Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘ ’n Boodskap aan jou wat ingekerker is’

Mense beleef nou vereensaming en het 'n diep behoefte om te weet hulle is nie alleen nie, sê die teoloog en skrywer prof. Cas Wepener aan Murray La Vita.

Prof. Cas Wepener: “Soms moet geloof wankel sodat geloof weer moontlik word, god moet sterf sodat God weer moontlik word.” Foto: Deaan Vivier

Die gesprek met Wepener, ’n hoogleraar in praktiese teologie in die Universiteit Stellenbosch se teologiefakulteit, begin by die rol wat geloofsgemeenskappe te midde van die Covid-19-pandemie in mense se lewens kan speel.

“Ek kan die vraag op verskeie wyses beantwoord. Eerstens teologies: Ek vermoed jy ken die gedig ‘Eucharistie’ van Sheila Cussons. Die spreker wil baie graag kerk toe gaan en spesifiek in die ry by die altaar gaan staan om die tekens van brood en wyn te ontvang.

“Sy word egter deur haar fisieke toestand daarvan weerhou. Wanneer sy dan in die kombuis staan en kook, val ’n druppel sweet op haar vel en sy weet Hy is nie net ‘daar’ nie maar ook ‘hier’.

Dit is ’n teologiese bydrae wat ’n angswekkende leë woonstel of kamer in ’n gevulde ruimte verander.

“Dis die primêre rol van geloofsgemeenskappe nou: Ons mense is in uitdagende tye, moeilike omstandighede, beleef vereensaming en het ’n diep behoefte om te weet hulle is nie alleen nie.”

Verskillende geloofsgemeenskappe bied dit waaroor Cussons skryf op verskillende maniere.

“Dis soos in Johannes waar Jesus vir die dissipels sê Hy gaan weg en hulle word alleen agtergelaat, maar terselfdertyd die belofte van die Parakleet gee. Dit is ’n teologiese bydrae wat ’n angswekkende leë woonstel of kamer in ’n gevulde ruimte verander.”

‘Verlore sonder dié netwerke’

ZCC-lidmate in Moria buite Polokwane.Foto: Argief

Die bydrae van geloofsgemeenskappe kan ook sosiologies beskou word.

“My vrou, Clara, het pas haar nagraadse studies in spraakterapie voltooi oor jongmense, versprei oor ons land, wat glad nie kan praat nie.

“Baie van hulle spandeer groot dele van hul dag alleen in klein ruimtes. Dit was nie die fokus van haar studie nie, maar in elke onderhoud en fokusgroep was daar ’n duidelike lyn: Sonder ons geloofsgemeenskappe se netwerke was ons heeltemal verlore.

Geestelike kapitaal is van onskatbare waarde en is iets waaruit mense nou skep in hierdie tye.

“Dít is wat ons godsdienstige sosiale kapitaal kan noem, bog vir baie, ’n lewensaar vir ander. ’n Ander konsep hier is geestelike kapitaal wat van onskatbare waarde is en iets is waaruit mense nou skep in hierdie tye.

“Dit is baie maklik om vlak na iets soos die Zion Christian Church (ZCC) se pelgrimstog na Moria te kyk en dit net in geldelike terme te skat.

“Die mense wat daarheen gaan, woon meestal nie knus in ’n woonbuurt soos ek nie en die algehele belewenis wat hulle daar kry (om nie eers te praat van die netwerk van ondersteuning nie) is nie net ’n krag waaruit hulleself put nie, dis ook ’n soort spirituele kapitaal wat hulle terugneem na daar waar hulle vandaan kom en terugploeg in hulle eie gemeenskappe.”

Maatskaplike bydrae

“En dan het ek nog niks gesê oor die maatskaplike bydrae soos doodgewone verligting van nood van lewensmiddele en ander ondersteuning betref nie.”

Daar is min instellings wat die werklik armste van die arm mense in ons land bereik, soos geloofsgemeenskappe, en dit gebeur meestal ongesiens, sê Wepener.

“Soms is dit die geloofsgemeenskappe self en soms is dit hul netwerke wat as kanale dien om op plekke te help waar ander nie uitkom nie.

“Natuurlik is ek bevooroordeeld, maar dis altyd net die negatiewe rol van geloofsgemeenskappe wat in die media lugtyd kry om so ’n drogbeeld te skep. Dat daar drooggemaak word, word nie ontken nie, maar daar is veel meer wat gesê kan word as dit.”

Kloof tussen ryk en arm

Daar was al voor die pandemie in baie geloofsgemeenskappe ’n bewussyn van die nood en weerloosheid van armes en haweloses.

“As ons kyk na wat Badisa en Gift of the Givers byvoorbeeld alreeds mee besig was, sal ons dit sien. Tog word die enorme kloof tussen ryk en arm nou nog meer sigbaar en kan ongelykheid as ’n probleem hoegenaamd nie meer net iets bly om oor te teoretiseer nie.

Dalk is dit goed as geloof in ’n sekere God begin wankel, want van ons grootste probleme lê lepel met verwronge uitgediende godsbeelde.

“Dit is duidelik dat wat reeds gedoen word, moet voortgaan en dat veel meer gedoen kan word. Ek glo ons gaan ná hierdie tyd ’n groter sensitisering hê van die omvang van ons probleme wat kan help met vinniger mobilisering.

“Dan is daar ook die wyses waarop kerke en ander organisasies met mekaar saamwerk – dit word duidelik dat deel van die uitdaging is om sinvol hande te vat oor baie grense heen, ook geloofsgrense en dat verskillende geloofsgemeenskappe sterker gaan wees as hulle saamstaan en -werk.”

‘Geloof moet wankel’

Die digter Sheila Cussons.Foto: Amanda Botha

Kan iets van hierdie skrikwekkende omvang mense laat vra: Waar is God nou? Hoekom laat Hy dit toe? Dus: Kan dit mense se geloof laat wankel?

“Dalk is dit goed as geloof in ’n sekere God begin wankel, want van ons grootste probleme lê lepel met verwronge uitgediende godsbeelde.

“Die filosoof Richard Kearney skryf hoe geloof in ’n teïstiese God, wat gesien is as byvoorbeeld die ou op die wolkie wat sit en toutjies trek, ná Auschwitz gewoon nie meer kon deug nie.

Aan die einde van Job en in soveel ander Bybeltekste is daar dan ook die antwoord oor waar God die hele tyd was – by mense in hulle swaarkry.

“Soms moet geloof wankel sodat geloof weer moontlik word, god moet sterf sodat God weer moontlik word. Dalk loop ek sake nou vooruit, maar om direk oorsaaklik nou oor die gebeure te dink help niemand nie, inteendeel. Om wel daaroor te dink is baie belangrik en dit is waarom goeie teologie van belang is en waar die predikante, imams, rabbi’s nou ’n mooi bydrae kan maak.

“Ek dink dis goed om daardie moeilike vrae vas te hou, maar om ook met tekste wat ook daarmee gestoei het in gesprek te tree, soos Job.

“Toe Job se vriende daarop aangedring het dat wat met hom gebeur die gevolg van sy sonde is, was sy antwoord: ‘Met julle sterf die wysheid uit’. Ek hou baie hiervan, want die skrywer [van die boek Job] het sy humorsin behou. Aan die einde van Job en in soveel ander Bybeltekste is daar dan ook die antwoord oor waar God die hele tyd was – by mense in hulle swaarkry.

“In ’n harder toonaard wil ek byvoeg: Blatante oorsaak-gevolg-denke wat God koppel aan die pandemie én redes om sodoende sake maklik en klinkklaar te verduidelik, moet gewoon bestry word.”

Kuber-bediening

’n Tipiese Nagmaalstel wat dikwels in die kerk gebruik word.Foto: Argief

Die staat van inperking stel geweldige uitdagings aan leraars en hul tradisionele bediening.

“Maar tegnologie bied soveel moontlikhede. Op die oomblik is dit die leraars in die diep platteland wat die grootste uitdagings beleef, as gevolg van swak selfoonseine of stadige WiFi en oral is die bekostigbaarheid van data ’n uitdaging.

“So ja, wat sommige leraars tegnologies nou doen, is fantasties, maar dis ongelukkig glad nie vir almal beskore nie. En tog is daar min leraars wat nie in hierdie Paastyd, hetsy skriftelik per SMS of e-pos, in ’n oudio-formaat of met ’n opname, hul lidmate help om die Paastyd te vier nie.

Daar is byvoorbeeld ou tradisies wat afgestof word.

“Wat ek tot op hede gesien en beleef het, is wonderlik. Die kreatiwiteit om die liturgie in mense se wonings in te neem, om hulle te help om self en via die sosiale-media-netwerke met ander voort te gaan met hul vierings van Lydens- en Paastyd, is ongelooflik.

Daar is byvoorbeeld ou tradisies wat afgestof word, waar mense (wanneer meer as een persoon in ’n woning is) aan tafel gaan en ’n kind aan ’n volwassene vra: “Waarom is hierdie dag anders as al die ander dae?

“En dan begin die vertellings wat niks anders is as onthou nie, en onthou is die kern van liturgie en viering – om die verlede na die hede te bring en sodoende ’n nuwe toekoms te laat oopgaan.”

‘Ons velle ly’

Hier is ’n uitdaging en ’n geleentheid.

“Ek dink die sintuig wat nou die meeste ly, is die tassintuig, ons velle. En die mure word vir baie bedreigend.

“Soveel leraars help mense om tuis klein rituele te doen en om tuis Nagmaal te vier, met ander woorde om aktief sintuiglik met geloofsgewoontes besig te raak wat meer is as net sit en kyk en luister, maar om dinge te doen waardeur hulle vat en ruik en proe. Dis soos die sweetdruppel op Cussons se vel en vir baie regtig betekenisvol, veral in hul afsondering.

“Dan is daar die pastorale kant en min leiers in geloofsgemeenskappe is nie nou daarmee besig nie. Hulle bly gekonnekteer aan hul lidmate via e-posse, selfoonboodskappe, Zoom ens., en probeer mense bystaan so goed as wat hulle kan.

“Dus, al word fellowship uitgedaag, besef al meer mense dat virtuele fellowship geensins oneg is nie. Natuurlik vervang dit nie die ware Jakob nie, maar dat dit moontlikhede bied wat benut word, is gewis.

“Daar het onlangs ’n Kubernagmaal-artikel op Netwerk24 verskyn waarin ons ’n paar van die konsepte gegewe die kuberruimte uitpak.” (Lees hier.) 

Oor dokters en dominees

“Aan die einde van Job en in soveel ander Bybeltekste is daar dan ook die antwoord oor waar God die hele tyd was – by mense in hulle swaarkry.”Foto: Deaan Vivier

Die Covid-19-pandemie laat die fokus baie sterk val op die wetenskap en hoe dit klaarblyklik ons enigste heil met betrekking tot ’n mediese oplossing is. Het dit die potensiaal om die rol van geloof in die menslike bestaan te knou? Belig dit die spanning tussen wetenskap/rasionele denke en geloof?

“Die wetenskap werk kliphard om mense te dien met genesing. Is dit nie wat goeie teologie ook doen nie? Ek glo dit is twee kante van dieselfde munt. Engels praat van curing en healing. Die dokters cure en die dominees heal en die mensdom benodig albei.

’n Mens leef ook nie van medisyne alleen nie.

“Die wonders van die wetenskap laat my net verder verdiep raak in die groot misterie, want rasioneel staan nie teenoor geloof nie. Goeie teologie is geloof wat na begrip soek (volgens Anselmus) en dus dien insigte uit die wetenskap geloof.

“Dis byvoorbeeld waarom Gereformeerde teologie aan ’n universiteit beoefen word – dit is voortdurend in gesprek met die ander dissiplines.

“ ’n Mens leef ook nie van medisyne alleen nie . . . Ek dink wetenskap kan geloof en teologie wel dien. Teologisering begin myns insiens in dié konteks, in ’n diepgaande verstaan van Covid-19, die gevolge en impak daarvan op die mensdom, wat ons weer help om onsself en God beter te verstaan en wat die teologie help om sinvol te reageer.”

Tyd van Lyding

Die skets wat die kunstenaar Oskar Kokoschka teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog geteken het.

Die Christelike wêreld vier nou Paasfees waarin die lyding van Christus sentraal staan. Hoe resoneer dit met wat nou in die wêreld aan die gebeur is?

“Ek dink hier aan ’n skets van Oskar Kokoschka. Hy het dit teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog geteken en as strooibiljette oor Londen versprei.

“Dis ’n teologies gelaagde prent. As jy na die opskrif kyk, dan sien jy dis ’n soort Kerskaart, vir die kinders van Europa daardie Kersfees.

“Met ander woorde Advent- en Kerstyd en juis ook waar die Christelike liturgiese jaar begin. En tog, tog is die INRI (Jesus van Nasaret Koning van die Jode), die kruis, die spyker, die doringkroon ook daar.

“Dit is dus ook Lydenstyd en dit is die lyding van Jesus wat ook aangebied word vir die kinders wat ly. Kyk jy nog dieper, sien jy Jesus se regterhand wat met ’n boog vorentoe afgaan.

“Daardie arm is geskoei op die Anastasis- (Opstanding) ikoon van die Ortodokse tradisie, die ikoon waarop Jesus uitgebeeld word hoe Hy met daardie selfde arm gestorwenes optrek na ’n ewige lewe – dus ook Paastyd.

“En hou jy aan kyk, sien jy verder dat ’n kind Jesus se hand eet, dus die Nagmaal. Die titel van die skets is ‘Solidêre Christus’.

“Kom ons verander die opskrif: ‘In herinnering aan almal wêreldwyd wat hierdie Paastyd ingekerker is’.”

Meer oor:  Cas Wepener  |  Geloof  |  Covid-19-Pandemie  |  Paastyd  |  Tegnologie  |  Godsdiens  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.