Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Murray praat met Michélle: Rooi lippe en oorlog

Michélle van Breda, redakteur van SARIE, vertel aan Murray La Vita wat “mooi” is, en praat oor die groot verliese in haar lewe.

Michélle van Breda: “Ek het ’n verskriklike verantwoordelikheidsgevoel wat ek dink soms tot my nadeel is.” Foto: Adrian de Kock

Sy was agt jaar oud toe sy aan die hoof van die tafel gaan sit het.

“Sonder dat iemand iets gesê het, het ek daar gaan sit . . . Ek was die oudste,” sê Michélle van Breda.

Haar broer en suster was nog kleuters. “Ek was vier, vyf jaar ouer as hulle. Miskien was dit net instinktief dat ek besef het: dit is ek en my ma wat hierdie twee kleintjies gaan grootmaak; ons is nou in beheer van hierdie huis.”

Dit was net nadat haar ouers geskei is en haar pa die huis verlaat het.

“Ek het ’n verskriklike verantwoordelikheidsgevoel wat ek dink soms tot my nadeel is . . .”

Hierdie mededelings kom aan die einde van ’n onderhoud met Michélle in SARIE se kantoor op die 19de verdieping van ’n gebou in die Kaapse middestad. Sy is die afgelope 16 jaar die veelbekroonde redakteur van dié 68 jaar oue publikasie wat al meermale as Suid-Afrika se beste tydskrif aangewys is.

Álles gaan uiteindelik oor mense, doodgewone mense en verhoudings, verhoudings wat verkeerd loop en verhoudings wat hartseer is en daai gevoel van hopeloosheid

Voordat die onderhoud begin, gesels ons oor die verruklike uitsigte op die see en op Tafelberg en die stad. Ek maak ’n opmerking oor ’n wolkekrabber wat deur die legendariese Revel Fox ontwerp is en wat mooi bekyk kan word aangesien dit naby aan die gebou is waarin ons ons bevind.

Michélle sê die uitsig op dié gebou en die stad laat ’n mens ’n bietjie aan New York dink. Dit is een van haar gunsteling-stede. Wanneer ek haar later komplimenteer op die mooi, bonkige silwer Fulani-ring aan een van haar vingers, sê sy sy het dit in Ghana gekoop en dat sy dit baie geniet om in Afrika te reis.

Michélle is ’n besonder aantreklike en intelligente vrou met ’n heerlike sin vir humor. ’n Groot deel van haar bekoring lê waarskynlik ook daarin dat sy gesofistikeerd is, maar absoluut onpretensieus en geensins aanstellerig nie.

Michélle tydens die onderhoud in haar kantoor in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Sy het op Caledon in die Overberg grootgeword en aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer met die gedagte om ’n loopbaan in die diplomatieke diens te volg. ’n Ontmoeting met Piet Cillié, destyds hoof van die joernalistiekdepartement, het daartoe gelei dat sy die honneurskursus in die joernalistiek gevolg het en ’n joernalis geword het. Sy het by Die Burger begin en later Beeld se vroueredakteur geword voordat sy na SARIE is as skoonheidsredakteur en later Johannesburgse redakteur. In 2000 het sy na die koerantwêreld teruggekeer as senior assistentredakteur van Beeld. Toe sy in Maart 2001 SARIE se redakteur word, het sy gedink sy gaan dit net vir vyf jaar doen, maar dit is vir haar so vervullend dat sy “hooked” geraak het.

Michélle is met Dewald van Breda, ’n oud-koerantman, getroud en pendel tussen hul tuistes en haar kantore in Kaapstad en Johannesburg.

‘Wat is vir jou mooi?’

Die onderhoud begin by SARIE se voorbladgesig-wedstryd van die afgelope sewe jaar waarin ’n “gewone” vrou van enige ouderdom die geleentheid kry om op die voorblad te verskyn. Dié wedstryd is nou ook ’n TV-reeks – SARIE Voorbladgesig – op kykNET waarin die soektog na 2017 se voorbladgesig gewys word.

SARIE gaan nie oor skoonheidskoninginne en modelle nie; dit gaan oor gewone vroue wie se stories vertel word, en ek het net besef as hierdie vroue . . . as dít hulle wêreld is; as dít hulle taal is; as dít hulle bietjie inspirasie per maand is; as hulle SARIE ondersteun, dan het hulle die reg om ook op die voorblad te wees, so hoekom staan ons nie nou een van ons 12 voorblaaie af aan ’n leser nie? Sy wén die voorblad.

“50 000 vroue het al ingeskryf. Nou 50 000 is ’n rúgbystadion vol mense! Ons vergelyk dit altyd met rugby, want hier by SARIE is ons mal oor rugby,” sê sy laggend.

“Almal vra altyd hoe besluit jy op die voorblad? Wát maak ’n goeie voorblad? Ek het aanvanklik gedink dit het baie met selfvertroue te doen. As mense vir my gevra het: ‘Wat is vir jou mooi?’, sou ek altyd gesê het ’n vrou met selfvertroue, en ek dink dit is nog steeds vir my mooi, maar toe ek nou na die afgelope sewe jaar se wenvoorblaaie kyk, toe sien ek nie een van daai wenners loop óór van selfvertroue nie, daar was iéts anders, nou wát was daardie iets? En ek het gedink dit is ’n bietjie van ’n weerloosheid want hulle is uit hulle gemaksone. Om voor ’n kamera in ’n ateljee te wees is nie speletjies nie, selfs hierdie is nie speletjies nie (sy wys na die videokamera wat op haar gerig is) want die ding is jy moet van jouself gee; op die ou end hang dit van jóú af – jý moet gee en dis daai oomblik van gee wat die onsekerheid bring. Maar dan die bereidwilligheid om te wys wie ek is – hier is ’n bietjie van my.

“So, jy loop by daai rak verby en jy sien die oë, jy sien miskien die lyftaal en jy weet hier is ’n bietjie van ’n eerlikheid. En dis baie maklik, amper ’n cliché, om te sê eerlik; wát is eerlik? Maar dis net ’n gevoel wat jy kry: hier is ’n vrou wat vir my ’n bietjie van haar wys en ek is nou nuuskierig oor haar. So, mooi in voorbladterme vir SARIE is meer ’n emosie as wat dit skoonheid is. Dis meer iets wat jy vóél as wat jy sién.”

Die ‘lipstick effect’

Ons gesels oor haar liefde vir nuus.

“Toe George Bush (sr.) Irak aangeval het . . . Ek het nie gedink ek sal in my lewe konvensionele oorlogvoering op TV sien nie! En CNN is embedded! Joernaliste is deel van hierdie konvooi!

“Ek kan onthou ek was nog SARIE se skoonheidsredakteur daai dag toe ons die eerste keer daai beelde op TV sien deurkom het . . . Ons was besig om rooi lipstiffies te skiet, produkskote, en kyk dis moeilik om ’n lipstiffie af te neem nè, dit kan úre neem om ’n regte goeie produkfoto te neem met goeie glans en goeie beligting. En ek het so na daardie lipstiffies gekyk en gesê: Nou is ek op ’n verkeerde plek; hoe bring ek nou hierdie rooi lipstiffies by die oorlog dáár?”

As camouflage-drag in die mode is, is daar ’n rede daarvoor – êrens veg ons 'n oorlog of êrens wíl ons nie meer 'n oorlog veg nie.

Later sou sy ’n skakel tussen die twee wêrelde ontdek.

“Min het ek toe geweet van die hele ding van hoe die verkope van rooi lipstiffies ná 9/11 wêreldwyd die hoogte sou inskiet; hulle noem dit the lipstick effect. In moeilike tye sal mense dikwels kléin bederfies koop. En met rooi . . . vroue dra nie sommer net rooi nie, hulle dra dit om te sê: ‘Ek is hier. Kyk vir my, ek gee nie op nie. Ek is ’n krag.’

“So ja, nuus is vir my opwindend. Én om goed in konteks te sien. Álles gaan uiteindelik oor mense, doodgewone mense en verhoudings, verhoudings wat verkeerd loop en verhoudings wat hartseer is en daai gevoel van hopeloosheid . . .”

Blou is nie net blou nie

Miranda Priestly, ’n karakter wat waarskynlik op die Vogue-redakteur Anna Wintour geskoei is, praat in The Devil Wears Prada oor die belang en krag van mode in ’n samelewing.

“Sy praat ook van cerulean blue daar. Sy sê blou is nie net blou nie. Dít is die gesprekke wat ons baie by SARIE het – níks gebeur net sommer nie . . . as marsala die kleur van die jaar is, as daai diép wynrooi, daai diép, diép wynrooi die kleur van die jaar is, is daar ’n rede daarvoor. As camouflage-drag in die mode is, is daar ’n rede daarvoor – êrens veg ons 'n oorlog of êrens wíl ons nie meer 'n oorlog veg nie. As wít ’n groot ding is . . . mense soek kalmte, probeer wegkom van hierdie geraas. Groot serpe . . . dis die reisiger in ons, so of ons nou die geld het om te reis en of ons net reis want ons sit agter ons rekenaar en ons kan mos nou oral uitkom; dis die vrye gees om te beweeg oor grense heen. Goeters gebeur met ’n rede.”

Mode registreer wat in die wêreld gebeur.

“Ja, of dit nou die rooi lipstiffie is of die groot serp waarin jy jou toedraai; die rugsakke wat nou so in is, dis omdat mense letterlik meer kan beweeg. En of dit kós is en dekor – mode, skoonheid, kos, dekor; dis hoekom ons hulle alles sáám beplan by SARIE want hulle het diesélfde oorsprong. Níks gebeur sommer net nie. Dit spreek van die vervlegtheid van dinge.”

Die uitdaging is dat elke uitgawe ’n enkele boodskap uitdra wat regdeur die tydskrif resoneer.

‘Gee van jouself’

Net voordat sy SARIE se redakteur geword het, het Michélle na oudredakteur Izak de Villiers toe gegaan vir raad.

“Want skielik besef jy hierdie tydskrif . . . vanjaar is hy 68 jaar oud. En omdat ek die oudste kind is, neem ek onmiddellik die verantwoordelikheid op my skouers; ek vóél die verantwoordelikheid.

“Ek het vir Izak gesê: ‘Gee vir my ’n paar punte.’ En hy het vir my gesê: ‘Maak dit móói. Vroue hou van mooi dinge. Hierdie tydskrif moet soos ’n geskenk wees elke maand.’ So dis mý geskenk, mý stukkie inspirasie . . .”

Hy het ook vir haar gesê ’n redakteur kan nooit op die grens staan nie; sy moet van haarself gee.

“Dit was vir my die moeilikste ding. Jy moet boots and all inklím. Hulle moet weet wie jy is en jy moet weet wie hulle is. Jy verwag van hulle om hulle stories vir jou te vertel want dít is jou tydskrif – jy vertel jou lesers se stories; dit is waar jy jou inspirasie en jou styl vir die tydskrif kry. Wat gee jy in ruil? En dit was vir my moeilik want ek is . . . ek hou baie van mense en ek hou van gesels, maar ek is meer ’n introvert. Ek sal eerste dink: hoe gaan ek hieruit kom of in watter hoek gaan ek sit? Dis my éérste, éérste gedagte, en dan begin die binnegeveg. So vir mý om te gee en om oor my hare te praat én oor skool én my vrese én my vreugdes, was moeilik.

“Maar ek kon die vrugte daarvan sien. Ek kon die emosionele konneksie tussen my en die span en die leser voel. SARIE is nie sommer ’n tydskrif nie; SARIE is dié tydskrif; SARIE is SARIE.”

’n Groot verlies

Ek vra haar uit oor innerlike krag en om selfgedrewe te wees.

“Nou waar dit vandaan kom, weet ek nie . . . Baie mense sal sê dit moet ’n spirituele oorsprong hê . . . Dit móét spiritueel wees want dit is seker ook wat my deurgedra het toe my broer, Francois, dood is.”

Hy is in 1996 in Kaapstad in die spervuur van strydende taxifaksies doodgeskiet.

“Daai ding het my hard geslaan . . . Ná sy dood was daar twee jaar wat vir my heeltemal vaag is. Ek weet nie hoe ek gewerk het nie; ek kan nie onthou dat ek iets van waarde gedoen het nie . . . Maar álmal van ons gaan deur erge goed en ek het besef in jou gebrokenheid kry jy amper weer nog ’n kans om jouself weer op te bou en die stukke soms op ’n ander manier aanmekaar te sit.

“Ek dink Francois se dood het my ook laat besef dat watter probleem ook al opduik . . . dis nie asof daar nie vrees en onsekerheid is nie, maar dan is daar ’n ander stemmetjie wat vir my sê: Ons sal dit kan maak.”

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.