Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Fotojoernalis het hom beywer vir Swapo-stryd

Die fotojoernalis John Liebenberg, bekend vir sy grinterige wit-en-swart foto’s van die Grensoorlog, is in die ouderdom van 61 in Johannesburg oorlede. Hy het geval en sy femur gebreek, waarna komplikasies ingetree het en hy onverwags oorlede is.

Die lyk van ’n Swapo-vegter word deur Koevoet-lede weggedra. Foto: John Liebenberg

Liebenberg was ’n legendariese waaghals wat bereid was om sy lewe te waag in sy pogings om Swapo se stryd in al sy fasette te dokumenteer.

Ná skool het hy sy diensplig in Ondangwa asook in die honde-eenheid van die lugmagbasis Swartkop voltooi. In 1979 is hy terug na Namibië waar hy werk by die poskantoor in Windhoek gekry het.

“Daar het hy betrokke geraak by die stigting van ’n vakbond vir poskantoorwerkers,” sê sy dogter Jessica.

“Hier het hy begin foto’s neem van werkers in hostelle. Die mans het dié foto’s na hul families gestuur.

“Hy het my vertel dít is waar hy bewus geword het van hul weerstand teen die Suid-Afrikaanse bewind. Toe het hy ’n belangstelling in hul stryd ontwikkel,” sê sy.

Toe die prokureur Anton Lubowski hom eendag uitnooi na ’n saamtrek van Swapo-lede het hy sy eerste foto’s van ’n politieke byeenkoms geneem.

John Liebenberg

In 1985 het die joernalis Gwen Lister die koerant The Namibian begin en Liebenberg het as fotograaf vir hulle begin werk. Hier het hy begin om die oorlog en die mishandeling van die burgerlike bevolking te dokumenteer. Hy het gou naam gemaak oor sy absolute onverskrokkenheid en het telkens sy lewe gewaag om saam met Swapo-soldate op patrollie te gaan in ’n tyd wat die Suid-Afrikaanse Weermag besonder geslaag was om sulke patrollies te agtervolg en uit te wis.

Sy werk was uniek omdat hy toegang gehad het tot albei partye en die oorlog van albei kante gedokumenteer het. Tog was hy ’n doring in die vlees van sommige Suid-Afrikaanse bevelvoerders en in April 1989 oorleef hy ’n aanslag op sy lewe.

In Bush of Ghosts, ’n boek oor sy werk, skryf die geskiedkundige Patricia Hayes oor die belangrike bydrae wat Liebenberg se foto’s oor die oorlog in Namibië (en later ook Angola) gelewer het.

Van sy foto’s, soos The Crucifixion, het wêreldwyd opslae gemaak. Dit toon die kaal lyk van ’n Swapo-soldaat wat aan sy arms vasgehou word die oomblik voordat hy in ’n massagraf laat val word.

Sy argiewe oor die oorlog bestaan uit ongeveer 12 000 wit-en-swart negatiewe.

Sy seun Joseph sê: “Uit my kinderjare onthou ek hoe baie tyd ek in en buite die donkerkamer met hom spandeer het. Ek sal die robuuste debatte tussen ons oor die sake van die dag mis.”

Jessica vertel: “Hy het groen vingers gehad. Van my sterkste herinneringe van hom is in sy groentetuin.”

Die president van Namibië, Hage Geingob, het in reaksie op sy dood gesê dat Liebenberg ’n dapper fotojoernalis was.

“Hy is die verpersoonliking van die Engelse gesegde: A picture speaks a thousand words.”

John Grobler, ’n vriend en kollega, sê: “Waar ek ook al in Angola was, was die vraag altyd wanneer ‘O Johnno Maluca’ (Crazy John) weer gaan terugkom.”

Die fotograaf Dawid Roux vertel dat nadat hy sy heup gebreek het, hy vir ses weke bedlêend was.

“John het élke dag vir my kom kuier. Hy het ten spyte van sy bekendheid nie juis geld gehad nie. Hy sou egter sy onderbroek uittrek vir iemand wat dit nodig het.”

Liebenberg is in Mayfair, Johannesburg, gebore. Toe sy ouers skei, het sy ma na Windhoek verhuis en toe sy pa weer trou, is hy en sy suster in die St. Mary’s-kinderhuis geplaas.

Hy word oorleef deur sy kinders, Emile, Max, Jessica en Joseph, en sy kleinkind, Leo.

John Arthur Liebenberg, gebore 3 Maart 1958, oorlede 16 Februarie 2020.

Rus in vrede

* Die Britse TV-persoonlikheid Caroline Flack het in die ouderdom van 40 in Londen haar eie lewe geneem.
Sy was die aanbieder van die program Love Island, wat miljoene kykers gelok het. Dié program word tans in ’n onbekende villa in Suid-Afrika geskiet en haar dood word vir die deelnemers aan dié program geheim gehou. Flack is die derde persoon wat deel is van hierdie program wat op hierdie manier sterf.
Sy was gereeld in die visier van die poniepers, omdat sy in die verlede romanties verbind was aan prins Harry, asook die sanger Harry Styles. Toe sy haar huidige minnaar, die tennisspeler Lewis Burton, verlede jaar te lyf gegaan het, het ’n vloed van negatiewe en sensasionele aanvalle op haar in die media en sosiale media losgebars. Sy is ook deur die TV-stasie afgedank.
Voor die gebeure het sy reeds van haar depressie begin praat en gekla dat niemand na haar wou luister nie. Die slotsin van haar laaste inskrywing op Instagram lees: “I’ve been pressing the snooze button on many stresses in my life – for my whole life.”

* Die skilder Andrew Verster (82), is ná ? kort siekbed in Durban in sy slaap oorlede. Luidens die Durban University of Technology se webwerf was hy nie net ’n besonderse kunstenaar en stelontwerper nie, maar hy het ook kortverhale, artikels en radiodramas geskryf.
Hy is ’n voormalige wenner van die BBC World Service Playwrit­ing Competition. Gedurende sy leeftyd het hy oor die 50 solokunsuitstallings gehou. Die kunsafslaer Strauss & Co het onlangs kunswerke van hom ter waarde van R2 853 241 verkoop. Hy het ook artikels oor Indië publiseer.

Meer oor:  Caroline Flack  |  Sterfgevalle  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.