SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Profiele
Murray La Vita gesels met MJ Lourens
Weerloos teen skemer
MJ Lourens by een van sy skilderye in die Barnard-galery in Nuweland, Kaapstad. Foto: Nasief Manie

Die kunstenaar MJ Lourens praat oor wolke, fietsry in sy slaap, die triestige skoonheid van skemerlandskappe, en surrealistiese voorstede.

Die versoeking is groot om jou te verloor in die oppervlak van MJ Lourens se skilderye; om daar te talm tussen die flonkerende stadsligte en die kleure van groot sons­ondergange.

Maar as jy dieper kyk, verby die verruklike realisme, gaan jy afkom op die onrustigheid, die stille afwagting, die gevoelens van nostalgie en hunkering wat in daardie landskappe lê.

Só sê Charis de Kock, kurator van MJ se uitstalling Proximity by Proxy, wat tans in die Barnard-galery in Kaapstad te sien is.

Ons stap op ’n grys Kaapse oggend saam met MJ deur die galery. Die meeste van die merkwaardige werke beeld ’n landskap teen skemer uit. En op die horisonne is groot wolke. Hy skilder altyd eerste die wolke.

“Ek het ’n obsessie met BMX’e gehad toe ek op skool was en ek het BMX-tydskrifte versamel voordat ek nog ’n BMX gehad het. Daar was later ook op die agterkant van ProNutro-pakke ’n baan geïllustreer en dan binne-in elke pak sal jy dan sê nou maar daai goedjies kry wat jy afkrap, soos ’n ou wat op ’n BMX is, en dan kan jy nou pláás waar die ouens op die baan ry.

“Die landskap wat amper klaar bestaan; dít is vir my fassinerend in die sin dat as ek eers die wólke geskep het . . . dis die begin en dan kan ek die res daarop plaas. Die wolke is die ­draer daarvan. Wolke is ’n ander deel van my; dis amper soos my onderbewussyn waarop ek die voorgrond laat realiseer.”

Die skemerlandskappe herinner hom aan die Hoëveld van sy jeug.

Daar is ook ’n verskriklike weerloosheid aan daai spesifieke tyd van die dag ...

“Daar is ook ’n verskriklike weerloosheid aan daai spesifieke tyd van die dag, want goeters kan so vinnig gebeur in die oorgang van lig na donker. Daai tyd van die dag is baie broos amper. Dis baie dramaties – die vistas van die Hoëveld en die líg en die dráma van daai wolke wat bou voor ’n storm . . . Maar terselfdertyd is daar dan iets baie weerloos daaraan.

“En ek dink dit is iets wat ek heeltyd probeer handhaaf, nie net in kuns nie, maar ook in my uitkyke op dinge in die algemeen – om albei kante toe te laat, die goed en die sleg. Ek dink ’n mens verloor baie goed uit die oog as jy net fokus op een ding en nie die teenoorgestelde oorweeg nie.

“Dis belangrik om bewus te wees van ’n mens se vertwyfelinge en jou tekortkominge. Ek probeer dit omhels omdat ek dink daar is net soveel waarde aan die onsekerheid en die twyfel as wat daar is in die suksesse. En dís die spánning wat ek wil bereik met my werk, die spanning tussen twee kampe van vóél.

“En dis hoekom ek daai tyd van die dag ook kies – dis nie ’n vrólike tyd nie; daar is iets baie sombers aan, wat my baie gelukkig maak. So wat ek probeer sê, is daar is vir my net soveel mooi in die vertwyfeling of die weerloosheid as wat daar in iets anders is. En daarin lê dalk die sukses van die werke.”

Dis amper daai gevoel van Sondae met die son wat sak en die kerkklokke wat lui en jy het nog nie jou huiswerk gedoen nie.

In sy jongste werk tref ons in verskeie skilderye tekens van industriële bedrywighede aan: ’n groot reklamebord (waarvan die leë raamwerk aanwesig is sonder die advertensies); ’n oopgroefmyn; olie­raffinaderye; fabrieke.

“Hoekom word mense so aangetrek deur ’n fabriek? Baie van die industriële werke is verkoop en dis iets wat mense teen hul mure wil hang. Industrieë word gewoonlik weg uit die stad gebou en nou bring ek dit in ’n plek soos ’n galery en ewe skielik is dit vir hulle mooi, wat nogal fassinerend is.

“Toe ek ’n kind was en ons vir ’n ruk in Durbanville gebly het, het ons baiekeer Sondae gery Bloubergstrand toe en altyd in die aande teruggery verby Epping en daai fabrieke. Dit was daai tyd van die aand gewees wat my baie melancholies maak. Ek dink dis iets wat ek raakgesien het omdat dit vir my ’n baken was tussen waar ons wás en waarnatoe ons op pad was – terug huis toe. So die amperse spanning wat daai fabrieke wek, is verteenwoordigend van hoe ek na die wêreld gekyk het en gekonfronteer was met die drama en spanning van daai tyd van die dag.

“Dis amper daai gevoel van Sondae met die son wat sak en die kerkklokke wat lui en jy het nog nie jou huiswerk gedoen nie. Daar is ’n angstige weemoedigheid aan die gang daarso. Dít was vir my op sigself baie aantreklik en in plaas daarvan om dit te vermy en weg te breek daarvan het ek dit omhels . . .”

Landskappe, die land, is fundamenteel gelaai met politiek.

Toe MJ in graad twee was, het hulle Pretoria toe getrek.

“Ons het toe in Colbyn gewoon, ’n baie ou gevestigde woonbuurt met baie bome. As daar rusie of spanning in die huis was, het ek gaan stap. En in daai dae het ek ook koerante afgelewer. Ek moes in die oggende van ons huis af ry tot heel bo in Colbyn waar hulle die koerante afgelaai het. Dit was ’n tyd van die dag wanneer dit baie stil was en jy heeltemal alleen was in die buurt. Net so voor die son opkom. Daai eensaamheid. En veral oggende wanneer dit gereën het . . . Jy word nogal gekonfronteer deur goeters omdat jy alleen met jouself in daai plék is en dis ’n baie verláte plek. Jy kan sien daar is menslike aktiwiteit, maar dit sal agter ’n muur wees of die telefoondraad is die enigste teken dat daar mense is. Soos nou in my skilderye.

“Ek het in daardie stadium vreeslik baie in my slaap geloop. So wat ek een oggend gedoen het, is ek het opgestaan en my skoolklere aangetrek en op my fiets geklim en tot bo in Colbyn gery en toe ek daar kom, toe is die koerante nie daar nie.

“En toe kyk ek op my horlosie en toe sien ek dis tien oor twee en toe skrik ek wakker. Ek onthou amper presies hoe ek voor daardie hek wakker geword het waar die koerante moes wees.”

Benewens skilder en beeldhouer is MJ filmmaker. Ons praat oor sy dokumentêre rolprent Pa/Father.

“Deur dié medium sien ek dinge raak wat mense skynbaar sou vermy. My pa was ’n wetenskaplike en ’n alkoholis en ons het ’n baie stormagtige verhouding gehad. Wat ek in die film begin doen het, was om op hom te fokus . . . Ek was baie geïnspireer deur die Dogme-beweging van die Dene . . . Breaking the Waves van Lars von Trier. Ek het gesien daar is ’n skoonheid in ’n baie onhandige, dramatiese manier hoe goeters afgeneem word.

“So, weer eens, in plaas daarvan om weg te skram van die negatiewe goeters, het ek die kamera se lens daarop gefokus. En dít het my in staat gestel om ’n stormagtige tyd beter te hanteer. Dit was vir my soos ’n kuur, ’n genesingsproses. Ek het vir hom die film gewys nadat ek klaar was en hy het toe sy insae gegee daaroor en dit het uiteindelik ons hele verhouding omgedraai – hy’t minder begin drink, hy’t meer werk begin doen, hy’t nooit weer op ’n krás manier met my gekommunikeer nie. Die kamera het ons baie nader aan mekaar gebring. Dit het oorsee gewys by klomp filmfeeste; ek dink daar is ’n universele storie daarin.”

MJ was in ’n “konserwatiewe, rugbygedrewe” hoërskool in Pretoria.

“Ek wou graag kunsskool toe gegaan het, maar op die ou einde is ek baie bly dat toe ek rêrig my keuse gemaak het om kuns verder te vat en ’n lewe daarvan te maak, dit in die opset was van ’n baie konserwatiewe seunskool – Afrikaanse Hoër Seunskool, want ek voel as ek nie iets gehad het om teen te stry nie, sou ek nie so seker gewees het van wat ek wou gedoen het nie.

“Ek is deur die modder gesleep een pouse voor kadette deur die eerste rugbyspan. Toe gaan ek na die onderhoof toe, wat ook die afrigter van die span was, toe sê hy ek moet net verstaan dat ek en my vriende in elk geval suurstofdiewe in hierdie skool is.”

Landskappe, die land, is fundamenteel gelaai met politiek.

Oor baie van die werke sê mense dit voel of dit ’n plek is waar hulle al was.

“Ek het nooit genoop gevoel om my werk te sien as my seepkissie waarop ek nou spring om my opinie af te dwing nie, maar dit begin al hoe meer na vore kom, soos byvoorbeeld in die skildery van die beeld van die man op die perd by Rhodes Memorial wat oor die landskap kyk met die scaffolding om hulle.

“En ook in die skildery met die haai wat op ’n komiese manier uitgebeeld word [graffiti teen ’n Vibracrete-muur] in ’n baie ernstige, amper morbiede landskap . . . Om op ’n baie speelse manier iets uit te beeld van ’n dors en ’n honger en ’n jagterlike instink van mense wat net goed vir hulleself wil hê. Dit is ’n afbeelding van ’n ontwikkeling wat nog moet geskied, want daar is nie rêrig enige strukture daar naby nie en ’n mens sien die stad van ’n afstand af. Dis ’n wasteland. En dit is weer eens om daai plek en daai milieu te skep wat ’n mens nie elke dag sien nie, of aan gewoond is nie. Om die kyker na ’n baie afgeleë plek toe te vat. Dis amper bietjie onheilspellend om in daai verlatenheid te wees.

“Oor baie van die werke sê mense dit voel of dit ’n plek is waar hulle al was. Deur aan mense só ’n landskap te wys en sulke wolke te maak het jy onmiddellik hulle aandag. En wat jy dán kan doen, is om op ’n subtiele manier met die elemente soos graffiti hulle vérder te konfronteer en hulle te laat stilstaan.

“So jy gebruik ’n konvensionele toneel om mense bewus te maak van iets wat hééltemal onkonvensioneel en surrealisties is.”

Hy wou sy eie kunstaal ontwikkel.

“Ek was baie gefassineer deur Dalí en Alexis Preller en in my jong tyd het ek hulle probeer naboots. Maar ek het altyd geweet ek moet my eie taal en stýl ontwikkel in my landskappe. En dit het gebeur toe ek agterkom die suburban is eintlik méér surrealisties as wat ’n mens dink. Die onderliggende . . . daar is ’n spesifieke gevoel daarin wat te make het met die onderbewussyn.

“So toe kom ek agter ek hoef nie eintlik te hard te probeer of iets uit te dink nie, dit staar my eintlik klaar in die gesig; dit is klaar daar.

“En dít het toe my styl geword. Dís my landskappe en dis wat ek doen.”

  • Die uitstalling is tot 30 Mei in die Barnard-galery.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Oop Kaarte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.