Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Dié politieke voorloper was ’n onbesonge held

Die voormalige hoofbestuurder van Sanlam, Willem Pretorius, is ná ’n kort siekbed in die ouderdom van 91 in sy huis in Mostertsdrift in Stellenbosch oorlede.

Willem Pretorius, voormalige hoofbestuurder van Sa
Willem Pretorius, voormalige hoofbestuurder van Sanlam.

Pretorius het reeds as jong man by Sanlam begin werk. Hy het as aktuaris kwalifiseer en tussen 1960 en 1967 het hy by die Swiss Reinsurance Company Ltd. in Johannesburg en Zürich gewerk. Daarna is hy terug na Sanlam as beleggingshoof, later hoofbestuurder en senior hoofbestuurder.

Met Sanlam se oorname van Metropolitan is hy aangestel as besturende direkteur. Hy het Metropolitan “beurs toe gevat” en later uitvoerende voorsitter geword tot en met sy uittrede.

Ná sy aftrede is hy saam met Billy van der Merwe aangestel as geregtelike bestuurder van Crusader Life. Hulle het daarin geslaag om dié maatskappy reg te ruk en vir polishouers sonder verliese te verkoop. Gedurende sy loopbaan het hy in verskeie direksies gedien soos dié van General Min­ing, Trustbank en Philips (Suid-Afrika).

Hy was ’n bekeerde stapper en natuurliefhebber, en intelligent om nie tropdenke met die ‘manne’ te deel nie. Hy was ’n politieke voorloper toe dit gevaarlik vir jou loopbaan en toekoms was.
Ton Vosloo

Hy was tussen 1987 en 1990 saam met prof. Willie Esterhuyse en ander aktief betrokke by gesprekke met die ANC in Bath, Engeland. Esterhuyse het hierdie week gesê Pretorius het “meer sakeintegriteit in sy pinkie gehad as Markus Jooste in sy hele lyf Hy was ’n merkwaardige mens, ’n onbesonge held”.

Metropolitan was onder sy voorsitterskap die eerste groot Suid-Afrikaanse maatskappy wat 'n swartbemagtigingsvoorsitter, dr. Nthato Motlana, aangestel het.

Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Sanlam, sê: “Hy was ’n bekeerde stapper en natuurliefhebber, en intelligent om nie tropdenke met die ‘manne’ te deel nie. Hy was ’n politieke voorloper toe dit gevaarlik vir jou loopbaan en toekoms was.”

Mof Terreblanche, oudbedryfsleier, sê hy was die tipe mens wat ander aangestel het wat later sy base geword het. “Hy was intelligent en entoesiasties.”

Willem Pretorius,
Willem Pretorius

Willem Sternberg Pretorius is in Kaapstad gebore. Sy seun, dr. Stern Pretorius, sê: “Hy moes op 16, aan die einde van st. 8, toe sy pa oorlede is, uitspring en begin werk om die familie te help onderhou.

“Hy het sy matriek binne een jaar buitemuurs voltooi en ’n ekstra inkomste verdien deur vir die matrieks wiskundeklasse te gee. Hy het verder buitemuurs studeer en kwalifiseer as aktuaris by die Faculty of Actuaries, Edinburg, Skotland.

“My pa het arm grootgeword. Dit was primêr vir hom belangrik om ? standvastige lewe en sekuriteit vir sy gesin te verseker. Hy was altyd bekend vir sy eerlikheid en regverdigheid, in sy persoonlike lewe en in werksverband.”

Sy seun vertel oor hul kinderjare: “Ons het aanvanklik in Northcliff, Johannesburg, gewoon, en in 1967 na Stellenbosch verhuis. Hy was ’n great pa – hy het baie hard gewerk en moes gereeld reis, maar wanneer hy tuis was, is al sy aandag aan ons gegee, ook altyd goeie advies en ondersteuning.”

Pretorius was as jong man ’n flink rotsklimmer. Hy was lief vir Tafelberg. Later jare was hy 'n geesdriftige stapper, gereeld in die Sederberge, Stellenbosch se berge en ander staptoere soos die Otterroete, wat hy ses keer gestap het.

Sy ander belangstellings buite die sakewêreld was om wyd te lees en in sy tuin te werk.

Hy was ’n kranige reisiger. Hy en sy vrou het nog tot in hul vroeë 80’s gereeld oorsee getoer. Sy seun vertel sy pa het terugslae hanteer deur altyd positief te bly, hard te werk en deur te druk.

“Behalwe vir sy gesin, was hy altyd beskikbaar vir vriende en familie, en vir onbekendes met raad, of selfs geldelike bystand,” sê hy.
Hy word oorleef deur sy seun, dogter, Theresa, vier kleinkinders en vier agterkleinkinders. Sy vrou, Magda, het hom in 2015 ontval. 

* Willem Sternberg Pretorius, gebore 10 Julie 1928, oorlede 21 Desember 2019.

Rus in vrede

* Danny Oosthuizen was ’n bekende hawelose man in Kaapstad wat die alledaagse swaarkry van swerwers wat op straat woon, onder vele mense se aandag gebring het. ’n Engelse dagblad in Kaapstad het vir hom die forum geskep om oor so ’n lewe te skryf. Dit is “The Dignity Project” genoem.
Buiten dit het hy goeie werk gedoen om die lewensomstandighede en regte van straatmense te verbeter. Oosthuizen se pleidooi was dat hulle liefde en menslike aanraking nodig het.
Hy was ook ’n lid van die South African Network of People Who Use Drugs, waar hy waardevolle insette oor dwelmafhanklikheid gelewer het. Net toe hy sy lewe regruk en op die kruin van sy nuwe lewensweg was, is hy aan kanker van die pankreas dood.  

* Die gesoute oud-persfotograaf Danie Coetzer is op 4 Januarie in Jeffreysbaai aan kanker dood.
Coetzer, ’n stil en teruggetrokke kêrel, word deur kollegas onthou vir veral drie ikoniese foto’s: Een van ’n triomfantlike Gysie Pienaar ná ’n toetsdrie teen die Britse Leeus in Bloemfontein in 1980, ’n foto vir Rapport van ’n ou vrou, ’n Portugese vlugteling uit Mosambiek, op die Johannesburgstasie in 1974, en ’n foto uit die laat 1970’s van ’n uitdagende Eschel Rhoodie wat die fotograaf die tweevingersaluut gee.
Rhoodie het later dié foto vir hom geteken met die woorde: “Aan Danie met twee vingers!”
Coetzer was nie net ’n goeie sportfotograaf nie, maar ook ’n kranige sportman. Hy was onder meer behulpsaam om die land se eerste driekamptoernooi, die Leppin-Ystermankompetisie, in die vroeë 1980’s by die Hartbeespoortdam te organiseer.

Meer oor:  Willem Pretorius  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.