Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Gebore Argentyn, maar melktert steeds ’n lekkerte
Marie Esthér Norval in die meregebied aan die voet van die Andes. Sy gebruik steeds haar nooiensvan.

Op ’n reis in Argentinië het Elretha Britz kennis gemaak met Marie Esthér Norval, ’n Suid-Afrikaanse afstammeling wat steeds Afrikaans praat.

Albei haar ouers en vier grootouers was Afrikaans. Hier is haar verhaal.Suiwer Afrikaans vloei stadig, soms drupsgewys, uit die mond van die 60-jarige Marie Esthér Norval. Sy het 20 jaar laas gereeld Afrikaans gepraat, laas toe haar ma nog geleef het. Dit is net wanneer sy en haar susters en broer skinder dat hulle nog na Afrikaans oorslaan.

Ons kuier in Argentinië by dié afstammeling van Afrikaanse boere wat in 1907 Suid-Afrika verlaat het om ’n nuwe lewe in die suide van Suid-Amerika oop te kerf.

Die tafel kreun onder die kos – twee soorte vleis, verskeie groentes, ’n souttert, slaaie, wyn, nagereg. “Presies soos die boere van ouds onthaal het, al is dit in die middel van die week,” dink ek.

Maar, sê Marie Esthér – uitgespreek Marié-esthér – “ek is nie Suid-Afrikaans nie. Daar is niks meer van my in Afrika nie, my lewe is hier in Argentinië waar ek gebore is.”

Sy woon 42 jaar al in die huis in Carmen de Patagones, ’n bekoorlike dorp op die oewer van die Rio Negro-rivier sowat 1 000 km suid van die Argentynse hoofstad, Buenos Aires.

Elretha Britz en Marie Esthér Norval in haar huis in Patagones. Foto: MARINA VOGES

Om die volle omvang van Marie Esthér se lewensverhaal te begryp, gaan haal sy die storie by haar grootouers, Johannes en Hester Norval en Andries en Bettie Kruger. Albei egpare was onder die Suid-Afrikaners wat nie kans gesien het vir die Britse bewind in Suid-Afrika nie, wortels opgetrek het en in 1907 na Argentinië geëmigreer het.

Die grond wat die Argentynse regering aan die Suid-Afrikaners toegeken het, “was swak” en die weer in die suidelike Patagonië ongenaakbaar – snerpend koue winters en wind, wind, wind. Daar het die Suid-Afrikaners met moeite en baie teenslae met skaap probeer boer.

“My ouers, ook skaapboere, was Johannes Norval en Maria Hendrika gebore Kruger. Ek is een van sewe kinders van wie drie susters en ’n broer nog leef.”

Marie Esthér is in Comodoro Rivadavia gebore, die windverweerde dorp waar die boere voet aan wal gesit het en haar pa president van die plaaslike boerevereniging was.

“Ek was nog klein toe my pa op ’n dag vertel het ons gaan trek. Hy het ’n ‘plot in die paradys’ gekoop, het hy gesê. Dié plek is 900 km noord van Comodoro naby die dorp General Roca waar met appels en pere geboer word.

Marie Esthér Norval en haar seuns, Christian Jesús (links) en Juan Enrique.

“My pa het ’n klomp vrugtebome geplant, maar dit was nie lank nie toe vernietig hael en ruspes sy hele vrugteoes. Toe trek ons weer, verder noord waar my pa met hoenders begin boer het. Dit was ook nie lank nie toe breek ’n siekte uit en al die hoenders vrek. My pa het,” – sy dink lank en onthou dan die woord – “deursettingsvermoë gehad en toe weer voor begin. Hy het knoffel en tamaties geplant en toe dit ryp is, was daar nie ’n prys vir groente nie.”

Moeg van sukkel, het haar pa gesê die seuns moet verder werk. Hy is klaar. Hulle het Patagones toe verhuis en ’n jaar later is haar pa dood.

Marie Esthér straal ’n opvallende rustigheid uit. Sy was egter nie altyd so kalm nie, die lewe het haar so gelouter. Sy vertel: “Ek was hardkoppig toe ek jonk was. Ek wou trou toe ek nog op skool was. My ouers, my broers en susters, almal het probeer keer dat ek uit die skool gaan en toe maak ek dat ek móét trou. Ek was 15.”

Miskien ook maar ’n soort bestiering, want Carlos Ponce, “ ’n goeie man”, is tien jaar later dood. Haar jongste, Christian Jesús, was agt maande en Juan Enrique tien.

Ná die trauma het Marie Esthér die lewe by die horings gepak. Sy het ’n pos as telefonis gekry in die padkonstruksiemaatskappy waar haar man gewerk het en is gou tot ontvangsdame bevorder. Terwyl sy voldag gewerk het, het sy haar skoolloopbaan voltooi en ’n universiteitsgraad in maatskaplike werk behaal. Dit sou egter niks werd wees as sy by die maatskappy wou bly nie, toe verwerf sy ook ’n diploma in uitvoerende sekretariële werk.

“Ek was 33 jaar lank die uitvoerende hoof se private sekretaresse, totdat ek in Mei 2016 afgetree het.”

Marie Esthér sê toe sy die eerste keer skool toe is, in ’n dorpie naby Comodoro Rivadavia, het die kinders vir haar gelag omdat sy nie Spaans kon praat nie. Hul huistaal was Afrikaans, maar sedert haar ma se dood het Spaans haar eerste taal geword.

Marie Esthér NorvalFoto: ELRETHA BRITZ

“Ek was net een keer in Suid-Afrika, in 1996. My familie daar is so verlangs dat ek by niemand gekuier het nie. Ek het net getoer.”

Die hunkering na die tradisies van haar en haar seuns se herkoms is egter steeds teenwoordig. Marie Esthér sê Christian Jesús bak en eet graag melktert, “soos hy by my geleer het”.

Noudat sy afgetree is en tyd het, wil sy self die verlede terugbring en die grappe en stories opteken wat haar ma en ouma dikwels vertel het. “Hulle was vrolike mense, altyd vol grappies en het graag gesing terwyl hulle gewerk het. Dit is ’n nalatenskap wat ’n mens moet behou,” sê sy.

Marie Esthér is kennelik trots op haar seuns. Juan Enrique is ’n joernalis en hoof van die radiostasie in Viedma, Patagones se buurdorp. Christian Jesús is ’n draaiboekskrywer en rolprent- en televisieregisseur in La Plata naby Buenos Aires.

En hoe bring sy haar aftrede deur?

“Ek ry rond. Ek kuier by my susters, kinders en vriende. Ek werk vir die kerk (Lutherse kerk). Ek doen net wat ek wil. Ek het ’n baie goeie pensioen.”

Soos die meeste inwoners van Patagones woon sy in ’n beskeie huis, maar met alles wat nodig is. Die Argentyne is duidelik nie spogkoeie nie; die voorkoms van hul huise is ondergeskik aan die waarde wat hulle aan vriendskap heg.

Daar kúier jy en dit gebeur nooit sonder kos nie.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Melktert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.