Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Fyn gemanierde vrou had staal in haar are

Een van prins Philip se jeugvriendinne en ’n sangeres wat ook vir die Britse geheime diens MI5 gewerk het, Sylvia Morris, is in die ouderdom van 99 in Gloucestershire dood.

Sylvia Morris in die 1950’s.

Sy was die enigste persoon wat voor Adolf Hitler en, 20 jaar later, voor koningin Elizabeth II gesing het.

The Times beskryf haar as ’n aanvallige vrou met rooibruin hare en intelligente, groen oë en iemand wat tot teen die einde nooit haar goeie maniere verloor het nie.

Haar familie in Northumberland was lede van die Britse adelstand. Hulle was bevriend met koning George V en koningin Mary.

Die Telegraph skryf sy het as kind onthou hoe hulle by die koninklike familie op dié se landgoed in Skotland gaan kuier het. Daar was net een badkamer. Die koning het eerste gebad, daarna die koningin en dan kon sy, haar broer en suster saam bad. Dat daar ’n donker “koninklike kimlaag” in die bad was, was vir die kinders oneindig snaaks.

Sylvia Heywood is ná skool na Dresden om viool- en sanglesse te ontvang. Sy wou graag ’n operasangeres word.

Volgens The Times het sy het ook ? Bräuteschule (bruidskool) bygewoon, waar sy moes leer kook en klere maak. Haar medestudente, almal jong vroue, het nie juis in die politiek belanggestel nie. Dresden was rustig – tot Kristallnacht in 1938.

Sy kon Hitler nie miskyk.

Hulle het gesien hoe die Joodse onderneming Etam’s verwoes word. Om te protesteer het hulle by hul hostel se venters Mendelssohn uit volle bors in die naglug gesing.

Sy is twee keer na die Bayreuth-fees en dit was by een van hierdie geleenthede dat sy as lid van ’n koor voor Hitler moes sing. Tot teen die einde van haar lewe het sy die stank van die swetende skare onthou wat buite die Festspielhaus op die Führer gewag het.

Toe hy daar aankom het sy gewalg gevoel, maar sy kon nes die ander deelnemers haar oë nie van hom afhou nie.

Aan die vooraand van die oorlog het sy gevlug. In haar haas het sy haar twee kosbaarste besittings agtergelaat: ’n pelsjas en haar viool. Sy sou hulle nooit terugkry nie.

Terug in Londen het sy danksy kontakte van haar pa werk by die Britse geheime diens gekry. Haar pa het reeds van ’n sel in die antieke tronk Wormwood Scrubs vir hulle gewerk. Haar eerste werk was om vir Duitse prisoniers sop te maak. Omdat sy Duits magtig was, het sy ook baie vertaalwerk vir MI5 gedoen. Later is sy bevorder en sy moes onder meer fokus op Luxemburg en die gebeure daar, asook hoe betroubaar sekere agente was.

In daardie tyd het sy ’n spogwoning met ’n pragtige Kanadese erfgenaam in Belgravia gedeel. Osla Benning was lord Louis Mountbatten se peetkind en Philip se eerste ernstige liefde.

Laasgenoemde het in daardie tyd geen vaste adres gehad nie en hy het geslaap waar hy kon. Hy was baie by hulle aan huis en sy en die prins het goeie vriende geword.

Die prins was ? depressielyer en sy moes gereeld na sy ellendes luister. Daar was ook ligter oomblikke wanneer hulle almal deur die nag by die Café de Paris of die Café Royal gaan dans het. Sy was die Mata Hari van die dansbaan.

Later het sy weer begin sing en op dié manier haar man ontmoet. Met haar dood is daar amper geen van Philip se vriende van sy jongdae oor nie.

Morris word oorleef deur haar dogter, Joneen Stephanie. Haar man, John, het haar in 2012 ontval.

† Sylvia Morris (gebore Heywood), gebore 9 November 1920, dood 28 Oktober 2020.

Rus in vrede

* Silas Nkanunu, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, is in die ouderdom van 87 dood. Dié oud-menseregteprokureur was bekend as die “Mandela van rugby” omdat hy liewer brûe wou bou en sonder eiewaan was.

* Die Amerikaanse akteur Eddie Hassell, bekend om sy rol as Clay in die rolprent The Kids Are All Right, is op 30 dood. Hy is in ’n gewapende rooftog buite sy meisie se woonstel in Dallas geskiet. Hassell was ’n belowende akteur wat op die drumpel van ’n groot loopbaan gestaan het.

* Die Britse akteur Geoffrey Palmer is in die ouderdom van 93 in Buckinghamshire oorlede. Hy het jare lank teenoor Judi Dench in die sitkom As Time Goes By gespeel. Sy droë sin vir humor was ’n kenmerk van sy uitnemende toneelspel.

* Die Britse akteur John Fraser, eens bekend as die mooiste man in Brittanje, is aan kanker oorlede. Hy was 89. Hy het in ’n horde rolprente opgetree, onder meer The Dam Busters, The Good Companions en The Trials of Oscar Wilde. Die laaste paar jaar het hy in Italië met sy lewensmaat van 40 jaar Rodney Pienaar gewoon. Pienaar is ’n Suid-Afrikaans gebore kunstenaar.

* Die Rod Stewart van Seepunt,  Sydney Becker (83), is aan hartversaking oorlede. Sydney is gereeld op straat voorgekeer en vir sy handtekening gevra omdat hy op ’n druppel na soos die Engelse sanger gelyk het.    

* ’n Geliefde inwoner van Kampsbaai, die oudonderwyseres Anita Robertson, is op 76 aan kanker oorlede. Sy was vir meer as 50 jaar getroud met Trevor, ook ’n bekende onderwyser. Hy het graag na haar verwys as sy  “Bolandse nooientjie”.

Meer oor:  Silas Nkanunu  |  Rus In Vrede  |  'N Lewe  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.