Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Aktivis word opvoeder wat oplossings wou vind

Die pedagoog en politieke aktivis wat reeds op 20 as ’n verbanne persoon verklaar is, Graeme Bloch, is aan progressiewe supranukleêre verlamming oorlede. Hy was 65 en het in die Mediclinic Constantiaberg gesterf.

Graeme Bloch en sy vrou, Cheryl Carolus.

Dié siekte lei tot die verswakking van 'n mens se spiere, balans, spraak, visie en sommige kognitiewe funksies. Hy het die laaste paar jaar ’n rolstoel gebruik.

Bloch het vroeg reeds empatie met onderdruktes en verstotelinge gehad. Luidens ’n gesamentlike huldeblyk deur sy vriende die oudminister Trevor Manuel en oudjoernalis Pippa Green was Bloch een van die groep studenteleiers by die Universiteit van Kaapstad (UK) wat in 1976 wit studente help verenig het om swart studente te ondersteun.

“Hy was deel van ’n solidariteitsbeweging wat in Augustus 1976 vanaf die UK deur Klipfonteinweg reg deur wit woonbuurte tot in Athlone en Gugulethu sou gestrek het. Voordat hulle Athlone bereik het, het die onlustepolisie hulle in hegtenis geneem.

“Bloch is twee weke toegesluit en gemartel. Hy is verban en verbied om aan die politiek deel te neem. In 1981 kon hy weer betrokke raak by aktivisme. Hy was stigterslid van die United Democratic Front.”

Gedurende sy vrugryke loopbaan het hy klas gegee in opvoedkunde aan die UK en die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy het ook vir die Ontwikkelingsbank gewerk.

In 1998 is hy na Londen met sy vrou, Cheryl Carolus, wat die pos van hoë kommissaris aanvaar het. In ’n onderhoud met die Guardian vertel sy hulle het mekaar ontmoet terwyl hulle albei teen apartheid geveg het. Sy het gehou van sy koppigheid.

“Ek wil nie met ’n jandooi getroud wees nie,” het sy gesê. Hulle kon lekker koppe stamp en dan later heerlik lag oor alles.

Terwyl hulle daar was, het Bloch in ’n polemiek met die skrywer Christopher Hope beland.

Hope het in die Guardian geskryf dat die nuwe Suid-Afrika net so onderdrukkend en fyngevoelig raak soos dit onder die vorige regime was. Bloch het in dié koerant teruggekap en gesê hy praat koeterwaals.

“Daar is nie meer sensuur nie, meer as twee mense mag vergader en daar is nie ’n klop aan jou deur om middernag nie. Natuurlik is daar probleme, maar ons kan dit uitstryk,” het hy geskryf. In 2009 publiseer hy die boek The Toxic Mix: What’s Wrong with South Africa’s Schools and How to Fix It. Sy fokus was om oplossings te vind vir die lae slaagsyfers in sommige skole.

Die aktivis Goolam Aboobaker sê Bloch was ’n uitstekende orator en het ’n skerp, analitiese brein gehad. “Toe ek my werk by Groote Schuur-hospitaal verloor, het hy vir my een gereël in prof. Jake Gerwel se kantoor.”

Bloch het in Mowbray in ’n groot familie grootgeword. Hy was ’n uitblinker in sowel die akademie as sport. Sy pa, Cecil, was ’n plastiese chirurg en sy ma, Rosalie, ’n prokureur.

Hul huis was altyd oop vir kuiergaste, honger mense en haweloses. Bloch se ma en haar lewensmaat is in 2018 wreedaardig in hierdie huis vermoor.

Sy broer Shaun onthou: “Toe ons kinders was, is daar baie gedebatteer rondom die eetkamertafel. Hy was my held. Ek sal sy stoute sin vir humor mis.”

Manuel en Green skryf by die begrafnis van sy ma het die trane van Bloch se gesig afgeloop. “Sy siekte was gevorderd, hy kon dit nie afvee nie. Cheryl het dit vir hom gedoen.”

Hy word oorleef deur sy vrou en agt sibbe.

Graeme Bloch, gebore 23 Januarie 1956, oorlede 9 April 2021.

Rus in vrede

* Dr. Sindisiwe van Zyl, mediese aktivis en aanbieder van ’n gewilde gesondheidsprogram op Kaya FM, is aan Covid-19 oorlede ná twee maande in die hospitaal. Sy was 44.
Haar man, Marinus van Zyl, moes oor die Paasnaweek vir  R2 miljoen deur skarefinansiering vra om haar hospitaalrekening te dek. 

* ’n Voormalige joernalis van Eyewitness News en skrywer van die boek Born Freeloaders, Phumlani Pikoli, is op 33 deur sy ouers, Vusi en Girlie, dood in sy bed in Johannesburg aangetref. Hy het aan depressie gely. In 2020 het hy die K Sello Duiker Memorial- literêre prys ontvang vir sy boek. Sy pa is ’n voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag.

* Bernie Madoff, die beleggingsadviseur en skurk wat die wêreld se grootste Ponzi-skema bedryf het, is in ’n tronk in Noord-Carolina oorlede. Hy was 82. Madoff het terminale nierprobleme gehad. Hy het bedrog ter waarde van $64,8 miljard gepleeg. Madoff was met die room van sakelui in New York bevriend. In Februarie 2020 het hy die howe gevra of hy by die huis kan gaan sterf. Sy versoek is afgekeur. Daar is in 2018 ’n gewilde TV-rolprent, The Wizard of Lies, oor sy lewe as tweegatjakkals en verneuker gemaak. Robert De Niro het Madoff vertolk en Michelle Pfeiffer sy vrou, Ruth.
The New York Times skryf tienduisende mense se lewens is verwoes omdat hulle al hul beleggings verloor het. Vele welsynsorganisasies en aftreefondse is ook deur sy gierigheid vernietig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.