Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Buitengewone Rajna se ego oorskadu hom nooit

Die Britse komponis-pianis van Hongaarse afkoms wat hom in 1970 in Suid-Afrika kom vestig het, dr. Thomas Rajna, is in die ouderdom van 92 in Kaapstad oorlede. Hy het geval en is die volgende dag dood.

Dr. Thomas Rajna en sy seun Daniel.

Rajna was reeds bekend in Londen ná die Tweede Wêreldoorlog en het met verskeie top-komponiste gewerk voordat hy hom in Suid-Afrika gevestig het. Hy het gereeld op die BBC opgetree en is later aangestel as professor in klavier aan die Guildhall School of Music & Drama.

Rajna sal onthou word vir sy luide, energieke uitvoerings. Hy het ook nie twakpraatjies van dirigente verduur nie en gereeld met van hulle vasgesit.

Sy pa is in Boedapest, waar die familie ondergronds geskuil het, deur die Nazi’s ontvoer en sy liggaam is in ’n rivier gegooi. Dit het Rajna genoop om in Londen ’n nuwe lewe te begin.

In Suid-Afrika het die pianis Lamar Crowson vir hom by die musiekskool aan die Universiteit van Kaapstad (UK) werk aangebied.

Louis Heyneman, hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), sê: “Ek en Thomas kom ’n lang paadjie oor die afgelope 30 jaar, hoewel ek net ’n randfiguur in sy lewe was.

‘Hy was een van talle onderskatte musici.’

“Destyds, by die Oude Meester-stigting, het ek twee van sy CD’s uitgegee, onder meer sy harpkonsert en tweede klavierkonsert. Die orkes het nou en dan van sy werke uitgevoer en was ook betrokke by sy volksopera Valley Song, gebaseer op Athol Fugard se verhoogstuk.

“In 2008, vir sy 80ste verjaardag, het ons sy Tweede Klavierkonsert as huldiging uitgevoer, en omdat hy toe steeds ’n bedrewe pianis was, met homself as solis.

“Hy was ’n ware heer, wyd belese en fyn beskaafd. Hy was nie opdringerig oor sy superieure musiekkennis en vermoëns nie, maar kon dikwels met ’n skalkse glimlag sy punt maak.

“Wat ’n gedugte gespreksgenoot oor allerhande sake was hy nie! En soos baie komponiste, ’n goeie skrywer wat sy idees akkuraat en verbeeldingryk kon neerpen.”

Die Suid-Afrikaner Albert Horne, koorleier en dirigent by die Wiesbaden-staatsteater in Duitsland, onthou: “Dit is natuurlik ’n uitdaging om klavierrepetisies vir die wêreldpremière van ’n opera te speel (in hierdie geval Thomas Rajna se Valley Song), maar wanneer die komponis boonop tydens repetisies langs jou kom sit en daarna luister, is dit absoluut uitmergelend – veral as jy weet dat hy ook een van die land se beste pianiste is!

“Tog het hy my ná elke repetisie gekomplimenteer, raad gegee en bedank. Thomas was dalk klein van formaat, maar hy het die kennis, talent, temperament en hart van ’n reus gehad.”

Nog ’n Suid-Afrikaner, Richard van Schoor, wat as komponis en pianis in München woon, sê: “So baie lektore kom met hul ego’s. Thomas het na jou toe gekom omdat hy iets met jou wou deel, ’n storie, musiek. Hy het jou nooit laat voel asof jy nie genoeg is nie.”

Acáma Fick, voormalige koorleier en musiekdosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), vertel dat hy besonder hoog aangeskryf staan in talle ingeligte musici se hiërargiese waardeskale, en dat hy nie slegs ’n indrukwekkende pianis was nie, maar ’n buitengewone pianis-komponis.

“Heel moontlik een van die talle onderskatte musici wat van meet af aan in die musiekgeskiedenis voorkom, en altyd sal voorkom,” sê sy.

Hy word oorleef deur sy vrou, Ann, asook sy kinders Daniel, Jessica en Trilby. Sy oudste seun, David, het hulle in 1996 ontval.

Thomas (gebore Tamás) Rajna, gebore 21 Desember 1928, oorlede 16 Julie 2021.

Rus in vrede

* Die kultuurman, sakeman, politikus en krisantkweker Herman Bailey (70) is aan Covid-19 oorlede. Bailey het onder meer vir  18 jaar op die ATKV se direksie gedien waar hy, volgens die ATKV se oudhoof Japie Gouws, baie gedoen het om die organisasie te vernuwe en meer inklusief te maak. Hy was ook die eerste burgemeester van Wellington ná die 1994-oorgang én uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit van 2002 tot 2006. Bailey het op vele direksies gedien, onder meer die van die FW de Klerk-stigting en die raad van die Stellenbosch Universiteit. 

* David Nissen, plaaslike kitaarspeler, sanger, akteur, komponis, dramaturg en musikale verwerker, is op 70 in Ierland in sy slaap oorlede. 

* John Slemon, (84) die heel eerste bestuurder van die Baxter-teater (1977-1999), is verlede Saterdag oorlede. Talle akteurs het hul misnoeë uitgespreek dat sy enorme bydrae tot die teater in Suid-Afrika grootliks vergete is. Hy word onder meer onthou vir sy bydrae om stukke soos District Six: The Musical op die planke te bring. 

* Die voormalige redakteur van die Cape Herald Ted Doman is op 88 in Kaapstad oorlede. Hy was die pa van die ontslape krieketspeler en joernalis Michael Doman. Die Cape Herald is in die 1970’s en 1980’s deur die Argus-groep besit. Dit was op die “bruin mark” gerig, maar is deur hul eienaars gesluit omdat die koerant se politieke aanslag te veel van ’n tameletjie vir die eienaars geword het. Van die joernaliste wat onder Doman kon gedy, was mense soos Dougie Oakes en die presidensiële woordvoerder Tyrone Seale.

Meer oor:  Thomas Rajna  |  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.