Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: ‘Egoli’ se Nora was ‘ou-skool’ wat kon inpas in enige rol

Christine Basson, die aktrise met die hartseer gesig en wat in haar jeug Marilyn Monroe se gelaatstrekke gehad het, is die afgelope week aan orgaanversaking dood. Sy was 78.

Christine Basson in die 1970’s.Foto: philip de vo
Christine Basson in die 1970’s. Foto: Philip de Vos

Basson was ten tyde van haar dood ’n inwoner van die Ekklesiapark-aftreeoord in Blairgowrie, Randburg. Sy het 18 jaar lank die rol van Nora Naudé in die sepie Egoli – plek van goud vertolk.

Die akteur Ivan Zimmermann sê: “Christine was ’n private mens, maar toeganklik en liefdevol teenoor diegene wat sy toegelaat het in haar lewe. ’n Vrou wat geglo het in reg en verkeerd met ’n sterk vertroue in haarself en waarin sy glo. En baie slim. Ek het die voorreg gehad om vir drie jaar deel van tannie Nora se huis te wees.

“Christine het aangedring om ekstra tyd in te sit vir repetisies. Repetisies moet een van die kernaspekte wees van enige akteur, daarom dat sy so ’n sterk werksetiek gehad het. Haar emosionele aanslag op Nora was klokslag pure perfeksie.”

In die rolprent Snake Dancer, oor die lewe van die danseres Glenda Kemp, het sy Kemp se ma vertolk. Kemp onthou haar as ’n vrou wat haar gemaklik voor die kamera laat voel het, iemand met ’n warm hart. “My indruk van haar was ook hoe sy soos ’n verkleurmannetjie veelsydig kon inpas in enige rol.”

Die teaterargivaris Kobus Linde sê: “In Agter elke man was sy Marietjie Barnhoorn, ’n stil bedagsame vrou met haar eie hartseer en kwellinge net soos die karakter Nora. Daarenteen was sy ook ’n lewendige en opgewekte aktrise.”

Basson en Hennie Smit in Egoli.
Basson en Hennie Smit in Egoli.

“Ek het in die 1980’s aan radiodramas gewerk,” sê Tommy Gooding, “en só vir Christine leer ken. Sy was van die ou skool, altyd ’n halfuur voor opnames al in die ateljee met haar voorbereide teks.

“Haar pragtige donker stem was iets besonders en sy het altyd van die ateljeekant gesigte getrek om te ‘hoor’ of sy oukei gespeel het. ’n Reguit mens, nie een vir lospraatjies nie, nooit geskinder nie. Ons het ’n liefde vir honde gedeel.”

Die skrywer Philip de Vos (vandag 80) vertel: “Sy het my gereeld met my verjaardag gebel en as ek ‘Hallo, jou donner’ hoor, het ek geweet dit is sy.”

Die aktrise Rina Nienaber sê: “Haar karakters was altyd weldeurdag en geloofbaar. Christine het eenkeer vir my gesê: ‘ ’n Mens is net ’n actress as jy act. Daarom moet jy sorg dat jy altyd werk.’ En dit het sy gedoen. Sy was altyd vriendelik, maar het ’n sterk persoonlikheid gehad en het nie met haar laat mors nie.”

Basson het as jong vrou naam begin maak met toneelstukke in The Space in Kaapstad. Die stigter van dié teater, Brian Astbury, sê dat sy van die grootste akteurs was wat daar op die planke opgetree het.

“Ek het aand ná aand na haar in Pieter-Dirk Uys se Selle ou storie gaan kyk, dis dekades later steeds in my geheue ingeprent.”

Haar jarelange vriendin Anina Roux vertel: “Eendag nooi sy my vir ontbyt [in Johannesburg]. Ons ry nog so, toe stop sy op die lughawe. Toe ek weer sien, vlieg ons na Durban waar ons toe heerlik eet. Toe vlieg sy ons weer terug.”

Basson is in Johannesburg gebore en het aan die Oranje Meisieskool in Bloemfontein gematrikuleer. Sy het daarna ’n BA-graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Sy word oorleef deur talle vriende en aanhangers. 

† Christine Basson, gebore 9 Junie 1941, oorlede 10 Junie 2019

Meer oor:  Christine Basson  |  'N Lewe  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.