, ’n buitestander.

“Ja, daar is iets wat my aantrek van so ’n karakter. Hulle is outsiders maar ook insiders . . . Insiders wat outsiders is.”

Carel het in ’n vorige onderhoud gesê sy romans het almal hoofkarakters wat op ’n plek in hul lewe is wat redelik stabiel is, dan gebeur iets wat hul lewe omverwerp.

“Ek kan nie sien hoe jy anders oor ’n karakter in fiksie kan skryf nie. Dit moet so . . . Kyk, selfs in Disgrace, ou David Lurie – daar’s iets wat gebeur in sy lewe.”

Die bekoring van skryf lê vir hom daarin dat dit die een ding is wat jy op jou eie kan doen. Jy kan ’n wêreld skep en dit dan betree.

“Dit is eintlik ’n wêreld wat meer werklik word as die ánder wêreld. Die ánder wêreld is net admin; hiérdie is die lekker wêreld.” Hy lag. “Dis moeilik . . . Die mense om jou kan nie verstaan dat jy so gefokus is op een ding nie. Al waaroor jy wil praat en lees of aan dink, is dít. Dit is all-consuming.

“Mense om jou kan sien jy luister nie rêrig na hulle nie. Daar’s heeltyd iets anders aan die gang in jou kop. Ék kom dit nie agter nie, maar my vrou sal vir my sê: ‘Jy dink al wéér aan Marais!’ Dan kom ek agter: Dit is so, ja, ek hét aan hom gedink.”

Nuwe navorsing
Carel van der Merwe “het ’n betrokkenheid by die sakewêreld”, maar waaraan hy nou grootliks sy aandag wy, is navorsing en skryf. Vir ’n doktorsgraad in geskiedenis is hy besig met sy tesis oor die Boerediaspora ná die Anglo-Boere-oorlog “met spesifieke verwysing na die ouens wat onder Ben Viljoen en Willem Snyman Amerika en Mexiko toe gegaan het”. “Ek wil Viljoen se spoor gaan volg. Hy is nóg ’n ongelooflike figuur. ’n Man van Krugersdorp wat ’n kantien bedryf het en as ’n president se militêre adviseur in Mexiko opgeëindig het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.