Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘My pa, die sensitiewe monster’

Alles in sy roman oor sy pa wat “probeer het om my ma se kop met ’n metaalpyp te verbrysel, en toe weer en weer en weer probeer het om haar keel met ’n stuk gebreekte glas af te sny”, is waar, sê Pieter Paul Fourie aan Murray La Vita.

Pieter Fourie (48) sê naas die wêreld “van bestuur en die rasionele” in sy akademiese loopbaan sien hy uit daarna om skryf as ’n stokperdjie te bedryf. Foto: Retha Ferguson

Dié verskriklike woorde kom uit die mond van die seun Paul in Fourie se debuutroman ’n Hart is so groot soos ’n vuis, ’n boek oor “geheue en herinnering, en geweld en emosionele oorlewing”.

Die onderhoud met Fourie vind plaas by ’n tafel buite die restaurant van die Botaniese Tuin in Stellenbosch, waar hy aan die universiteit ’n professor in politieke wetenskap en vise-dekaan in die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe is.

Hy beskryf sy roman – ’n aangrypende werk waarin te midde van die fisieke en psigiese foltering ook groot skoonheid is – as ’n “gefiksionaliseerde weergawe” van dinge wat met hom gebeur het, maar sê al die beskrywings van geweld is “waar én akkuraat”.

Ook die geweld en ontwrigting wat die jong Paul laat sê:

“Ek wil voel, ek wil enige iets voel, ek wil ingesluit word. In plaas hiervan is ek magteloos, drywend iewers agter my oë. Ek is nie betrokkenheid werd nie, nie slae nie, nie aandag nie, nie verkragting nie.”

‘Verstar en geskok’

“Dít is die horror van ’n huis van geweld, veral as die geweldenaar ’n ontsettende sensitiewe en charismatiese persoon is.” Foto: Retha Ferguson

Die gedrag van die pa wissel van monsteragtig wreed tot teer en sensitief.

“Dít is die horror van ’n huis van geweld, veral as die geweldenaar ’n ontsettende sensitiewe en charismatiese persoon is en self ook die slagoffer van geweld is. Ek dink my pa . . . die pa in die boek . . . was tot ’n groot mate ook verstár en geskok deur die geweld wat hyself beteken het op mense.

“En ek dink een van die ander manifestasies daarvan is hierdie sug wat hy het . . . gehád het – ek ken hom nie meer nie, hy leef nog, maar ek en hy is vervreem – om te connect en betekenisvolle interaksie met mense te hê.

“Maar die resultaat daarvan is jy sit in óf die hemel óf die hel en jy het nie die middelgedeelte in só ’n huis met só ’n persoon nie. Hy doen nie small talk nie; hy is ontséttend intens; hy is ontsettend charismaties; aantréklik; mense is maklik lief vir hom. Maar dan is daar hierdie ánder kant; hierdie geváárlike kant, wat óók aantreklik is, dink ek, vir baie mense.

“Hy laat jou soos ’n gód voel in die hemeltye en jy wil hom indrínk en by hom wees en hom liefhê. En ten spyte van álles . . . Ek sal nóóit weer met hierdie man kontak maak nie . . . Maar ten spyte van alles is daar nog in my hierdie seuntjie wat hom . . . dalk nie liefhet nie, maar verskriklik graag wíl liefhê.

“Dít tesame met ontséttende vrees vir die chaos en die . . . Ja, ek het nie woorde om dit mee te beskryf nie. Die ontsettende hórror wat daar is aan die een kant maar ook die hemelsheid van om naby hom te wees.”

‘Kalmte en orde, asseblief’

“Hy laat jou soos ’n gód voel in die hemeltye en jy wil hom indrínk en by hom wees en hom liefhê.” Foto: Retha Ferguson

Die sielkundige oor wie hy skryf “en wat ’n regte persoon is”, het aan die einde van hul terapie gesê:

“Oppas dat jy nie eendag die chaos uítsoek wanneer jy te veel stabiliteit en normaliteit in jou lewe het nie.”

“Soos Dorothy Parker, wat ek in die roman aanhaal, sê: ‘They sicken of the calm who know the storm.’

“En gelukkig . . . Ek dink nie dít is my swakheid nie. Ek wil absolúút kalmte en orde hê; ek wil véilig voel – dít is my groot beweegrede.

“Maar ek kan verstáán dat daar mense is wat in so ’n huis grootgeword het wat daai opwinding wil hê – nie net weens masochisme nie, maar omdat daar ongelooflike intimiteit in ’n geweldskonteks is.

Daar is ook hierdie kultusse rondom organisasies soos Alkoholiste Anoniem wat sê hierdie persoon is siék; dis nie eie aan hul persoonlikheid nie.

“En solidariteit met mense wat saam met jou ly. Daar is die seduction van mense wat kan sê: ‘O, ek is ’n alkoholis; ek is ’n verslaafde; ek ly aan depressie, en dáárom doen ek hierdie goed.’

“Daar is ook hierdie kultusse rondom organisasies soos Alkoholiste Anoniem wat sê hierdie persoon is siék; dis nie eie aan hul persoonlikheid nie. Daar is allerhande meganismes wat die horror wegvat van die persoon af.

“Dít maak dit baie gekompliseerd om te sê liefhê of haat. Wie is die persoon en wie is die geweldenaar? Dis nie maklik nie. En wat dit nóg meer kompliseer in hiérdie boek en in my eie lewe is my halfbroer. Die Ben-broer in die boek is báie lief vir sy pa, vandag nog. En hy sien om na sy pa en sy pa sien om na hom op maniere wat ek nie kén nie. Ek kan dit nie eens imagine nie. So, dis nie eenvoudig nie.”

‘Waar is die vreugde?’

“Ek wil absolúút kalmte en orde hê; ek wil véilig voel – dít is my groot beweegrede.” Foto: Retha Ferguson

Dit was nooit sy plan om hiérdie boek te skryf nie. Hy was trouens besig om te werk aan die eerste van ’n reeks “literêre krimi’s” oor mense wat verraai word en dan wraak neem – iets waarmee hy nou voortgaan.

“In 2016 het ek die bestuurskant van die fakulteit ingegaan as ’n vise-dekaan, en daarmee saam kan ’n mens toegang kry tot Margaret Orr, wat die coach van die hele universiteit is; sy help bestuurslede om te praat. Sy het voorheen ook Engels gegee, so sy is ’n tale-mens.

“Heel aan die begin van ons sessies het sy sulke toetsies gedoen: Hoe dit met jou gaan in jou lewe en waar daar behoeftes kan wees waaraan jy aandag kan gee om dinge beter te laat werk, want as iets uit balans is, gaan dit jou werk ook beïnvloed.

“En toe sê sy alles lyk vir haar mooi in balans, maar dit lyk nie of ek noemenswaardige vreugde in my lewe het nie. Toe vra sy: ‘Wat was die laaste ding wat jy in jou lewe gedoen het waar jy gevoel het tyd is nie ’n kwessie nie en jy vergeet heeltemal van jouself en laat jouself so daarin opgaan . . . Dit is net beautiful. Jy is soos ’n kind in terme van jou ervaring van dinge.’

“Toe sê ek: Wel, niks eintlik nie, maar die laaste keer wat ek daardie dinge gevoel het, was toe ek in my middel-20’s ’n kortverhaal geskryf het wat gepubliseer is en dít was nogal lekker.

Ek was bang dat as ek in my moedertaal skryf, kan dit sentimenteel wees.

“Dan moet ek dít doen, sê sy. Toe ek dit begin doen, was dit soos om ’n drug te neem. Dit was so ’n lékker gevoel. Sy sê toe ek moet daarmee aanhou. ‘Sit die goedjies wat jy skryf – dit kan ’n skerfie wees – op Facebook vir so ’n halwe dag en dan haal jy dit af. En dan volgende week weer.’

“En die momentum wat dít geskep het, het letterlik daartoe gelei dat ek van Junie tot Desember 2017 120 000 woorde geskryf het.”

Daaruit het sy boek gegroei.

“Ek het dit in Engels gedoen [dit is deur Marius Swart in Afrikaans vertaal] omdat dit persoonlike goed is. Omdat dit intieme goed is, het ek geweet die doodsteek van soiets is daai traantjie en die sentimentaliteit. Ek was bang dat as ek in my moedertaal skryf, kan dit sentimenteel wees; dit kan dalk my refleks wees om soontoe te gaan terwyl ek meer van ’n afstandelikheid kan volhou in Engels.”

Pyn en chaos

Fourie sê die pa-karakter in sy roman is “’n kombinasie van die charisma van ’n Hannibal Lecter [gesofistikeerde kannibalistiese reeksmoordenaar in Silence of the Lambs] en die geweld van ’n Jack Torrance [die pa-karakter in The Shining].

Die pa, ’n dramaturg en skrywer, begin later in sy lewe sielkunde studeer met die oog daarop om ’n kliniese sielkundige te word.

Ek weet dit klink sentimenteel . . . maar ek dink hyself is en was nog altyd horrified oor die Hannibal Lecter in homself.

“Ek dink hy was in soveel pyn – ís in soveel pyn – in sy lewe dat daar ’n versugting binne homself is om die chaos binne homself ook te probeer verstaan.

“Ek weet dit klink sentimenteel . . . en ek kry hom nie jámmer nie . . . maar ek dink hyself is en was nog altyd horrified oor die Hannibal Lecter in homself en die chaos en die waansin.”

‘Ouma, dementor, slang’

“Ek dink ek sal absolúút wreed wees indien my gevoel van veiligheid bedreig word.” Foto: Retha Ferguson

Hy praat oor sy woede jeens “medepligtiges”.

“Die éintike woede, die mees ongenaakbare ráge, het ek teenoor die medepligtiges, die enablers. Die mense soos die ouma.”

Hy beskryf haar in die boek as ’n “dementor” en ’n “slang”.

“En mense soos Meneer en Mevrou Regter [bure van hulle in Bloemfontein] en die onderwysers en die ouers se werkskollegas. Die gesin is só geïsoleer. Die siek man hóú jou geïsoleer, en gesinne waarin daar ’n alkoholis is, is in élk geval geïsoleer en dan trek jy 17 keer in jou grootwordjare; jy kan nooit vriende maak nie.

“Ál waarop jy dan kan staatmaak – by nabetragtings – is iemand wat sien wat gebeur en iets daaraan doen. Maar hulle hét nie; selfs al weet hulle daarvan.”

‘’n Soort pornografie’

In ’n Hart is so groot soos ’n vuis, skryf hy:

“En ek weet dis alles ’n soort pornografie dié. Kyk my wond. Laat ek vir jou my kneusplek wys. Dis vernederend. Dis onvanpas. Dis derms uitryg.

“Maar die ding is, ek weet nou hoeveel krag daarin lê om iets ’n naam te gee, dit hardop te sê, dit uit te spreek. Ek weet hoe geweldig boos dit kan wees om boosheid nie uit te wys en dit pertinent ‘boos’ te noem nie. Ek sal nie weer stilgemaak word nie. Ek weier om medepligtig te wees aan my eie verskrikking deur dit nie op die naam te noem nie. Ek sal dit uitspreek, ek sal dit beskryf, ek sal dit uitgil, ek sal dit uitskree. Ek moedig ander aan om dit ook te doen, maar ek weet dis nie vir hulle maklik nie; ek sal probeer om nie krities te wees oor hulle swye, hulle skouerophalinkies nie.”

‘Ook wreed’

Fourie se debuutroman het pas by Kwela verskyn. Die Engelse uitgawe heet The Heart is the Size of a Fist.

Fourie sê hy dink Paul het ook ’n wreedheid in hom.

“As ek die grens kan ophef en oor myself praat: Ek dink ek sal absolúút wreed wees indien my gevoel van veiligheid bedreig word.

“Julian Barnes skryf in Sense of an Ending daar is mense wat die pyn wat hulle in hul lewens ervaar het, eien en dit probeer versag; dié wat ander mense teen pyn probeer beskerm, en dan is daar die mense wat só graag veilig wil wees en nóóit weer daardie pyn wil ervaar nie dat hulle enigiets sal doen om dit te vermy, ‘and those are the ones who are ruthless and the ones to be careful of’.

“En my wete, of vrees, is dat Paul, en ék, deel van laasgenoemde groep is.”

Meer oor:  Alkoholisme  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.