Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Kort, wellustige soen

Mense kan maar net nie ophou om oor seks te praat nie, sê Eben Venter aan Murray La Vita in ’n onderhoud oor sy roman waarin hy oor seks “probeer” skryf.

Eben Venter tydens ’n onderhoud in Kaapstad oor sy nuwe roman. Foto: Adrian de Kock

Eben Venter het by geleentheid gesê: “Die regte woord op die regte plek is soos ’n kort, vinnige, wellustige soen.”

Dit is aan dié woorde wat ek dink wanneer ons praat oor sy nuwe roman.

“Die roman is ’n ontginning van spesifiek manlike seksualiteit tot in die fynste besonderhede en ek wou dit juis so gedetailleerd beskryf, die verskillende seksuele ervarings, om uiteindelik uit te kom by die motief van Simon Avend, die hoofkarakter van Groen soos die hemel daarbo. Ek gaan nou nie sê wat die motief is nie want die lesers moet dit maar vir hulself ontdek.”

Dit is ’n uitdaging om seks te beskryf.

Venter knip gereeld sy oë asof hy sensitief is vir lig. Dit verleen ’n sekere weerloosheid aan hom.

“Ek het my woorde probeer reg kies en my sinskonstruksies want ek wou nie dat dit klink soos Loslyf nie. Ek wou nie dat dit enigsins ’n pornografiese of selfs ’n ságte pornografiese inslag hê nie. Ek wou eerder die skoonheid van hierdie liggaam tot liggaam ervaring probeer na vore bring met al die woorde wat ek kon vind . . .

“Dit is ’n boek wat mense geneig gaan wees om as outobiografies te lees en ek dink op ’n manier is ál my boeke tóg outobiografies, maar ek fiksionaliseer dan.”

Simon is, soos Venter, ’n Suid-Afrikaner van geboorte wat in Australië woon en die wêreld vol reis. Wat die leser dalk ook sal verlei om die roman as outobiografies te lees is die voorblad: ’n foto van die aantreklike, bruingebrande Venter saam met sy honde op ’n strand.

“Dit is so ’n mengsel van ervarings wat ek self beleef het en waarvan ek altyd op die mees noukeurige manier aantekeninge maak, want dít doen ek eintlik nog my hele lewe vandat ek in die army was, en fiksionalisering van hierdie goed. Dis ’n ábsolute mengsel, so dit sou eintlik naïef wees van lesers om daarop te hámer en ek weet dat die omslag mense natuurlik lei na so ’n vraag, maar nou moet mense maar dink wat hulle wil.”

’n Ongeluk

Die onderhoud met die veelbekroonde Venter vind plaas in die Kaapstadse kantoor van sy uitgewer Tafelberg. Hy het enkele dae gelede in die land aangekom uit Australië waar hy en sy lewensmaat, Gerard Dunlop, in Lismore in Nieu-Suid-Wallis woon.

Venter knip gereeld sy oë asof hy sensitief is vir lig. Dit verleen ’n sekere weerloosheid aan hom. Teen sy een wang is ’n fyn letsel, ’n skaars waarneembare strepie. Dit is die gevolg van ’n ongeluk toe hy seuntjie was. Sy broer het hom een wintersaand voor die kaggel in hul huis op ’n Oos-Kaapse skaapplaas per ongeluk raakgesny met die skerf van ’n glasampule waarin oog- en oordruppels destyds verpak is.

Venter sê hy het Groen soos die hemel daarbo eers in Engels geskryf.

“Dit was my eerste probeerslag in Engels en ek dink dit het nogal vir my gewerk; dit was aanvanklik moeilik, maar ná ’n ruk het ek tog gevoel dat ek die slag gekry het. Met Engels, en hulle geweldige woordeskat, het ek gevoel ek kan meer afstand kry in die seksuele tonele juis omdat dit nié in my eie taal is nie. Maar dan in Afrikaans word dit dan natuurlik iets anders; dit word ’n skepping op sy eie.”

Sy agent in Londen soek nog “die regte uitgewer” vir die Engelse weergawe van die roman.

“Dit het vir my gevoel asof ek myself soms bietjie moes témper in die Afrikaans anders het dit vir my byna krú geword. Ek dink omdat ons eintlik in Afrikaans nie sóveel tekste het nie . . . Daar is mense soos Koos Prinsloo; daar is ’n hele klomp mense wat dit wél ontgin het in Afrikaans, maar nie tot die mate waar dit in Engels al úitgeskryf is nie.

Die stories binne die man vermenigvuldig. Hulle broei uit in al daardie stede van hom en volgroei hier in haar sitkamer.

“Soms het ek aksies of handelinge ómskryf in Afrikaans eerder as ’n sogenaamde direkte vertaling. Soms klink die woorde vir byvoorbeeld die manlike geslagsdele in Afrikaans vir my net te krú om dit in Afrikaans neer te skryf. So dan het ek op ’n manier ’n woordskepping gemaak of die woord verdubbel of miskien selfs nog steeds die Engelse woord te gebruik en dit dan te koppel aan ’n Afrikaanse woord.”

Hy probeer altyd “vernuwe” om sy skryfloopbaan vir homself interessant te maak.

“So ek het probeer om die vórm van die roman so bietjie te verskuif en nié net ’n storie te vertel van Simon Avend wat van een seksuele ervaring binne een stad na die volgende gaan nie. Ek wou iets meer gelaagd doen sodat dit tegelykertyd gelees kan word as ’n tipe van ’n reisverhaal met al die elemente van hierdie verskillende plekke waar hy homself bevind soos Tokio en Bali en Den Haag en Istanboel. En dat dit ook iets bring oor die vorm of stánd van terapie deesdae. (Hyself is “een van daardie rare skepsels” wat nog nooit self in terapie was nie.) En dan die gedetailleerde beskrywings van sommige van die seksuele ervarings.”

Die terapeut

Ek pols hom oor dié sin van dr. Spiteri, Simon se terapeut: “Die stories binne die man vermenigvuldig. Hulle broei uit in al daardie stede van hom en volgroei hier in haar sitkamer.”

Venter: “Ja, elke ervaring het dan ’n komplement in die sitkamer van die terapeut. En dáár word die ervaring dan ontleed aan die hand van sy eie kennisinname daaroor maar sý het dan ook insette oor wat sy daarvan maak. En ek dink dan word dit uiteindelik iets anders in die spreekkamer van die terapeut. Dit bly nie net ’n aksie wat deur die liggaam uitgedruk word nie, dit word dan verplaas op ’n ander vlak.

“As hy hierdie ervarings van hom na die terapeut bring, word dit meer geláágd en daar kom ook ander goed na vore, byvoorbeeld sy herinneringe aan sy grootwordjare op die plaas in die Oos-Kaap.

“Dit is ’n soort lás wat hy moet dra. Een van die kerninsigte wat bereik word in die boek is dat die terapeut in ’n stadium vir hom sê waar die plaas waar hy grootgeword het voorheen sy hoofbron, sy fontein was van soveel van sy stories, het dit nou verskuif.

Eben Venter: “As meer mense die Grieke navolg, sal hulle miskien minder probleme hê met hul seksuele lewe.”Foto: Adrian de Kock

“Ek sê dan nie wáárnatoe dit verskuif het nie, maar dit gaan inderdaad nou om sy ontginning van sy seksuele lewe en dat dít die bronpunt word van ’n núwe reeks stories. En dán bring die terapeut ’n analise na die gesprek en dít is iets wat ek gekry het by ’n tweegesprek tussen Arabella Kurtz, ’n psigoanalis, en J.M. Coetzee. En dit is dat in jou léwe, en dan veral in die lewe van hierdie karakter Simon Avend, het daar ontsettend baie négatiewe dinge gebeur. Ek bedoel hy het op ’n plaas grootgeword waar die swart mense grootliks uitgebuit is, maar terselfdertyd was sy lewe op die plaas ook een van sy heel móóiste ervaringe. Dus versuur én bevrug dit sy hele lewe.

“En dan vertel dr. Spiteri hom van die sogenaamde depressiewe posisie, en dit is dat jy die negatiewe en die positiewe dimensie van jou lewe albei kan vasvat en dat jy nie die een of die ander kan uitwis uit jou lewe nie; dit is déél van jou lewe; dit is deel van die soort persoon wat Simon Avend geword het.

“En ek dink dit is ’n kern-insig waartoe hy kom so driekwart in die boek in.”

As meer mense die Grieke navolg, sal hulle miskien minder probleme hê met hul seksuele lewe . . . Dit was eers met die koms van die Christendom wat al die móéts en móénies ingevoer is.

Dr. Spiteri begin na die einde van die boek toe ook oor haar eie seksuele lewe besin en dit bevraagteken.

“En in dié sin gaan die storie nie vir my nét oor manlike seksualiteit nie maar daar is ook ’n verskuiwing na die einde van die teks toe waar dit dan ook gaan oor vroulike seksualiteit. Hierdie hele gesprek tussen haar en Simon het dít na vore gebring. En dít is een van die kenmerke van ’n geslaagde terapiesessie – wanneer daar ’n gesprek tússen die twee gespreksgenote begin en dat dit nie net gaan oor die kliënt of die terapeut nie, maar dat daar iets na vore kom tússen die twee mense en ek hoop dat dit op ’n manier gebeur het in hierdie storie.”

Ons onderbreek die gesprek om tee en koffie in te skink en praat vir ’n oomblik oor die ontwerp van melkbekers.

Dan praat ons oor hoe dr. Spiteri met Simon die insigte oor seksualiteit en manlikheid deel van die filosoof Michel Foucault en die ou Griekse filosowe.

“So ja, dit gaan om ’n volwásse persoon en ook ’n persoon wat sy eie manlikheid laat manifesteer is iemand wat homself deur homself kan bemeester. Dis ’n teken van volwassenheid.

“In die Griekse tekste en dit wat ek van Foucault gelees het, is die fisieke mánlikheid van die man nie waarom manlikheid gaan nie. Dit gaan eerder om die bemeestering van jouself déúr jouself. Dít is vir hulle volwasse manlikheid.

“As meer mense die Grieke navolg, sal hulle miskien minder probleme hê met hul seksuele lewe . . . Dit was eers met die koms van die Christendom wat al die móéts en móénies ingevoer is. Die Grieke het nié dáái benadering gehad nie, vir hulle was alles oukei.”

’n Lyftaal

Venter sê die titel van die boek slaan op die onuitdrukbaarheid van die seksuele handeling.

“Dat dit uiteindelik iets is wat gebeur tussen twee líggame en dís waar die taal plaasvind. Maar as dit kom by die uitdrukking van hierdie intimiteit in woorde dan raak dit . . . dis onmoontlik, jy kan nie. Simon besef dit uiteindelik heel aan die einde.

“Ek is nou besig met ’n doktorsgraadverhandeling en dis een van die goed waaroor ek skryf in my kritiese essay. Hierdie boek in Engels is die kreatiewe komponent van die verhandeling en in die kritiese komponent werk ek oor aspekte van selfvertaling – wat gebeur as jy ’n teks vertaal.

Die seksuele is dus iets uitsonderliks en buitengewoon binne die mens se ervaringswêreld.

“En dan één van die goed waaroor ek skryf, is hierdie ónmoontlikheid om die seksuele handeling volledig in woorde tot uitdrukking te bring. Jy kán dit eenvoudig net nie doen nie, dit maak nie hoe . . . al skryf jy ook die pragtigste, mees sensuele taal soos Jean Genet, uiteindelik, as jy dit dan ervaar het soos Simon dit in die boek ervaar het, dan is dit iets wat jy nié volledig in woorde kan uitdruk nie. Dit is ’n lyftaal.

“En dít is waarop die titel slaan. Die Xhosa-mense kan nie hééltemal sê wat blou is nie. Die nááste waaraan hulle kan kom, is om te sê dis groen soos die hemel daarbo. En dit is die essensie van die onuitdrukbaarheid van die seksuele handeling. Jy dink jy kan . . . en ek het ook my taal so sensueel as moontlik probeer maak, maar dan skiet dit nog steeds te kort.”

Die seksuele is dus iets uitsonderliks en buitengewoon binne die mens se ervaringswêreld.

“Ja. Dit is hoekom almal nog steeds daaroor praat. Mense kan maar net nie óphou om daaroor te práát of daarna te gaan lóér op die internet . . . Ek bedoel, wát is dit? Hierdie fassinásie. Dit is so iets eie aan ons, nè? Dit hou net nie op nie. En daar is niémand wat daaraan ontglip nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Eben Venter  |  Boeke  |  Skrywers  |  Seks  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.