Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Lewe: Jintelman van rugby ’n rolmodel op én van veld

Een van Vrystaat-rugby se groot geeste, Nic Bojé, is aan prostaatkanker in Stellenbosch oorlede. Hy was 79.

Nic Bojé as afrigter van Vrystaat se o.20-span. Foto: Facebook

Bojé, ’n voormalige speler en afrigter, het die Vrystaat in 15 wedstryde tussen 1965 en 1970 verteenwoordig. Hy was ook ’n Springbok-keurder en die eerste SA o.21-afrigter in 1974. Bojé se seun Nicky is ’n voormalige Protea-krieketkaptein en -onderkaptein.

Hy het ook vele deugde buite die rugbywêreld gehad. Volgens Hennie van Deventer, ’n vriend en oudredakteur van Volksblad, was hy in sy loopbaan ’n sakeman, sportbeampte by Kovsies en later ’n kolonel in die polisie.

Hy het by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit ná verwerwing van sy LLB-graad en het as hoof van die polisie se afdeling regsdienste in die destydse Oranje-Vrystaat afgetree. Verder was hy en Neels Neuhoff in ’n stadium mede-eienaars van die sportwinkel N&N in Bloemfontein.

Luidens die boek Vrystaaat!: 100 jaar van hardlooprugby deur Frikkie van Rensburg en Herman le Roux is Bojé in Senekal gebore en het hy reeds op negejarige ouderdom as skrumskakel vir die o.14-spannetjie op Aliwal-Noord gespeel.

‘Spel van lewe soos kampioen gespeel.’

Van Deventer onthou verder: “Ek het Nic sedert 1960 geken. Ons was saam in die ‘nuwe’ Kollegetehuis (koshuis) op Tukkies se proefplaas. Rugby was vir Kollege ’n ernstige saak.

“Ons het nie gehou van verloor nie. Met Nic in ons span het ons vir die bestes kans gesien. (As losskakel) kon hy sy agterlyn blitsig wegstuur. Hy het ook dodelik pale toe gekorrel. Soos ’n skerpskutter.

“Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy naastes. Ons huil nie omdat ons ’n wedstryd verloor het nie, maar ’n ‘wedstrydwenner’ wat die spel van die lewe soos ’n kampioen gespeel het.”

Hester Parsons, wie pa, Ewie Cronjé (wat ook onlangs oorlede is), ’n boesemvriend van Bojé was, vertel: “As ek aan oom Nic dink, dan dink ek aan iemand wat so rustig was. Hy was altyd net positief gewees oor alles, nooit sleg van iemand gepraat nie, altyd tyd vir ander gehad. Passievol!

“Ons kinderdae se Sondagmiddae-kuiers word nou stywer in my hart vasgehou. Die respek wat oom Nic se rugbyspelers vir hom gehad het, is ook iets wat my altyd sal bybly.”

'n Rugbyspeler wat deur Bojé afgerig is, Adrie Hechter, onthou: “Die mees uitstaande kenmerk wat byna oral genoem word, is dié van jintelman. Dit was hy. Ek het baie rugbyafrigters in my lewe gehad – maar daar was net een Nic Bojé.

“Niemand het in die tyd wat ek bevoorreg was om rugby te speel, die kuns gehad om die spel, die spelers, die omstandighede van rugby, emosies van die spel en dié van spelers, talent, so goed te verstaan en te bestuur soos oom Nic nie.

“Sal ek die aand in die bus in Johannesburg op pad terug hotel toe ooit vergeet, toe oom Nic voor vat en in die bus begin sing en ons klomp jonges volg.”

Die oud-Bokkaptein Theuns Stofberg sê: “As ’n seun van 17 het ek die voorreg gehad om Nic te ontmoet as o.20-afrigter. Soos ek hom in 1973 leer ken het, so het ek 47 jaar later, ’n week voor hy die stryd teen kanker verloor het, van hom as vriend afskeid geneem.

“Steeds die saggeaarde, vriendelike mens soos ons hom almal geken het. Ek neem saam met my die wonderlike herinneringe van ’n opregte mens wie se persoonlikheid vir my ’n rolmodel was vir soveel jare.”

Hy word oorleef deur sy vrou, Chrissie, drie seuns, Louis, Fourie en Nicky, ’n dogter, Jean, en ses kleinkinders.

Nico Bojé, gebore 23 April 1941, oorlede 16 Maart 2021.

Rus in vrede

* Twee ervare afgetrede lugmagvlieëniers, genl.maj. Des  Barker en kol. Rama Iyer, is dood nadat hul Patchen Explorer by die Swartkop-lugmagbasis in Pretoria neergestort het. Die vliegtuig was ’n prototipe van ’n vliegtuig wat in die vroeë 1970’s ontwerp is vir verkenning en lugfotografie, maar nooit in produksie gegaan het nie. Dit het aan die Swartkop-lugmagmu- seum behoort en was die enigste van sy soort ter wêreld. 

* John Magufuli, die president van Tanzanië, is op 61-jarige ouderdom in Dar es Salaam oorlede. “The Bulldozer” (so genoem omdat hy ongewilde wetgewing op drakoniese wyse deurgevoer het) is sedert 27 Februarie glad nie in die openbaar gesien nie. Hy was een van Afrika se grootste Covid-19-skeptici en daar was gerugte dat hy eintlik aan dié virus dood is, maar luidens die owerhede is hy aan hartversaking oorlede.

* Die struggle-aktivis Cecyl Esau is by sy huis in Tableview aan natuurlik oorsake dood. Hy was 66. Esau was ’n boorling van Worcester wat veral die belange van die bruin gemeenskappe op die hart gedra het. Hy het in die 1970’s en 80’s aan die Universiteit van Wes-Kaapland BA-regte studeer en een van die koshuise op dié kampus is na hom vernoem. Vir sy politieke aktiwiteite is hy tot 12 jaar gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis. 

* Die Duitse renjaer Sabine Schmitz is op 51 aan ’n seldsame kanker oorlede. Sy was die eerste vroulike wenner van die 24 uur-Nürburgring-uithouren.
Die voormalige Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson het in sy huldeblyk na haar verwys as “such a sunny person and so full of beans”.

Meer oor:  Cecyl Esau  |  Sabine Schmitz  |  John Magufuli  |  'N Lewe  |  Rus In Vrede  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.