Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Haar nalatenskap: In Ruth kan ons glo...

Een van Amerika se mees dinamiese baanbrekers in die regte, Ruth Bader Ginsburg, is in die ouderdom van 87 aan pankreaskarsinoom in Washington DC oorlede. Sy was slegs die tweede vrou wat as regter in die Amerikaanse hooggeregshof gedien het en die eerste Joodse vrou.

Ruth Bader Ginsburg. Daar is selfs ’n opera oor haar gekomponeer. Foto: Getty Images

Haar dood is ’n groot terugslag vir die Demokrate, wat haar graag tot ná die presidentsverkiesing in die amp wou hê.

Pres. Donald Trump het reeds planne beraam om haar voor November met ’n Republikeinse vertroueling te vervang.

Ondanks ernstige gesondheidsprobleme was Bader Ginsburg ’n bittereinder wat aanhou werk het totdat sy nie meer kon nie. Sy was so gewild onder jong, progressiewe Amerikaners dat videograppies van haar versprei is. Haar gesig is op T-hemde gedruk met die woorde “In Ruth We Trust”. Daar is selfs ’n opera oor haar gekomponeer. Sy was lief vir dié kunsvorm en het soms as byspeler in operas opgetree. Op Showmax word haar lewensverhaal in die biografiese fliek On the Basis of Sex vertel.

Luidens De Standaard was sy die nemesis van Trump-aanhangers, wat haar dikwels op regse webtuistes aangeval het. Sy het haar min daaraan gesteur, want hoewel sy klein van postuur was, het sy ’n wil gehad wat “so vas soos ’n klip staan”.

Ginsburg was ’n werkesel wat tot 04:00 kon arbei en dan, nog helder van verstand, ’n paar ure later ingewikkelde uitsprake lewer.

Sy het ’n wil gehad ‘soos klip’.

Vorige gesondheidsprobleme het haar ook nie traag gemaak nie. Sy het twee keer kanker gehad en soms geval en beenbreuke opgedoen. The Telegraph skryf elke keer wanneer sy in die hospitaal beland het, het dit by liberale Amerikaners “paroxysms of anxiety” ontketen.

Joan Ruth Bader Ginsburg is in Brooklyn, New York, gebore. Haar pa, Nathan, en ma, Celia, het pelsjasse en hoede verkoop. Geld was skaars. Celia was ongelukkig oor haar eie gebrek aan geleerdheid. Sy moes skool verlaat sodat haar broer verder kon studeer. The New York Times skryf sy het groot akademiese ambisies vir haar dogter gehad.

Die tienermeisie Ruth se ma is aan kanker dood die dag voordat sy die plegtigheid kon bywoon om haar dogter te sien matrikuleer. Omdat die jong Ruth toe ook nie dié geleentheid kon bywoon nie, het die onderwysers vir haar die volgende dag vele pryse en medaljes na haar huis gebring.

Jare later het sy vir oudpres. Bill Clinton in trane gehad toe hy haar benoeming as regter oor TV aangekondig het. Sy het ’n huldeblyk aan haar ma gelewer en onder meer gesê: “Ek bid dat ek alles sal wees wat sy graag sou wees – sou sy die geleenthede gehad het om in ’n tydperk te leef waar vroue kan presteer – en waar dogters net so gekoester word as seuns.”

Ginsburg het ’n beurs ontvang en oorspronklik aan die Cornell-Universiteit studeer; ’n plek waar daar skaars vroue op kampus was. Daar het sy die liefde van haar hele lewe, Marty, ontmoet. Hy het haar regdeur haar loopbaan gesteun.

Die familie het besluit dat sy liewer uit die kombuis moes bly omdat haar kos so sleg gesmaak het. Marty het die kok geword. Ginsburg het sag gepraat en elke woord geweeg, terwyl hy weer ’n uitbundige storieverteller was wat met homself die spot kon dryf. Met sy dood in 2010 het hy vir haar ’n handgeskrewe brief gelos en onder meer geskryf: “Jy is die enigste persoon wat ek ooit liefgehad het . . . dit was ’n voorreg om jou te sien vorder tot die boonste sport in die regswêreld.”

Sy word oorleef deur twee kinders en vier kleinkinders.

† Joan Ruth Bader Ginsburg, gebore 15 Maart 1933, oorlede 18 September 2020.

Rus in vrede

* Boet van der Merwe (88), geliefde apteker van Bloemfontein en later Worcester, is onlangs in Johannesburg oorlede. Hy was op sy dag ook voorsitter van die SA Aptekersvereniging. In Bloemfontein was hy ’n vioolspeler in die simfonieorkes. Sy eggenote, Etta, wat 12 jaar gelede in Johannesburg dood is, was ’n onderwyseres by die Meisieskool Oranje en Eunice.

* Ds. Donnie Koordom (43), ’n dominee van die VGK-gemeente in Klawer, is aan Covid-19-verwante oorsake dood. Sy gemeentelede is diep bedroef en bied steun aan sy weduwee, Jo-Ann. 

* Sir Terence Conran, bewonder vir sy gesofistikeerde ontwerpe en top-eetplekke, is op 12 September in die ouderdom van 88 dood. Hy was veral bekend vir sy voorliefde vir doodgewone goed soos ’n glas, ’n tafel en braai-hoender. Conran kon geniepsig wees. Toe hy aan die Central-skool vir kuns en ontwerp in Londen gestudeer het, het hy sy medestudente as vervelige “virgins from Surbiton” afgemaak. In 1964 het hy die dekorboetieke Habitat oopgemaak met items wat deur ander, meer konserwatiewe binneversierders verwerp is. Die agtergrondmusiek was dié van The Beatles.
Conran was in ’n stadium getroud met Shirley Conran, wat die sêding “Life is too short to stuff a mushroom” in haar kookboek Superwoman wêreldwyd bekend gemaak het. 

* Die skrywer van Forrest Gump, Winston Groom, is in die ouderdom van 77 dood. Sy roman is in 1994 verwerk tot die gelyknamige rolprent met Tom Hanks in die naamrol.
Kritici het gesê die boek was veel donkerder en ryker in tekstuur as die bekroonde fliek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.