Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ‘Briljantste’ mens skryf oor ‘onvolkome kennis’

Die gerekende wiskundige en rekenaarprogrammeerder prof. Dirk Laurie is onlangs in die Mediclinic-hospitaal in Hermanus dood. Hy was 73.

Dirk Laurie en sy vrou, Trienke, met hul kleinkind, Marielé.

Volgens sy seun, Reenen, is sy dood veroorsaak deur die infeksiesiekte listeriose wat breinskade teweeggebring het. Sy liggaam was verder verswak deur chemobehandeling wat hy vir ’n skaars kiemsel-kanker ontvang het.

Hy en sy vrou, Trienke, dogter van die digter D.J. Opperman en ’n skilder en skrywer in eie reg, het die afgelope jare in Franskraal gewoon.

Luidens sy biografie op LitNet was Laurie 'n professor aan die Universiteit Stellenbosch, vroeër was hy op die Vaaldriehoekkampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Noordwes-Universiteit), en nog vroeër ’n navorser by die Nasionale Navorsingsinstituut vir Wiskundige Wetenskappe, ’n afdeling van die WNNR wat nie meer bestaan nie.

Ten tyde van sy dood was hy redakteur van natuurwetenskappe van die aanlyn akademiese tydskrif LitNet Akademies.

‘Dan vra hy, waar was ons gisteraand?’

Hy was ’n oudleerling van die Hoërskool Jan van Riebeeck en ’n oud-Matie, maar het sy PhD in 1977 persoonlik van die koninginmoeder by die Universiteit van Dundee as ’n student van A.R. (Ron) Mitchell ontvang.

Ná die dood van sy kleindogter Marielé op 16 Augustus 2013, begin hy opstelle oor die verhouding tussen wetenskap en geloof skryf. Op LitNet publiseer hy amper poëtiese stukke: “Hoekom laat God dit toe?”, “Die onvolkome kennis van die wetenskap én die geloof”, en “Die klank van die mishoring: wetenskap en mistiek”.

Sy vrou onthou: “Ons was saam op laerskool. Op universiteit het Piet Human in September 1965 ’n weddenskap met Dirk tydens ’n kunsfees aangegaan. Hy moes elke aand 'n ander meisie uitneem.

“Nadat hy my uitgeneem het, het hy Piet gevra of hy die voorwaardes van die weddenskap kan verander en dieselfde meisie elke aand uitneem. Piet het geantwoord: ‘Dit was die idee.’ ”

Sy kinders vertel: “Ons pa het elke jaar ’n blokkiesraaisel opgestel wat ons dan saam opgelos het. Hy het met elke kind op ’n individuele vlak aanklank gevind. Met Henri rondom boeke oor wetenskapsfiksie, en met John het hy skaak gespeel. Met Dirk-Pieter het hy sport gespeel en gekyk, met Reenen het hy baie gepraat oor rekenaars, en met Kestell rondom wiskunde en musiek.

“Hy het vir ons stories gelees – van jongs af, romans. Dan vra hy, waar was ons gisteraand? Dan moet ons opsom.”

Sy vriend, die oud-sakejoernalis David Meades sê: “Ons het saam in die kerkkoor gesing en Dirk se kennis van musiek het my keer op keer verbyster. Hy het van tyd tot tyd die koorleidster reggehelp wanneer haar koorstukke dalk hier en daar ’n noot op die verkeerde plek gehad het.

“Weens my werk as sakejoernalis oor twee dekades het ek die voorreg gehad om van die land se slimste mense te ontmoet. Dirk was verreweg die briljantste mens wat ek geken het.”

Hy het wyd gelees – veral speurverhale en humoristiese boeke, maar ook wetenskap en wetenskapsfiksie. Sy belangstellings het gestrek van musiek, wiskundekompetisies en -probleme, genealogie, blokkiesraaisels tot bordspeletjies.

Laurie se fyn insig in alles wat om hom aangegaan het en sy prosaïese skryfstyl (vir ’n wiskundige!) word goed opgesom in die openingsparagraaf in een van sy essays op LitNet: “Ek word saam met die son wakker: in die somer dus vroeg, behalwe as dit bewolk of soos vanoggend mistig is. Die eerste voëlgeluide buite is die bekendes — janfrederik, ringnekduif, bosfiskaal, bandkeeltjie.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Trienke, vyf seuns en ses kleinkinders.

† Dirk Pieter Laurie, gebore 5 Januarie 1946, oorlede 10 Augustus 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.