Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Geliefde onderwysman het versoening uitgeleef

Dr. David Piedt, beminde inwoner van Oudtshoorn, ringkop in onderwyskringe, aktivis, liefhebber van Afrikaans en stigterslid van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, het in die ouderdom van 80 gesterwe. Hy is Maandag in die Mediclinic George aan Covid-19-verwante oorsake oorlede.

Dr. David Piedt Foto: Hans van der Veen

Iemand wat diep spore met hom in die beginjare van die KKNK gestap het, is Anet Pienaar-Vosloo. “Ek het hom goed geken, van die eerste KKNK-dae af,” sê sy. Hy was ’n man met sterk beginsels en het nooit geskroom om sy mening te lug nie.

“Hy was deur geweldige trauma in die vorige politieke bedeling, maar as direksielid en later voorsitter van die KKNK het hy ’n opbouende en saambindende rol gespeel.

“David het die KKNK as versoenende geleentheid gesien. Hy het mense nader aan mekaar gebring en ons het altyd na hom gekyk as ’n ware leier. Ek dink met heimwee terug aan al die vrolike tye saam met hom en sy vrou Marjorie.”

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK vertel: “Hy was die maer lang man met die sagte stem. Sy eie lewensverhaal het ek een aand by ’n Klein Karoo Connect-byeenkoms gehoor (’n projek wat gesprekke fasiliteer tussen uiteenlopende inwoners van die omgewing).

“Met sy vrou, tannie Marjorie, aan sy sy het ons in ’n sirkel gesit terwyl hy van sy stryd in die apartheidsera, sy wroeging en seer, sy persoonlike transformasie en sy pad met die KKNK vertel het.

“Daardie aand het hy ’n skuiwe in my teweeggebring en ek vermoed verskeie ander. In die gesprek het hy ook vertel hoe die kunstefees en die kunste sy lewe verander het en sy geloof in die transformasie wat die kunste in ons land kan teweeg bring.”

‘Hy was die Here se troefkaart.’

Die sanger Amanda Strydom sê: “Rus in vrede, ons geliefde dr. David Piedt. Dis bitter swaar om te aanvaar dat ons mekaar nooit weer in Oudtshoorn by ons fees sal raakloop, innig groet en lekker gesels nie. Ons het ’n reus verloor, ’n vegter vir vryheid, gelykheid en vergifnis. Innige simpatie aan sy naasbestaandes en almal wat hom liefgehad het. Ons gaan jou só mis, oom David.”

Prof. Nico Koopman vertel: “Oom David was ons klasmaat in die Bybelkunde-klasse in die vroeë tagtigerjare aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Oor dekades heen het ons só baie by hom geleer oor konstruktiewe transformasieprosesse. Transformasie vra vir mense wat ’n helder visie het van waarheen ons as land op pad is. Ons wil ’n samelewing wees van menswaardigheid, helende versoening, geregtigheid, vryheid en gelykheid.

“Hy was een van die groot drywers van die vrugtevolle vennootskap van die Universiteit Stellenbosch met verskeie instansies in Oudtshoorn, onder meer die munisipaliteit, skole, kerke en die kunste.”

Die joernalis Heindrich Wyngaard sê: “Nou sal ons nooit die ete kan geniet wat hy belowe het ons ná die grendelstaat sou hê nie. Maar ek sal my bes doen om sy uitdaging uit te leef dat die verantwoordelikheid nou op die skouers van my generasie rus om die stryd vir menswaardigheid vir ons mense voort te sit.”

Sy boesemvriend van vele dekades, dr. Franklin Sonn, vertel hy was die Here se troefkaart en ’n held van enige hoek gesien. “Sy uiterlike ten alle tye onberispelik. Sy innerlike onbesproke,” sê hy.

“Hy was voortvlugtend van die polisie in tye van stryd, maar ondubbelsinnig in sy omgee vir die persoon wat die land en mense skade doen en onreg pleeg. Saam het ons 50 jaar gelede besluit dat ons wanneer die geleentheid hom ook al voordoen ons vrede sal aangryp selfs met gewonde hand. Dat vrede begin wanneer die eerste koeël afgaan.”

David Jantjies, adjunkvoorsitter van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM), sê: “Ek en David het mekaar in 1970 in sy geboortedorp, Oudtshoorn, ontmoet. Ek het dadelik besef dat hier ’n man was aan wie se mas ek my klere sou kon vasmaak.

“Hy was reeds vir jare in die onderwys en kon egter eenvoudig geen vordering maak nie, aangesien sy politieke standpunte drasties teen dié van die onderwysdepartement ingedruis het.

“Vriende van David sal dit interessant en selfs komies vind om te verneem dat hy op ’n stadium tydens van sy deeltydse tersiêre studies, in die Kaap skoolgehou het en die vakke musiek en liggaamsopvoeding aangebied het. Ek weet, want ek was sy prinsipaal.

“David het eers ná politieke bevryding in Suid-Afrika in 1994 die nodige erkenning in die onderwys gekry toe hy as prinsipaal van Colridge Primêr en later as kringbestuurder aangestel is.

“Sy passie vir die onderwys het ook van hom ’n lewenslange student gemaak. Gevolglik is hy bekroon met verskeie tersiêre kwalifikasies en eindelik ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier het hy selfs op die universiteitsraad gedien.

“Sy liefde vir Afrikaans was ook David se dryfveer om talle taalgedrewe projekte te loods en suksesvol deur te voer. Dit ten spyt was David een van die beste geleentheidsprekers wat jy kon kry, of hy dit nou in Afrikaans of Engels moes doen.

“David se laaste bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing was sy aanvoering van die CSPRM waarvan hy tot sy afsterwe die voorsitter was.

“Hierdie beweging is in 2019 in Swellendam tot stand gebring om diskriminasie teen voormalige staatsamptenare aan te spreek wat in die vorige staatkundige bedeling finansieel erg gely het op grond van ras en geslag.”

Sy vrou Marjory sê: “Ons het saam onderwys gegee en het so ontmoet; ons was 41 jaar getroud. Hy was ’n vegter en altyd baie positief. Jy het presies geweet waar jy met hom staan, sy ja was sy ja en sy nee was sy nee.”

Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en vier kleinkinders.

Dr. David Arthur Piedt, gebore 21 Maart 1940, oorlede 27 Julie 2020.

Meer oor:  David Piedt  |  Sterfgeval  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.