Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Eertydse taximan ’n sakeleier met visie

’n Eertydse taxibestuurder wat later een van die land se uithaler-entrepreneurs en onafhanklike denkers sou word, Jabu Mabuza, is op 63 aan Covid-19-verwante oorsake in Johannesburg dood.

Jabu Mabuza Foto: Chris Saunders

Hy was voorsitter van en op die direksie van Sun International ten tyde van sy dood. Vir meer as nege jaar was hy in die raad van SA Toerisme, waarvan hy vir ses jaar die hoof was.

By sy gedenkdiens het ’n vrou vertel hoe sy vir ’n belangrike vergadering by hulle opgedaag het. Uit die hoek van haar oog het sy ’n man in ’n kortbroek en ’n hoed op ’n sofa sien sit.

Sy het nie veel daaraan gedink nie en het met die res van die grootkoppe aan tafel gaan sit sodat hulle met die sessie kon begin. Die mans het pakke gedra en die vroue was deftig.

Toe sy weer sien kom dié aardige mannetjie met die hoed en kortbroek ingestap en gaan sit wraggies aan die hoof van die tafel. “Laat ons begin,” het hy gesê en haar mond het oopgehang.

By sy roudiens van ure lank het baie van die rouklaers stories soos dié te vertelle gehad. Oor sy kortbroeke het hy eenkeer gesê: “If you’ve got it, you’ve gotta flaunt it!”

Hy het Zuma berispe.

Hy het die vermoë gehad om met enigiemand oor die weg te kom, van die skoonmaker tot edelmanne.

In 2012 was hy aan die stuur van Telkom. Hy het gou besef daar is te veel passasiers aan boord wat te min uitgerig het en te veel betaal is. Mabuza het homself uiters ongewild gemaak toe hy met afleggings begin, maar hy het Telkom reggeruk.

Hy het ook nie ooghare vir korrupte politici gehad nie. Mabuza het eenkeer voor ’n groep sakelui aan ’n etenstafel waar oudpres. Jacob Zuma gesit het vir laasgenoemde berispe oor sy intieme vriendskap met die Guptas.

Zuma het net verleë gekekkel en toe sommer stilgebly.

Mabuza het ook die afvaardiging van sakemense na Zuma gelei toe hy oornag die land op die rand van die afgrond gedwing het met sy weekend special-aanstelling van Des van Rooyen as minister van finansies. Hulle het hom gemaan om die saak reg te stel voordat daar ongekende skade is en die markte in die Ooste open.

Hy was ook waarnemende hoof van Eskom en was oorspronklik glad nie lus vir dié taak nie. Sy vrese is bewaarheid toe hy ontdek hoe diep die tentakels van korrupsie by Eskom strek en hy het voor die Zondo-kommissie gaan getuig en die bedrog ontbloot.

Die sakeleier Santie Botha sê: “Jabu was ’n besonderse mens. Ek het die voorreg gehad om sy vriendin te wees. Vir 25 jaar.

“Hy was geliefd omdat hy so baie liefde gegee het. As ’n besigheidsman was hy uitgeslape, met ’n ongelooflike sin vir humor en ’n besondere deernis vir alle mense, op alle gebiede.

“Hy het alles en almal raakgesien. Suid-Afrika en die wêreld is armer sonder Jabu.

“Ek gaan hom baie mis.”

Mabuza is in Waterval Boven, Mpumalanga, gebore en het vir ’n kort ruk regte geswot. Sy eerste werk was dié van ’n taxibestuurder en kort daarna het hy dit in ’n welvarende onderneming omgeskep.

By sy huldigingsdiens het een van sy kinders gesê: “Pappa het ons op die lewe so goed voorberei, maar nie op jou dood nie.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Siphiwe, en drie kinders – Lwazi, Sakhiwo and Mbali.

Jabulani Albert Mabuza, gebore 4 Februarie 1958, oorlede 16 Junie 2021.

Rus in vrede

* Prof. Bhekizizwe Peterson, wat aan Wits verbonde was, is aan hartversaking op 60 in Johannesburg oorlede. Hy was ook ’n gerekende vervaardiger en draaiboekskrywer van dokumentêre programme soos Born into Struggle, The Battle for Johannesburg en Miners Shot Down. Luidens ’n verklaring wat die universiteit uitgereik het, was hy ’n veelgeprese literêre kritikus en verbonde aan die fakulteit van Afrika-letterkunde. Hy was geliefd as ’n gulhartige mentor vir talle jong studente in die kunste en die akademie.

* Die dirigent Graham Scott is in die ouderdom van 67 oorlede.
Hy het onder die befaamde dirigent David Tidboald aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Daarna het hy vir Kruik gewerk en later in onder meer Londen opgetree. Opera was sy groot liefde.

* Die musiekjoernalis Peter Feldman, die man wat krediet moet neem as die eerste om die uitdrukking “local is lekker” te gebruik, is dood tydens ’n operasie vir ’n hartkwaal. Feldman, ’n bekende in die bedryf, was vir jare by The Star en The Citizen in Johannesburg werksaam. 

* Michael Schutte, seun van die bokskampioen Mike Schutte, is in die Helen Joseph-hospitaal oorlede ná ’n reeks beroertes.
Hy was 34. 

* Die denker, skrywer van oor die 60 boeke en ’n man na wie daar selfs ’n planeet genoem is, dr. Edward de Bono, is in die ouderdom van 88 in Malta oorlede.
Die klein planeet se naam is Edebono. De Bono het in 1967 bekendheid vir sy boek The Use of Lateral Thinking verwerf. Die begrip “laterale denke” is vandag algemene gebruikstaal en in talle woordeboeke opgeneem.

Meer oor:  Bhekizizwe Peterson  |  Jabu Mabuza  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.