Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Gewaagde boeke vol glans en rinkinkery

Die Amerikaanse glansskryfster Judith Krantz, wie se boeke in 52 tale vertaal is en waarvan oor die 85 miljoen eksemplare verkoop is, is onlangs in haar huis in Bel Air, Los Angeles, oorlede. Sy was 91.

Judith Krantz in 1984. Foto: Getty Images

Krantz het eers op 50 fiksie begin skryf en op 70 – nadat sy tien romans gepubliseer het – besluit sy het alles gesê wat sy moet en toe opgehou. Krantz het nog een laaste boek daarna geskryf, haar memoires getiteld Sex and Shopping, wat ook die temas van haar werke perfek opgesom het.

Haar eerste boek was Scruples, wat sy binne nege maande voltooi het deur ’n streng roetine te volg: Maandag tot Vrydag agter ’n toe deur van 08:00 tot 17:00. Haar woordtelling vir die volgende 20 jaar was 10 000 woorde per week. Haar laaste roman was The Jewels of Tessa Kent.

Scruples het vinnig die nr. 1-boek op The New York Times se trefferboekelys geword en daarna het nog drie van haar romans hierdie status beklee.

Sy het skatryk geword – vir haar tweede boek, Princess Daisy, het sy $5 miljoen ontvang nog voordat dit gepubliseer is.

Haar man was ’n TV-vervaardiger en het vele van haar romans in gewilde reekse omskep. In I’ll Take Manhattan, wat in die Trump Tower afspeel, het Donald Trump 'n kameerol vertolk.

‘Ek is nie ’n literêre skrywer nie.’

“Ek is nie ’n literêre skrywer nie,” het sy prontuit gesê.

“Ek skryf lekkerleesboeke. Iets wat jy wil lees as die vliegtuig nie kan land in die mis nie, of as jy olik in die hospitaal lê en in jou kop wil ontsnap.”

Op haar boektoere was sy soos ’n rockster wat duisende mense kon lok, met haar gesig op TV en reklameborde in al die groot stede van Amerika en Europa. Sy was gek oor hierdie geleenthede en het soos haar karakters uiters duur klere en swierige juwele gedra, met ’n bypassende stylvolle haardos.

Haar hedonistiese en deftige karakters het gewoonlik wild rinkink in vele katels en meestal ’n lewe van weelde en rykdom gelei. Vele mense was verstom dat haar sekstonele so outentiek, waaghalsig en ekspli­siet kon wees.

“Hulle dink ek is ’n middeljarige getroude vrou met twee kinders en ek moet my soos ’n ou vrou gedra. Watwou!” het sy gesê.

Sy het geweier om ’n voet met haar duur hoëhakskoene in ’n winkelsentrum te sit, dit was eenvoudig te plebejies en voorstedelik.

Haar klere en juwele is by die beste boetieks gekoop.

As kind het sy ’n private skool in New York bygewoon, waar die TV-persoonlikheid Barbara Walters een van haar beste vriendinne was.

Ná skool het sy onder meer kreatiewe skryfwerk studeer, maar haar spelling was beroerd en die lektor het haar ’n B gegee. Dit het haar dekades lank van fiksie weggehou omdat dit haar selfvertroue geknak het.

Vir The Boston Globe het sy vertel daar is drie redes hoekom sy universiteit toe wou gaan: om met mans uit te gaan, elke roman in die biblioteek te lees en om te gradueer.

Sy het in al drie geslaag en in hierdie tyd met 13 verskillende mans uitgegaan.

Ná universiteit is sy na Parys, waar sy as modejoernalis by Good Housekeeping gewerk het, en terug in Amerika het sy gereeld vir Cosmopolitan geskryf.

Deur haar werk is sy blootgestel aan roemryke mense en sy was versot op glanspartytjies en om te netwerk.

Een van haar motto’s was “come back glamour, all is forgiven”.

Sy word oorleef deur twee seuns, Tony en Nicholas, en twee kleinkinders. Haar man, Steve, het haar in 2007 ontval.

Judith Bluma-Gittel Krantz (gebore Tarcher), gebore 9 Januarie 1928, oorlede 22 Junie 2019.

Meer oor:  Sterfgeval  |  Skrywer  |  'N Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.