Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
My lewe het verloop soos dit moes, sê Mimi op 85

Suid-Afrika se wêreldbekende operasopraan Mimi Coertse het pas 85 geword. Sy sing selde meer, eintlik maar net vir haarself, het sy aan Teresa Coetzee gesê.

Mimi Coertse in haar huis in Waterkloof, Pretoria.Foto: Teresa Coetzee

Sy was dáár, op eeue oue verhoë, waar sy dikwels staande toegejuig is as een van die beste operasangers wat nog ooit gehoor is.

Dáár waar sy gereken is as een van die wêreld se beste koloratuursangers (soprane wat die hoogste note kan sing), ook bekend vir haar manjifieke vertolking van die Koningin van die Nag in Mozart se Die Zauberflöte, die rol wat sy 520 keer in verskillende tale en lande uitgevoer het.

“Al die toekennings wat ’n mens oorsee kan kry, het Mimi al gekry,” vertel haar vriend Coert Grobbelaar, ’n operasanger.

Sy was dáár, in soveel verskillende lande, waar groot bosse vars gesnyde blomme waarderend in haar oop arms gesit is terwyl swaar fluweelgordyne stadig agter haar neergesak het.

In 1966 het die president van Oostenryk haar vereer met die titel van Kammersängerin vir tien jaar se hoofrolle in operas as permanente lid van die Weense Staatsopera.

Sy het al in die vernaamste operahuise in Wene, Napels, Athene, Basel, Berlyn, Genève, Den Haag, Brussel, Düsseldorf, Graz, Salzburg, Barcelona, Stuttgart, Londen en veel meer opgetree.

•••

    Nou vind mens haar hiér, in die boomryke Waterkloof in Pretoria, in haar imposante grasdakwoning saam met haar twee huiswerkers en tuinman, en haar twee honde Roberto en Schatzli.

    En sy wil nêrens anders wees nie. Al het sy meer as 20 jaar in Wene gewoon, bly Suid-Afrika haar huis. Hier wil sy oud word en sterf.

    Coertse het op 12 Junie 85 geword. In haar pragtige huis tussen haar ingevoerde meubels en duur skilderye voel sy deesdae op haar gelukkigste.

    Teen die mure pryk ’n paar skilderye van haar groot vriendin, wyle Bettie Cilliers-Barnard, en die ornamente in die res van die huis vertel talle stories van haar roemryke verlede.

    “Ag my hartjie, hoe moet ek nou vir jou probeer verduidelik waarmee ek my deesdae besig hou,” antwoord sy die vraag.

    “Ek doen maar net dieselfde goed as altyd,” sê sy.

    Sy lees. Sy vertel van haar kinders en bedrywige kleinkind wat baie daar kom kuier. Sy kuier met haar vriende. Haar huiswerker Precious bestuur haar motor en vat haar waar sy wil wees.

    “En so gaan dit maar,” sê sy.

    Sy sing selde of ooit meer, “eintlik meer maar net vir myself,” lag sy.

    As Angelica in Suor Angelica, 1987.
    Mimi Coertse en Jopie Heesters toe hulle in 1960 saam in die operette Die lustige Witwe gesing het.
    ’n Jong Coertse in ’n kostuum.

    Haar houding is nog fier en regop en van die 85 jare in haar uurglas word daar net mooi niks verklap op haar feitlik plooilose gesig en gitswart hare nie.

    “Ag man, dankie dat jy dit nou sê,” lag sy so effe verleë. “Seker maar my ma se goeie gene. Ek kan met ’n rein gewete sê dat ek nooit in my lewe ’n facelift gehad het nie.

    “Ek sal wel nou maar erken dat ek destyds my ore platter laat maak het, want my pruike wou nooit oor my ore pas nie. Maar die res is seker maar net goeie gene. Ek is gelukkig dat ek geen oumenskwale het nie. Ek onthou net nie deesdae meer so lekker nie,” sê sy.

    Hier waar sy in die regop, antieke, gestoffeerde stoel met die mooi houtafwerkings sit, is Mimi vrolik en vol grappe. Die mense wat haar ken, sê sy kon op haar dag uitbundig lag en haar sin vir humor was legendaries.

    Maar moenie hierdie ou lady verkeerd opvryf nie, want die prima donna het maklik gesê wat sy dink en voel en vir ’n swetswoord is sy nie bang nie.

    Daar was menige mens wat openlik bang was vir haar – en met reg. Sy het haar lewe lank presies geweet wat sy wil hê en hoe dit gedoen moet word.

    Maar sy sit nie vandag hier met opgekropte gevoelens en emosies nie.

    “Ek is nie regtig spyt oor enigiets nie. Ek het ’n interessante lewe gehad,” mymer sy.

    Ongelukkig het die roem en status haar nie heeltemal teen die hartseer van die lewe gepantser nie.

    Haar eerste huwelik, met Dawid Engela, ’n bekende in musiekkringe, het misluk. (Hy is later in ’n motorongeluk by Laingsburg dood.)

    Haar tweede huwelik, met die Italiaanse sakeman Diego Brighi, was ook nie suksesvol nie.

    Later is Mimi met die sakeman Werner Ackermann getroud, maar hulle is ná byna 24 jaar geskei.

    “ ’n Vrou bly nie lekker by ’n man wat haar nie goed behandel nie,” sê sy.

    “Maar my lewe het verloop soos dit moes, in daardie tye was my huwelike die regte ding gewees om te doen.”

    Mimi se begeerte om haar eie kinders te hê is ook nooit verwesenlik nie. Ná vyf miskrame het sy haar dogter Mia en seun Werner aangeneem.

    Terwyl sy oorsee was, het ’n vriend haar aangeraai om haar geld in ou meubels en Persiese tapyte te belê. Vandaar haar ryke versameling.

    Dit was ’n groot slag vir die Weense Operahuis toe Mimi in 1973 aangekondig het dat sy wil terugkeer huis toe. Hulle het voorgestel dat sy ses maande van die jaar steeds dáár moes deurbring, maar Mimi wou nie haar kinders ontwrig nie.

    Sy en Neels Hansen het later die Black Tie Ensemble begin. Dit is 1999 gestig en lei operasangers voltyds op.

    •••

      “Vyf en tagtig,” sê sy. Sy bly so rukkie stil en sê dan: “shit”.

      Dis juis vir hierdie verjaardag wat Grobbleaar onlangs vir haar ’n huldigingskonsert by die LemonJack-teater in Centurion gereël het.

      Sangers soos Goitsemang Lehobye, Michelle Veenemans, Dewald von Solms en Chris Mostert het almal saam met Grobbelaar opgetree en Mimi toegesing.

      Mimi het geskitter. Statig soos altyd.

      Die woord “sopraan” is ook aan haar oorhandig,

      (Die WAT het ’n Borg ’n Woord-projek waar jy ’n woord vir iemand kan koop en dan “behoort” daardie woord aan dié persoon.)

      “Liewe Here, daar het hulle my weer gevang,” het Mimi by die konsert vertel.

      “Ek het niks hiervan verwag nie. Ek verstaan nie waarom maak die mense so ’n ophef nie.”

      MyStem: Het jy meer op die hart?

      Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

      Ons kommentaarbeleid

      Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

      Stemme

      Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.