Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Dapper Paralimpiese atleet sterf soos sy wou

Die Paralimpiese atleet Marieke Vervoort het in die ouderdom van 40 gesterf nadat sy dokters gevra het om haar behandeling vir ’n degeneratiewe siekte te staak. Sy is dood in haar geboortedorp, Diest, in België.

Marieke Vervoort wen in 2015 die 400 m in die T52-eindstryd op ’n Wêreldbyeenkoms in Doha. Foto: Francois Nel, Getty Images

Genadedood is wettig in dié land en Vervoort het gesê sy het reeds in 2008 die nodige dokumente daarvoor geteken sodat sy waardig kon sterf “wanneer die tyd reg is”. Sy het aan degeneratiewe miëlopatie gely, ’n siekte van die ruggraat, wat haar verlam gelaat en uiteindelik ook haar ander liggaamsfunksies aangetas het.

Sy het in 2012 ’n goue medalje in die 100 m (T52-klas) en ’n silwer in die 200 m op die Londense Paralimpiese Spele in die rolstoelafdeling gewen.

Vier jaar later in Rio de Janeiro het sy ’n silwermedalje in die 400 m en ’n brons in die 100 m-resies gewen. Ná haar oorwinning het sy ter ondersteuning van genadedood in die media begin praat, ook oor haar eie beplande einde.

Haar siekte het haar reeds in 2000 verlam gelaat. In ’n onderhoud op YouTube vertel sy huilend dat genadedood die beste alternatief is. Haar ouers moet liewer nie by wees nie omdat hulle haar so lief het.

De Standaard berig dat haar doodsbegeleier, Leifarts Wim, gesê het sy is dood “met een glas cava [sjampanje] in de hand”. Sy was heeltemal sereen. Vervoort is deur ’n kring intieme vriende omring.

‘Hulle kom na haar toe en lag en gesels.’

Dié koerant skryf verder dat Wielemie (haar bynaam) onthou sal word vir haar sportprestasies, maar nog meer vir haar positiewe ingesteldheid en volharding. Sy het verskeie avonture onderneem soos diepseeduik en brugspring.

Verlede maand het Vervoort nog een van haar laaste wense vervul. Sy wou in ’n Lamborghini op ’n resiesbaan jaag. Dit het sy toe gedoen.

Die burgemeester van haar dorp, Christophe de Graef, sê sy was ’n voorbeeld vir baie mense wat swaar kry of deur moeilike tye gaan.

“Sy het met dapper deursettingsvermoë bly glo in oorwinning, om aan te hou, doelwitte te bereik en die hoër doel van ’n mens se lewe te vervul.”

Vervoort het aan epilepsie gely. The Guardian skryf dat sy in 2014 ’n aanval gekry het terwyl sy pasta gekook het waartydens warm water op haar bene geval het. Sy het vier maande in die hospitaal deurgebring.

’n Labrador, Zenn, het by haar begin bly. Hierdie hulphond het haar voor ’n aanval met die poot betas.

Die hond het ook haar sokkies uit haar laai gehaal. As sy te veel inkopies gehad het, het sy die sakkies in haar bek help dra.

Vir ? joernalis van die BBC het Vervoort vertel: “As ek gelukkig is, is sy gelukkig. Wanneer ek huil, dan kom lê sy by my, lek my gesig en gee my ’n drukkie.”

Die verslaggewer skryf as jy met Vervoort in haar tuisdorp gaan uiteet, ken al die restaurantgangers haar.

“Hulle kom na haar toe en lag en gesels. Hulle is trots op haar. Vir ’n wyle is sy die sprankelende middelpunt van die partytjie.”

Luidens Right to Die – Dignity SA “sien ons uit na die dag wanneer Suid-Afrikaners die wetlike en regmatige keuse het om soos Vervoort, as die pyn te erg word, genadedood te kan toepas”.

In een van haar laaste onderhoude sê Vervoort: “Als ze één boodschap heeft, is het wel: leef nu. Geniet van elk moment, morgen kan het gedaan zijn.”

Sy word oorleef deur haar ouers, Odette en Jos, ’n onbekende aantal sibbes, haar labrador, Zenn, en ’n groot netwerk van vriende en aanhangers.

Marieke Vervoort, gebore 10 Mei 1979, gesterf op 22 Oktober 2019.

Rus in vrede

* Die akteur Anthony Bishop is op 48-jarige ouderdom in ’n motorongeluk dood. Hy was bekend vir sy rol as Prospero Brand in M-Net se Jacob’s Cross, van 2007 tot 2012. Hy het ook as Michael in die SABC3-dramareeks Shado’s opgetree. Bishop het verder in rolprente soos District 9 en Chappie gespeel. 

* Mirah Wilks (68), ’n sielkundige en kunsonderwyseres, is in die noorde van Johannesburg in haar huis vermoor. Die kunsjoernalis Robyn Sassen skryf Wilks het ’n sterk wilskrag gehad. As kind het sy polio gehad en as volwassene het sy ’n nier verloor. Hierdie gebeure het haar as ’n buitestander empatie vir randeiers gegee. Wilks was ten tyde van haar dood met ’n doktorsgraad aan Unisa besig. 

* Nick Tosches (69) het in die 1960’s in Amerika naam gemaak as musiekjoernalis, romansier, digter en biograaf. Sy skryfstyl  is beïnvloed deur William Faulk­ner, Hubert Selby jr. en die King James-Bybel. Hy was onder meer die biograaf van Jerry Lee Lewis en Dean Martin.

Toe hy ’n bekendstelling van een van sy boeke in Londen moes bywoon, het hy ná ’n drie dae lange orgie op alkohol en Prozac so amok gemaak dat sy uitgewer veiligheidswagte moes kry om hom op ’n vliegtuig landuit te sit. Joernaliste wat onderhoude met hom moes voer was stomgeslaan, net soos die verskillende gashere by deftige aandetes waar hy chaos veroorsaak het. Die £1 000 wat hy as prysgeld gewen het – asook sy broek – het hy verloor.

Op ’n ander keer is hy deur Rolling Stone afgedank nadat hy ’n resensie van ’n Black Sabbath-album geskryf het sonder om daarna te luister.

Meer oor:  Nick Tosche  |  Mirah Wilks  |  Anthony Bishop  |  Marieke Vervoort  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.