Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita praat met Mmusi Maimane
Mmusi se kode vir hoop
Mmusi Maimane, DA-leier, tydens ’n onderhoud vandeesweek in die DA se hoofkantoor in Kaapstad. Foto: Lulama Zenzile

Mmusi Maimane (36) sit by ’n tafel voor ’n skootrekenaar in die DA se hoofkantoor in Kaapstad. Ná ’n paar oomblikke staan hy op, stap verby die kas waarop ’n beeldjie van Barack Obama staan, en kom groet ons.

Dit is ’n kollega se kantoor. As leier van die DA is Maimane se kantoor in die parlement, wat tans in reses is.

Vroeër was ons in ’n ingangsportaal vol bedrywige DA-mense wat kom en gaan. Teen ’n muur was ’n kalender wat verklaar: “Election Countdown: 13 days to go”. ’n Vrou het vir ’n man gesê: “It’s going to be a crazy day today. And I was so busy yesterday I woke up with a migraine this morning.”

Nog ’n vrou het genies.

En hoe gaan dit met Mmusi Maimane? ’n Mens kry maklik kieme van baie hande skud.

Hy lag en sê: “Ek voel sterk. Ek probeer oefen en myself gesond hou.”

Vir ’n oomblik laat gly hy sy hand oor sy plat maag.

Die onderhoud begin by ’n poging om vas te stel hoe belangrik die komende plaaslike verkiesing vir die DA is. Die beskouing bestaan dat dit vir die party ’n waterskeiding is; dat hulle nou sal moet bewys hulle is meer as ’n party wat net in een groot metropool, naamlik Kaapstad, regeer.

“Hierdie verkiesing moet in die konteks van Suid-Afrika gesien word. Dit is deurslaggewend vir die Suid-Afrikaanse opposisie. Die ekonomie is op sy swakste en Suid-Afrikaners voel dit – net onder die 9 miljoen mense is werkloos; korrupsie neem toe. Die vraag is: As die ANC teen hierdie agtergrond niks in die verkiesing verloor nie, wat beteken dit vir Suid-Afrika se demokratiese projek? Dít is ’n baie belangrike vraag. Dit gaan nie net oor Maimane of die DA nie, dit gaan oor Suid-Afrika. Ek sê altyd mense oral soek verandering en as hulle dit nie deur die stembus kry nie, sal hulle dit op ’n ander manier soek. Die vraag is: Hoe? Daarom is die afbrand van skole en die betogings ’n aanduiding dat mense desperaat verandering wil hê.

“Ek moet in my eerste jaar as leier van die DA uitrig wat ander leiers oor ’n tydperk van jare reggekry het, en dit is om buite die Wes-Kaap te wen. Toe ek in Mei verlede jaar oorgeneem het, was die eerste taak om uit te gaan en daarop te fokus om te wen. Dit is vandag 14 dae voor die verkiesing en volgens alle aanduidings – van Ipsos en ander – loop ons voor in plekke soos Tshwane en Nelson Mandelabaai.

“Natuurlik is dit noodsaaklik dat ons in nog ’n metro aan die bewind kom. Op kort termyn is dit om ’n metro te wen, maar op die duur is dit om werklik die alternatief vir die ANC te word. Ons ís die enigste alternatief. Die EFF is net ’n soort pseudo-ANC . . . ek noem hulle die militêre vleuel van die ANC. Ons is ’n party wat alternatiewe bied; ons het gewys dat waar ons regeer, regeer ons beter as die meeste ander.”

Die beskouing bestaan egter dat die EFF met betrekking tot sekere populêre kwessies die ini­siatief van die DA af weggeneem het.

“Daar is reg oor die wêreld ’n toename in populisme. Jy sien dit in Donald Trump; jy sien dit met die Brexit-veldtog; jy sien dit in Hongarye; jy sien dit in Zimbabwe, en nou sien jy dit in die EFF.

“Die probleem met hulle is dat hulle populistiese kwessies aanroer, maar nie met veel vorendag kom nie. Wat het die EFF in wese aan Suid-Afrikaners gebied as jy by die vermaakfaktor verbykyk? Ek dink hulle bied Suid-Afrikaners ’n chaos. Dit is hulle wat beloof het om hierdie regering deur geweld omver te werp. Is dít wat Suid-Afrika wil hê? ’n Gewelddadige Suid-Afrika? Hulle beloof aan Suid-Afrika nasionalisering, die einste beleid wat Zimbabwe gebring het waar hy vandag is. Hulle beloof die verwoesting van instellings. Hulle beweer hulle beskerm die Grondwet, maar hulle wil dit wysig . . .”

Populisme is gevaarlik, want mense word daardeur verlei.

“Ja, dit is reg oor die wêreld ’n bedreiging. Niemand neem dit ligtelik op nie. As ons hier ’n toename in populisme het, sal ons ’n populistiese leier kry en dit is gevaarlik vir Suid-Afrika. Maar die vraag is: Wat is ’n noemenswaardige toename in steun? Waar sal die EFF regeer? Ipsos se peilings wys hul ledetal het gestagneer; dit het ’n plafon bereik.”

                                                                                       ***

Ons praat oor beleidsuitdagings in die DA.

“Lindiwe [Mazibuko, voormalige parlementêre leier van die DA] se uitdaging was om die hoop van die meerderheid en die vrese van minderhede te balanseer.

“Ek het daardie gesprek geneem en gesê: Laat ons in die eerste plek ooreenkom oor waardes vir die party. Ons staan vir vryheid, regverdigheid en geleenthede – ongeag ras. Ons álmal wil ’n vry Suid-Afrika hê, en almal wil geleenthede vir ons kinders hê. Ons moes dus daaroor ooreenkom. Wat ras betref, moes ons as party ook ooreenkom dat ras steeds ’n aanduider is van minder bevoorreg wees. Wanneer jy rondkyk, sien jy die gesig van armoede is steeds hoofsaaklik swart . . .”

Hy verwys na Helen Suzman.

“Jy hoef nie swart te wees om vir swart mense te stry nie. Net soos jy nie ’n vrou hoef te wees om vir vroue te stry nie. Jy moet net ’n Suid-Afrikaner wees.

“My projek is om te sê: Kom ons bring Suid-Afrikaners bymekaar wat met daardie waardes saamstem; wat erken dat as die tweede waarde regverdigheid is en jy stem saam dat Suid-Afrika onregverdig is op grond van ras, dan is dit ’n saak waarvoor jy moet baklei.

“Mense reageer baie goed hierop. Skielik word die vraag anders gestel. Dit gaan nie meer net oor my en my ras nie. Die vraag is nou: Hoe kan ék bydra tot die universele vryhede van álle Suid-Afrikaners? Ons moet vra: Wat is die Suid-Afrikaanse projek waardeur ons alle rasse byeen kan bring? En as ons erken wie die agtergeblewe mense is, moet ons hulle help.”

                                                                                    ***

In Mmusi Maimane – Prophet or Puppet? skryf S’Thembiso Msomi dat Maimane deur sommige mense, en nie net “ANC cheerleaders” nie, as ’n marionet in die diens van wit belange beskou word. Msomi skryf ook oor die twee wêrelde waarin Maimane begin leef het toe hy, die kind van Soweto, na ’n “gemengde” hoërskool in Weltevredenpark in Roodepoort is en daar ’n prefek was.

“Ja, ek moes in albei wêrelde leef . . . Steve Biko het dit goed gestel: Dit is die ideaal van selfhaat, die onvermoë om te glo dat swart mense wit mense kan lei. En dat wanneer ’n swart mens in ’n leierspos is en daar is wit mense om hom, dan móét dit die wit mense wees wat eintlik beheer het. Die blote suggestie dat dit onwaarskynlik is dat ’n swart mens kan lei . . . My projek is om die DA te transformeer tot ’n organisasie vir alle Suid-Afrikaners, en nie deur net wit mense met swart mense te vervang nie . . . ”

Msomi vra in sy boek:

“Did this ‘dual-worlds existence’ develop in him what WEB du Bois termed double consciousness which he defines as ‘this sense of always looking at one’s self through the eyes of others, of measuring one’s soul by the tape of a world that looks on in amused contempt and pity’.”

Maimane: “Wat die vraag nie in aanmerking neem as ’n dimensie van menslikheid in terme van die ‘sense of self’ nie, is die basis van ’n mens se eie waardes. My vrou is ’n wit Suid-Afrikaner wat ingetrou het in ’n swart familie, waarin daar nooit rassevooroordeel was nie. My pa se mening oor ras was altyd dat ons tot een ras behoort en dit is die menseras.

“Wat my psige en identiteit betref, was daar van my ouers af ’n oordrag van waardes wat gesê het mense is mense. As jy dít aanvaar, besef jy alle mense heg aan soortgelyke dinge waarde. Of jy nou wit of swart is, jy wil hê jou kinders moet ’n goeie lewe hê.”

Verlede Oktober is Maimane by ’n DA-saamtrek in Bohlokong, buite Bethlehem, begroet deur mense wat dreunsing Obama warona, Obama oteng (Ons Obama, Obama is hier).

“Ek het nog nooit . . . Ek stel belang in wat pres. Obama doen. Ek vind dit geweldig bemoedigend dat mense nog kan hoop. As jy na die Suid-Afrikaanse politieke landskap kyk, is daar baie mense wat hoop verloor, wat dink: Ons gaan onder, dit gaan nie goed nie.

“Wat ek die graagste sal wil bereik, is om vir mense hoop te gee. Die essensie en die belangrikste instrument van leierskap behoort te wees dat jy altyd vir mense hoop bied. As mense so oor my voel en hulle druk dit deur die Obama-kode uit, is dit ’n vergelyking waarmee ek gemaklik voel . . . as dit ’n kode vir hoop is. Ek het nog nooit gedink Suid-Afrika is ’n verlore saak nie. Ek het nog altyd gedink daar is hoop vir al die mense.”

Ons praat oor mediavryheid wat toenemend bedreig word deur liggame soos die SAUK en koerante wat openlik aan die belange van die ANC voorkeur gee.

“Die ANC wil tot elke prys aan die bewind bly. Dit is duidelik dat die ANC sterk beheer oor die SAUK het. Hlaudi Motsoeneng word deur straffeloosheid aangedryf. Dit is bisar dat die president nog niks hieroor gesê het nie; of die minister van kommunikasie . . . Hlaudi Motsoeneng volbring ’n projek wat deur die ANC gedryf word.”

Maimane het benewens ’n meestersgraad in publieke adminis­trasie ’n graad in sielkunde en ’n meestersgraad in teologie.

“Ek het vir ’n NGO gewerk en ek wou deur sielkunde en teologie die hart van die mens probeer deurgrond. Hoekom tree mense op ’n sekere manier op en hoe kan jy maatskaplike verandering teweeg bring?”

Hy bly ’n oomblik stil.

“Jy sal dit nie glo nie, maar ek is veel meer van ’n introvert as ’n eks­trovert. Mense dink dikwels ek is ’n ekstrovert, maar ek vind openbare optredes baie stresvol. Om die waarheid te sê, toe ek in die politiek betrokke geraak het, wou ek nie ’n openbare figuur wees nie. Dis hoekom ek publieke administrasie gestudeer het: om ’n administrasie te skep en dan seker te maak dat dit werk.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.