Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Isis-leier is ‘dood soos ’n hond: kermend, huilend’

Die leier van die terreurgroep Isis, Aboe Bakr al-Bagdadi (48), is Donderdag in die noorde van Sirië dood nadat hy in sy skuiling oorrompel is.

Aboe Bakr al-Baghdadi . . . in sy skuiling vasgekeer.

Al-Bagdadi – sy regte naam was Ibrahim Awad al-Samarrai – het berug geraak toe hy en sy terreurgroep die chaos in 2013 in Sirië uitgebuit het om beheer oor groot dele van die land oor te neem.

Hulle het daarna duisende vegters uit vyf kontinente begin werf. In 2014 het hulle Irak binnegedring en verskeie stede beleër. Mans wat nie by hul ultra-fanatiese organisasie wou aansluit nie, is vermoor, vroue is gevange geneem en die veel groter Irakse leër het op die vlug geslaan.

Veral geloofsminderhede was in sy visier en hy het 60 aanvalle op een dag uitgevoer waarin 110 mense dood is. In Bagdad het sy groep ’n katedraal tydens ’n erediens binnegegaan en 46 Christene vermoor.

The Daily Telegraph skryf hy was in 2015 die meesterbrein agter 1 200 moorde in meer as 12 lande. Maklike teikens is aangeval, soos sportstadions, kusoorde en museums.

Sy modus operandi was om gereeld rond te trek en in geheimhouding in Irak en Sirië te skuil. In een stadium het hy ’n Amerikaanse gyselaar, Kayla Mueller, as sy “vrou” geëis. Hy het haar gereeld verkrag en gemartel. Sy is later dood.

In 60 aanvalle op een dag is 110 mense dood.

Ene Saja al-Doelaimi het van hom gevlug omdat sy so ongelukkig was. Toe sy hom leer ken het, was hy ’n normale man wat as lektor by ’n universiteit gewerk het.

“Hy was ’n gesinsman, hoe hy so ’n gevaarlike terroris geword het, is duister,” het sy gesê.

Hy was ook getroud met ’n Duitse tiener, Diana Kruger, maar sy het in 2015 met twee ander vroue uit Irak gevlug. Hulle het gesê hy was oorbeskeie in die openbaar, maar ’n hartelose buffel in sy binnekring.

Benewens die vele terreuraanvalle waarvan hy die beplanner was, was hy ook verantwoordelik vir die onthoofding van Westerse en Japanse joernaliste, asook humanitêre werkers. Hy het ’n Jordaniese vlieënier lewend laat verbrand.

Al-Bagdadi was as kind ’n introvert. Die buurt waarin sy familie gewoon het, was armoedig. Hy was ’n goeie sokkerspeler en het vroeg reeds begin preek.

Dinsdagnag het Amerikaanse spesiale magte ’n fynbeplande twee uur lange aanval op sy skuiling in die noorde van Sirië van stapel gestuur. Agt helikopters het ingevlieg.

In videomateriaal kan gesien word hoe soldate na die skuiling sluip. Later sien ’n mens hoe bomme ontplof.

Uit een van die helikopters is ’n militêre hond – ’n Belgiese herdershond – met toue na benede gelaat. Hy het ’n harnas en kamera met nagvisie gedra. Die hond het Al-Bagdadi in ’n tonnel ingejaag.

Die kamera het beeldmateriaal van Al-Bagdadi se laaste oomblikke.

Hy was vasgekeer en het sy selfmoordbombaadjie laat ontplof. Twee van sy kinders het saam met hom gesterf. Die hond is lig beseer.

Pres. Donald Trump het gesê hy het ná 'n potjie gholf na die hele aanval op ’n groot skerm gekyk.

“Dit was soos ’n rolprent. Wonderlik!” het hy gesê.

“Hy is dood soos ’n hond, kermend, huilend, skreeuend. Hierdie groot kokkedoor wat onskuldige mense vermoor het, is vernietig. Die lafaard.”

Trump het na die vierpotige held as ’n lieflike, mooi en talentvolle hond verwys. Die naam van dié wagter is aanvanklik geheim gehou, omdat hy nog in diens van die weermag is. Hy is wel later geïdentifiseer as Conan, vernoem na die komediant Conan O’Brien.

Aboe Bakr al-Bagdadi, gebore 28 Junie 1971, sterf 26 Oktober 2019.

Rus in vrede

* Robert Evans (89) was ’n uitspattige, vertonerige en dekadente rolprentvervaardiger van onder meer flieks soos Rosemary’s Baby (1968), Love Story (1970), The Godfather (1972) en Chinatown (1974).

Hy het graag gespog oor sy vriendskappe met bekendes soos Henry Kissinger, Warren Beatty en Ted Kennedy. Die huis waarin hy in Beverley Hills gebly het, het 16 slaapkamers gehad.

Hy het Dom Pérignon soos water gedrink en ontelbare bottels van hierdie duur sjampanje met vriende en gaste gedeel. Sy huiswerker vertel as sy soggens ontbyt in die bed vir hom be-dien het, moes sy ’n stuk papier saambring waarop sy die minnares se naam van die vorige nag neergeskryf het. Hy was sewe keer getroud. Die bekendste van sy vroue was die beeldskone en talentvolle aktrise Ali MacGraw. Een van sy huwelike het 12 dae geduur. Kokaïen het hom bankrot laat speel, maar hy was gou weer op sy voete. Hy’t met bendebase begin kaperjol en is in ’n stadium van moord aangekla.

* Die Rus Wladimir Boekowski is in die ouderdom van 76 dood. Hy was ’n uitgesproke kritikus van kommunisme, ’n bekende agitator, kampvegter vir menseregte en ’n kritikus van pres. Wladimir Poetin. Boekowski het die gebruik van psigiatriese marteling van andersdenkendes in die Sowjetunie oopgevlek. Hulle is met psigotropiese dwelms ingespuit. Psigiaters het pasiënte probeer breinspoel deur hulle te laat glo hulle is kranksinnig omdat hulle teen die regime gekant is.

Boekowski het oor die jare  12 jaar in Sowjet-tronke, -strafkampe en psigiatriese sanatoria deurgebring. In 1976 het die KGB hom uit die land geskop

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.