Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dokter vertel van haar 'wilde lewe'

Dr. Joan Louwrens (69) se avontuurlustigheid het haar op die mees afgeleë plekke ter wêreld laat beland, waar sy enigiets van skietwonde, aapbyte tot hondsdolheid en ’n bosluis in haar dogter se oor behandel het. Sy praat met Murray La Vita oor haar boeiende boek A Wilder Life – Journey of an Adventuring Doctor.

Dr. Joan Louwrens vandeesweek op die oewer van die Knysna-strandmeer. Foto: Ivor Abelheim

Die Zoom-onderhoud met Joan Louwrens begin by haar pa, ’n elektro-meganiese ingenieur, wat nie ooghare vir die mediese beroepe gehad het nie.

Louwrens is ’n aantreklike vrou met lieflike oë en ’n mooi groot glimlag. Sy sit in haar huis naby Knysna op ’n ongerepte stuk grond wat op ’n rivier en heuwels uitkyk. Op die agtergrond is voëls hoorbaar.

“Wanneer ek terugkyk, besef ek ek was onder druk om te doen wat my pa gedink het die regte ding is om te doen. Ek het met ’n graad in chemiese ingenieurswese begin hoewel ek geweet het my belangstelling is in geneeskunde. Ek het dít geweet, al het ons as gesin min kontak met die mediese wêreld gehad. Ons is amper nie toegelaat om siek te word nie.

“Ek het egter baie vinnig op universiteit [Universiteit van Kaapstad] besef ek moet doen waarin ek die meeste belang stel en wat ék wou doen, en dít is geneeskunde. Ek het toe, tot my pa se groot teleurstelling, van kursus verander.”

Sy reaksie was: “Jy gaan vir die res van jou lewe met die wrakke van die mensdom werk.”

Ek het ook baie van die natuur gehou; ek was altyd ’n buitelugmens wat in die natuur en diere belang stel.

Haar ma was ’n chroniese asmalyer.

“Ek dink dit het ’n groot invloed gehad op my belangstelling in geneeskunde en my begeerte om in daardie rigting te gaan. My pa was nie ’n maklike mens nie en jy moes regtig jou plek in die wêreld verdién, as’t ware. Jy moes bydra tot die samelewing.

“Terwyl ek in daardie hospitaalgange was [wanneer haar ma ná asma-aanvalle opgeneem was] en alles dopgehou het wat daar aangaan, kon ek aanvoel daar is ’n respek vir hierdie mense [mediese personeel] en ek het gedink dit moet interessant wees om mense te help en hulle gesond te maak.

“Dit was ’n intense nuuskierigheid. Ek het ook baie van die natuur gehou; ek was altyd ’n buitelugmens wat in die natuur en diere belang stel.”

Horisonne krimp

Louwrens sit voet aan wal in Antarktika.

Louwrens se man, Peter Haw (32), het in 1984 aan breinkanker gesterf. Hul dogters, Mary en Anna was onderskeidelik 4½ jaar en vyf maande oud. Dit het haar haar planne en drome laat heroorweeg, skryf sy. Haar horisonne het gekrimp en sy het besluit haar grootste verantwoordelikheid is nou om haar dogters groot te maak.

Sy het aanvanklik in die buitepasiënte-afdeling van die Knysna Provinsiale Hospitaal gewerk. In die daaropvolgende jare het sy by palliatiewe sorg betrokke geraak nadat ’n vriendin, Sue Waller, ’n verpleegsuster, haar gevra het om haar man, Frank, wat aan terminale kanker gely het, by te staan.

“My besoek aan Frank het aan my bewys dat ek die mediese kennis het om sy pyn te verlig. En wat nog meer waardevol was, was dat Pete my die vermoë laat ontwikkel het om pyn, geestelik en fisiek, in ander te trotseer en om dit te erken en die pasiënt die geleentheid te gee om sy hart oop te maak en te praat. Ek het besef ek kan ’n verskil maak.

“Uit daardie enkele besoek aan Frank het die Knysna Sedgefield-hospies ontwikkel, wat vandag ’n edel en geliefde instelling is wat deur die gemeenskap respekteer en mildelik ondersteun word. Dit was, en bly steeds, vir my ’n groot mediese avontuur.”

‘Hoë angsvlakke’

“As ek ’n uitdaging aanvaar het, haat ek dit op tou op te gooi. Ek haat dit.”

Die ander mediese avonture van haar lewe het in alle erns begin nadat ’n kollega haar in Desember 1991 vertel het dat die Suid-Atlantiese eilandgroep Tristan da Cunha vir ses maande ’n dokter benodig. Kort daarna was sy en Mary (12) en Anna (7) op die Arktis Carrier onderweg na dié mees afgeleë bewoonde argipel ter wêreld.

Iets waarby Louwrens gebaat het tydens hierdie avonture op eilande en in die Arktiese streke en woestyne op al sewe kontinente, is dat dit vir haar uiters bevredigend is om probleme op te los.

“Ek dink daardie aspek van my lewe is te danke aan my pa. Hy was ’n tipiese boer-maak-’n-plan-mens wat gemeen het jy het uiteindelik net jouself om op staat te maak en jy kán nie verwag dat ander mense jou probleme oplos nie. Hy hét my grootgemaak om te glo dat ek ’n probleemoplosser is. Ook omdat hý nooit baie behulpsaam was nie, het ons geleer om ons probleme self op te los.”

Sy skryf sy het ondanks haar “hoë angsvlakke” avontuur-geneeskunde geniet.

“Wanneer mense my ontmoet, dink hulle angs is nie deel van my samestelling nie, maar dit is baie beslis wél. Ek dink daar is ontsettend baie angs in die mediese beroep. Maar ons aanvaar dit amper as deel van die werk.

“En as jy dit nie kan hanteer nie, behoort jy dit in die eerste plek nie te doen nie. Óf jy vind vir jou ’n ander nis in die geneeskunde wat jou nie blootstel aan hierdie proses van vinnige besluitneming en ander angswekkende dinge nie.

“Op Tristan da Cunha, waar ek die enigste dokter vir die 300 inwoners én – ergste van alles – my eie twee kinders was, het ek tot die besef gekom dat van almal op die eiland wás ek die beste toegerus en daarom móés ek dit hanteer. Hoe angstig ek was, was irrelevant – ek moes net die werk doen.

“Ek het nog nooit aan ’n angssindroom gely nie, maar ek dink ’n mate van angs is heeltemal normaal in sulke omstandighede. Jy moet daardie effense vrees vir die onbekende hê, want dit bring die beste in jou na vore.”

‘Miskien die onbekende meer opsoek’

Louwrens sit in haar kantoor in die Australiese wildernis.

Louwrens het die tyd op Tristan da Cunha, waarheen sy later weer sou terugkeer, so baie geniet dat sy besluit het sy sal voortaan sulke geleenthede aangryp. Sy het egter besef sy sal haarself beter moet oplei en het dus oor die jare diplomas in narkose, huisartskunde en tropiese geneeskunde verwerf.

“Ná Tristan da Cunha is ek St. Helena toe en later na Antarktika. Ek het tussendeur steeds in konvensionele omstandighede ook gewerk, maar soos wat my kinders ouer geword het, het ek besef my behoefte daaraan is nie baie groot nie en ek kan miskien die onbekende ’n bietjie meer opsoek.

“Maar die grootste aaneenlopende deel van die tyd waarin my kinders nog op skool was, het ek in palliatiewe sorg gewerk.

“Dit is baie ver verwyderd van avontuur-geneeskunde, maar op ’n manier is dáár ook so baie onbekende faktore aanwesig dat dít ook ’n noemenswaardige avontuur word.”

Bosluis in die oor

A Wilder Life – Journey of an Adventure Doctor het pas by Jonathan Ball-Uitgewers verskyn.

Dokters moet goeie akteurs wees.

“Ek dink die vertroue van jou pasiënt is heilig. Die pasiënt móét jou vertrou. Ek glo ook aan eerlikheid. Jy beweeg op hierdie baie delikate lyn van om eerlik te wees én om die pasiënt se vertroue te behou.

“Hoe jy teenoor jou pasiënt optree, mag dalk nie sprekend wees van jou persoonlike karakter nie, maar jy moet bepaal hóé hy jou gaan hoor, en dít is dalk waar die toneelspel inkom.”

Louwrens skryf die grootste mediese mistasting in haar loopbaan was hoe sy haar dogter Anna behandel het toe dié een Vrydagmiddag op St. Helena van oorpyn gekla het. Omdat sy geen koors gehad het nie, het Louwrens haar gerusgestel dat sy gou beter sal voel en vir haar ’n halwe aspirientablet gegee.

Hulle het toe vertrek om vir die naweek te gaan kampeer. Daardie aand het Anna van erge pyn gekla en die volgende oggend het Louwrens haar dogter na die kliniek gehaas, waar sy ’n bosluis in haar oor ontdek het.

“Ons is altyd opgelei om sover moontlik nie ons familielede te behandel nie. Maar toe ek my kinders saamgeneem het na van hierdie vreemde plekke, was ek ongelukkig die enigste dokter.

“Ek het dit altyd ontsettend moeilik gevind en ek moet eerlik wees: Ek was slég daarmee. Ek dink dis seker in ’n mate omdat ek báng was. Ek wou nie hê my kinders moet siek wees nie; ek wou dit nie hanteer nie; ek wou nie besluite neem nie.”

Sy lag en vertel wanneer hulle saam met ander familielede, onder wie haar dogters se neefs en niggies, vakansie gehou het, het sy nooit aan die einde van die vakansie die “mediese prys” – ’n familie-instelling – ontvang nie.

“My skoonsuster het dit altyd gekry want sy het altyd al die medisyne byderhand gehad . . . Ek wou my eenvoudig nie daarmee bemoei nie. Ek sou help as ek moes, maar ek wou nie.

“So, ja, met my kinders het ek dikwels nie die beste gelewer nie. En dit was omdat nie wou erken dat daar probleme is nie. So, as jy dit as dokter kan verhelp, moenie jou geliefdes behandel nie – dis té moeilik én jy voel altyd asof jy hulle in die steek laat.”

‘’n Bietjie oud’

Louwrens en ’n passasier van ’n skip waarop sy gewerk het, swem in Antarktika.

Die Covid-19-pandemie het haar waarskynlik voortydig gedwing om uit avontuur-geneeskunde af te tree, sê Louwrens.

“Net voor die inperking was ek besig om in Patagonië fiets te ry. Dit was ’n láng en moeilike reis wat ek moes onderbreek.

“Ek het toe besef op my ouderdom gaan ek nie maklik as ’n locum in diens geneem word nie – ek val in die hoërisikogroep en daarby ly ek aan chroniese asma. Maar ek was in elk geval nie seker of ek dít wou doen nie.

Ek dink ek word nou ’n bietjie oud. Maar dis nie asof ek niks het om te doen nie.

“Wat reis betref – dít is ook vir die afsienbare toekoms buite die kwessie. So, ek het die afgelope ruk ’n bietjie gehelp met die opspoor van mense wat aan Covid blootgestel is . . . Ek wonder of ek na aktiewe geneeskunde sal terugkeer of na die soort avontuur-geneeskunde wat ek gedoen het.”

Sy lag.

“Ek dink ek word nou ’n bietjie oud. Maar dis nie asof ek niks het om te doen nie. As iemand wat skryf, is daar altyd dinge wat in my kop ronddryf en ek is altyd besig om te dink aan die een of ander avontuur of reis wat ek kan aanpak. Ek kan byvoorbeeld beslis nog as ’n mediese beampte aan die lang fietswedrenne deelneem wanneer dinge weer na normaal terugkeer.”

‘Ek haat dit’

Louwrens in die Krugerwildtuin.

Louwrens wil dit nie graag erken nie, maar sy “raak ’n bietjie ongemaklik in haar gemaksone”. En sy haat dit om tou op te gooi.

So is sy, ’n kranige fietsryer wat al van die Kaap na Kaïro fietsgery het, ook iemand wat ondanks geweldige pyn in haar gewrigte weens karpale tonnelsindroom die uitmergelende Freedom Challenge – ’n fietswedren oor 2 100 km oor die lengte van Suid-Afrika – voltooi het.

“Ja, as ek ’n uitdaging aanvaar het, haat ek dit op tou op te gooi. Ek haat dit.”

As motto vir een van haar hoofstukke haal sy Lincoln Ellsworth, die eerste man wat oor Antarktika gevlieg het, as volg aan: “The love of great adventure is not an acquired taste; it is in the blood.”

Louwrens se dogters, Mary en Anna, op Tristan da Cunha.

Is dit op haar van toepassing?

“Ek dink daar is mense wat amper geneties geprogrammeer is om terug te deins van risiko’s of uitdagings, maar ek is die teenoorgestelde. Gooi iets na my kant toe wat ’n bietjie onmoontlik en avontuurlustig klink, en ek sal dit altyd aangryp. Ek weet nie hoekom nie, maar ek sal.

“Wanneer ek aan my kinderdae dink . . . My pa was ’n man wat geglo het as iets verkeerd kán loop, dan sál dit. Ek weer . . . Ek dink daar ís dinge wat kan skeefloop, maar ék dink nie dit sal nie.

“Ek dink ek was besig om hóm en sy lewensuitkyk uit te daag. Hy het nooit onnodige risiko’s geneem nie; hy het gedink dit is nie ’n goeie plan nie. En natuurlik het ek uiteindelik toe die teenoorgestelde gedoen.”

Meer oor:  Antarktika  |  Knysna  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.