Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Baanbreker-kerkvrou ‘was leier sonder gelyke’

Die eerste (en sover enigste) vrouemoderator van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel, is aan komplikasies ná ’n onlangse operasie in die Netcare N1 City-hospitaal in Goodwood dood. Sy was 60.

Prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel

Plaatjies-van Huffel was die eerste vrouedominee in die Nederduits Geformeerde kerkfamilie in Suid-Afrika en ’n gerekende teoloog (met twee doktorsgrade agter haar naam) wat vir lank teen patriargie in kerke geveg het. Sy was ook die eerste swart vrou wat tot hoogleraar in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch bevorder is.

Plaatjies-van Huffel is gekritiseer omdat sy geglo het kerke moet hermeneutiese skuiwe in ag neem en daar moet gekyk word na hoe tekste in die hede geïnterpreteer behoort te word.

Toe sy op ’n slag 'n kind moes doop, vertel sy aan MatieMedia die volgende: “By die doopbediening is die doopformulier gelees en toe ek my hand in die doopvont druk om die kind te doop, toe gryp die pa sy kind uit my hande en skreeu: ‘Ek sal nie toelaat dat jy my kind doop nie want jy is nie ’n man nie. Die Here was ’n man.’ Dit is dáár waar ek besef het die kerk het niks gedoen om die teologiese antropologie te verander nie.”

‘Sy was haar tyd vooruit.’

’n Goeie vriend dr. Charles Flaendorp, hoof van die paroolraad en die tentmakerbedieningsleraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk (Macassar), sê: “Ek praat vanuit my posisie as ’n leraar.

“Sy was my kollega en mentor vir die afgelope bykans 20 jaar. Ons was kollegas in die VGK-ring van Zuurbraak, waar sy leraar was in die Robertson-gemeente. Later jare het ons saam gedien in die kuratorium van die VGK op Stellenbosch.

“My doktorale tesis oor die spiritualiteit en die identiteit van bruin mense is deur haar geïnspireer. Haar lewensdoel was om mense te bemagtig, veral die vroue in ons gemeenskappe.

“Sy het tyd gemaak om na die stories van vrouepredikante en teologiese studente te luister en dan ’n mentorsrol te speel.

“Mary-Anne het haar altyd geskaar aan die kant van die gemarginaliseerdes, die verontregtes en die minderbevoorregtes.

“Sy was ’n enigmatiese, transformatiewe geestelike leier sonder gelyke. Sy was ’n kenner op die gebied van kerkreg en sy kon enige tyd uit die vuis praat oor kerkordelike sake.

“Mary-Anne was haar tyd ver vooruit. Sy het ’n sin vir geregtigheid gehad, daarom was die Belydenis van Belhar vir haar ’n kosbare dokument waaruit sy haar teologie van geregtigheid bedryf het.”

Haar man, ds. Dawid Johannes Van Huffel, sê hulle het in 1986 in ’n Hebreeus-klas ontmoet. Sedertdien was hulle onskeibaar.

“Wat ek van haar gaan mis? Wanneer sy so lekker uit haar maag kon lag. Ons het elke maaltyd saam aan tafel geëet en gesels oor elke dag se wedervaringe, saam ’n fliek geniet. En die langpad, wat ons kilometers om gesels het.”

Mary-Anne Plaatjies is in Prieska gebore. Sy was die tweede van sewe dogters. Haar pa, Johannes Jacobus, was ’n skoolhoof by verskeie laerskole. Hulle moes gereeld verhuis. Haar ma, Jacoba Johanna, het na die groot familie omgesien.

Omdat hulle so baie moes trek, het sy gesukkel om boesemvriende te maak. Aan MatieMedia vertel die vrou wat baie mense “Ma” genoem het: “Ek is nie iemand wat baie vriende het nie. Ek het oor die 3 000 Facebook-vriende, maar ek het nie vriende wat op ’n Vrydagaand saam met my braai nie.

“My man is my beste vriend en my familie, natuurlik.”

Sy word oorleef deur haar man en vyf susters.

Mary-Anne Plaatjies-van Huffel, gebore 15 Desember 1959, oorlede 19 Mei 2020.

Rus in vrede

* Sannie Wiese (82), ondervoorsitter van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), filantroop en bekende in leeskringe, is in Kaapstad aan kanker oorlede. Haar man, Eric, in lewe finansiële hoof van Naspers, is in 2017 in hul huis in Higgovale vermoor. Sy het ten spyte van hierdie groot terugslag haar geloof behou en aangegaan met die lewe.
Wiese het ook Christelike boeke geskryf. Daar word vertel dat toe haar man nog geleef het, niemand in hul huis, gaste en vriende ingesluit, oor hul kwale en skete mog praat nie. Dit sou net as demper dien. Hierdie grafskrifskrywer het haar by die Oranjezicht-leeskring ontmoet waar haar liefde vir lees en letterkunde opgeval het.
Sy word oorleef deur drie kinders, wat almal oorsee woon. 

* James Sherwood, die eienaar van die Mount Nelson-hotel wat ook die befaamde en stylvolle Orient Express-treindiens laat herleef het, is op 86 dood. Alhoewel hy in die VSA gebore is, het hy die grootste deel van sy lewe in Engeland deurgebring. Hy was ook in ’n stadium die eienaar van The Illustrated London News.
Alhoewel hy die fyner en duurder dinge in die lewe geniet het, was hy nie juis sosiaal nie. Hy het selfs lede van die koninklike gesin die deur gewys.
Sherwood se Belmond, die maatskappy wat hy in 1976 gestig het, besit talle spoghotelle, luukse toeristetreine, rivierbote en restaurante in 22 lande.
In 1982 het hy die Orient Express laat herleef met gerestoureerde treinwaens uit die 1920’s en 1930’s. Die diens bedien roetes van Londen na Venesië en van Parys tot Instanbul.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.