Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Lewe: J.C. Steyn: ’n Man wat sy kennis gedeel het

Die taalgeskiedkundige en skrywer prof. J.C. (Jaap) Steyn is in die ouderdom van 83 in die Aliquando-aftreeoord in Heuwelsig, Bloemfontein, oorlede. Steyn was vroeër olik en is op slag dood nadat hy geval het.

’n Volksblad-foto van die middel 1960’s verskaf deur Hennie van Deventer. Agter is Wilhelm Jordaan, Georjane Groenewald en Jaap Steyn. Voor is Herman le Roux en Hennie van Deventer.

Hy het vele eerbewyse ontvang. Steyn is onder meer ses keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hy was die wenner van die Jan H. Marais-prys, met Naspers as een van die instansies wat die prys gestig het en finansier.

Chris van der Merwe skryf op LitNet: “Met sy eerste en enigste digbundel, Die grammatika van liefhê, skryf hy ’n vernuftige poësie wat geprys is as die belangrikste debuut sedert Breytenbach.”

Ook op LitNet skryf Hein Willemse: “J.C. Steyn het aanvanklik as ’n skeppende skrywer bekend geraak, maar sedert Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans is hy in hoofsaak bekend as ’n navorser van die Afrikaanse taalgeskiedenis en -politiek en as biograaf van leidende Afrikaner-kultuurfigure.”

Dit was die grote, stille, besielende wat vir ewig stil geraak het; en tog, en tog.

’n Oudkollega by Volksblad, Wilhelm Jordaan, onthou: “Allereers, sy ragfyn verstand en skamerige dog skerp sin vir humor. Ek onthou sy giggellaggie toe hy op ’n dag hoofsub was en daar voorgestel was dat as die koerant nie van ’n ‘FL’ wil praat nie – gebruik dan die woord ‘dekmantel’!”

Die skrywer Braam de Vries sê: “Dit was die grote, stille, besielende wat vir ewig stil geraak het; en tog, en tog.”

Die literator Louise Viljoen sê: “Ek het hom net enkele kere ontmoet. My indruk was dié van ’n ingetoë man met ’n uitsonderlike sin vir intellektuele integriteit.

“Hy was iemand wat sonder voorbehoud sy kennis met jou sou deel, iemand vir wie die vooruitgang van wetenskaplike kennis, veral oor Afrikaans, groter waarde gehad het as eiebelang.”

Die hoof van die afdeling Frans by die Universiteit van die Vrystaat, Naòmi Morgan, sê: “Hy het ’n byna fotografiese geheue gehad van die vertalings wat hy reeds gelees het en die bronne waarin hy dit gevind het.

“Jaap het lank gelewe, soos Victor Hugo, hy het baie dinge ervaar en ’n wonderlike woordeskat gehad vir voorwerpe wat ek nog nooit eens gesien het nie.”

Die ouduitgewer Danie Botha vertel: “Hy was baie noukeurig en dit was ook nie nodig om hom te waarsku teen oordrywing, dubbelsinnigheid, weersprekings en feitefoute nie.”

Hennie van Deventer, ’n oudredakteur van Volksblad, sê: “Nou het Jaap gesterf kort voor die verskyning van my boek met grafskrifte, Koerantkamerade.

“Vanselfsprekend sou ek daarin vir hom ’n waarderende een wou skryf. Vir hom het ek immers net respek en bewondering. Toe werk dinge nie so uit nie. Dis ’n enorme leemte in die boek.”

Steyn is naby Fouriesburg gebore, maar die gesin verhuis later na die distrik Petrus Steyn. “Ons was arm, maar gelukkig. Ons het nie eens geweet ons is arm nie,” sê sy suster Ria Müller.

Hul ma het met hoenders geboer en hul pa met skape en beeste. Die kinders moes oor die 2 km skool toe loop. Hulle het ook op die plaas gewerk omdat daar nie arbeiders was nie.

“Ons het oorkant mekaar in die aftreeoord gewoon en op sekere dae vir mekaar gekook. Hoe gaan ek sy skaapvleis, pampoen en aartappels mis,” sê Ria.

Steyn se gedenkdiens met Covid-19-prokol is Dinsdag 11:00 in die Heuwelkruin NG gemeente, Lucas Steyn-weg, Bloemfontein. Hy word oorleef deur sy suster Ria Müller, sy susterskind Marthie Kemp en haar seun Stephan Kemp.

† Jacob Cornelius Steyn, gebore 31 Julie 1938, oorlede 6 September 2021.

Rus in vrede
* Die gerekende vaskulêre chirurg prof. Jacobus van Marle van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion is op 67 aan Covid-19 oorlede.
* Zanele kaMagwaza-Msibi (59), oud-LP en leier van die Nasionale Vryheidsparty, is in Durban aan ’n hartaanval dood.
* Werner Büchner, voormalige voorsitter van die suiwelgroep Clover en raadslid vir Dairy Group, is op sy plaas naby Nanaga in die Oos-Kaap doodgeskiet. Hy was 55.
* Abebech Gobena, wat as die Moeder Teresa van Afrika bekend gestaan het, het op 85 aan Covid-19 in Addis Abeba gesterf. Sy het een van Ethiopië se grootste weeshuise gestig. Daardeur het sy duisende kinders van hongersnood gered. “Ek het nie kinders van my eie nie,” het sy in 2004 aan The Times of London gesê, “maar ek het ’n groot gesin van honderdduisende; ek is absoluut nie spyt nie”.
* Die Griekse komponis Mikis Theodorakis is in die ouderdom van 96 in Athene aan orgaanversaking dood. Hy was onder meer bekend om die klankbaan van Zorba the Greek. Min mense wat hierdie rolprent gesien het, sal die danspassies tussen die vriende Basil (Alan Bates) en Alexis Zorba (Anthony Quinn) op ’n strand in Griekeland vergeet – nadat albei karakters se drome verwoes is. Te midde van wanhoop doen hulle ’n Griekse dans op die opbeurende musiek van Theodorakis.
* Michael K. Williams (54), een van die sterre in die grinterige TV-reeks The Wire, is in Manhattan oorlede. Hy was openlik oor sy stryd teen dwelms. Die regisseur Spike Lee het sy medelye uitgespreek, asook die sangeres Mariah Carey.

Meer oor:  Jaap Steyn  |  J.C. Steyn  |  Sterfgevalle  |  ’N Lewe  |  Rus In Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.