Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Nie één lelike boodskap oor mans se vryery in 'Kanarie'

Ondanks die toneel waarin hy en ’n ander man “mekaar dik vry” het hy nog nie één lelike boodskap oor die rolprent Kanarie ontvang nie want die storie “oortref mense se haat”, sê Schalk Bezuidenhout aan Murray La Vita.

Schalk Bezuidenhout in sy woonstel in Groenpunt tydens die onderhoud. Foto: Jaco Marais

“Ek is ontsettend . . . ek wil amper sê . . . trots op mense wat al die fliek gekyk het. Ek het baie meer van ’n backlash verwag.

“My vertroue in mense het ’n bietjie gedip toe ons Die Ware Naarheid op kykNET gedoen het. Ek het baiekeer verskríklike boodskappe in my inbox op Facebook gekry oor ’n joke wat jy nóóit gedink het mense sal ontstel nie,” sê Schalk.

“Oor Kanarie het ek nog nie één lelike boodskap ontvang nie. En dít is net vir my ábsoluut fantasties want dit wys vir my dat die fliek en Charl-Johan [Lingenfelder] se storie so ’n mooi en belangrike storie is dat dit eintlik mense se haat oortréf. Ek dink die storie is groter as hul vooroordeel.

Ondanks die feit dat hy sedert 2011 naam gemaak het as skerpskertser, is hy nie die ene grappe en glimlagte nie; hy kom as betreklik ernstig voor.

“Ek het myself half emosioneel voorberei daarop om nie te reageer as daar boodskappe inkom nie, want dit is my een groot downfall. My meisie trap my altyd uit en sê: ‘Moenie reply nie! Moenie reply nie!’ ”

Schalk wat, hoewel hy drama studeer het, meer bekend is as komediant, vertolk die rol van Johan Niemand wat op Villiersdorp woon en vir militêre diensplig opgeroep word.

Hy word dan deel van die lugmag se sanggroep die Kanaries en doen saam met hulle militêre opleiding waarna hulle op ’n landwye toer gaan – ook na die “grens” – en “mense vermaak en geloof in die kerk en weermag versterk”. Tydens die toer ontwikkel Johan gevoelens vir ’n koormaat en dit veroorsaak dat hy “alles omtrent homself en sy wêreld bevraagteken”.

‘Hoe was dit vir jou?’

Schalk as Johan Niemand saam met Hannes Otto, die Kanarie-maat Wolfgang Muller, op wie hy in die fliek verlief raak. Foto: Marche Media

Ons ontmoet Schalk op ’n Sondagmiddag in ’n restaurant in Groenpunt van waar ons later na sy nabygeleë eenmanswoonstel stap en verder gesels. Hy is pas terug van Londen, waar sy South African White Boy met groot geesdrif ontvang is. Nou toer hy weer die land vol met sy Snorseun.

Sy kenmerkende krulkop is tans bottergeel gekleur. Hy dra ’n pienk T-hemp (met ’n Miró-agtige glimlaggende gesig op die voorkant) waarvan die kortmoue opgerol is. Ondanks die feit dat hy sedert 2011 naam gemaak het as skerpskertser, is hy nie die ene grappe en glimlagte nie; hy kom as betreklik ernstig voor. By hom is ook ’n uitstraling van iets soos onskuld, selfs naïwiteit, te bespeur.

“Ek is in ’n klein, baie liberale kerkie in Pinelands – Kruiskerk – en vanoggend praat die dominee nou oor Kanarie en toe vra hy nou: ‘Hoe was dit vir jou, want jy was nie in die weermag nie?’ Toe sê ek: ‘Hoe ek dit sien, is dit is eintlik toevallig dat Charl-Johan se storie in die weermag tydens apartheid afspeel. Want daardie storie kon amper net só plaasgevind het in 2005 in die Voortrekkers, of in 2018 in ’n Afrikaanse skool of op ’n kerkkamp. Dit kon eintlik maar op enige plek of in enige kultuur gebeur het.’

“Toe Kanarie die eerste keer oorsee in Toronto gewys het, het ek gesien mense connect met die storie. Jy hoef nie die storie van apartheid te ken nie. Net soos wat ons geraak kan word deur ’n fliek soos The Boy in the Striped Pajamas al was ons nie betrokke by die Holocaust nie.”

Schalk en Charl-Johan Lingenfelder, op wie se ervarings die rolprent Kanarie gegrond is. Foto: Brendan Croft

Die veelbekroonde Kanarie is gegrond op die ervarings van Lingenfelder, mede-skrywer van die teks en musiekregisseur.

“My grootste ooreenkoms met Charl-Johan was die boelie-aspek. Ek is op skool baie geboelie. En ook net daardie gevoel van nie seker wees van waar jy inpas nie. Jou goeie vriende is eintlik maar meisies want jy connect beter met hulle, maar jy pas nie regtig daar in nie want jy is biologies nie ’n meisie nie; maar jy pas ook nie in by die ouens nie, want die ouens is half die mánne . . .” Hy beduie met bakarms. “En jy pas ook nie daar in nie . . . Dis so half daai gevoel van ’n bietjie soos ’n outsider voel.

“Charl-Johan was die weird outjie want hy’t gehou van hierdie volksvreemde musiek en hy het ook half baie anders aangetrek as die ander kinders op Villiersdorp want hy het sy fashion ook gebaseer op die popsterre na wie hy geluister het.

“Ek was nou weer die weird outjie want ek was heavy into drama . . . Ek was die drama-outjie en die grapgat en die clown in die klas en so aan. Maar nie noodwendig die clown op ’n goeie manier nie.

“Ek was eerstens aangetrokke tot die projek want ek is mal oor Christiaan Olwagen [mede-skrywer en regisseur van Kanarie] en ek was ’n fan van hom nog voor hy geweet het wie ék is. Nadat ek Johnny is nie dood nie gesien het en van sy toneelstukke, A Doll’s House veral, was ek net soos: Ek wil iewers in my lewe met hierdie ou werk.”

Boy George in sy Bybel

’n Toneel uit Kanarie met Schalk as Johan Niemand voor in die middel. Foto: Marche Media

Hoe het hy hom voorberei vir die rol? Wat was die aard van sy navorsing?

“Die beste navorsing wat ek kon doen, was om net tyd saam met Charl-Johan. Ek was baie gelukkig en geseënd dat hy so ’n groot deel van die movie was. Hy was daar in die repetisies en hy het vir my sanglesse gegee vir die rol en hy was daar op stel.

“Ek het maar net baie gesprekke met hom gehad oor hoe dit vir hom was in daai tyd; wat hy beleef het: emosioneel, fisiek; hoe hy dit onthou . . . Dit was so ’n traumatiese tyd in sy lewe dat dit seker moeilik is om dit nié te onthou nie.”

Die karakter Johan Niemand is mal oor Boy George. Hy het ’n foto van hom voor in sy Bybel. Dit is ook uit die lewe van Charl-Johan geneem.

“Ek kon heeltemal verstaan en identifiseer met hoe Boy George Charl-Johan se held was en hoe hy na hom opgekyk het.”

As ek in 1985 in die weermag was, sou ek op ’n emosionele wyse seker baie van dieselfde goed deurgegaan het wat hy deurgegaan het.

Het die rolprent hom ontroer?

“Ja, die meeste van die rolprent het my ontroer. Ook omdat ek so connect het met Charl-Johan oor byvoorbeeld die tema van boelies.

“Hy het baie keer soos ’n verlenging van my en my eie lewe gevoel. Alhoewel ek nie dieselfde goed beleef het wat hy beleef het nie, kon ek myself indink dat as ek in 1985 in die weermag was, sou ek op ’n emosionele wyse seker baie van dieselfde goed deurgegaan het wat hy deurgegaan het.”

Daar het ’n baie noue band tussen hulle ontwikkel. Hulle het vir mekaar lief geword.

“Ek wou net graag justice doen aan Charl-Johan se storie, veral omdat dit so ’n groot ding was vir hom. So, ek wou net nie teleurstel met daardie groot verantwoordelikheid wat op my skouers geplaas is nie. Ek was net 100% daarop gefokus om Charl-Johan trots te maak en Christiaan as een van my rolmodelle wou ek trots maak . . . Ek wou hierdie rol tot die beste van my vermoë speel.”

Groot akteurs

Ons praat oor ’n aangrypende toneel waarin hy teenoor Anna-Mart van der Merwe speel.

“Daardie toneel fokus ook so op die boelies.

"Sy sê: ‘Hierdie land met al sy boelies . . .’ Toe ek saam met haar in die spieël kyk en sy wat met my praat, het ek gevoel hierdie kon baie maklik ’n jong, laerskool-Schalk wees wat hierdie moes hoor by een of ander eksentrieke tannie.

“Al daai akteurs: Anna-Mart en Dawid Minnaar en so aan . . . Hulle is net so goed en professioneel dat hulle jou net dadelik gemaklik laat voel. Hulle kom in en hulle ken hulle woorde. Hulle tiptoe nie om die ding nie. Hulle spring net dadelik in. Jy moet maar bybly. So dan spring ek ook maar net in. Omdat Kanarie my eerste ernstige rol was en ook my eerste filmrol, was ek maar ’n bietjie starstruck met al hierdie groot akteurs.”

Die eerste soen

“Ek was die drama-outjie en die grapgat en die clown in die klas.” Foto: Jaco Marais

In Schalk se woonstel hang ’n swart-wit foto van sy ouers, talle tapisserieë van onder meer pastorale tonele, ’n Spaanse danseres en klein hondjies. Teen een muur is ook een van daardie ou godsdienstige prente van foelie en glas waarop die woorde “Vertrou op God” pryk.

“Die scene waarin ek en Hannes so op die bed op mekaar lê en mekaar die eerste keer soen, dan is daar agter ons só ’n soort prent wat sê ‘Jesus is alles’.” Hy lag. “Ja, ek dink dit sê ‘Jesus is alles’ terwyl die twee Kanaries mekaar dik vry daar op die bed.”

Hannes Otto vertolk die rol van Wolfgang Muller, die koormaat vir wie Schalk se karakter gevoelens ontwikkel.

Schalk sê hy het nog nie voorheen sulke liefdestonele gedoen nie en was op sy senuwees.

“Glad nie omdat dit homoseksueel van aard is nie, meer net omdat jy net bewus is van die ander akteur, en of dit nou ’n man of ’n vrou is, maak nie saak nie, dis net so half: Is húlle cool? Is húlle ongemaklik?

“En jy wil ook nie te voorbarig wees en jou tong in hulle mond druk en hulle is soos: ‘Whoa! Ek het gedink ons gaan ’n bietjie meer net met die lippe . . .’ Of wat ook al.

“So, dis so half: O, ons moet dit nou uitfigure. En jy moet heeltyd incheck en professioneel wees teenoor die ander persoon: Kán ek hier gaan? Mag ek my hand hiér sit?

Daar is nog baie rassisme, daar is vooroordele op grond van seksualiteit. Maar hopelik is dit aan die uitsterf.

“Maar die ding is, ek het dit nie met Hannes gehad nie omdat ek en Hannes mekaar ken. Hy is net so ’n absolute pro dat daar net nooit daai ongemaklikheid tussen ons was nie.

“Toe ons nog gerepeteer het, toe doen ons een keer daardie toneel waar ons so soen op die bed. En ons soen, maar ons altwee hou terug en ek kan sien Christiaan is nie happy nie. Naderhand stop ek en ek sê: ‘Christiaan, ek kan sién jy’s nie happy nie; wát kan ons doen? Hoe kan ons jou happy maak?’

“En hy sê toe net: ‘Wel, net om eerlik te wees, ouens, dit lýk nie real nie. Ek kan sien julle vry nie.’ Toe sê ek: ‘Sorry, ek het nie voluit gegaan nie want ek het nie geweet of Hannes wil nie,’ en Hannes sê toe: ‘Wel, ek het nie voluit gegaan nie want ek was nie seker oor jóú nie.’ En toe is dit net so half: ‘O! So, jy’s fine; ek’s fine, ons kan dit net dóén.’ En toe is dit net lekker en fine.”

‘Ons kan net probeer’

Schalk meen houdings het oor die jare verbeter, maar mense het nog baie vooroordele.

“Daar is nog baie rassisme, daar is vooroordele op grond van seksualiteit. Maar hopelik is dit aan die uitsterf. Hoewel, ek vra myself af: Gaan dit óóit heeltemal uitsterf? Is dit moontlik? Is dit moontlik dat daar eendag in die wêreld nie ’n énkele rassis sal wees nie? Of nie ’n énkele homophobe nie? Is dit moontlik? Ek weet nie.

“Ons kan maar net probeer om mekaar in die regte rigting te help. En daarom is stories soos Kanarie belangrik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.