Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Baanbreker-sjef was ’n ‘goedhartige, liewe mens’

Die land se eerste swart kookboekskrywer, Dorah Sitole, is verlede Sondag in die ouderdom van 67 in Johannesburg aan Covid-19 dood.

Dorah Sitole Foto: Sunday Times

Sy was ook ’n opgeleide cordon bleu-sjef en vir jare kos- en lewenstylredakteur by die glanstydskrif True Love, waarvan sy later mederedakteur geword het.

Sitole het onlangs nog haar magnum opus gepubliseer, Dorah Sitole 40 Years of Iconic Food. Dié kookboek, wat op Afrika-geregte fokus, neem die leser op ’n episodiese reis van Sitole se grootwordjare in Soweto regdeur elke fase van haar ontwikkeling tot sjef wat internasionaal gereken word.

Haar kulinêre toere het haar na 19 lande in Afrika geneem. Die vrug daarvan was haar boek Cooking from Cape to Cairo: A Taste of Africa, waarvoor sy bekroon is as die ontvanger van die Gourmand World Cookbook-prys vir beste Afrika-cuisine.

Sitole is na verskeie oorsese lande genooi vir haar gewilde kookdemonstrasies.

Die Japannese was veral dol oor haar.

“Hulle het ons kos met ope arms ontvang,” het sy verlede jaar aan die kosskrywer Hilary Biller vertel.

‘Sy laat ’n gróót koserfenis.'

In dié onderhoud sê sy ook dit voel vir haar voel wit Suid-Afrikaners is bang vir kos van Afrika. Dit was vir haar hartseer dat plaaslike disse groter aandag oorsee geniet as hier.

“Mense eet soesji, maar hulle wil byvoorbeeld nie dombolo (gestoomde brood) eet nie.

“Dit is so maklik om te maak!” het sy gesê.

Die lewenstyljoernalis en koskenner Tony Jackman, wat ook ’n restaurant in Cradock besit (en self daar kook), sê dat Sitole se nuutste boek kan bestempel word as die swart weergawe van S.J.A. de Villiers se Kook en geniet.

“Dit is ensiklopedies van aard, ’n ryk bron vir navorsing en hoort saam met Kook en geniet in elke kombuis wat sy sout werd is,” sê hy.

Ironies genoeg was die Engelse weergawe van dié ikoniese boek, Cook and Enjoy It, een van die eerste geskenke wat Sitole se ontslape man, Archie, vir sy vrou as geskenk gegee het.

Vickie de Beer, voormalige kosredakteur by Rooi Rose, sê: “Sy was vir my ’n mentor van die eerste dag dat ek by Rooi Rose begin werk het.

“Sy was vir baie jare een van die beoordelaars van die Galliovas (die pryse vir kosskrywers en stiliste) en het altyd goeie raad gegee en opbouende kritiek gelewer. Sy was ’n hartlike, liewe mens en kon die heel beste drukkies gee.”

Die koskenner en fynproewersjef Errieda du Toit vertel Sitole was ’n merkwaardige mens, skrywer en kultuur-ikoon.

Haar laaste kookboek-opus is ’n “liefdesverhaal oor koserfenis”.

Annette Kesler, oudkosredakteur by Fair Lady, sê sy het oor jare heen saam met Sitole gewerk en dat sy ’n ongekende kulinêre erfenis laat.

Die uitgewer Melinda Ferguson was ’n voormalige heroïenverslaafde wat ná haar rehabilitasie by True Love as joernalis gewerk het. Sy sê: “Mam Dorah, jy het ons so baie geleer, veral ook oor goedhartigheid. Die jare saam met jou by die tydskrif was van my gelukkigste.”

Dorah Sitole is in die Shanty-kliniek in Soweto gebore. Sy het in armoede by haar oupa gewoon.

Kos was skaars. Hulle het meestal pap en afval geëet. Tien monde moes gevoed word. Daar was ’n paar hoenders, maar hulle is gehou vir dae wanneer belangrike gaste kom kuier het.

Sy word oorleef deur haar dogters, Ayanda en Phumzile, haar seun, Sibusiso, en sy vrou, dr. Nonhlanhla Sitole, en die kleinkinders Sifiso and Samkelo.

Dorah Sitole, gebore 24 September 1953, dood 3 Januarie 2021.

Rus in vrede

* Allan Mullins (72) was ’n gesoute onderwyser en wynkenner wat ná ’n duikongeluk vir 50 jaar in ’n rolstoel was. Hy was ook die connoisseur wat Woolworths se gehaltewyne reg tot die einde van sy lewe geselekteer het. Hy is in Kaapstad, nadat hy positief vir Covid-19 getoets is, dood. 

* Millicent Sisiwana was ’n lid van die kinderbeskermingsorganisasie Molo Songololo. Sy is in Kaapstad aan Covid-19 dood. Sy was ’n geliefde aktivis wat vir die regte van kinders baklei het. 

* Die sanger, onderwyser en vermaakkunstenaar June Kraus-von Trebitsch is in Johannesburg aan Covid-19 dood. Sy was hoof van die June Kraus-akademie vir kontemporêre sang. 

* Die prokureur Alan Smiedt het in Kaapstad heengegaan. Covid-19 is ook by hom gediagnoseer. Hy was die hoof van die regspraktyk Smiedt & Genote en ’n vooraanstaande lid van die Joodse gemeenskap. 

* Dr. Jan van der Merwe, ’n inwoner van Bloemfontein, is dood nadat hy ook positief vir die nuwe koronavirus getoets is. Hy was ’n antropoloog, kultuurhistorikus, fotograaf, gewese ANC-raadslid in Bloemfontein en skrywer van Vrystaatse dorpe en Noord-Kaapse dorpe. 

* Jasmine Jaffer, eggenote van Sharief Jaffer, vir baie jare fotograaf by Rapport, is ook aan Covid-19 dood.

* ’n Beminde veearts van Tulbagh, dr. Dirk Triegaardt, is aan Covid-19 dood. Hy was ’n instelling by die Bergrivier-dierehospitaal. 

* Fatima Jacobs, bekend onder teaterlui as aunty Fatima, is aan onbekende oorsake dood. Sy was ’n veteraan-kostuummaker by Kunstekaap. 

Meer oor:  Dorah Sitole  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.